Kaap van Goeie Hoop

Die Suidoos het die Argus weggewaai. En duisende fietsryers kon hul rygoed heen-en-weer vervoer sonder om daarop te ry.

Helen Zille twiet oor iets wat ons dink, eintlik weet, maar nie mag sê nie. En kry wind van voor, amper soos die Argus.

Die Kaap is droog en vaal. Hier-en-daar is spatsels herfskleure op die wingerdblare. Kapenaars bid vir somerreën, al is dit ‘n winterreënstreek. Want die Kaap is dors. Maar hulle bid nie dat die onkapabele beplanners vervang moet word met bekwame amptenare nie.

Dagga word gewettig. Iemand het agtergekom dat ‘n sonde toe alletyd nie ‘n sonde is nie. Trek ‘n rooi streep deur dit wat ek kan onthou uit ‘n Jeugweerbaarheidsles op skool.

Zuma omring homself met ‘n kader talentlose, onderpresterende trawante. Hy haal elke moontlike voorblad. ‘n Vae rebellie teen hom ontstaan, landwyd.

Ons sit in verkeer op die N1 en ry ‘n uur lank aan dertig kilometer. Ek wonder oor die mooi van die Mooiste Kaap.

Ontnugter en duskant moedeloos slaan ek my oë op na die berg en wonder waar ons hulp vandaan kom.

Ek kyk na dieselfde berg en wonder waarom ons in Afrika woon.

Want ons is hier gebore. En ons ouers. En hulle ouers. Ons familie het ‘n opgetekende geskiedenis hier. My gesin is Afrikaans. En ons is lief vir Afrikaans. Ons is deel van ‘n netwerk van vriende, kennisse en kollegas oor kleurblinde grense. Almal mense wat ons aanvul, opbeur, help, ondersteun, liefhet.

En ons is lief vir Afrika. Want hier is die wisseling tussen dag en nag die mooiste en die sterre die helderste. Hier is daar nog baie diere en bome en min dieretuine en parke. Hier het ons waardering vir lewegewende reën. Vir blou, onbesoedelde lug. En hormoonlose kos. Hier kan mens jou hande in die grond druk en voel soos ‘n landman en rentmeester. Hier kan ons kaalvoet loop. Stap langs oneindigende strande, stap deur landskappe uit Psalm 23 se wêreld, alleen raak en partymaal nog ontdekkingsreisigers wees. Vuurmaak waar ons wil. ‘n Hek oopmaak. Agterop ‘n bakkie ry. Vyekonfyt eet. Biltong kerf en droëwors knak.

Afrika se mense is nog jonk. Dit gaan nie altyd goed met die mense van Afrika nie. Daar is maar baie aanpassingsprobleme en ontwikkelingsuitdagings. Soos dit met jongmense gaan. Op sommige terreine is die groei te snel, en op ander duur die verandering te lank. Soms is daar ‘n Z-faktor in die salf.

Om in die aand te drentel in Kloofstraat, ‘n wedstryd op Nuweland by te woon, teen skemer in Seepunt te gaan stap, ‘n teug goeie wyn van die Kaap te sluk, en op Bloubergstrand na die berg te kyk gee mens hoop.

Jan van Riebeeck en sy manskappe het eendag, lank gelede, aan die voet van dieselfde berg nesgeskop. Hulle het waarskynlik ook opgekyk vir hulp. Jan-hulle het aangebly, al was hulle seker ook ontnugterd en moedeloos by tye. Jan het die potensiaal van die plek raakgesien want hy het dit Die Kaap van Goeie Hoop genoem. En al vir 365 jaar maak sy nasate ‘n verskil aan Afrika.

Ek bly hoop. Ek bly glo in Goeie Hoop. Soos Jan-hulle.

Gelukkige Van Riebeeck-dag!

Advertisements

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

3 thoughts on “Kaap van Goeie Hoop”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s