Bonsais en Buddha

In China woon daar ongeveer 1,400,000,000 mense. Om so baie mense ordelike blyplekke te gee, het mens stede nodig. Redelik baie daarvan. Hoë, digte stede. Stede met name waarvan ek nog nie voorheen gehoor het nie. 

Suzhou en Wuxi is twee van hulle. Beide is geleë langs die Tai Meer, suid van die benede-Yangste Rivier in die Jiangsu Provinsie in China. Maar nie een van die twee is jonk nie. 

Suzhou (uitgespreek soe-djou) is ‘n stad van meer as 10 miljoen mense en bestaan al vir 2,500 jaar. Dis ‘n stad van kanale en tuine, klipbruggies en pagodas.


 Die ou deel van die stad het taamlik behoue gebly en mens kan in dieselfde straatjies drentel waar handelaars uit Marco Polo se tyd besigheid gedoen het. 


Met sy kanale en klein bootjies, nou straatjies en die sjarme van bejaarde geboutjies bied Suzhou se oustad aan Chinese wat Venesië aan die res van die wêreld bied – teen ‘n fraksie van die prys.

Maar Suzhou is eintlik bekend vir sy tuine – sy tuine is kollektief ‘n Wêrelderfenisgebied. Die tuine is eeue-oud, aangelê deur die antieke heersers van China. Oor die eeue het orde en tydsaamheid gekom. Daar is stroompies, voortjies en visdamme, blomtuine en boomruigtes, klippaadjies en trappies, bonsai-hoeke en pagodas, sitplekke en teesalonne. En getrou aan Chinese standaarde – die versorging en detail is uitstaande.


Gepraat van bonsai, hierdie kunsvorm het sy oorsprong in China en nie in Japan nie. Eintlik is die Japanese woord bonsai ‘n vervorming van die Chinese woord penzai. Die debat oor die oorsprong van bonsais is baie soos die debat oor die oorsprong van die beste biltong. Terug na bonsais; om bonsais te versorg is blykbaar baie verrykend en kalmerend. Vir my was dit sommer net verrykend en kalmerend om bloot die toewyding van hul versorgers te bewonder.


Moet mens Suzhou besoek? Beslis. Maar bring tyd saam om te waardeer en behoorlik in te neem. En sorg dat jou blyplek naby die ou stad is, dis die beste manier om Suzhou ten volle te ervaar, ook in die aand as jy straatkos soek.


Wuxi (uitgespreek hoe-sjie) se inwonertal is omtrent ses miljoen, en die stad is so vyf eeue ouer as Suzhou. Die ou deel van die stad het behoue gebly, maar is nie so gewild soos Suzhou se oustad nie. Wuxi se troefkaart is die Grand Buddha by Ling Shan buite die stad. 


Grand Buddha staan 88m hoog, op ‘n koppie aan die suidekant van Longshan Berg. Rondom die beeld is ‘n yslike park met nog ‘n paar monumente. Daar is tuine en groot pleine, damme, watervalle en spuitfonteine. Die hele plek word pynlik netjies versorg. Dit lok derduisende besoekers elke dag. Mens kan selfs seisoenkaartjies koop om die plek te besoek. Daar is ouditoriums en konferensiesale, en die skaal van alles is oortreffend. Om die hele gebied te verken neem die beste deel van ‘n volle dag. 


Die besoek aan Grand Buddha is ‘n ietwat ontnugterende ervaring. In my kop hoor ek al die preke en waarskuwings uit my kindertyd teen afgode en wêreldse liefdes en die dwaalleer van ander godsdienste. En ek moet erken dat ek meer as eenmaal na Buddha as Baäl verwys het. 


Wat is ‘n afgod? Ek wonder of Buddha ‘n afgod is. En ek wonder waaroor Boedisme nou eintlik gaan. Vir my klink dit meer soos ‘n filosofie wat neerslag vind op allerhande vorme van die Chinese leefwyse. Meeste Chinese is ongodsdienstig, maar leef op eenvoudige beginsels waarna menige christene maar net kan streef.


Ek wonder oor die oes en die arbeiders en ek wonder oor die moeilikheidsgraad van die uitdaging, waarvan die taalgrens waarskynlik die digste is. 

Advertisements

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

4 thoughts on “Bonsais en Buddha”

  1. Jy is ń skrywer van formaat! Die insig wat jy so vervleg in jou waarnemings en vertallings, is regtig uitstekend. Klink ek nou soos ń skooljuffrou…Maar regtig. Jy het ń talent vir wat jy hier doen.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s