Gili Air

Kom ons wees eerlik – waaraan dink jy as jy die naam Gili Air hoor? ‘n Lugredery, ‘n pomp vir ‘n opblaasmatras, ‘n masseringstegniek, of ‘n eiland? Dis ‘n eiland! Net so ‘n vreemde naam soos daai eilandjies van Langerhans iewers in ‘n mens se binnegoed.

IMG_2699

Indonesië bestaan uit eilande – daar is glo sewentien duisend van hulle. Op die gewone kaarte sien jy net die grotes – Sumatra, Java, Bali, Lombok, Borneo, en so aan. Jakarta, die hoofstad van Indonesië, lê op die digbevolkte Java. Sumatra lê noordwes van Java en Bali lê oos van Java. Lombok is weer oos van Bali. Zoem bietjie in as jy weer na ‘n kaart van Indonesië kyk. Let op die honderde, nee duisende, klein eilandjies rondom die grotes. Amper in rye rangskik.

Die Gili eilande lê op die seeroete oos van Bali eiland op pad na Lombok. Aldrie is klein en naby aan mekaar, ‘n klein entjie van Lombok eiland af. Om by die Gili eilande uit te kom, moet mens die boot uit Padangbai op Bali eiland na Bangsal op Lombok eiland neem. Dis waarnatoe ons wil gaan.

Ons vertrek op ‘n reënerige dag uit Ubud na Padangbai. Die strate lyk soos riviere en die verkeer is bedrywig. Gelukkig raak die reën minder soos ons nader aan Padangbai kom, met die lug wat ooptrek toe ons in die hawegebied stilhou.

Padangbai se hawe is superbedrywig en honderde passasiers vertrek hiervanaf na enige van die ander sewentien duisend Indonesiese eilande per veerboot. Min inligting word gebruik om die hordes te beheer, daar is geen borde of rigtingaanwysers nie en geen aankondiging word gemaak nie. So bly ons rondmaal in ‘n ordelose massa totdat ons blou plakkers op ons klere kry. Na twee ure word almal met blou plakkers beduie om op een van die wagtende veerbote te klim.

Die veerboot is propvol en ons word ingery in netjiese rye in ‘n kajuit wat net bokant die watervlak lê. Dis warm en bedompig. Almal kyk vir almal. Niemand weet presies wat volgende gaan gebeur nie. ‘n Jong gesin sit naby ons. Die kinders is klaerig en toets almal se geduld rondom hulle. Uiteindelik begin ons beweeg en die koel see-lug spoel deur die kajuit. Almal se gemoed raak beter.

By die eerste van die drie eilandjies, Gili Trawangan, klim die meeste passasiers af. Met ‘n gemiddelde ouderdom van 22 en omtrent drie tattoes per persoon, kan ons sien waaroor dit gaan vir die mense wat hier afklim. Gelukkig is ons vooraf gewaarsku dat Gili Trawangan nogal bekend is as ‘n bestemming vir jong rugsakreisigers met partytjielywe.

Na die groot uittog word ons verplaas na die dek, om plek te maak vir passasiers wie se partytjielus oor is. Hulle klim aan die ander kant van die boot op. Die boot se uiteindelike bestemming is Bangsal op die Lombok eiland. Na omtrent tien minute se verdere bootvaart kom ons aan op Gili Air se strand. Die hawe is ‘n vae area van visserbote en een of twee wagtende passassiersbootjies. Verder weg hang nog ‘n paar bote rond. Daar is wel ‘n pier met ‘n paar wagtende passasiers, maar ons klim sommer in die water af, opgesaal met ons rugsakke.

IMG_2705

Met geen bespreking nie begin ons soek na blyplek. Ons stap, takseer die blyplekke van buite af, en as die aansig goed lyk, klop ons aan.

IMG_2677

Dis warm en die rugsakke swaar, ‘n goeie toets of ons reisfiks is. Die moontlike blyplekke is òf vol òf lelik. Na die vyfde of sesde aanklop, val ons keuse op Happy Homestay. Ons eenheid is een van vier in die agterste gedeelte van die tuin. Die bure is Spaans en die huiskat kom groet. Dis stil hier.

IMG_2679

Op Gili Air is daar geen motors nie, net fietse en perdekarre. Ons kry fietse en begin die eiland verken. Gili Air se strand word omsoom met oorde, hotelle, deftige blyplekke, restourante en duikskole. Blyplekke met see-uitsig se pryse is aansienliker hoër as ons s’n, merk ons op.

IMG_2667

Na ‘n uur of twee ken ons die eiland, en stop vir ‘n Bintang om die dag af te sluk.

IMG_2643

Dis laagwater, ons sit met ons stêre op die sand en kyk hoe die son agter die flenterwolkies op die horison sak. Oral stap mense op die branderstoep rond en drink die mooi van die goue uur. Dis mooi hier.

IMG_2659

Gili Air se pas is stadig. Ons swem, lê op die strand, snorkel, ry fiets, dwaal rond in die paadjies tussen huise, of knibbel aan iets by een van die talle eetplekkies.

IMG_2696

Eet is goedkoop en hier is ‘n groot verskeidenheid eetplekkies om van te kies.

IMG_2651

Na ‘n heerlike aandete by ‘n restourant met tafels en stoele op die strand, spreek My Lief haar seën oor die plek uit – eers sê sy dat sy weer sal wil kom, toe sê sy sal op Gili Air kan bly.

IMG_2704

Maar ek het ander planne. Na Lombok eiland, waar ek Berg Rinjani wil gaan uitklim.

Een nag by die basiskamp, twee nagte in tente op die berg, drie dae se begeleide stap, etes ingesluit, plus op- en aflaai. Klink my na die ideale manier om ‘n paar dae op Lombok om te kry.

Skrywer: oudoring

Eendag, lank gelede, het my pad gekruis met Sugnét. Ons was studente, verlief en verloof en later ook getroud, en het saam op 'n nuwe pad begin loop - nou reeds vir meer as dertig jaar. Ons is Dorslanders en woon gelukkig saam in Swakopmund. Wel, by tye, as ons nie reis nie.

3 gedagtes oor “Gili Air”

  1. Ai, Bali was vir ons ook fantasties. Die spiritualiteit van Ubud was besonders. Sal maklik net daar n maand kan spandeer. As julle ongelooflike snorkel moet julle Permuteran toe gaan! Baie goedkoper en absoluut ongelooflik.
    Gaan saam met die S A vrou van Malmesbury se snorkelspan na die bewaringseiland ‘Garden of Eden’se korale. Het nog nooit so iets gesien nie. Geniet julle!

    Liked by 2 people

    1. Dankie vir die raad! Ons beplan om oos te beweeg, na Flores se kant toe. Sover is die snorkel wat ons gehad nog nêrens so goed soos by die Perhentian eiland in Maleisië nie. Die beste is dat nie baie mense daarvan weet nie. En baie goedkoop.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar