Dorptoe

Soms moes ons op mekaar se skote sit om in te pas. En dan slaap jou been as jy moet hek oopmaak.

Gereeld moes ons dorptoe, dis nou na die groter dorp toe, omtrent eenmaal per maand. Almal in ‘n bakkie met ‘n laaaang lysie. Die besoekpunte het gewoonlik die dokter, veearts en magistraatskantoor ingesluit, ons moes draaie maak by Von Watzdorf en Stumpfe, Charney en Elektra, kiekies van karakoellammers by Photo Ludwig gaan haal, klere wat verstel is optel by CG Theron Uitrusters, medisyne kry by die apteek, ‘n pakkie vir iemand gaan aflewer, navraag doen of die horlosie al reggemaak is deur Ploeger, en dan is die plaasaankope laastens gedoen by BKB.

Dorptoegaan was ‘n gebeurtenis. ‘n Belewenis, ‘n reis in die kleine.

Die onderskeid tussen plek, dorp en stad is vir my nogal vaag. Ewe vaag is die onderskeid tussen area, omgewing, gebied en streek. Neem nou maar die voorbeeld van Brackenfell. Is dit ‘n dorp, ‘n plek of ‘n stad? Of is dit deel van die Kaap? Met ander woorde, deel van ‘n area, omgewing, gebied, of streek? Dalk was hierdie tema al ‘n besprekingspunt op ‘n kunstefees, op Kwela se Dorp van die Jaar kompetisie, of op RSG se Hoe verklaar u dit.

Vir my maak die wettiese definisie nie eintlik saak nie – soms is ‘n dorp meer ‘n plek as dorp, soms is ‘n gehuggie ‘n dorpie, en soms is ‘n plek eintlik deel van ‘n stad. As reisiger gaan dit vir my oor ‘n bestemming. Oor die reis daarheen, oor die belewenis, die gebeurtenis.

Swakopmund Julie 2012 (21)

Daar is ander mooi plekke ook, maar Swakopmund en Knysna is vir my mooi bestemmings. Albei is groterige, baie mooi plekke. Dorpe, dink ek. Ek is nie seker wat Swakopmund en Knysna mooi maak nie. Is dit die see, en in Knysna se geval die water, berge en plantegroei, in Swakopmund se geval die uitleg, die gevoel en die ou geboue, of is dit in albei gevalle die somtotaal van mense en plek? Die strate is skoon, onderhoud word gedoen, die mense is vriendelik en hulpvaardig in verskeie tale, daar is orde, dis veilig en besoekers voel welkom.

IMG_9023

Wat maak ‘n dorp mooi en gewild? Hoekom WIL mense daar bly? Hoekom wil mens ‘n dorp besoek? Hoekom groei party dorpe terwyl ander kwyn? Wat bepaal die belewenis van ‘n dorp?

Swakopmund Julie 2012 (22)

Vir my is daar vier belangrike faktore, en toevallig vorm hierdie vier faktore die woordjie DORP. Dissipline, Onderhoud, Respek en Passie.

‘n Dorp funksioneer net beter as daar dissipline is. ‘n Deurmekaar plek, ‘n plek sonder orde en reëls, of ‘n ongeorganiseerde plek gee jou ‘n onlekker ervaring. Onderhoud, en veral voorkomende onderhoud, is noodsaaklik om ‘n dorp in stand te hou en te laat vorentoe gaan. Onderhoud wys dat iemand omgee vir ‘n plek. Gebrek aan onderhoud wys besoekers weg en laat geleenthede kwyn. Respek is iets wat bewys word met standbeelde, die behoud van ou geboue, en straatname wat behoue bly, waar die mooi bevorder word en waar mense mekaar vriendelik groet. En laastens moet daar passie vir ‘n plek wees. Daar moet ‘n plan en ‘n doel wees. ‘n Dorp sonder passie en ‘n plan vorentoe is voos. Lusteloos, doelloos, sukkelend, vaal en ongewild.

Knysna en Swakopmund is vir my sulke DORPe. Ek hou van die plekke omdat daar orde en respek is, onderhoud gedoen word en die passie vir die plek sigbaar is.

IMG_9034

Skrywer: oudoring

Eendag, lank gelede, het my pad gekruis met Sugnét. Ons was studente, verlief en verloof en later ook getroud, en het saam op 'n nuwe pad begin loop - nou reeds vir meer as dertig jaar. Ons is Dorslanders en woon gelukkig saam in Swakopmund. Wel, by tye, as ons nie reis nie.

2 gedagtes oor “Dorptoe”

Lewer kommentaar