Die Lêndies van die Hooglande

Op die Kalahariplaas waar ek groot geword het, was daar ‘n paar dinge wat ons nederig gehou het. Climax windpompe, Zero paraffien vrieskaste, Wolseley enjins en Land Rovers. As gevolg van alvier kon ek op ‘n stadium al die versies oor geduld in Die Bybel uit my kop opsê. Behalwe droogte was daar min ander dinge wat soveel grondige redes vir skietgebedjies verskaf het. Terselfdertyd was daar min vreugde so groot as enigeen van die vier korrek gefunksioneer het. 

Van die vier het Land Rovers waarskynlik die sterkste vormende rol in my lewe gespeel.

Die Lêndies van daardie jare was nogal spartaans. Daar was ‘n spaarwiel op die enjinkap, wat op sy beurt met twee rubberhake aan die bakwerk vasgemaak is. Die kajuit was sonder fieterjasies – skuifruite, luginlate onder die regop voorruit (party se voorruit was in twee gedeel), geutrakke waarin daar gewoonlik ‘n tang en draad en stukkie tjoep gelê het, ‘n lang, skewe ratkierie en twee korter kieries in geel en rooi vir 4×4 en donkierat, naakte deure, en dan die beskeie instrumentepaneel so groot soos ‘n skoenboks, met vlytige wit wysers. Daar was ook ‘n kenmerkende reuk, wat al hoe skerper geraak soos die Lêndie warmer geword het. En daai gesing van die ratkas, nes ‘n roomafskeier se onegalige geneurie.


Die Lêndies van daai tyd het graag gekook en ‘n waterkan was onontbeerlik. Ook was hulle lief om nie op die eerste swaai van die enjin te vat nie, daarom was die slinger agter die sitplek noodsaaklik. Met ‘n buitengewone hoë windweerstand en ‘n onderpresterende enjin was mens gelukkig om meer as 50 myl per uur op ‘n afdraende te haal. In die sand was hulle ook nie besonders indrukwekkend nie. Mens moes ‘n Kalahariduin gewoonlik meer as eenmaal storm, dis hoekom Pa altyd gepraat het van sy verkennersvoertuig. Die eerste maal kom mens tot teen die hang van die duin, die tweede slag amper tot op die kruin, net sodat ons oor die duin kon sien. En met die derde slag miskien oor. Ons buurman het uitgereken dat hy so gereeld met sy Lêndie in die sand vasgesit het dat hy drie maande langer sou kon boer andersins. Die ander buurman het weer gepraat van sy beproewingsvoertuig as hy van sy ryding praat.

Omtrent al die families uit my kindertyd het ‘n Lêndie gehad. Daar was kortgatte, stasiewaens, hardekappies en bakkies, petrol- en dieselmodelle, met of sonder tralies. Almal met nou ogies. En nie een het goeie brieke gehad of kort gedraai nie. Maar Lêndies het die land help makmaak. Al het hulle olie gelek en al was hul prestasie in sand onoortuigend, was hulle ten alle tye herstelbaar. Al was hulle nie stofdig nie, en al het hulle altyd iewers gelek as dit reën, was hul vering op onewe terrein legendaries. Die bakwerk (van aluminum nogal) was lig en roesbestand. En daar was min ander soorte 4x4s. Nogtans het ek stilweg ‘n eed afgelê om nooit een te hê nie. 

Lêndies bly kruis my lewenspad. Daar is familie en vriende wat my gereeld langs ‘n vuur probeer oortuig dat die nuwe modelle met rasse skrede verbeter is (is dit nog rêrige êrige Lêndies in elk geval?). Maar hulle verstaan nie my bittersoet verlede met Land Rover nie. 

Die Cameron Hooglande van Maleisië is vrot van Land Rovers. In alle vorme, kleure en toestande. Soos baie ander geharde Lêndie-lojaliste het die meeste eienaars meer as een: lopend of nie-lopend. Die rede vir multi-eienaarskap is vir my onduidelik: Is dit vir ekstra onderdele? Of om altyd ‘n alternatief te hê? Of bloot blinde liefde? 

Nietemin, die Lêndies word gebruik om die Hooglande te tem. Alhoewel die Hooglande byna op die ewenaar lê, is dit koel. Maar nat en met ‘n steil terrein. Gereelde verspoelings en volop modder. Dus, geskik vir Land Rover. Daar word met Lêndies geboer, plantasies bestuur, vrag aangery en mense vervoer. 

So is ons ook met ‘n Lêndie Berg Brinchang, een van die spitse van die Hooglande, uit. Kronkelend op teen die berg, verby teeplantasies en groente- en aarbeiplase tot by die kruin. Sonder moeite. Saam met Appo, ‘n Lêndie-entoesias en twee ander paartjies. Albei paartjies, net soos ons, het besluit om hul werk op te gee en te reis. Nogal gerusstellend om iets so radikaals in gemene geselskap te hê. 


Die Hooglande se koel, nat klimaat was ‘n aantreklike ontvlugting vir die arme pienk Britte wat na Maleisië gesekondeer is tydens die koloniale periode. In die vroeë jare was daar egter malaria en die eerste setlaars het gesterf soos vlieë. Eers met die uitroei van malariamuskiete en gevaarlike diere soos tiere en giftige slange is die Cameron Highlands ingebreek. Dis toe dat die Britte hierdie deel begin bewoon het en dis waarom mens hier teeplantasies, ou Britse herehuise, skons met aarbeikonfyt en, natuurlik, Land Rovers kry. Deesdae is hier ook baie Chinese boere (wat Maleisies en Engels praat). En ook Lêndies het. Bid jou aan!

