Agter die Ystergordyn

Die eerste Chinees wat ek ontmoet het se naam was Bruce Lee. Deur middel van ‘n Enter the Dragon fliek. Op ‘n 35mm projektor met ‘n pouse tydens die vertoning wat toelaat dat die filmrolle omgeruil word. Met Bruce se seningrige, swetende kaalbolyf op ‘n plakaat teen die muur van my koshuiskamer was ek veilig en vreesloos.

Vir lank het ek gedink dat die gemiddelde Chinese man bonatuurlik fiks en so rats soos ‘n kat is. Danksy Bruce het ek gedink dat ‘n Chinese man jou teen die spoed van witlig kan plat klap, ‘n sammersol agteroor kan doen en veilig op ‘n enkele baksteen kan land – als in een beweging. Volgens die Suid-Afrikaanse Kinder-ensiklopodie het die gemiddelde Chinese vrou vervormde klein voetjies gehad as gevolg van ‘n ydele poging om petite te bly.

Later jare het nog wanindrukke oor Chinese bygekom: Daar was die Rooi Gevaar en die skaduwee van kommunisme, en rondreisende dominees het gruverhale vertel oor gemartelde sendelinge. Hollywood het Chinese uitgebeeld as opperskelms met wreedaardige kartelle. Gevolglik het ek en baie ander kinderkranskinders gebid vir die mense agter die Ystergordyn – ‘n vae sambreelterm vir alles wat verkeerd was op die Asiese vasteland.

Toe betrek die Chinese vreedsaam die Afrika vasteland in onlangse jare. Hulle werk soos miere, wen tenders van superkonstruksies, en vestig winkeltjies op plekkies soos Gochas en Kamanjab. En die voorblaaie berig oor smokkelhandel, konneksies met renosterstropery, belastingontduiking, bande met korrupte leiers en onwettige transaksies.

Te midde van ons agterdog besluit ons seun om Agter die Ystergordyn te gaan werk.

En ons gaan kuier vir hom in Shanghai – ‘n stad met 24 miljoen mense. Lees net gou weer: 24,000,000 mense. Dis die helfte van Suid-Afrika se bevolking en twaalf maal meer mense as in die ganse Namibië. In een stad.

Alles werk. Geen kragonderbrekings, geen watertekorte, geen onveiligheid, die verkeer is ordelik, openbare vervoer is stiptelik en toeganklik Dis ‘n mooi stad – met skoon strate, gesoom met goedversorgde bome. En die lente word gevier met uitbundige blomme in potte, bakke en beddings in die middel en langs die strate, in parke en op openbare oop ruimtes. Saans word die geboue versier met gekleurde liggies. Ter wille van almal se plesier. ‘n Volwasse benadering, sou ek sê.

Saterdae en Sondae is maar net nog dae op ‘n Chinese almanak. Niemand word toegelaat om vuurwapens aan te hou nie. Polisie is altyd sigbaar en behulpsaam. Geen dronk persoon verskyn op straat nie. Bedelaars en boemelaars bestaan nie. Die afwesigheid van werkloosheid en sosiale verval is opvallend. Misdaad is ‘n rariteit. Om vir so baie mense so ‘n hoë kwaliteit lewe te waarborg is eenvoudig indrukwekkend.

Maar so ‘n groot konsentrasie van mense is vreesaanjaend. Al is die een-kind-per-gesin-beleid nog van toepassing, word China se bevolking steeds meer. En al het Chinese die meeste fietse in die wêreld, wil die gemiddelde aspirerende Chinees ook ‘n kar, ‘n huis en kos op die tafel hê. Die Chinese ekonomie bly gewillig groei, en daar is nog baie ruimte vir verdere groei.

Wat in China gebeur, plaas druk op natuurlike hulpbronne, nie net op sy eie nie, maar op die wêreld s’n. Dis hoekom Chinese uitwyk na ander lande met baie, en ongetapte, hulpbronne. Waar daar nog leë ruimtes en baie moontlikhede is.

En dis dalk die een probleem Agter die Ystergordyn waarvan almal op Moeder Aarde moet kennis neem.

Advertisements

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

3 thoughts on “Agter die Ystergordyn”

  1. Shanghai lê my baie na aan die hart. Terwyl ek by jou lees, sien ek ook weer die anderste wêreld daar raak. Die ongelooflik baie mense, die pragtige geboue, die breë strate, die markte, en die heerlikste bakke “noodles”.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s