Privaatsak 2116

Maandae en Donderdae het die rooi spoorwegbus gekom en op Dinsdae en Vrydae teruggegaan. Gekom met bultende possakke, pakkies en aflewerings. Teruggegaan met beantwoorde briewe, betaalde rekenings, bestellings en orders. Op Dinsdae en Vrydae is die roomkanne ook deur die bus opgelaai en op Maandae en Donderdae het die roomkanne leeg teruggekom. Soms het die bus ook ‘n pakkie by ons opgetel vir iemand stroom-op of -af op die roete.

As ek die stoffie van die bus in die verte gesien het, het ek begin stap om die possak by die bushalte te gaan haal. Die bushalte was ‘n sentrale punt op die buurplaas van Oom Flip, daar waar Oom Giftand gemaklik met die bus kon draai. Al die aangrensende plase het die bushalte van Oom Flip gedeel. Die possakke is sommer onder ‘n koelteboom, langsaan Oom Flip se tuinhekkie oor die draadheining gehang.

Terug by die huis is die possak dan met groot afwagting oopgemaak. Daar was briewe met interessante posseëls, posbestellingsgidse van Charles Velkes en Modesty, miskien ‘n Huisgenoot, Sarie, Topsport of Landbouweekblad en die vorige week se koerante.

Soms is die rooi spoorwegbus ook gebruik vir aflewerings vanaf die koöperasie of winkels op die dorp. Dan is die kampmateriaal, klipsout, brandstof of winkelgoedjies by Oom Flip se hekkie afgelaai, gemerk vir die nuwe eienaar met net ‘n enkele nota.

So het dit eenmaal gebeur dat die bestelling en die aflewering van teerpale by die bushalte nie dieselfde hoeveelheid was nie. Toe die nuwe eienaar van die pale navraag by die koöperasie doen, trek die koöperasie skouers op. Uiteindelik word daar ‘n amptelike saak by die magistraatskantoor gemaak, tussen die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, die koöperasie en die boer. En Oom Giftand se betroubaarheid word getoets.

Toe almal voor die magistraat ewe radeloos is, speel Oom Giftand sy troefkaart – ‘n ooggetuie.  Op die betrokke dag het die man daar naby onder ‘n ander koelteboom gesit. Hy moes tog immers gesien het hoe Oom Giftand die teerpale aflaai. Die ooggetuie vertel sy storie en alles loop reg totdat die magistraat hom vra oor die hoeveelheid pale. Toe maak hy verskoning: “Edelagbare, ek weet nie so mooi nie. Ek was besig om ‘n skaapnek te eet. Ek het nie baie opgekyk nie.”

Ek weet nie tot watter vergelyk die partye gekom het nie, maar Oom Giftand het nog vir jarre daarna die bus gery.

Die rooi spoorwegbus het ‘n belangrike rol in my vormingsjare gespeel. Dit was my kontak met die res van die wêreld. Die internet van my seuntjiewêreld. Ek het gewonder oor die geheimsinnige reis van die briewe, oor bestemmings en afsenders se onbekende adresse, oor die name en plekke waarvan die tydskrifte en koerante berig het, oor die oorsprong van die produkte wat by ons afgelewer is en oor die fabriek waarheen ons die room gestuur het.

My nuuskierigheid oor die groter wêreld het ‘n onblusbare wanderlust gekweek en die nederige spoorwegbus en Oom Giftand het my dalk meer gevorm as ek wat ek wil toegee.

Advertisements

Skrywer: oudoring

Eendag, lank gelede, het my pad gekruis met Sugnét. Ons was studente, verlief en verloof en later ook getroud, en het saam op 'n nuwe pad begin loop - nou reeds vir meer as dertig jaar. Ons is Dorslanders en woon gelukkig saam in Swakopmund. Wel, by tye, as ons nie reis nie.

2 gedagtes oor “Privaatsak 2116”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s