Behalwe Lêndies, teeplantasies, aarbei- en groenteplase is die Hooglande ook bekend vir sy woude, altans dié dele wat nog ongeskonde is. Omdat dit koel is, groei die plantegroei stadiger en is hoë bome raar. Dis baie nat en vogtig, en daarom moswêreld. Indrukwekkende lae mos, alge, ligene en varings as ondergroei en bome as die hoërstand plantegroei. 


Die woude van die Cameron Hooglande is onder permanente bedreiging, al lê ‘n groot gedeelte binne ‘n bewaringsgebied. Goente- en aarbeiboerdery is ‘n florerende bedryf en word in tonnels verbou. Vars blomme is ook ‘n groeiende bedryf. Die bloeiende akkerbousektor is in voortdurende kompetisie met die natuurlike woude. Vir spasie, maar ook op indirekte maniere soos die aanlê van infrastruktuur en besoedeling. Waar die plantegroei verwyder is, is daar modder en verspoeling. Rommelstrooi is ‘n yslike probleem terwyl vergiftiging as gevolg van die gebruik van kunsmis, aanvullers en pes- en siektebeheer ook plaasvind. Omdat dit so baie reën, is erosie ‘n opsigtelike probleem en alle stroompies besaai met rommel. 


Die beste manier om die ongeskonde woude van die Hooglande te verken, behalwe met ‘n Lêndie, is te voet. Rondom die dorpies Brinchang en Tanah Rata is daar ‘n rits voetslaanpaaie deur die woude. 

Ons het drie van hulle verken. Maar wees gewaarsku, dit reën baie en jy moet jou tydsberekening reg hê om droog op die ander kant van ‘n roete uit te kom. Ons was gelukkig en kon elke keer vanuit ‘n eetplek kyk na die reën. En na Lêndie-bestuurders wat natreën binne-in hul rygoed. 

Prentjies

Ek onthou die reuk van my eerste vetkryte. En my eerste speelklei. Ook die reuk van my Sub A-klaskamer. 

Juffrou Valerie was pragtig. En sy het ook lekker geruik as sy oor my gebuk het om te help met die saggies-op-en-hard-af. Sy was gaaf en sy het gehou van my. Sy was net so lief vir teken. Al was sy links kon sy baie mooi skilder. Sy het die plakkate vir die skoolflieks gemaak. Dan moes twee van ons altyd vir Oom Basie by die winkel gaan vra het om die plakkate teen die winkeltoonbank vas te plak met kleefband. 

Na Sub B, na die twee jare by Juffrou Valerie, het my liefde vir prentjies teken en inkleur tot stilstand gekom. In Standerd 1 het ek beland by Juffrou Valerie se man. Hy was effens befoeterd, ons was bang vir hom, en ons het geleer dat prentjies teken en inkleur net vir die kleintjies is. Hy het ons van ernstige goed soos tafels en is and are geleer.

Al het ek nie meer geteken en ingekleur nie, het ek nog altyd gehou van prentjies. Baie later in my lewe het ek eendag ‘n Kodak Instamatic in die hande gekry en ek het weer begin prentjies maak met my kiekies. Die Kodak het net 12 kiekies op ‘n rol toegelaat en ek moes uiters selektief wees met die kies van die prentjies. Ontwikkeling kon net by sekere besighede, wat almal sedertdien verdwyn het, gedoen word. Dit was ‘n duur storie, foute het geld gekos. En teleurstelling. 

Genadiglik het fotografie in die onlangse verlede deur ‘n wonderlike digitale rewolusie, ongelukkig ten koste van Kodak, gegaan. Byna terseldertyd het tekens van kiekomania by my begin wys. Daar was ‘n hele paar kameras met al-hoe-beter vermoëns, en kiekomania het gedy. Maar kiekomania het die sterkste uitgekom toe ek my geliefde Nikon begin vashou het. Deesdae het ek ook ‘n gatsak Canon, waarmee ek die prentjies van George Town kon kiek.

Maar laat ek darem die storie agter die prentjies van George Town vertel.


George Town is geleë op Penang Eiland aan die weskus van Maleisië. Aan die einde van die 18e eeu het ene Francis Light namens die Britse Oos-Indiese Kompanjie die eiland geannekseer, met die seën van Koning George III. Amper ‘n eeu later word Penang Eiland ‘n kroonkolonie van die Britse troon, en die Britte vernoem die nedersettinkie na Koning George. Behalwe vir die uitvoer van speserye na Brittanje, word die hawe ‘n belangrike vastrapplek vir Britse handel met Indië en China. Intussen het die Britte hul stempel deeglik afgedruk op die ontwikkeling van George Town – aan die een kant is die koloniale deel van die nedersetting, die hawe en handelsbelange aan die ander kant en die inheemse mense, slawe en nuwe inkommers soos die Indiërs en Chinese is in ‘n kompakte woonbuurt in die middel saamgebondel. ‘n Netjies-beplande apartheidstad, dus.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog neem die Japanese vir vier bloedige jare oor. Na die oorlog neem Brittanje weer oor, maar bestuur die eiland halfhartig en George Town gaan erg agteruit. Die agteruitgang duur voort, selfs nadat Maleisië onafhanklik word van die Britse juk. In ‘n poging om die proses om te keer, kom eiendomsontwikkeling in die vroeë 2000s en heelwat historiese geboue moet die hoogste tol betaal. Die nuwe ontwikkeling forseer mense uit die geboue wat hul al vir geslagte lank bewoon. 


