Louter

Stap is vir my terapeuties. Stap bring vir my kalmte en berusting. Bring orde en beheer oor my gedagtes. Ledig my agendas. Zen my.

Advertisements

Atletiek is een van my gunsteling sportsoorte om te kyk. In ‘n waas van bewondering staar ek na atlete se buitengewone talente en vermoëns. Die gespierde lywe hou my nederig. Spoed het ek nie, ek kon nie eintlik ver of hoog spring nie, draf het my gou moedeloos gemaak, paalspring het nog altyd bonatuurlike konsentrasie en tegniek vereis en vir diskusgooi en gewigstoot het ek zero aanleg.

Maar ek kan stap. Ente. Sonder om moedeloos te word, gou dors of verveeld te raak, klaerig te wees.

Anders as draf is stap nie vir my stamperig nie. Stap laat mens se lyf nie skud en dril nie. Ek het nog nooit ‘n stap-besering opgedoen nie, maar ek weet van baie drawwers wat met allerhande kwale sit. Trouens, enige beweging van die menslike lyf vinniger as stap is potensieël onveilig en kan lei tot ongelukke en beserings. Stap, egter, is veilig en skadeloos. En mens kan orals stap.

Stap is vir my terapeuties. Stap bring vir my kalmte en berusting. Bring orde en beheer oor my gedagtes. Ledig my agendas. Zen my.

Die liefde vir stap het waarskynlik sy oorsprong in skaapbymekaarmaak. As kind was dit vir my avontuur. ‘n Eerlike, nuttige rede om in die veld te wees. Jy soek skape, maar sien plante, klippers en uitsigte raak. En ‘n vlakhaas of steenbok wat skielik opspring en weghardloop hou jou sintuie skerp. Jy sien spore en probeer dit eien, jy tel ‘n reuk op, die muggies en vlieë zoem om jou ore. En dit alles gebeur terwyl jy ‘n trop stomme, onnosele skape in ‘n rigting kry. Alles, ‘n eenvoudige, reinigende proses.

Staproetes was vir my ‘n groot onbekendheid tot in my universiteitsjare, totdat ek agtergekom het dat mens kan stap vir doelbewuste ontspanning. My North Star tekkies, my Kampmaat slaapsak, en my klein rugsakkie van seil was genoeg om die Bolandse berge en die tuinroete se kus en woude te verken.

Later het my arsenaal stapbykomstighede uitgebrei. Die skoeisel het deesdae ‘n windgat naam, die lang sokkies het geretireer tot onder die enkels, en die rugsak het ‘n dosyn klein wegsteekplekkies gekry maar is vol ligter as die leë seilsak van destyds. Dan is daar sonbrandgoed en ‘n kep, ‘n kamera, ‘n waterbottel, en soms ‘n ipod. Alles om die siel te suiwer.

My liefde vir stap het ook familiebande.

Met sy naderende 88ste winter, sit die klere aan sy lyf bietjie losser. Sy lyf is bietjie krommer, sy treë bietjie korter. Ook is die ente korter. En al neem dit hom al hoe langer om te stap, bly hy lief daarvoor. Elke keer vertel hy van die klein goedjies wat hy gesien het, hoe bevoorreg hy is om nog te kan stap. Stap bly vir hom ‘n waarderende ervaring. Toe hy een oggend na sy stap langs die see terugkom, sê hy dat hy wens hy kon al die mooi van die oggend in ‘n koffertjie sit en dan later weer stukkie vir stukkie uithaal om te geniet en bewonder.

Ek gaan aanhou stap, soos hy. Om die siel te suiwer. Om te verken en te bewonder. Om te ervaar. Om te louter.

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

3 thoughts on “Louter”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s