Hansie Slim

Dit is Radio Suid-Afrika. Hier volg die nuus gelees deur Daniel Kirstein. Eers die hooftrekke: ‘n Geskil het ontstaan met die uitlewering van die oorskot van …

Advertisements

Smiddae tussen een en halftwee was gewyde tye in die huis waarin ek groot geraak het. Ook saans tussen sewe en agt. Dit was die tye waarin daar meer geluister is as gepraat. Radio was toe nog koning.

In die middag het ons geluister na afkondigings oor “radioprogramme wat deur die loop van die dag volg”, noodberigte (“Daar word gesoek na Meneer en Mevrou Swart van Aliwal-Noord wat iewers op reis is tussen Upington en Postmasburg. Dit is in verband met Meneer Swart se moeder.”), die weervoorspelling en dan die nuus, stiptelik om kwart-oor-een. Die nuus is gevolg met die streeknuus.

Ek onthou die meesleurende stemme van Morkel van Tonder, Edwil van Aarde, Fonnie du Plooy, Daniel Kirstein, Leon van Nierop, Nic Swanepoel en Thinus de Villiers. Hul stemme het geloofwaardigheid aan onakkuraathede soos noodberigte en die weervoorspelling verleen. Hulle het my geleer van woorde soos plek-plek, elders, mooiweer en bloedig warm. En van plekke soos Kaap Infanta, Kosibaai en die platorant.

Saans is die nuus voorafgegaan met drie bieps. Met gesag is die nuus ingelui met “Dit is Radio Suid-Afrika. Dis nou sewe-uur en hier volg die nuus gelees deur Daniel Kirstein. Eers die hooftrekke: ‘n Geskil het ontstaan met die uitlewering van die oorskot van …”

Aandnuus is gevolg deur die weervoorspelling, Boekevat en dan die storie – Wolwedans in die Skemer, Ongewenste Vreemdeling of dalk Die Wildtemmer.

“Weervoorspelling” was waarskynlik een van die eerste groot begrippe wat ek as kind onder die knie gekry het. Die draadloos het ‘n bepalende bydrae in hierdie verband gehad. Vroeg in my lewe het ek geleer dat die weer vir ons Dorslanders belangrik is. Meer korrek – die moontlikheid van reën was vir ons belangrik. Ons het elke dag met aandag geluister na die kanse vir reën, selfs twee tot drie keer, en die moontlikheid daarvan het die luim in die huis beïnvloed, en vendusies en biddae help beplan.

Weervoorspelling in Maleisië, daarenteen, is waarskynlik ‘n verwaarloosde, onbelangrike wetenskap omdat dit byna geen doel of bestaansreg het nie. Dis elke dag warm. En dit kan omtrent elke dag reën. Dis selfs snags ook warm. En dit kan snags ook reën. Niemand hoef iets hieroor te voorspel nie. Niemand hoef gewaarsku te word teen skielike koue nie. En niemand raak opgewonde as die reënkanse meer belowend raak nie. Want dit gáán reën. Hard en baie. Net as die lug blou is, gaan dit nie reën nie. Wat nie sommer gebeur nie.

Kota Kinabalu kry omtrent 2400mm reën per jaar. Dis 2,4m reën. Amper sewe voet reën. Die grond sal diep nat word met soveel reën, sou ons in die Kalahari sê. As net 10mm op elke reëndag val, het mens ‘n drie-kwart jaar se reëndae nodig.

Ander dele van Maleisië, soos Berg Kinabalu, kry selfs meer reën. Dis omdat die hele land, dié deel van Maleisië op die Asiese vasteland sowel as die Borneo eiland-deel, bitter naby aan die ewenaar lê. Voeg berge en ‘n omringende warm see by, en jy het die resep vir oorvloedige reën.

IMG_1571

Ons wil graag Berg Kinabalu gaan klim. Dié berg is meer as 4,000m hoog en vorm die middelpunt van die Kinabalu Park van 75,000ha, sedert 2000 ‘n Wêrelderfenisgebied.

IMG_1573

Kinabalu Park word geag as een van die verskeidenheidrykste plantegroeistreke in die wêreld omdat dit oor vier klimaatstreke strek. Ses plantegroeisones met ‘n geskatte 6,000 plantsoorte kom hier voor, meer as die helfte van die hele Borneo se plant spesies. Die laerliggende dele is warmer, bome hoër as 50m is algemeen en die ondergroei is dig.

