Relatiwiteit

Na ses maande op reis is dit tyd vir bestekopname. 

Tot dusver het ons ‘n besondere geseënde tyd gehad. Geen terugslag of groot teëspoed nie, geen besering of ernstige siekte nie, geen groot verlies of diefstal nie. Ja, ek het wel ‘n ligte verkoue en ‘n loopmaag opgedoen, maar dit sou ek by die huis ook kon kry. En ek is besig om albei my groottoonnaels te verloor vanweë Rinjani, maar dis pynloos.

Wat was die beste? Onregverdige vraag. Teenvraag – wat is die kriteria? 

Eintlik is ‘n vergelyking onvanpas. Elkeen van die lande het sy eie stel mooi herinneringe opgebou. Ons sal elkeen onthou oor sekere redes. En ons sal na elkeen kan terugkeer. Voor dan gaan ons eers probeer om by ander onbekende plekke op aarde uit te kom. Reis is om te ontdek, om te verken. Nie eintlik om weer te besoek nie. En om te talm. Bietjie langer te vertoef, te ervaar, om die plaaslike dinge te doen.

Waarskynlik het ons die gemiddelde ouderdom van rugsakreisigers wêreldwyd ‘n bietjie gelig. So ook die gemiddelde ouderdom van gaste in hostels en homestays. En saam met ander rugsakreisigers op busse en jimneys, driewiele, poegies, bote en oorslaaptreine het ons gesorg dat die gemiddelde ouderdom van hul tipiese passasiers effens klim. Nogtans het niemand ‘n wenkbrou gelig omdat ons aan die bokant van 50 is nie. Niemand het ons ge-oom of ge-tannie nie. Inteendeel, ons het nêrens Afrikaans gehoor nie. Ons het wel in Afrikaans stiltetyd gehou en met mekaar in Afrikaans gepraat. En geblog in Afrikaans. Maar dit was al Afrikaans vir ses maande.

Dan was daar ook ‘n paar eerstes as Namibiërs: In Zhangjiajie, Guilin en Qindao en in verskeie ander plekke in China was ons waarskynlik die eerste Namibiese besoekers. In Coron het ons die tweede speldjie in Namibië op ‘n wêreldkaart gedruk (laat ons weet as jy die eerste speldjie ingedruk het), en op die Kecil Perhentian in Maleisië het ons die eerste Namibiese spore getrap, so ook op Rinjani en twee van Indonesië se 17,000 eilande. Goed, as ons nie die eerste Namibiërs was nie, was ek waarskynlik die eerste een uit die suide van Namibië. 

Ons het probeer om boek te hou van ons uitgawes, en ons het probeer om ons ervarings op te skryf. Ons kan raad gee, ons kan sekere goed aanbeveel en sekere goed afraai. Die bedoeling was nooit om ons inligting op te teken en as ‘n boek vol wenke te verkoop nie. Maar dis ook nie materiaal wat ek graag op die blog wil plaas nie.

Hoekom het ons dan teruggekom? Oor klomp persoonlike redes. Familie is vir ons belangrik, en daar is ‘n paar dinge op hierdie front wat ons aandag nodig het. Daarom gaan ons probeer om verder te reis in suidelike Afrika. Naby aan die huis. Ons weet nie wanneer nie, maar ons wil gaan kyk hoe wild die Wildekus is, of die Vaaldam regtig so groot is soos op die foto in die Standerd 4 Aardrykskunde handboek, waar die mielie-vierhoek is, ons wil gaan stap op paaie wat ons nog net op fotos gesien het, en in die Krugerwildtuin gaan kiekies neem. En ons wil gereeld na olifante en die groot Zambezi gaan kyk.

Op ons vlug met Ethiopian Airlines kyk ek na die verbeeldingryke fliek Interstellar. Konneksies tussen ons aarde en die uitspansel word gemaak, en die onderskeid tussen werlikheid en denkbeeldigheid word vaag in ‘n spel van tyd, ruimte en swaartekrag. Soos alles ineen weef, word alles relatief – ‘n maand in die ruimte word etlike dekades op aarde; afstand, spoed en rigting word niksseggende verwysings; die effek van gewig en swaartekrag verdwyn. Die antwoorde op ons aardse omgewingsvraagstukke word in die kosmos van die heelal gesoek. Toekoms en hede raak deurmekaar, tyd word nie meer gemeet nie. Alles raak relatief, en alles hou verband met mekaar. Soos in daai tyd net voordat jy aan die slaap raak. En soos in ‘n droom raak die onderskeid tussen werklikheid en denkbeeldigheid relatief.

Dalk is reis ook so. Mens kry die antwoorde vir die uitdagings by die huis op ander plekke. Jou uitdagings word relatief, jy kyk na jou eie wêreld met ander oë.

Suidelike Afrika is so onbeskryflik mooi. Soveel verskeidenheid, soveel energie en soveel opwindende kontraste. Soveel kultuur en geskiedenis, soveel skoon lug en onbesoedelde omgewing, soveel minder mense. Soveel stilte, soveel kranse wat antwoord gee, soveel ongeskonde natuur. 