Totdat iemand met goeie oordeel ingryp en ‘n verdere tragedie in die naam van vooruitgaan verhoed. Die ou deel van George Town word gesoneer as ‘n gebied met besondere geskiedkundige, kulturele en argitektoniese waarde. En so bly die ou woonbuurte en koloniale geboue, selfs met hul oorspronklike name, wonderbaarlik behoue. In 2008 word dié historiese deel as ‘n Wêrelderfenisgebied geregistreer by UNESCO. 


Hoewel die erfenisgebied ‘n aantrekliker opsie vir toeriste geraak het, maak ‘n spul verslete geboue op ‘n afgeleë eiland naby die ewenaar nie alle toeriste rasend opgewonde nie. George Town is byvoorbeeld onsmaaklik warm in Juniemaand, vra vir ons. Iets moes gedoen word. Kunstenaars is betrek, en een van die kreatiefste vorms van toerisme vat vlam.


In 2012 skep die kunstenaar Ernest Zacharavic ‘n reeks van 6 muurskilderye waarmee hy die gees van ou George Town vasvang. Dis ‘n onmiddellike treffer en word uitgebrei tot ‘n reeks van vyftien. 


Later word die reeks aangevul met meer as 50 stukke metaalwerkkuns.


Skielik is daar, behalwe ou verslete geboue, nog ‘n goeie rede om George Town te besoek, ten spyte van die ondraaglike hitte.


Die kunswerke op die mure van ou George Town sorg daarvoor dat toerisme bloei – deur die kunsstukke op die ou mure te soek, kry die ou geboue hul regmatige bewondering. 


Orals is daar eet-, drink- en blyplekke tussenin. Toerismegetalle bly groei en deesdae is die hawe van George Town ook ‘n gewilde ankerplek vir luukse passasiersbote. Die groei in toerisme het ook veroorsaak dat George Town stilletjies die koshoofstad van Maleisië geraak het. 

Eintlik is die ou deel van George Town vol skilderye, wat mooi prentjies maak. Juffrou Valerie sou die prentjies ook waardeer het. En ons dogter wat ook lief is om prentjies te teken. As jy soos ons ook lief is vir prentjies, moet jy George Town eendag besoek.

Om saam te smelt

Nes Uis het Kuala Lumpur begin as ‘n dorpie rondom ‘n tinmyn. En toe word Kuala Lumpur ‘n hoofstad, ‘n wêreldstad. En Uis nie een van die twee nie. 

Kuala Lumpur lê op ‘n vloedvlakte waar die Klang en die Gombak Rivier bymekaarkom. En ek het nie die name van die riviere uitgedink nie. Losweg verwys die naam Kuala Lumpur na modderige samevloei. Die klimaat is ekwatoriaal en water is volop. In Junie is dit warm. Baie, baie warm. Smeltwarm.


Die ontstaan van die stad is nou verwant met kolonialisasie. Chinese was die eerste myners, maar in die vroeë jare van die mynbedrywighede het baie ander uitlanders bygekom. Die myners het in verskillende woonbuurte en verskillende kleims gehad. Noodwendig was daar konflik en onrus, selfs ‘n burgeroorlog. En uiteindelik kolonialiseer die Britte die gebied rondom en verskaf stabiliteit vir die bloeiende tin- en rubberbedryf. In sy geheel is Maleisië deur ‘n rits kolonialiste – daar was Portugese en Hollanders, Britte en tydens die Tweede Wêreldoorlog ook Japanese. Maleisië is vanjaar presies 60 jaar onafhanklik. 


Die nalatenskap van die kolonialiste is nog plek-plek te sien, hoewel die yslike wolkekrabbers en die Petronas-torings baie van die stad se voorkoms domineer. 


Styf teenaan die beton-oerwoud van die middestad lê ‘n tradisionele Maleisiese woonbuurt, Kampong Bharu, waar ontwikkeling nog uitgehou word en erfreg nog die toekoms bepaal. 


Ons het ‘n staptoer deur die buurt meegemaak. En ernstige Maleisiese cuizine getrotseer.


Kuala Lumpur is onstuitbaar op die ontwikkelingspad. As hoofstad en grootste stad in die land (digby 2 miljoen inwoners en 7,5 miljoen in die metropool) is Kuala Lumpur die vertoonvenster van Maleisië se blink ekonomiese groei en een van die vinnigste groeiende stede in suidoos-Asië. Maleisië het ‘n ambisieuse strewe om teen 2020 totaal ontwikkeld te wees, ‘n sogenaamde Eerstewêreldland.


Net ‘n voetnota oor die term Eerstewêreldland. Ek het nog nooit ‘n behoorlike definisie vir ‘n Tweedewêreldland teëgekom nie. Trouens, lande is of eerstewêrelds of derdewêrelds, en die onderskeid is deur die Eerste Wêreld uitgedink. Ontwikkelde teenoor ontwikkelende lande word soms verkies, maar dié definisie is op sy beurt ongemaklike sambreelterms vir Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (die sogenaamde BRICS-lande). Soos met baie ander dinge in die lewe, bly dit maar moeilik om te veralgemeen – enige reël word mos getoets deur sy uitsonderings, of hoe?


