Vleesbaai

‘n Belangrike deurbraak vir my is dat my gesig vertrou word om op die huis se rekeningnommer by die winkel te kan koop.

Advertisements

Iewers in die tagtigerjare kom ek vir die eerste maal aan op Vleesbaai, met ‘n grys Volla. Ons oë blink, studenteliefde staan in die blom.

Die grondpaadjie daal af teen die bult met sy rytjie houtstrandhuisies en ons stop by een se agterkant, tussen ‘n buitetoilet en ‘n watertenk. Daar is paraffien yskaste en ‘n enjinkamer met ‘n kragopwekker, en in die aand gebruik ons lanterns en kerse as die enjin stil is. Water kom van ‘n boorgat af. Almal ken vir almal, ek ontmoet die bure en ek word deel van ‘n uitgebreide familie en vriendekring. ‘n Belangrike deurbraak vir my is dat my gesig vertrou word om op die huis se rekeningnommer by die winkel te kan koop.

Minstens eenmaal per jaar was ons op Vleesbaai. Spoedig het ek geleer om die dwalende Volla teen ‘n veilige spoed op die N2 te hou, ten spyte van die alewige padwerke en met ‘n branderplank op die dak. Dit was raadsaam om die tog bedags aan te pak; die sesvolt ligte was ‘n waagstuk saans en die padstalle was oop bedags. Later was ons spanjoel die derde insittende. Vakansie en Vleesbaai was betroubare vennote tydens ons studentejare.

In die verantwoordelike jare na studentewees het ons ook nog probeer om minstens eenmaal per jaar op Vleesbaai uit te kom. Geriewe van vooruitgang het gekom – Evkom het besluit om sy kragnetwerk uit te brei, die strate is geteer, die water en rioolstelsel is verbeter, valhekke en toegangsbeheer het ingekom, Vleesbaai word ‘n stop vir die Trans-Augalhas rubberbote en sommige eienaars het hul nederige houthuisies vervang met indrukwekkende monumente.

Die logistiek het meer uitdagend geraak. Verlof, vakansie en Vleesbaai was soms ‘n moeilike driemansskap en die langpad deur die eindelose suide van Namibië en die groot leë binnekant van die Kaapprovinsie was genadeloos eentonig. Die Volla is vervang met opvolgers uit die Volkswagenstal – ‘n wit Jetta, ‘n bloedrooi Fox en ‘n nog rooier Jetta. Totdat dit tyd geraak het vir die dubbelkajuit, met genoeg spasie vir die kinders, worshonde en fietse. Die kinders het vir Kersvader leer ken. Hy ry met ‘n Beach Buggy, dra ‘n kortbroek, praat Afrikaans en gesels graag met almal op Vleesbaai.

Ek swem nie omdat swem ‘n sport is nie. As ‘n Kalaharikind is swem vir my baie soos Engelspraat. Inspannend. Ek moet ontsettend konsentreer om dit te kan doen. Maar Vleesbaai het ‘n wonderlike swemstrand. Veilig, kalm en betroubaar warm. En dis ‘n bymekaarkomplek vir bekendes in vakansietye. Dis waar ons uitvra oor die verlange van ‘n bekende in London en Perth, oor wanneer ‘n kindervriend gaan aftree as skoolhoof, oor die nuwe familie van ‘n tweede huwelik.

Oor die jare het sommige van Vleesbaai se bekende gesigte verdwyn. Die ooms met name soos Japie, Fritz, Andries, Awie, Theuns, Hendrik, Daantjie en Oubaas is weg. Seuns het name gekry soos Francois, Jean, Etienne, Jacques, Eugene, André, Hugo, Johan, Ryno en Louis. Nou’s ons die ooms. En die seuns wie vir ons Oom sê het name soos Jan-Hendrik, Le-Roy, Jean-Luc, Pieter-Gys, Hans-Richard en Ethniël.

Dinge het verander.

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

2 thoughts on “Vleesbaai”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s