Ja, daar is vuil op die ruit. Maar ons moet ‘n slag na die prentjie daarbuite kyk. En nie net na die vuil op die ruit staar nie. Die verskil tussen nou en die toekoms is relatief. Dalk is daar meer samehang as onderskeid, dalk maak dit sin om aan denkbeeldigheid aandag te gee. Wanneer gaan die hede oor in die toekoms? Wanneer begin die Ewigheid? 

Eintlik is ons werklikheid so relatief.

Advertisements

Borneo

Plekname het my nog altyd interesseer. Party name rol sommer op die tong, so lekker sê hulle. Gobabis, Kamanjab, Aranos. Plaasname soos Aandster, Kinkel, Akanous, Houmoed, Eindpaal, Skemerhoek, Boomplaas, Hartbeesloop, Patria en Leeurante. Ek wonder baie oor die oorsprong van sommige name. Soms is ‘n lang, onvertelde verhaal betrokke – Tranedal, Misverstand, Mara, Skurfpens, Allesverloren, Wildmoor en Verneukpan.

Waar sou Borneo sy naam gekry het? Op ‘n manier het dié naam by my ‘n magiese prentjie van digte woude, geheimsinnige riviere, kannibale en bobbejaantoue geskep. Dalk was Johnny Weismuller in sy eina-broekie as Tarzan en sy slim troetelaap in hul boomhuis hiervoor verantwoordelik.

Omtrent twee-derdes van Borneo word beslaan deur Indonesië. Maleisië het die ander derde, eintlik net die noordelike deel. Die piepklein Brunei enklawe verdeel die Maleisiese deel tussen Sarawak (wes) en Sabah (oos).

Ons was nuuskierig oor Borneo se woude en wildlewe. Veral die oerangoetangs en dwergolifante van Sabah. Vir hierdie doel vat ons die pad vanaf Kundasang na Sandakan. In ‘n opgezoepte minibus. Ons sit lekker styf en die musiek pomp. Dis ‘n stamperige rit, want die pad is uitgery en die bussie skuur plek-plek deur. Op pad besluit ons om liewer by Sepilok uit te klim. Dis waar die oerangoetans is. Altans, dis waar die rehabilitasiesentrum vir oerangoetans is.

Die sentrum fokus daarop om oerangoetangwesies groot te maak en weer in die Borneowoude vry te laat. Die naam oerangoetan beteken letterlik “mens uit die woud”. Nes mense is oerangoetans afhanklik van ‘n moeder tot omtrent ses jaar oud. Die sentrum poog om die wesies te leer wat hul moeders hulle in die natuur moes leer. En dan weer vry te laat. In die kindergarten van die sentrum word die kleintjies skoon en gesond gehou, geleer om self te eet, om te klouter en om te sosialiseer. Daar is toue, pale en ‘n speelraam en mens kan hulle streke dophou van agter ‘n venster. In die ander afdeling is daar ouer diere wat vry beweeg in die woud en twee maal per dag aanvullingskos op ‘n platvorm kry. Tydens voertyd kan mens na hulle kyk maar omdat hulle groter en bietjie meer selfstandig is, is hulle bewegings onvoorspelbaar. Soms is daar wildes by. Soos die oerangoetans die woud gewoond raak, trek hulle dieper die woud in of word elders hervestig.


Oerangoetans is besonderse wesens. Behalwe dat hul DNA 96% ooreenkom met dié van ‘n mens, is hulle uiters intelligent, toon gevoelens, en maak en gebruik gereedskap. Hoewel hulle meestal alleenloop, geniet hulle ook mekaar se geselskap. Anders as ander ape bly hulle permanent in bome, en nie op die grond nie. En hulle maak elke aand ‘n blarebed om in te slaap. Oerangoetans kom net op die Borneo en Sumatra-eilande voor en is ernstig bedreigd.

Direk langsaan die oerangoetans is die rehabilitasiesentrum vir “sun bears”, die wêreld se kleinste beersoort. Nes die oerangoetans is die bere bedreigd omdat hul habitatte krimp en toenemend gefragmenteerd raak. Op ‘n soortgelyke manier as die oerangoetans word beerwesies geleer om hoe om te oorleef en word op agtjarige ouderdom as volwassenes in die woude hervestig. Hierdie spesie kom net op Borneo voor en is selfs meer bedreigd as oerangoetans.


Ons ontmoet vir Kai, een van die gawe gidse by die sentrum. Kai het vroeër by die “Rainforest Discovery Centre”, ook in Sepilok, gewerk en bied aan om ons ‘n begeleide toer te gee. Dis ‘n goeie plek om skaars voëlsoorte te sien vanuit die skuilings en op die loopbrug tussen die bome se kruine. Daar is ouens met groot kaliber kameras en bazookas vir lense. Maar ons word nie afgeskrik nie en Kai wys vir ons ‘n paar voëlsoorte voordat die reën uitsak. En toe beleef ons ‘n egte reënbui in ‘n egte reënwoud, van bo-af. Sonder blitse en sonder donder. Net oordadige, mildelike reën.