In vele opsigte is Kuala Lumper ‘n baie interessante eksperiment, ‘n samesmelting – wat werk. Hier woon Indiërs, Chinese, Maleiers, Filipyne, Indonesiërs, Europeërs en Arabiere langs mekaar, en dis nie snaaks om in dieselfde straat ‘n Hindu- en ‘n Budda-tempel, ‘n moskee en ‘n Protestantse kerk te sien nie. Die plekke van aanbidding het ook elkeen hul eie klanke, wat saamsmelt as ‘n kakofonie van stemme wat nie nootvas is nie, treurige snaarmusiek, blikskud, klokke en vals fluite. Al is die aanbiddingsklanke nie altyd mooi nie, heers daar vrede. En dis wat tel. Eenheid in verskeidenheid kry inderdaad nuwe betekenis hier. 


Die roesmoes het natuurlik klomp interessante gevolge. Maleisiese kultuur is nie juis ‘n presiese term nie. Die samesmelting van die kulture is veral sigbaar in kos. Interessante kinkels kom by, speserye word in oorvloed gebruik, kleur en geur is belangrik. Iewers tussenin is daar nog ‘n mengsel van bestanddele, metodes en veroudering ook. Nietemin, die kos is goedkoop en my grootste uitdaging is eintlik om ‘n keuse te maak. En as ek na die tyd so oor my vol magie vryf, wil ek ook sê: “Ek wens, ek wens my hele lyf was ‘n pens!”

Het ek al gesê dat dit warm is in Juniemaand? Bloedig, onhebbelik en versengend is liggewig woordjies om Kuala Lumpur hitte te probeer beskryf. 

Terwyl Maleisië op pad is na ‘n Eerstewêreldland en die land se kultuur besig is om saam te smelt het ek en My Lief ook byna gesmelt. Van hitte. 

Nou waa’s daai?

Dis die teenvraag wat jy gaan kry as jy vir ‘n Namakwalander vertel van ‘n plek waarvan hy of sy nog nooit gehoor het nie. China het sommer ‘n hele paar sulke plekke. En al was ons vir twee maande in China, is daar nog baie nou-waa’s-daai-plekke. 

Ons was meestal in die suidoostelike, digbevolkte deel van China. Bloot toevallig, omdat Shanghai ons basis was. Van Shanghai af was Nanjing, Suzhou, Wuxi, Hangzhou en Wenzhou gerieflik bereikbaar. Die verste punte uit Shanghai wat ons besoek het, was Xi’an (1,360 wes), Beijing (1,200km noord-noordwes), Qindao (700km noord), Zhangjiajie (1,300km wes-suidwes) en Guilin (1,500km suidwes).  


Afstande in China maak my nederig. Kashgar in die verre weste is 3,700km vanaf Xi’an en 5,100km uit Shanghai. Die afstand na Harbin uit Beijing is 1,200km noord en dan nog 1,200km verder noord tot by die Heihe Rivier, die grens met Rusland. Harbin en Kashgar is 5,500km van mekaar af. Ten spyte van die yslikheid van die land, is daar net een tydsone.

Die suidooste van China, dié deel waar ons was, is die digste bevolk. Die magtige Yangtze Rivier en sy kanaalsisteem is die slagaar van die deel. Al vir eeue. Die klimaat is gunstig en oppervlakwater is volop, twee belangrike bydraende faktore. Hoe nader aan die kus, hoe meer neig die klimaat na humied-subtropies. Binneland toe raak die klimaat kontinentaal – verskille tussen seisoene word toenemend groter. Dit raak ook toenemend droeër, wat beteken dat die bevolkingsdigtheid afneem binneland toe.


China het ‘n hele paar stede met meer as 10 miljoen inwoners, en ook ‘n paar met meer as 20 miljoen. Vir elke inwoner van Aranos is daar ‘n Chinese stad met meer as 1 miljoen inwoners (miskien nie rêrig nie maar vir elke Namibiër is daar 636 Chinese – dis wel ‘n feit). Windhoek, in Chinese terme, is dus ‘n kleinerige dorpie.

In vele opsigte is China indrukwekkend. Dis die tweede grootste staat in die wêreld, en daar is 22 provinsies. Landskappe wissel tussen woestyn en tropiese woude, hooglande en vloedvlaktes, grasvlaktes en sneeubedekte berge. Die gedokumenteerde geskiedenis van China gaan so 5,000 jaar terug en die Chinese ekonomie is al vir die laaste 2,000 jaar die grootste in die wêreld. China het byna nog altyd die grootste stad in die wêreld gehad – waaronder Xi’an, Hangzhou, Nanjing, Beijing en deesdae Shanghai.


Die Chinese geskiedenis, taal en kultuur is intens verweef. Ons het dit gesien in die vorm van ‘n innige respek vir erfenis, wet en orde, nasionale aspirasie en nasietrots. Goed ingesuur met ‘n waardering vir skoonheid – of dit blomme in potplanthouers langs die strate is, ‘n natuurtoneel, of ‘n standbeeld of ‘n prominente gebou – mens kry die indruk dat mooigoed kollektief waardeer word. Vandalisme en graffiti is ‘n absolute rariteit. Anti-establishment, perversiteit en eksplisitisme is ongekend.


