Port Barton toets die ware betekenis van die woordjie paradys. Die dorpie lê op die kromming van ‘n baai aan die westekant van Palawan Eiland, vasgedruk tussen ‘n beenwit strand en ‘n woudbedekte bergreeks. Die strand is gesoom met wiegende kokospalms en die water is badwarm, helder en kalm. Port Barton is ‘n klein dorpie. So klein dat daar nie eens ‘n bank is nie, en waar krag net beskikbaar is tussen halfses en halftwaalf saans.
Met hoogwater spoel die mak brandertjies tot reg teenaan die trappies van ons blyplek. So, uit die hangmat op ons stoepie, loer ons na een van die bote wat geduldig op ons wag om môre te gaan snorkel.
Dis vreedsaam en stil hier. Kinders speel op die strand en ‘n paar vissermanne sluk die dag af met ‘n Red Horse. Verder weg by die Purple Turtle nooi Reggae klanke die klante nader.
Saam met die nuwe dag klim ons en ‘n Portugese en ‘n Belgiese paartjie op die snorkelboot. Die skipper en sy bootsman is ouhande en neem ons van die een idilliese plek na die ander om die wonders van die onderwaterwêreld te verken.
My kamera werk oortyd, maar ek weet dat geen kiekie regverdiging kan gee aan die hemelse mooi van hierdie stukkie skepping nie. Buitendien kan ek nie die wonders van die onderwaterwêreld kiek nie, en ek kry al hoe meer spyt omdat ek nie daai GoPro aangeskaf het nie. En dat ek nog nie ‘n duikkursus gedoen het nie.
Ons ry langs afgeleë ente kus. Hier en daar is ‘n vissersdorpie, nog kleiner as Port Barton.
Vir middagete gooi ons anker op ‘n strand sonder naam. Skipper en Bootsman berei vir die honger snorkelaars ‘n eenvoudige middagete voor. En so oor gebraaide vis, rys, groente en vars vrugte raak twee Portugese, twee Belge, twee Namibiërs en twee Filipyne bondgenote in die vreemde.
Was dit nou weer Ruiter in Swart wat my laat wonder of ek al voorheen die naam Port Barton gehoor het? Of het ek bloot vir Barberton met Port Barton verwar?
Tog twyfel ek sterk of Ben Brand en sy perd Satan ooit gesoek het na boewe op die Palawan Eiland. Want hy sou nie boewe hier gekry het nie. Filipyne is goeie mense.
Maar as Ben Brand ooit in Port Barton was, sou ons seker vandag nog die nuutste uitgawe van Ruiter in Swart kon lees. Dalk in kleur. Die stories sou miskien flou gewees het, maar die mooi omgewing sou opgemaak het.
Fotoverhale sou nie uitgesterf het nie.
Ben Brandt. Fotoverhaal boekies…Jy loop nou vêr paaie terug! Ek begin bekommerd raak; my bucket list raak al hoe langer terwyl ek so saam met julle twee rondloop. Bertus gaan harder moet werk, meer geld wegsit. Want my lysie alleen gaan ons bankrot maak!
LikeLiked by 1 person
Moenie bekommerd wees oor die geld nie, ons doen dit so goedkoop as moontlik. Ons het rugsakke, bly in hostels, eet van die straat af, kiek met n goedkoop gatsak kamera, ry met openbare vervoer. Sover maak ons dit!
LikeLike
Die spierwit strande is pragtig (ek is gewoond aan goudkleurige sand) en steek mooi af teen die pragtige kleur van die water.
LikeLiked by 1 person
Lekker leesstof iPierre en so lekker gewees om laaank te gesels vandag !
LikeLiked by 1 person
Ek was nog op laerskool toe twee ouens mekaar wou pak oor ‘n meisie (volwasse fotoverhaal meisie en ouens). Die een het gese: wag net tot ek my baadjie uittrek dan foeter ek jou… waarop die annder reageer het met: ek het nie nodig om my baadjie uit te trek om jou te foeter nie. Die 2de een het my wesenlik beindruk en gereeld daarna het en nie my skoolbaadjie uitgetrek wannneer ek ouens gefoeter (of te wel in my verbeeldingsvlugte gefoeter het nie…)
Ek sal nou kan doen met jou fotoverhaal wereld
LikeLiked by 1 person
Het Ben Brand die woord foeter gebruik? Ek wonder.
LikeLike
Nie Ben Brand nie hy was te ordentlik. Dit was, ‘n “moderne” foto verhaal iet soos Tessa
LikeLike