Na die reënbui kom die mistigheid. Dit raak skemer en Kai het baie geduld met ons. Hy stel voor dat ons moet gaan kyk vir ‘n “Flying Squirrel”. By die plek waar ons moet gaan kyk kom ons ‘n leërskare nuuskieriges teë, gekamoefleer en met swaarkaliber kameras bewapen. Ondanks ons onvoorbereidheid sien ons drie van die sonderlinge diertjies vlieg teen die aandskemerlug.

Na ‘n vol dag in Sepilok besluit ons om aan te beweeg na Sandakan.

Sandakan was aanvanklik die hoofstad van Sabah. Geseënd met ‘n natuurlike hawe geskik vir die uitvoer van hout uit die Borneo-woude het Sandakan op ‘n stadium die digste konsentrasie van miljoenêrs in die wêreld gehad. As poort na een van die wêreld se laaste wildernisgebiede is Sandakan ook bekend gemaak deur die avonturiers en pionierfilmmakers Martin en Osa Johnson wat Borneo se wildlewe en tradisionele mense aan die wêreld op die silwerdoek bekend gestel het. Martin het gelyk soos Tarzan en Osa soos Jane met groen grimering.


Japan neem Sandakan vir vier bloedige jare tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Britte oor. Meeste buitelanders vlug of word geïnterneer. Die plaaslike mense word verjaag, in ‘n krygsgevangenekamp saam met soldate gegooi of vermoor. Trouens, dié krygsgevangenekamp is berug gemaak vir sy dodemarse die woude in en dit word bereken dat sowat 2,700 Australiese en Britse soldate op dié manier onder die Japanese se hande gesterf het. Net ses van die krygsgevangenes het uiteindelik oorleef. Aan die einde van die oorlog was Sandakan omtrent heeltemal verwoes – eers deur die bomme om die Japanese uit te kry, en toe deur die Japanese wat niks vir die Britte wou agterlaat nie. Die Anglikaanse klipkerkie, St Michaels, was omtrent die enigste gebou wat staande gebly het na die oorlog.


‘n Ander prominent inwoner van Sandakan was die skryfster Agnes Keith. “Land below the Wind”, die boek oor haar gesin se wedervaringe in Borneo voor die oorlog, kom uit haar pen. ‘n Ander boek van haar “Three came home” was geskoei op die Keiths se terugkeer na Sandakan na die oorlog, en het ‘n Hollywood-fliek geword. Die Keiths het in ‘n prominente huis in Sandakan gewoon, en met hul terugkeer na die oorlog het hulle die verwoeste huis ten volle tot sy oorspronklike glorie gerestoureer. Vandag kan die huis as museum besoek word. Die huis gee mens ‘n goeie kykie na koloniale Sandakan en die verhewe leefstyl van koloniale Britte.


In ‘n poging om Borneo se dwergolifante (“pigmy elephants”), krokkedille, die vreemde “slow loris” (‘n tipe lemur / nagapie) en grootneusape (“proboscis monkey”) te sien, besluit ons om die Kinabatangan Rivier vanuit Sandakan te besoek. Die benedeloop van die rivier kronkel deur ‘n gebied wat beskryf word as ryk aan skaars voël- en diersoorte van Borneo.

Ons bespreek plek, wat vervoer heen-en-weer, verblyf, etes, bootritte en begeleide staptogte insluit. Die voëllewe is wel indrukwekkend, maar behalwe vir al die verskillende soorte ape, en by twee geleenthede oerangoetans, sien ons eintlik geen ander diere nie.

Dis natuurlik blote toeval en geluk as mens enige wilde dier tydens die bootvaarte op die rivier sien, wat te verstane is. Maar ontstellend is die feit dat daar so min van die Borneo-wildernis, wat die Johnsons so romanties op film uitgebeeld het, oor is. ‘n Maer strokie woud langs die oewers, die sogenaamde gallereiwoud is eintlik al wat oorgebly het. Op sommige plekke is die galereiwoud beperk tot enkele meters. Slegs fauna wat stroomlangs kan beweeg, kom dus voor. Diere wat van die hinterland afhanklik is, sal bloot by geleentheid by die rivier uitkom – en dan net by plekke waar die gallereiwoud konneksie met oerwoud in die hinterland het. En oerwoud in die hinterland is vinnig aan die krimp.

Die oorspronlike woude in Maleisië se deel van Borneo is vervang met oliepalmplantasies. Derduisende hektare daarvan. Met gepaardgaande fabrieke, landgoedere, dorpies en allerhande vorme van infrastruktuur. Palmolie is ‘n massiewe industrie in Maleisië. Maar ongelukkig haal dit alle eerlikheid uit die toerisme bemarking van Borneo as ‘n wildernisgebied. Trouens die palmolie-industrie het Sandakan se karakter as poort na die Borneo-wildernis onherroepbaar verander. Ironies is daar sterk Europese gelaatstrekke op die palmolie-industrie – van die grootste belanghebbendes in dié industrie is Britte, Dene en Hollanders. En so is die betekenis van Borneo se naam verander. Vir ewig.

