Dorptoe

Soms moes ons op mekaar se skote sit om in te pas. En dan slaap jou been as jy moet hek oopmaak. Maar omtrent eenmaal per maand moes ons dorptoe. Met ‘n laaaang lysie. Die besoekpunte het gewoonlik die dokter, veearts en magistraatskantoor ingesluit, ons moes ‘n draai maak by Von Watzdorf, Charney en Elektra, kiekies optel van karakoellammers by Photo Ludwig, medisyne kry by die apteek, ‘n pakkie vir iemand optel, navraag doen of die horlosie al reggemaak is deur Ploeger, en dan is die plaasaankope laastens gedoen by BKB.

Dorptoegaan was ‘n gebeurtenis. ‘n Belewenis, ‘n reis in die kleine.

Die onderskeid tussen plek, dorp en stad is vir my nogal vaag. Ewe vaag is die onderskeid tussen area, omgewing, gebied en streek. Kom ons neem die voorbeeld van Brackenfel. Is dit ‘n dorp, ‘n plek of ‘n stad? Of is dit deel van die Kaap? Met ander woorde, deel van ‘n area, omgewing, gebied, of streek? Dalk was hierdie tema al ‘n besprekingspunt op ‘n kunstefees, op Kwela se Dorp van die Jaar kompetisie, of op RSG se Hoe verklaar u dit.

Vir my maak die wettiese definisie nie eintlik saak nie – as reisiger gaan dit vir my oor ‘n bestemming. Oor die reis daarheen, oor die belewenis, die gebeurtenis.

Knysna is vir my ‘n mooi bestemming. ‘n Groterige, baie mooi plek. ‘n Dorp, dink ek. Ek is nie seker wat Knysna mooi maak nie. Is dit die water, die plantegroei, die uitleg, die mooi uitsigte, of die inwoners? Die strate is skoon, onderhoud word gedoen, ons word vriendelik gegroet en hulpvaardig bedien in Afrikaans, daar is orde en ons voel veilig op straat, die winkels is netjies en die pryse is billik.

Wat maak ‘n dorp mooi en gewild? Hoekom WIL mense daar bly? Hoekom wil mens ‘n dorp besoek? Hoekom groei party dorpe terwyl ander kwyn? Wat bepaal die belewenis van ‘n dorp?

Vir my is daar vier belangrike faktore, en toevallig vorm hierdie vier faktore die woordjie DORP. Dissipline, Onderhoud, Respek en Passie.

‘n Dorp funksioneer net beter as daar dissipline is. ‘n Deurmekaar plek, ‘n plek sonder orde en reëls, of ‘n ongeorganiseerde plek gee jou ‘n onlekker ervaring. Onderhoud, en veral voorkomende onderhoud, is noodsaaklik om ‘n dorp in stand te hou en te laat vorentoe gaan. Onderhoud wys dat iemand omgee vir ‘n plek. Respek is iets wat bewys word met standbeelde en straatname wat behoue bly, waar die mooi bevorder word en waar mense mekaar vriendelik groet. En laastens moet daar passie vir ‘n plek wees. Daar moet ‘n plan en ‘n doel wees. ‘n Dorp sonder passie en ‘n plan is voos. Lusteloos, sukkelend, vaal en ongewild.

Knysna is vir my so ‘n DORP. Ek hou van die plek omdat daar orde en respek is, onderhoud gedoen word en die passie vir die plek sigbaar is.

Advertisements

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

2 thoughts on “Dorptoe”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s