Hoewel Chinese buitengewoon hard praat, luidrugtig nies en keelskoonmaak is Chinese eintlik nie-bakleierig en vreedsaam. Die land is al ‘n hele paar keer binnegeval deur moeilkheidsoekerige bure, en ten spyte van ‘n paar bloedige huismoleste onder mallerige emperors, het China nog nooit oorlog met ‘n ander land gaan maak nie. Is dit dalk die rede waarom die Chinese militêre spandering relatief min is in vergelying met Amerika en Rusland?


Ons is gereeld verras met die intense skoonheid van China. Of dit nou kuns, vakmanskap, vaardigheid of natuur was – ons is ‘n hele paar maal stilgemaak. Ons het gehou van die orde en die manier wat orde gehandhaaf word – geen wanorde en geen brutaliteit. Die polisie is altyd sigbaar aanwesig. En die Chinese is meesters op die gebied van skarebeheer. Daar is orals baie mense, die stasies is meestal oorvol, en die verkeer is deurgaans druk. Nogtans het ons nooit enige vorm van chaos ervaar nie. Trouens, in die twee maande het ons net een (baie) ligte motorongelukkie gesien. En, die dra van valhelms is bloot opsioneel, wat ‘n aanduiding is dat ongelukke hoogs uisonderlik is. 

Als werk, eintlik meestal vrek effektief. Waar ‘n probleem opduik, kom ‘n spoedige oplossing. Sommer oornag, in die meeste gevalle. Geen kragonderbreking, sonder-water, of nie-werkende verkeersligte. Openbare vervoer is goedkoop en stiptelik. Skoonmakers sien jy oral – in die strate, tuine en toilette. Van toilette gepraat, jy hoef nêrens lank te knyp nie, openbare toilette is volop. 

Ons het omtrent orals in hostels gebly. Hostels bied ‘n dubbelkameropsie, in die meeste gevalle met ‘n eie badkamer. Wit lakens, skoon badkamer, ventilasie en My Lief is tevrede. Nêrens het ons ‘n slegte ervaring gehad nie. Die prys het gewissel tussen R150 en R600 per nag. Ons het sover moontlik straatkos geëet, en die prys was selde meer as R120 per ete vir twee.


China is nie ‘n land vir beginner-toeriste nie. As jy nie Mandaryns onder die knie het nie, en ook min selfvertroue, moet jy anderpad kies. Inligting vir nie-Chinese besoekers is beperk. Min mense is andertalig. Besoeke aan natuurparke en nasionale gedenkwaardighede is relatief duur, maar foutloos versorg. Spyskaarte is ook meestal in Mandaryns. En nee, jy gaan nie vaalvleis of malvapoeding op die spyskaart hê nie. Taal gaan tussen jou en ‘n oplossing vir jou mediese kwaal, bankprobleme en ‘n lastigheid met jou selfoon staan. Bly by die huis en kyk TV as jy gemak verkies. En as jy vir China met Japan verwar.


Sal ons weer kom? Jaaaaa! Twee maande was te min om alles te sien en te ervaar. Daar is te veel nou-waa’s-daai plekke en die land is eenvoudig te groot en omvangryk om ten volle in twee maande te ervaar. Ons gaan die uitnodiging na Tibet sterk oorweeg …

Tibetstories oor ‘n koppie tee

Al gehoor van die bokser van Qingdao? Die ou wat China van hoek tot kant deur gestap het? Ons het ook nog nooit van hom gehoor nie, totdat ons by hom en sy gesin in Qingdao oorgebly het. 

Maizi (sy naam beteken letterlik wheat, wat ook die naam van sy blyplek is) is ‘n man van min woorde. 


Gewoonlik sit Maizi agter sy pyp en mymer. Dalk herkou hy herinneringe van sy 5,000km fietsrit vanaf Qingdao na Tibet wat hy in 1991 as 24-jarige voltooi het. 


Of dalk oor die staptog van 4,328km op die syroete tussen Xi’an en Kashgar wat hy stoksielalleen afgelê het oor vyf maande in 1994/5. Of dalk toe hy op die noordelikste, suidelikste, oostelikste of westelikste punt van China gestaan het.


Een van Maizi se groot drome was om van hoek tot kant deur Afrika te stap. Maar dit het nooit realiseer nie. Toe stap hy maar altesaam 17,800km te voet deur China. Met net twee pare stapskoene. En hy gaan gee skool in Pulan, Tibet in 1998 en 1999 en word die eerste vrywillige ter wêreld wat dit doen. En hy ontmoet vir Gù in Jianxi op een van sy staptogte.

Maizi was ook ‘n joernalis. En ‘n bokser. Intussen het hy die bokshandskoene opgehang. 


Hy skryf ook nie meer nie. Sy herberg in Qingdao is nou sy passie. Dis hier waar hy en Gù en hul dogtertjie Cici hul gaste trakteer. Orals hang sy memoralia; sy ysbyl, waterbottel, kiekies, stewels, notas, briewe. ‘n Herberg vol herinneringe.


Ons kuier saam. Drink saam tee. Luister na stories oor Tibet. Ruil gedagtes uit oor reis en stap. Oor mense, oor musiek. En nou speel die African Jazz Pioneers, Johnny Clegg en Oliver Mtukudzi ook kliphard in The Wheat se binnehof. 