Hansie Slim

Dit is Radio Suid-Afrika. Hier volg die nuus gelees deur Daniel Kirstein. Eers die hooftrekke: ‘n Geskil het ontstaan met die uitlewering van die oorskot van …

Smiddae tussen een en halftwee was gewyde tye in ons huis. Ook saans tussen sewe en agt. Dit was die tye waarin daar meer geluister is as gepraat. In die middag het ons geluister na afkondigings oor “radioprogramme wat deur die loop van die dag volg”, noodberigte (“Daar word gesoek na Meneer en Mevrou Swart van Aliwal-Noord wat iewers op reis is tussen Upington en Postmasburg. Dit is in verband met Meneer Swart se moeder.”), die weervoorspelling en dan die nuus, stiptelik om kwart-oor-een. Die nuus is gevolg met die streeknuus. Saans was die nuus om sewe, gevolg deur die weervoorspelling, Boekevat en die storie – Wolwedans in die Skemer, Ongewenste Vreemdeling of dalk Die Wildtemmer.

Ek onthou die meesleurende stemme van Morkel van Tonder, Edwil van Aarde, Fonnie du Plooy, Daniel Kirstein, Leon van Nierop, Nic Swanepoel en Thinus de Villiers. Hul stemme het geloofwaardigheid aan onakkuraathede soos noodberigte en die weervoorspelling verleen. Hulle het my ook geleer van woorde soos plek-plek, elders, Kaap Infanta, die platorant en mooiweer en warm tot bloedig warm. Met gesag is die nuus ingelui met “Dit is Radio Suid-Afrika. Hier volg die nuus gelees deur Daniel Kirstein. Eers die hooftrekke: ‘n Geskil het ontstaan met die uitlewering van die oorskot van …”

“Weervoorspelling” was waarskynlik een van die eerste groot begrippe wat ek onder die knie gekry het. Die draadloos het ‘n bepalende bydrae in hierdie verband gehad. Die weer was vir ons Dorslanders belangrik. Meer korrek – die moontlikheid van reën was vir ons belangrik. Ons het elke dag met aandag geluister na die kanse vir reën, selfs twee tot drie keer, en die moontlikheid daarvan het die luim in die huis beïnvloed, en vendusies en biddae help beplan. 

Weervoorspelling in Maleisië, daarenteen, is waarskynlik ‘n verwaarloosde, onbelangrike wetenskap omdat dit byna geen doel of bestaansreg het nie. Dis elke dag warm. En dit kan elke dag reën. Dis selfs snags ook warm. En dit kan snags ook reën. Niemand hoef iets hieroor te voorspel nie. En niemand raak opgewonde oor belowende reënkanse nie. Want dit gáán reën. Hard en baie. Net as die lug blou is, gaan dit nie reën nie. Wat nie sommer gebeur nie.

Kota Kinabalu kry omtrent 2400mm reën per jaar. Ander dele van Maleisië, soos Berg Kinabalu, kry selfs meer reën. Ons wil graag die berg gaan klim. Die berg is meer as 4,000m hoog en vorm die middelpunt van die Kinabalu Park van 75,000ha, ‘n Wêrelderfenisgebied sedert 2000. Kinabalu Park word geag as een van die verskeidenheidrykste plantegroeistreke in die wêreld omdat dit oor vier klimaatstreke strek. Ses plantegroeisones met ‘n geskatte 6,000 plantsoorte kom hier voor, meer as die helfte van die hele Borneo se plant spesies. Die laerliggende dele is warmer, bome hoër as 50m is algemeen en die ondergroei is dig. Hoër op teen die berg raak dit koeler en die plante krimp in hoogte. Permanente watervalle en strome loop al langs die boep van die berg.

Ons neem ‘n langafstandbus na Kundasang, die gehuggie naby Berg Kinabalu. Ons kry blyplek om die draai van die ingang na die park. Die uitsig is mooi, maar die geriewe verdag.

Maleisiese badkamers is byna sonder uitsondering altyd nat. Te nat na ons sin. Dis omdat die stort en toilet in ‘n beknopte kombinasie in dieselfde klein vertrekkie is. Sonder uitsondering is daar altyd iewers ‘n permanente lek, of ‘n plassie water. Hoewel ons dit gaandeweg gewoond geraak het, is ons toenemend opgewonde as die stort verder as een meter vanaf die toilet is. Solank dit skoon is, kan ons deurdruk met die beknopte omstandighede, maar die blyplek hier in Kundasang toets ons uithouvermoë. Badtyd word ‘n beproewing en ons besluit om ‘n ander kamer te vra. 