IMG_1605

Hoër op teen die berg raak dit koeler en die plante krimp in hoogte. Permanente watervalle en strome loop al langs die boep van die berg.

Ons neem ‘n langafstandbus na Kundasang, die gehuggie naby Berg Kinabalu. Ons kry blyplek om die draai van die ingang na die park. Die uitsig is mooi, maar die geriewe verdag.

Maleisiese badkamers is byna sonder uitsondering altyd nat. Te nat na ons sin. Dis omdat die stort en toilet in ‘n beknopte kombinasie in dieselfde klein vertrekkie is. Sonder uitsondering is daar iewers ‘n permanente lek, of ‘n plassie water, en plastiekhouers met water. Hoewel ons dit gaandeweg gewoond geraak het, is ons toenemend opgewonde as die stort verder as een meter vanaf die toilet is. Solank dit skoon is, kan ons deurdruk met die beknopte omstandighede, maar die blyplek hier in Kundasang toets ons uithouvermoë. Badtyd word ‘n beproewing en ons besluit om ‘n ander kamer te vra.

Met die kamer-episode afgehandel, pak ons die park aan die volgende oggend. En besef onmiddellik dat dit nie maklik is om die berg uit te klim nie. Eerstens is daar ‘n maandelange waglys en tweedens moet mens diep sakke hê om dit te kan bekostig – N$4,500 per persoon. Dis vir die roete van 8,8km met ‘n gids en luukse akkommodasie, oor twee dae. Ons maak vinnig somme – met N$9,000 kan ons nog lank en ver reis.

IMG_1589

Ons besluit om liewer net die gewone stappaaie te doen en nie vir Duckelina die bokant te gaan wys nie. Ons gaan liewer die kruin van onder af bekyk.

Behalwe vir gereelde rots-stortings is die reënwoude rondom Berg Kinabalu ongeskonde. Geen byl is nog gelê teen enige boomstam nie. Hier is ‘n groot keuse van stappaaie, met verskillende moeilikheidsgrade, lengte en uitsigte.

IMG_1587

Ons kies die langste een, al langs die Liwagu Rivier, opwaarts tot by die Timpohon Hek waar net die bergklimmers deurgelaat word. Ongelukkig vind ons halfpad uit dat die roete gesluit is vanweë ‘n rotsstorting en ons moet oorslaan na die tweede langste roete. Nogtans is dit ‘n staptog wat ons nie gou sal vergeet nie.

IMG_1574

Ek was nog elke keer opgewonde oor ‘n enkele orgidie wat ek aan die groei kon kry, hier kom meer as 800 soorte orgidieë voor! En hulle groei oral.

IMG_1612

Verder is hier meer as 60 eikesoorte, meer as 80 soorte wildevye, meer as 50 soorte palms, by die 40 soorte gemmer, omtrent 30 soorte bamboes, en meer as 600 soorte varingspesies. Boomvarings hier word tot 20m hoog. Orals is lugplante, plante met blomme, mosbegroeide stompe en stroompies.

IMG_1576

Ons sien weliswaar nie wild nie, maar kom darem op ‘n vars spoor van die “Clouded Leopard” af. En sien ook baie voëls.

Regoor die ingang na die park is ‘n plaaslike restourant. Na ons besoek aan die park gaan soek ons aandete. Terwyl ons eet, sak ‘n onvoorspelde reënbui uit. En ons kyk hoe twee mense vergeefs in die reën ‘n langafstandbus probeer stop. Dit hou aan reën, en ons drink maar nog ietsie, terwyl ons hier van onder af kyk na die kruin. Na die reën betaal ons – 18 Ringit in totaal. Dis N$54. So ja, nou kan ons weer verder toer.

Daai N$9,000 wat ons gespaar het, gaan ons nog ver bring.

Skrywer: oudoring

Eendag, lank gelede, het my pad gekruis met Sugnét. Ons was studente, verlief en verloof en later ook getroud, en het saam op 'n nuwe pad begin loop - nou reeds vir meer as dertig jaar. Ons is Dorslanders en woon gelukkig saam in Swakopmund. Wel, by tye, as ons nie reis nie.

2 gedagtes oor “Hansie Slim”

  1. Julle raak al hoe slimmer, lyk dit vir my.☺ Lekker hoog en droog sit julle twee toe! Jy het jou skrywe so oulik begin, my sommer baie jare teruggeneem. Ai, en die Asiese badkamers. Daaoorr voel ek so saam met julle!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s