Qingdao het ‘n kleurryke verlede. Haar Chinese wortels gaan terug tot 6,000 jaar. Pluspunte was die natuurlike hawe, goeie viswaters, lieflike klimaat en strategiese ligging met betrekking tot Beijing, Korea en Japan.


En toe kolonialiseer Duitsland die deeltjie van China in 1898. 


Duitsland verander die hoofpad deur die dorpie na Marktstrasse, lê nog ‘n paar breë strate aan, vestig behuisingsareas, bou regeringsgeboue, elektrifiseer die hele plek, bou ‘n Rooms-Katolieke kerk op die een bultjie en ‘n Protestantse Kerk op ‘n ander en sorg vir ‘n paar eerstes in China soos riolering en skoon drinkwater.


 Op ‘n mooi aand in 1903, oor ‘n goue koue, besluit Horst, Jurgen en Uwe om die Tsingtao Brouery in Qingdao te vestig en so met die hulp van die Reinheitsgebot vir China oor te neem.


Duitse beheer is met die eerste Wêreldoorlog beëindig. Maar die Duitse nalatenskap word vandag nog met passie gekoester. 


Meeste van die ou Duitse geboue het behoue gebly en word as gedenkwaardighede bewaar. 


‘n Vreemde statigheid word deur die twee kerke oor die stad verleen. Albei is in gebruik. En in die straatkafees bring Tsingtao bier ‘n gemoedelike feestelikheid. Visgeregte is uiters gewild, en saam met die bier kry mens nogal ‘n Ocean Basket gevoel. 


Qingdao het ‘n huidige bevolking van net meer as 9 miljoen inwoners en is, behalwe vir Tsingtao, die tuiste van Hisense en Haier. Verder is dit een van China se bedrywigste hawens en ‘n belangrike basis van die Chinese vloot. In 2008 was Qingdao ook deel van die Olimpiese Spele met die aanbieding van die watersportitems. 


Qingdao is ook China se trou-hoofstad. 


Hier laat neem voornemende paartjies hul troufotos – op die kerkplein, met en sonder vuurwerke, op die strand, in kobbelstraatjies, in parke, op perde, orals. Om blyplek in Qingdao te kry, beteken dat jy pal in direkte kompetisie is met honderde voornemendes wat ook ‘n dubbelbed soek. Op enige weeksdag is daar meer bruide te sien as oor enige naweek in die Tintenpalast se tuine. 


So vertel ‘n vriend my eendag van Windhoek se stadspolisie wat ‘n klomp boemelaars onder die Jakarandabome in die Tintenpalast se tuine wakkermaak. So terloops raas een van die poliesmanne met die boemies omdat hulle so mors. Hy wys na die leë plastieksakke, bierbottels en KFC-houers. “Nee Meneer”, sê een van die boemies. “Issie ons wat so mors nie, issie bruide”.

Die bruide van Qingdao mors darem nie so erg nie. 

Ons verlaat Qingdao met ‘n sak vol herinneringe. En ons nooi die Temmer van Tibet en sy gesin om eendag saam met ons te kom stap in Afrika. 

Beijing

Katie Melua sing van die nege miljoen fietse in Beijing. Dis ‘n feit, sing sy; dalk is daar meer.

Die hoofstad van China was vir lank die grootste stad in die wêreld en is nog steeds die derde grootste megastad op ons planeet met 21,7 miljoen inwoners. 


Geleë op die noordelike uithoek van die Chinese vlakte en strategies begrens op drie kante deur bergreekse was die stad reeds sedert die 12e eeu ‘n logiese vesting vir die vroeë emperors. Dis waarskynlik in Beijing waar Marco Polo die resepteregte vir noedels verkry het en dit terug in Italië as spaghetti bekend gestel het. 


Die uiteindelike paleis van die emperors, die Forbidden City, is oor die eerste twee dekades van die 15e eeu voltooi. Van 1420 af tot in 1912 was die paleis die amptelike woning van die emperor. Die paleis is groot, nee baie groot. Daar is 980 geboue op ‘n area van 72ha. 


Sit ‘n dag opsy vir ‘n besoek aan die paleis en die aangrensende Tiananmen Square. Dis die grootste plein van sy soort in die wêreld en dis hier waar Mao die totstandkoming van die People’s Republic of China in 1949 aangekondig het. 


Byna 15 miljoen mense besoek die paleis per jaar, dis omtrent 41,000 per dag. Op ‘n sekere dag in Mei 2017 was ons twee deel van die 41,000.


Godsdienstige seremonies was vir baie eeue reeds deel van die emperors en die Chinese kultuur, maar met die keuse van Beijing as woonplek het die emperors besluit om die Temple of Heaven te bou, ‘n kompleks van geboue omring deur ‘n park van 267ha. Teen daardie tyd was die gebruik van offers en gebede ten hemele deel van Chinese kultuur en seremonie.


Die middelpunt van die kompleks is ‘n ronde struktuur, bo-op ‘n marmer fondament. Wat die drie-verdieping gebou merkwaardig maak is dat dit geheel en al van hout gemaak is, en dat geen spyker gebruik is nie. En versier is met kunswerk in pynlike detail. Uitstaande vakmanskap. 