Met die kamer-episode afgehandel, pak ons die park aan die volgende oggend. En besef onmiddellik dat dit nie maklik is om die berg uit te klim nie. Eerstens is daar ‘n waglys tot in Augustus en tweedens moet mens diep sakke hê om dit te kan bekostig – N$4,500 per persoon. Dis vir die roete van 8,8km met ‘n gids en luukse akkommodasie, oor twee dae. Ons maak vinnig somme – met N$9,000 kan ons nog lank en ver reis. Ons besluit om liewer net die gewone stappaaie te doen en nie vir Duckelina die bokant te gaan wys nie. Ons gaan liewer na die kruin van onder af kyk. 

Behalwe vir gereelde rotstortings is die reënwoude rondom Berg Kinabalu ongeskonde. Geen byl is nog gelê teen enige boomstam nie. Ons het ‘n groot keuse van stappaaie, met verskillende moeilikheidsgrade, lengte en uitsigte. Ons kies die langste een, al langs die Liwagu Rivier, opwaarts tot by die Timpohon Hek waar net die bergklimmers deurgelaat word. Ongelukkig vind ons halfpad uit dat die roete gesluit is vanweë ‘n rotsstorting en ons moet oorslaan na die tweede langste roete.  


Nogtans is dit ‘n staptog wat ons nie gou sal vergeet nie. Ek was nog elke keer opgewonde oor ‘n enkele orgidie wat ek aan die groei kon kry, hier kom meer as 800 soorte orgidieë voor! En hulle groei oral. Verder is hier meer as 60 eikesoorte, meer as 80 soorte wildevye, meer as 50 soorte palms, by die 40 soorte gemmer, omtrent 30 soorte bamboes, en meer as 600 varingspesies. Boomvarings hier word tot 20m hoog. Orals is lugplante, plante met blomme, mosbegroeide stompe en stroompies. Ons sien weliswaar nie wild nie, maar kom darem op ‘n vars spoor van die “Clouded Leopard” af. En sien ook baie voëls.

Regoor die ingang na die park is ‘n plaaslike restourant. Na ons besoek aan die park gaan soek ons aandete. Terwyl ons eet, sak ‘n onvoorspelde reënbui uit. En ons kyk hoe twee mense vergeefs in die reën ‘n langafstandbus probeer stop. Dit hou aan reën, en ons drink maar nog ietsie, terwyl ons hier van onder af kyk na die kruin. Na die reën betaal ons – 18 Ringit in totaal. Dis N$54. So ja, nou kan ons weer verder toer. Daai N$9,000 wat ons gespaar het, gaan ons nog ver bring. 

Kota Kinabalu

Kota Kinabalu, of KK soos die stad bekend is, is die hoofstad van die Maleisiese staat Sabah op die eiland Borneo. Meeste van KK se inwoners is Chinees van oorsprong. Hulle bly al vir eeue op Borneo en noem hulself Maleiers. Nes die Chinese het Arabiere ‘n sterk invloed op Borneo gehad – vandag nog het Borneo ‘n sterk Moslem-gemeenskap danksy die verkondiging van dié geloof ‘n paar eeue terug. Dan is daar die mense wat oorspronklik op Borneo gewoon het en ‘n paar minderheidsgroepe soos Indiërs en Filipyne wat later bygekom het. 


Inligting oor die oorspronklike inwoners en geskiedenis van Borneo is egter opvallend skraps. Beter gedokumenteerd is die Britse hoofstuk van Borneo se geskiedenis. Aanvanklik was KK se naam Jesselton, vernoem na een van die hoofkoppe van die British North Borneo Company. Dié maatskappy het Jesselton as hawe gebruik om die hulpbronne uit Borneo se woude te tap – hout, rottang en rubber. Ter beskerming van die maatskappy is die Union Jack toe maar oor die deel van Borneo gehys. Jesselton was ook nie die hoofstad van Sabah nie, maar Sandakan verder suid

Soos elders in Maleisië word die Britte deur die Japanese uit Jesselton verdryf tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die Britte verwoes die stad op hul uittog om niks vir die Japanese na te laat nie, maar vier jaar later verwoes die Britte die stad nog meer toe hulle Jesselton stook met bomme om die Japanese uit te kry. Net drie geboue bly staan aan die einde van die oorlog, die Japanese onttrek en die British North Borneo Company keer terug. Maar die maatskappy steier onder skuld en die taak om Jesselton weer op te bou word die verantwoordelikheid van die Britse Kroon – nou as hoofstad van Sabah. Dis ‘n taak wat die Britse koloniale administrasie teësinnig en verbeeldingloos aanpak en die produk is ‘n onopwindende, doodgemiddelde plek. Meer nog, as gevolg van sy Britse wortels is KK ‘n tipiese primaatstad – regeringsinstansies en hoofkantore is hier gesentreer en die stad groei uit sy nate, terwyl ander dele van die land aankarring of agteruitgaan. Net soos ander lande met primaatstede (dink Windhoek, Namibië) is groei en ontwikkeling dus ruimtelik baie oneweredig


KK is boonop vasgedruk tussen die see en berge. Grond vir ontwikkeling is beperk en die stad groei of lineêr, of op drooggelegde moerasgebiede. Arm mense het ‘n uitweg vir hierdie dilemma gekry en sommige bou hul huise op stelte in die see. Die hawegebied is ‘n miernes van bote wat dié mense daagliks heen-en-weer tussen KK en hul blyplekke vervoer. Die hawegebied is ook aangrensend van die nat- en droë markte asook die grootste straatkosmark. Dan is daar ook nog die naweek markte in Gaya Straat. Naas die markte is daar die malls. ‘n Duitse vriend van ons praat van die “Einkauftempels”. Ek het agt van dié sentrums in KK getel. En KK is omtrent so groot soos Windhoek. Sentrums is natuurlik ‘n erg Maleisiese ding – omdat dit so warm is en die lugreëling onverbeterlik is, is sentrums gewilde uithangplekke. En ons moet bieg, ons het al ‘n paar maal skuiling gaan soek teen die hitte in so ‘n sentrum. 

So, wat maak mens eintlik in KK? ‘n Rapsie meer as 1,600km vanaf Kuala Lumpur is KK die poort na Borneo, die “ander deel” van Maleisië. Digby KK lê ses eilande. Die grootste een is Gaya, waar die Britte aanvanklik nes geskop het. Gaya het permanente inwoners. Die ander vyf eilande is onbewoond, behalwe vir die personeel van die luukse oorde. Drie van hulle, Sapi, Mamutik en Manukan is gewilde dagbestemmings per boot. Ons besluit om by twee van hulle te gaan snorkel. 

Snorkel by die eilande naby KK is nie so indrukwekkend soos by die Perhentian eilande nie. Sigbaarheid is effens swakker, daar is baie meer mense en ons moes effens verder swem om by die korale en visse te kom. Maar die mees ontstellende ding was die besoedeling wat ons gesien het. Plastiek afval is ‘n massiewe uitdaging in Maleisië en die seebodem ontgeld dit liederlik. Afgesien van die plastiek is daar ook geweldig baie dryfhout, blare en droë materiaal uit die woude wat in die see beland. Gevolglik is die toeganklikheid van KK se kuslyn baie beperk, en swembare strande baie gewild. 

Snorkel is vir my ‘n stil, salige belewenis. ‘n Gewyde sport, eintlik heilig. Want al snorkel jy saam met iemand, is jy alleen en op jou eie. Jy ontdek, maar kan dit nie altyd deel nie. Praat is uit – solank jy gemasker is ten minste. En terwyl jy snorkel, kan jy hoogstens beduie. Dis ook ‘n uiters beheersde sport. Want as jou asemhaling hand-uit ruk gaan jy onmiddellike probleme hê. Vir my wat geseënd is met hopelose koordinasie is dit elke keer ‘n uitdaging om my asemhaling ritmies en egalig te hou. 

Dalk is een saligspreking uitgelaat met die skrywe van Die Bybel: “Salig is die wat snorkel, want aan hulle word die wonderwêreld onder die water gewys”.

Heil die Leser

Miskien is ek onnodig bang gemaak met die Heilsleër in die Kinderkransklasse. Nes met gehapte appels, kleurvolle vlinders, psigidilliese effekte, bell bottoms, die omgekeerde vredesteken, langspeelplate met verskuilde boodskappe as dit agteruit gespeel word, die Rooi, Swart en Geel Gevaar, en wie weet wat nog. Instrumenteel in hierdie waarskuwings was daar altyd tannies met name soos Kotie en Huipie (kry mens regtig dogterjies met dié name?). Die tannies was altyd stemmig geklee, gekous, gepolvy en geties. En hulle het marsjeer onder ‘n banier van organisasies met yslike name. 

Op die dorpie waar ek groot geword het, het daar nie veel gebeur nie. So, ons het alles bygewoon en gedweë met aandag na alles en almal geluister. Eers lank daarna het ek gewonder oor die kuns van langspeelplate agteruitspeel. Wie kan so iets doen? En watter genie sou daaraan dink om ‘n boodskap in die onverstaanbare klanke te kon versteek? Watse tipe boodskap in elk geval? Iemand het eendag grappenderwys beweer dat mens na potjiekosresepte kon luister as mens Bles Bridges se plate sou agteruit speel.

Bangmaak is ‘n magtige wapen om jong kinders te beïnvloed. Ons arme seuntjie was vir die eerste paar jaar van sy lewe bang dat hy kan swanger raak. Ons kon nooit uitvind wie hom bang gemaak het met so ‘n potensiële ramp nie, maar ons kon darem sy vrees betyds agterkom en verduidelik dat dit biologies onmoontlik is. Op my beurt weer, was ek tot verlede week nog bang vir die Heilsleër. 

Die aanklag teen die Heilsleër was dat die Rooiskilde van dié organisasie die Khakis teen die Boere in die Vryheidsoorlog gehelp het. En dat die Heilsleër nie sakramente bedien nie. Sakramente was in elk geval ‘n oorgrote woord vir my. Nes kategismus. 

My Lief praat makliker as ek. Sy is vreesloos as sy nuwe mense ontmoet. En sy kry verspotmaklik ‘n aanknopingspunt. Ek is baie meer versigtig, bly liewer stil en wonder. 

Ons eerste blyplek in Kota Kinabalu is nie goed geleë nie. Ons kry ‘n meer sentrale blyplek, maar ons moet van ‘n taxi gebruik om daar te kom. Totdat My Lief by die ontbyttafel die groepie van die Heilsleër sien. En hulle het ‘n bussie as ‘n ryding. Voordat ons kan sê “saamry”, sit ons saam met hulle in die bussie. Op ‘n uitreik. Ons gaan kospakkies by behoeftiges in die buitewyke van Kota Kinabalu aflewer. Dis die twee van ons, vier jong Amerikaanse meisies en ‘n Maleise man van Chinese afkoms, wat aangespreek word as Major. Ons tel nog vrywilligers op en vertrek op ‘n onbekende sending, die ruigtes rondom Kota Kinabalu in. 

Ons lê besoek af by ‘n paar verinneweerde huise waar die gemene deler armoede is. En baie onvertelde verhale. Dis eenvoudige huishoudings op werwe met motorwrakke, honde en hoenders. By die een huis is ‘n pa wat verlam is na ‘n ongeluk twaalf jaar gelede, by ‘n ander huis is ‘n ma van drie kinders wie se pa tronkstraf uitdien, en so gaan dit aan. Ons lewer kos af, ons gesels en ons bid saam by elke huis. Ons bid tot dieselfde God wat ons in Afrikaans aanbid. Ons gee, maar eintlik ontvang ons. Want skielik besef ons hoe buitengewoon geseënd ons is. 

En ons kry ‘n eerstehandse nuwe opinie oor die Heilsleër se drie esse – “soup, soap and salvation”. Ek is ook nie meer bang vir die Heilsleër nie. Inteendeel. 

O ja, en amper vergeet ek: Die Heilsleër en die Salvation Army is dieselfde ding. 

Die mooi van mengel

Melaka se reputasie as ‘n bloeiende handelstad en poort na die speseryehemel was sedert die 15e eeu bekend onder die Portugese. ‘n Seeroete tussen Lissabon en Melaka moes gevind word, wat die taak was vir Diego Cao, Bartolomeus Dias en Vasco da Gama. Toe laasgenoemde dit uiteindelik regkry word Alfonso de Albuquerque opdrag gegee om die Portugese vlag in Melaka te gaan hys in 1511.


Teen die tyd van Alfonso se aankoms woon daar alreeds Arabiere, Chinese, Indiërs en Maleiers in Melaka, almal onder beheer van ‘n sultan. Maar ‘n opdrag bly ‘n opdrag, en Alfonso neem doodeenvoudig die plek oor en hys sy vlag, sonder enige goeie skikking met die sultan. Alfonso is ‘n voorbeeldige Katoliek en besluit om naas ‘n bastion ook ‘n kerk op die enigste bultjie te bou. Sy edele werk is egter soos hoes teen donderweer – Islam is goed ingegrawe en die sultan se onderdane is astrant. Hulle wil nie bekeer nie, en is onwillig om vreedsaam aan te pas by die Portugese reëls oor handeldryf. Buitendien is daar ‘n geknoei en ‘n gekroek onder die Portugese, wat net mooi niks help om die inwoners te laat glo in hul opregtheid nie. En op dié manier bly Alfonso en sy opvolgers se bestuur van Melaka stormagtig en wankelmoedig.

Toe kom die Hollanders in 1641. Eers verjaag die Hollanders die Portugese, vestig ‘n handel met strenger reëls, bou ‘n beheerde hawe, verwoes die Katolieke kerk en bou ‘n Protestantse kerk. Die Hollanders bou ook die Stadhuys, hul administratiewe hoofkwartiere, en lê Jonkerstraat en Heerenstraat aan. 

Die Hollanders beheer ook die Kaap van Goeie Hoop en Jawa en bou die VOC vanuit Melaka op tot ‘n magtige internasionale maatskappy. Personeel wissel en word verplaas. Opstandiges en parmantiges word slawe, gevangenes of matrose. Op dié manier word Maleise woorde soos piesang, plafon en pondok na die Kaap toe uitgevoer. En Jan van Riebeeck se vrou word in Melaka begrawe.


Laaste kom die Britte, eers in 1826. Net soos die Kaap van Goeie Hoop neem hulle Melaka van die Hollanders oor. Eintlik stel die Britte belang in handeldryf met die Chinese en Indiërs en die Kaap sowel as Melaka was vir die Britte twee belangrike strategiese punte om dié handelsroete gevestig te kry. Met die Hollanders verwyder uit Melaka, begin die Britte Melaka as ‘n nagedagte bestuur omdat hulle fokus op die belangrikheid van George Town as ‘n hawe. As ‘n troosprys bou die Britte ‘n eie kerkie in Melaka, maar beskou die agteruitgang van Melaka andersins gelate.


