Kompartement 10 op T381

Die afstand tussen Shanghai en Guilin is rofweg 1,500km. Tussen die twee plekke is daar verskeie oornagtreine, met verskillende vertrek- en aankomstye, op verskillende roetes. Daar is ook sneltreine en vlugte.

Ons keuse was die oornagtrein wat 17h00 uit Shanghai vertrek en om 12h00 die volgende dag in Guilin aankom. Hoewel die trein 160km per uur haal, is daar 16 haltes op die pad. Dis behalwe die stoppe om ander treine te laat verbygaan. 

Mens het ‘n hele paar opsies op ‘n oornagtrein – harde slaapbanke in ‘n oop kompartement, vier beddens in ‘n kompartement met ‘n toesluitdeur, sagte stoele en harde stoele. Hoe meer die ongerief, hoe goedkoper die kaartjie. 

Ons lot het geval op ‘n kompartement met vier beddens en ‘n toesluitdeur. Die kaartjies vir ons twee kos ‘n rapsie meer as 1,000 yuan, dis omtrent R2,000. Nie te sleg vir so ‘n lang afstand met slaapplek as ‘n toegif nie. 

Die trokke het sentrale lugreëling want geen venster kan oopmaak nie. Wat beteken dat jy in jou eie sweet gaan verdrink agter ‘n toedeur op ‘n warm moensoennag. Daar is ook luidsprekers waarop die Chinese weergawe van Afrikaans is Groot speel. Genadiglik kan mens die klank afdraai. Aan die end van elke trok is daar ‘n toilet en ons trok het ook ‘n badkamertjie gehad. Warm water is konstant beskikbaar.

Hoe slaap ‘n mens op so ‘n rit? Eerstens, daar is geen ritmiese kat-te-ke-tik, kat-te-ke-tik nie. Eerder ‘n soort suisgeluid met onvoorspelbare tone, afgewissel met verrassende stamperigheid. Om die byklanke gewoond te raak is soos om die resonant van ‘n hamermeul te probeer kry. Tweedens is die rukkerigheid voor en na stoppe nogal steurend tydens jou nagrus. Maar mens slaap lekkerder as op ‘n langafstandvlug in ekonomiese klas. 

Moet mens per trein reis in China? Beslis. China het die bedrywigste spoorwegsisteem in die wêreld. Spoorlyne vorm die are op die kaart van China en mens kan byna enige plek bereik per trein. Treine is skoon en gerieflik, bekostigbaar, betyds en mens sien ook baie. Die sneltreine is netjies, voorbeeldig stil en vreeslik vinnig. Amper soos ‘n hoofseun wat ook vleuel speel vir die eerstespan. Snelhede van meer as 300km per uur is sommer niks. 

Treinstasies is so groot soos rugbystadions met besoekersgetalle aansienlik meer as by ‘n Bulls-wedstryd deesdae. Op en rondom sulke stasies is daar gewoonlik ‘n menigte winkeltjies, eetplekkies en smousstalletjies. Maar mens moet mooikyk – daar is dikwels meer as een groot stasie in elke groot stad. Nan beteken suid en bei noord. Dan is daar ook dong wat oos en xi wat wes beteken. 


Behalwe die formidabele treinsisteem van China is daar die ewe indrukwekkende bussisteem in elke stad. Die groter stede het ook nog ‘n metrosisteem. Metros is gerieflik, maar voorspelbaar onopwindend. Busritte daarenteen, is avontuurlik. Ons ontdek elke keer iets per bus. ‘n Kaartjie op enige rit per bus of metro kos selde meer as 4 yuan (R8), maar in die meeste gevalle net 2 yuan. Wat kan mens nog vir ‘n skamele R4 koop wat soveel plesier soos reis gee? 

Daar is ook altyd ‘n kans om iemand te ontmoet op ‘n trein, metro of bus. So het Duckelina selfs maatjies gekry tydens ons treinrit.

Advertisements

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

2 thoughts on “Kompartement 10 op T381”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s