Met ‘n gedokumenteerde geskiedenis van 3,000 jaar is Beijing ‘n interessant mengsel van oeroue en hipermoderne argitektuur en uitleg. Tradisionele hutongs, digbewoonde areas met ‘n doolhof van stegies, is die hart van die distrikte met straatkos en nagmarkte. Dis ook waar mens die lekkerste blyplekke kry. 


Oor millennia het die stad ‘n prominente rol in wêreldpolitiek en ekonomie gespeel en is vandag nog ‘n hutspot vir kultuur en kuns, sport en opvoeding. Meeste groot Chinese maatskappye en staatsinstellings se hoofkwartiere is in Beijing en dis ook hier waar 10% van die 500 topmaatskappye in die wêreld se hoofkantore is. Beijing lughawe is sedert 2010 die tweede besigste en sy metrosisteem die besigste in die wêreld. Altesaam 91 universiteite is in Beijing geleë waarvan twee op die wêreld se top 50-lys is. 


Nog nie beïndruk nie? Watter ander stad beskik oor sewe UNESCO wêrelderfenisgebiede? En watter ander stad het die vermoë om die Somer Olimpiese Spele (2008) sowel as die Winter Olimpiese Spele (2022) te kan aanbied? Trouens die Olimpiese fasiliteite is in ‘n spiekeries kondisie en word daagliks gebruik, meer as wat baie ander stede kan sê.


Hoewel bouery aan die eerste stukke van die Chinese muur reeds 700 jaar v.C. begin is, is dit oor tyd weer afgebreek en verwoes, herbou en aan mekaar gelas. 


Qin Shi Huang, die eerste emperor en baasbrein agter die kleisoldate in Xi’an, het glo 400,000 werkers – meeste van hulle was gevangenes – aangesit om die muur te bou. Die werkers wat in die tuig gesterf het, is sommer in die muur begrawe. Die grootste stuk bouwerk het egter tydens die Ming Dinastie van 1368 – 1644 plaasgevind. 


Die doel van die uiteindelike muur was om die plundery uit Mongolië te stuit, maar die muur is ook gebruik as ‘n beheerpunt toe handel langs die syroete geblom het. Die muur strek rofweg in ‘n oos-wes boog oor ‘n afstand van 6,259km. Voeg hierby 359km loopgrawe en slote en 2,232km van natuurlike hindernisse soos riviere, berge en heuwels en die totale lengte is 8,850km.


Die dele van die muur naby Beijing is die beroemdste en word ook die meeste besoek. Bedaling is ‘n gewilde besoekpunt, maar ons het Mutianyu verkies omdat dit effens stiller is. Ook omdat mens maklik die steiler deel van Jinshanling kan bereik. Hier is die muur tussen 5 en 8m hoog en tussen 6 en 5m wyd. 


Net soos die skaal van baie ander dinge in China, is die omvang van die muur verstommend. Die jongste dele van hierdie indrukwekkende struktuur staan reeds vir meer as 370 jaar. Nee wat, ons kan maar die kwaliteit van Chinese konstruksie vertrou. En mens wonder of Donald al ‘n paar somme oor sy beplande muur gemaak het. 

Terloops, die muur is nie sigbaar op satellietbeelde soos wat beweer word nie. Om die muur byvoorbeeld vanaf die maan te kan sien, sal beteken dat jy ook ‘n haar op 2km moet kan raaksien!

‘n Marathon vind jaarliks op die muur plaas. Hierdie epiese gebeurtenis is ‘n bietjie meer veeleisend as ‘n gewone marathon omdat dit meer as 5,000 trappies en verskeie steil op- en afdraendes insluit. Tydens ons besoek het ons twee Argentyne, ‘n ma-en-seun-kombinasie, raakgeloop wat aan die marathon deelgeneem het. Die ma was eerste in haar ouderdomsgroep. Ons kon ‘n bietjie gesels voordat ons uitgesak het en hulle maar laat gaan het om die muurbesoek af te draf.


Besoedeling oor Beijing is berug, danksy die BBC en kie. Ons besoek is begin met ‘n nag van reën en die volgende paar dae was die lug oor Beijing silwerskoon. Maar hieroor was daar nie ‘n berig nie. Ook het die BBC nie berig dat dronk en oorgewig mense ‘n seldsame verskynsel in Beijing is nie. Ook nie dat graffiti of enige iets eksplisiets nie voorkom nie. Of dat die metro stiptelik is nie. Of dat stedelike tereur ongekend is in China nie. Of dat WeChat absoluut wonderlik is nie. 

Die Berge Fantasties 

Zhangjiajie is nou nie juis ‘n naam wat so lekkersê soos Aranos nie. Aranos is spikkelklein en Zhangjiajie ook (volgens Chinese maatstawwe). Alhoewel laasgenoemde meer as ‘n miljoen inwoners huisves en Aranos minder as tienduisend is daar tog ‘n vreemde verwantskap tussen die twee. Afspraak in die Kalahari met Prof Christo Pienaar in die hoofrol is ‘n Carfo-fliek uit my kinderjare en geskiet in die rooi Kalahari waar Aranos ook neersitplek gekry het. Op sy beurt was die berge naby Zhangjiajie die inspirasie vir die fliek Avatar.

Zhangjiajie lê in die skadu van Tianmenberg. Dié berg is bedrieglik steil en styg oor ‘n kort afstand van 200 tot 1,500m. Bo is daar ‘n mooi plato vanwaar mens nogal wyd kan sien. Hoog teen die byna loodregte hange sit daar ‘n reuse grot wat mens ‘n uitsig “dwarsdeur” die berg gee. Tesame het die grot en die mooi uitsig op die plato daarvoor gesorg dat een van die langste kabelkarlyne in die wêreld hier aangelê is.