Uiteindelik verkry Maleisië onafhanklikheid van die Britte, in 1957. Melaka bly aan die agterspeen suig, tot omtrent twee dekades gelede toe die historiese en kulturele waarde van die stokou stad besef word. In 2008 word Melaka se ou deel ‘n Wêrelderfenisgebied en toerisme groei tot die belangrikste bron van inkomste vir die stad. 


Melaka laat my onomwonde glo dat mense met yslike verskille en agtergronde kan saamleef, as een gemeenskap. Dis ‘n kleurvolle stad, vol kontraste, en met ‘n ryk geskiedenis. Hier is plek vir oud en jonk, ryk en arm, Hindoe en Christen, Boedis en Moslem. Die verskeidenheid en lang geskiedenis van die stad word gerespekteer – gemeenskaplikheid in verskeidenheid word hoër geag as eiebelang.


Ons besoek Melaka aan die einde van Ramadan, dus is al die Halaal eetplekke toe. So beland ons een aand by ‘n eetplekkie langs die grag wat die Hollanders gebou het. Die geboutjie toon letsels van die afgelope 400 jaar, maar die interieur is vars en jonk. Die spyskaart is Thais, ons word bedien deur ‘n Maleier van Indiese afkoms, sit langs ‘n Duitse paartjie en luister na Reggae musiek. Dis Melaka. 

O, Eiland van die Son

Maleisië het ‘n baie digte bevolking van langafstandbusse. Gerieflikheidshalwe kies ons dié opsie om te beweeg en gevolglik is ons tot ‘n mate aangewese op die raad van buskaartjieverkopers oor ons volgende bestemming. So word ons omgepraat deur een op Tarah Nata se busstasie om die Perhentian Eilande te besoek. Nog nooit van gehoor nie. Maar hoe kan ‘n buskaartjieverkoper nou verkeerd wees? 

Die eilandjies lê aan die noordelike deel van Maleisië se ooskus. Regoor Kuala Besut. Ook nog nooit van gehoor nie. Daar is ‘n hele paar eilandjies, en ons kies die kleinste enetjie van die twee waarop akkommodasie beskikbaar is, Kecil. Ons besluit oor blyplek, kies datums, en koop die buskaartjies, heen-en-terug. O ja, dis ‘n eiland – ons koop ook bootkaartjies, ook heen-en-terug. So kies ons koers ooswaarts na ons kuier in die Cameron Hooglande. 


Ons kom op ‘n snikhete Donderdagmiddag by Kecil aan. Daar is ‘n pier en ‘n soompie strandkafeetjies, blyplekkies en ander geboutjies ingeryg langs die strand. Die water is onnatuurlik blou en warm. Wiegende kokospalms en ‘n wit sandstrand, die brandertjies kabbel, die bootjies dobber. Ons blyplek is ‘n klipgooi van die pier af. O, Eiland van die Son, ons stap sommer. 


Ons kry ‘n kamer wat uitloer tussen twee kokospalms. Al die kamers rus op stelte, blykbaar vir beter ventilasie. Behalwe die ventilasie skarrel daar elke nou-en-dan ‘n likkewaan tussen die stelte deur. Direk agter ons is die woude. Die water is verleidelik en voordat jy kan sê “likkewaan”, swem ons. 

Later word tafels en stoele op die strand uitgepak vir aandete. Dis so lekker hier, mens wil sommer met jou voete ook vuiste maak. 


Dis snorkelwêreld dié, en ons oordoen dit byna. Eers neem ons ‘n bootjie en gaan swem saam met seeskilpaaie. Ons hang ook bokant korale en visse in alle denkbare kleure, groottes en vorme. Die aand knak ons ‘n Tiger by een van die strandkafeetjies op Long Beach.


Op die tweede dag leen ons weer snorkels en stap op ‘n stil paadjie deur die woud na klein strandjies waar ons die enigste mense is. En ons snorkel. Ons kry vir Nemo en haar gesin. Ook die uitgebreide familie. Nooit geweet die Nemo’s is so baie nie. 


Op die derde dag vra ons ‘n watertaxi om ons te gaan aflaai op ‘n strand wat nie te voet bereikbaar is nie. En ons snorkel. Ek sorg vir ‘n hele paar persoonlike bestes: Langste tyd aaneen in die water, langste ent geswem deur ‘n Kalaharikind sonder om te rus, en een van net twee mense wat op 18 Junie 2017 deurgebring het op Romantic Beach. 


Hoewel daar seker reisigers is wat dit so verkies, dink ek nie mens moet alleen reis nie. Dis soveel moeiliker om rigting te kry, om inligting in te samel en dis bloot onopwindend om nie jou ervarings met iemand te deel nie. As mens alleen reis, lag jy ook minder en kan jy ook nie gereeld beken dat jy tevrede is nie. Die Perhentian Eilande is ‘n bestemming wat mens beslis nie alleen moet ervaar nie.