Tibetstories oor ‘n koppie tee

Al gehoor van die bokser van Qingdao? Die ou wat China van hoek tot kant deur gestap het? Ons het ook nog nooit van hom gehoor nie, totdat ons by hom en sy gesin in Qingdao oorgebly het. 

Maizi (sy naam beteken letterlik wheat, wat ook die naam van sy blyplek is) is ‘n man van min woorde. 


Gewoonlik sit Maizi agter sy pyp en mymer. Dalk herkou hy herinneringe van sy 5,000km fietsrit vanaf Qingdao na Tibet wat hy in 1991 as 24-jarige voltooi het. 


Of dalk oor die staptog van 4,328km op die syroete tussen Xi’an en Kashgar wat hy stoksielalleen afgelê het oor vyf maande in 1994/5. Of dalk toe hy op die noordelikste, suidelikste, oostelikste of westelikste punt van China gestaan het.


Een van Maizi se groot drome was om van hoek tot kant deur Afrika te stap. Maar dit het nooit realiseer nie. Toe stap hy maar altesaam 17,800km te voet deur China. Met net twee pare stapskoene. En hy gaan gee skool in Pulan, Tibet in 1998 en 1999 en word die eerste vrywillige ter wêreld wat dit doen. En hy ontmoet vir Gù in Jianxi op een van sy staptogte.

Maizi was ook ‘n joernalis. En ‘n bokser. Intussen het hy die bokshandskoene opgehang. 


Hy skryf ook nie meer nie. Sy herberg in Qingdao is nou sy passie. Dis hier waar hy en Gù en hul dogtertjie Cici hul gaste trakteer. Orals hang sy memoralia; sy ysbyl, waterbottel, kiekies, stewels, notas, briewe. ‘n Herberg vol herinneringe.


Ons kuier saam. Drink saam tee. Luister na stories oor Tibet. Ruil gedagtes uit oor reis en stap. Oor mense, oor musiek. En nou speel die African Jazz Pioneers, Johnny Clegg en Oliver Mtukudzi ook kliphard in The Wheat se binnehof. 

Qingdao het ‘n kleurryke verlede. Haar Chinese wortels gaan terug tot 6,000 jaar. Pluspunte was die natuurlike hawe, goeie viswaters, lieflike klimaat en strategiese ligging met betrekking tot Beijing, Korea en Japan.


En toe kolonialiseer Duitsland die deeltjie van China in 1898. 


Duitsland verander die hoofpad deur die dorpie na Marktstrasse, lê nog ‘n paar breë strate aan, vestig behuisingsareas, bou regeringsgeboue, elektrifiseer die hele plek, bou ‘n Rooms-Katolieke kerk op die een bultjie en ‘n Protestantse Kerk op ‘n ander en sorg vir ‘n paar eerstes in China soos riolering en skoon drinkwater.


 Op ‘n mooi aand in 1903, oor ‘n goue koue, besluit Horst, Jurgen en Uwe om die Tsingtao Brouery in Qingdao te vestig en so met die hulp van die Reinheitsgebot vir China oor te neem.


Duitse beheer is met die eerste Wêreldoorlog beëindig. Maar die Duitse nalatenskap word vandag nog met passie gekoester. 


Meeste van die ou Duitse geboue het behoue gebly en word as gedenkwaardighede bewaar. 


‘n Vreemde statigheid word deur die twee kerke oor die stad verleen. Albei is in gebruik. En in die straatkafees bring Tsingtao bier ‘n gemoedelike feestelikheid. Visgeregte is uiters gewild, en saam met die bier kry mens nogal ‘n Ocean Basket gevoel. 


Qingdao het ‘n huidige bevolking van net meer as 9 miljoen inwoners en is, behalwe vir Tsingtao, die tuiste van Hisense en Haier. Verder is dit een van China se bedrywigste hawens en ‘n belangrike basis van die Chinese vloot. In 2008 was Qingdao ook deel van die Olimpiese Spele met die aanbieding van die watersportitems. 


Qingdao is ook China se trou-hoofstad. 


Hier laat neem voornemende paartjies hul troufotos – op die kerkplein, met en sonder vuurwerke, op die strand, in kobbelstraatjies, in parke, op perde, orals. Om blyplek in Qingdao te kry, beteken dat jy pal in direkte kompetisie is met honderde voornemendes wat ook ‘n dubbelbed soek. Op enige weeksdag is daar meer bruide te sien as oor enige naweek in die Tintenpalast se tuine. 


So vertel ‘n vriend my eendag van Windhoek se stadspolisie wat ‘n klomp boemelaars onder die Jakarandabome in die Tintenpalast se tuine wakkermaak. So terloops raas een van die poliesmanne met die boemies omdat hulle so mors. Hy wys na die leë plastieksakke, bierbottels en KFC-houers. “Nee Meneer”, sê een van die boemies. “Issie ons wat so mors nie, issie bruide”.

Die bruide van Qingdao mors darem nie so erg nie. 

Ons verlaat Qingdao met ‘n sak vol herinneringe. En ons nooi die Temmer van Tibet en sy gesin om eendag saam met ons te kom stap in Afrika. 

Advertisements

Skrywer: oudoring

Married for 30 years to Sugnét. Two children. We call Namibia our home country, but travel currently as part of a sabbatical year.

4 thoughts on “Tibetstories oor ‘n koppie tee”

  1. Nee man, hierdie is te veel en te groot om in te neem! Ek het nog ń dag nodig voor ek kommentaar kan lewer…😉 Ek kan so intens verdwaal raak in jul fotos, dat dit ń probleem raak. Sal ń tree moet terug neem. Hoekom het ons nooit op skool oor hierdie plekke geleer nie!!!

    Liked by 1 person

    1. Onthou jy PW se Rooi Gevaar? Dis hoekom ons nie daarvan geleer het op skool nie. Was vir ons net so n groot verrassing om Qingdao te ontdek. Ons China reis staan einde se kant toe, maar ons moet weer kom; ons het nog net n klein deeltjie van die land gesien. Hier is nog baie, baie meer om te ontdek.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s