Ons besluit om Tianmenberg te besoek. Miljoene Chinese besoekers per jaar kan mos nie verkeerd wees nie.


Ons vertrek op ‘n witkneukelrit in ‘n bussie berg-op. Na die hoeveelste harnaalddraai besef ons hoekom die bestuurder se waarskuwing om ons vas te gord so ferm was. Die gille en gelag raak al hoe senuweeagtiger hoe hoër ons gaan. Uiteindelik spoeg die bussie ons genadiglik op ‘n parkeerterrein hoog teen die berg uit.


Toe begin die trappe. En ek besef dat die kleuterrympie “Trippe, trappe, trone” dalk nie so onskuldig is nie, maar eintlik ‘n martelliedjie is. Ons sweet, swoeg en swyg. Tans is daar aanbouery op die trappe. Vir ‘n bergfiets downhill track. Verbeel jou!


Toe die trappe ophou begin die roltrappe. Jy lees reg. Roltrappe. Na agt stelle hou ek op tel. Van bo af het mens, uhm, asemrowende uitsigte. Daar is glaspaadjies, houtpaadjies en hangbrûe. En 11km voetpaadjies kronkel deur die woude. Dis ‘n karstlandskap, so daar is grotte en skeure, spitse en kranse. Elke nou en dan is daar ‘n platform met die mooiste uitsig. Kiekomaanwêreld.





Ons stap elke liewe paadjie en neem die kabelkar afwaarts. Byna 7,5km lank, en ons land uiteindelik in die middedorp digby ons blyplek. Pootuit, maar o so tevrede. Môre vat ons die Tianzishanberge, omtrent 35km verder, aan. Avatarwêreld.

Weer in ‘n bussie wat ook skoolkinders, boere, werkers en enige ander soort passasier op- en aflaai. Tot by die hek van die Zhangjiajie Nasionale Park. Hier klim ons af, kaart in die hand, op ‘n bedompige oggend.


Ons stap langs ‘n slingerende bergstroompie tot by ‘n plekkie waar ons dink die afdraai van die pad na die Hallelujaberg is.


Die paadjie word stiller en steiler. Honderde mosbegroeide trappies. Later is ons stoksielalleen. Salig – in hierdie digbevolkte land, dink ons. “Stairway to heaven” is nogal gepas vir hierdie geleentheid, besluit ek.

Maar na reekse en reekse trappies besef ons dat die plekke op die kaart nie opspoorbaar op die roeteborde is nie. Nie in Engels nie, en ook nie in Chinees nie. Hier’s fout, besef ons. Nogtans is dit verskriklik mooi. Ons wroeg voort, op en af, totdat ons op jelliebene by ‘n bushalte aankom met ‘n naam heeltemal anders as die een op ons kaart. Ons ry met die bus tot by die plek waar ons begin het.


Alhoewel dit ‘n mooi paadjie was en ons behoorlike oefening ingekry het, besluit ons om môre weer te probeer. Afleiding 1: Nie alle kaarte is akkuraat nie. En ‘n kaart wat amper akkuraat is, is nie akkuraat nie. Soos ‘n vrou nie amper swanger kan wees nie. Afleiding 2: Paadjies sonder naamborde van die bestemmings is onbetroubare paadjies. Afleiding 3: As daar niemand op ‘n paadjie stap nie, hoort jy ook nie daar nie. Moet veral nie alleen op mosbegroeide, afgesonderde paadjies stap nie.


Gewapen met ‘n heelwat beter kaart pak ons die roete weer ‘n keer aan. En ons ontmoet ‘n paartjie uit Indonesië wat saam met ons stap. Nou is ons darem vier, op soek na Halleluja.


Verskeie stappaadjies loop deur die park, begin onder en eindig bo-op die plato. Bo is daar busse wat heen-en-weer tussen die eindpunte loop. Daar is kabelkarre en, glo dit as jy wil, ‘n hysbak om jou weer onder te kry. Ons kies die een kabelkarroete afwaarts. Dit bring ons tot in die dorpie Wulinyuan, vanwaar ons weer die bussie terugneem tot in Zhangjiajie.


Om Zhangjiajie binne te dring is makliker as om die plek te verlaat. Kyk, die gebergtes rondom Zhangjiajie is wragtig pragtig. As ‘n selferkende kiekomaan was dit nogal traumaties om te wonder of ek dalk ‘n besondere kiekie kon gemis het.

Daar is egter ook logistieke uitdagings. Direkte vlugte na en vanaf groter stede soos Xi’an, Shanghai en Beijing is slegs laataand, ‘n onsmaaklike tyd. Want mens is dan op ‘n gulsige taxibestuurder aangewese om ‘n onsekere bestemming te probeer bereik – ‘n uiters beproewende situasie. Treinverbindings is ook beperk en, soos ons geleer het, die naweektreine is stampvol.

Vir ons was al uitweg om ‘n bus na Changsha, ‘n groter stad, te neem vanwaar ons die oornagtrein na Beijing kon kry.


Dit reën toe ons in die bus klim. Ek skuif terug en luister na Vampire Weekend se M79. Behaaglik. Die berge fantasties is by Zhangjiajie.