Relatiwiteit

Na ses maande op reis is dit tyd vir bestekopname. 

Tot dusver het ons ‘n besondere geseënde tyd gehad. Geen terugslag of groot teëspoed nie, geen besering of ernstige siekte nie, geen groot verlies of diefstal nie. Ja, ek het wel ‘n ligte verkoue en ‘n loopmaag opgedoen, maar dit sou ek by die huis ook kon kry. En ek is besig om albei my groottoonnaels te verloor vanweë Rinjani, maar dis pynloos.

Wat was die beste? Onregverdige vraag. Teenvraag – wat is die kriteria? 

Eintlik is ‘n vergelyking onvanpas. Elkeen van die lande het sy eie stel mooi herinneringe opgebou. Ons sal elkeen onthou oor sekere redes. En ons sal na elkeen kan terugkeer. Voor dan gaan ons eers probeer om by ander onbekende plekke op aarde uit te kom. Reis is om te ontdek, om te verken. Nie eintlik om weer te besoek nie. En om te talm. Bietjie langer te vertoef, te ervaar, om die plaaslike dinge te doen.

Waarskynlik het ons die gemiddelde ouderdom van rugsakreisigers wêreldwyd ‘n bietjie gelig. So ook die gemiddelde ouderdom van gaste in hostels en homestays. En saam met ander rugsakreisigers op busse en jimneys, driewiele, poegies, bote en oorslaaptreine het ons gesorg dat die gemiddelde ouderdom van hul tipiese passasiers effens klim. Nogtans het niemand ‘n wenkbrou gelig omdat ons aan die bokant van 50 is nie. Niemand het ons ge-oom of ge-tannie nie. Inteendeel, ons het nêrens Afrikaans gehoor nie. Ons het wel in Afrikaans stiltetyd gehou en met mekaar in Afrikaans gepraat. En geblog in Afrikaans. Maar dit was al Afrikaans vir ses maande.

Dan was daar ook ‘n paar eerstes as Namibiërs: In Zhangjiajie, Guilin en Qindao en in verskeie ander plekke in China was ons waarskynlik die eerste Namibiese besoekers. In Coron het ons die tweede speldjie in Namibië op ‘n wêreldkaart gedruk (laat ons weet as jy die eerste speldjie ingedruk het), en op die Kecil Perhentian in Maleisië het ons die eerste Namibiese spore getrap, so ook op Rinjani en twee van Indonesië se 17,000 eilande. Goed, as ons nie die eerste Namibiërs was nie, was ek waarskynlik die eerste een uit die suide van Namibië. 

Ons het probeer om boek te hou van ons uitgawes, en ons het probeer om ons ervarings op te skryf. Ons kan raad gee, ons kan sekere goed aanbeveel en sekere goed afraai. Die bedoeling was nooit om ons inligting op te teken en as ‘n boek vol wenke te verkoop nie. Maar dis ook nie materiaal wat ek graag op die blog wil plaas nie.

Hoekom het ons dan teruggekom? Oor klomp persoonlike redes. Familie is vir ons belangrik, en daar is ‘n paar dinge op hierdie front wat ons aandag nodig het. Daarom gaan ons probeer om verder te reis in suidelike Afrika. Naby aan die huis. Ons weet nie wanneer nie, maar ons wil gaan kyk hoe wild die Wildekus is, of die Vaaldam regtig so groot is soos op die foto in die Standerd 4 Aardrykskunde handboek, waar die mielie-vierhoek is, ons wil gaan stap op paaie wat ons nog net op fotos gesien het, en in die Krugerwildtuin gaan kiekies neem. En ons wil gereeld na olifante en die groot Zambezi gaan kyk.

Op ons vlug met Ethiopian Airlines kyk ek na die verbeeldingryke fliek Interstellar. Konneksies tussen ons aarde en die uitspansel word gemaak, en die onderskeid tussen werlikheid en denkbeeldigheid word vaag in ‘n spel van tyd, ruimte en swaartekrag. Soos alles ineen weef, word alles relatief – ‘n maand in die ruimte word etlike dekades op aarde; afstand, spoed en rigting word niksseggende verwysings; die effek van gewig en swaartekrag verdwyn. Die antwoorde op ons aardse omgewingsvraagstukke word in die kosmos van die heelal gesoek. Toekoms en hede raak deurmekaar, tyd word nie meer gemeet nie. Alles raak relatief, en alles hou verband met mekaar. Soos in daai tyd net voordat jy aan die slaap raak. En soos in ‘n droom raak die onderskeid tussen werklikheid en denkbeeldigheid relatief.

Dalk is reis ook so. Mens kry die antwoorde vir die uitdagings by die huis op ander plekke. Jou uitdagings word relatief, jy kyk na jou eie wêreld met ander oë.

Suidelike Afrika is so onbeskryflik mooi. Soveel verskeidenheid, soveel energie en soveel opwindende kontraste. Soveel kultuur en geskiedenis, soveel skoon lug en onbesoedelde omgewing, soveel minder mense. Soveel stilte, soveel kranse wat antwoord gee, soveel ongeskonde natuur. 

Ja, daar is vuil op die ruit. Maar ons moet ‘n slag na die prentjie daarbuite kyk. En nie net na die vuil op die ruit staar nie. Die verskil tussen nou en die toekoms is relatief. Dalk is daar meer samehang as onderskeid, dalk maak dit sin om aan denkbeeldigheid aandag te gee. Wanneer gaan die hede oor in die toekoms? Wanneer begin die Ewigheid? 

Eintlik is ons werklikheid so relatief.

Advertisements

Nou waa’s daai?

Dis die teenvraag wat jy gaan kry as jy vir ‘n Namakwalander vertel van ‘n plek waarvan hy of sy nog nooit gehoor het nie. China het sommer ‘n hele paar sulke plekke. En al was ons vir twee maande in China, is daar nog baie nou-waa’s-daai-plekke. 

Ons was meestal in die suidoostelike, digbevolkte deel van China. Bloot toevallig, omdat Shanghai ons basis was. Van Shanghai af was Nanjing, Suzhou, Wuxi, Hangzhou en Wenzhou gerieflik bereikbaar. Die verste punte uit Shanghai wat ons besoek het, was Xi’an (1,360 wes), Beijing (1,200km noord-noordwes), Qindao (700km noord), Zhangjiajie (1,300km wes-suidwes) en Guilin (1,500km suidwes).  


Afstande in China maak my nederig. Kashgar in die verre weste is 3,700km vanaf Xi’an en 5,100km uit Shanghai. Die afstand na Harbin uit Beijing is 1,200km noord en dan nog 1,200km verder noord tot by die Heihe Rivier, die grens met Rusland. Harbin en Kashgar is 5,500km van mekaar af. Ten spyte van die yslikheid van die land, is daar net een tydsone.

Die suidooste van China, dié deel waar ons was, is die digste bevolk. Die magtige Yangtze Rivier en sy kanaalsisteem is die slagaar van die deel. Al vir eeue. Die klimaat is gunstig en oppervlakwater is volop, twee belangrike bydraende faktore. Hoe nader aan die kus, hoe meer neig die klimaat na humied-subtropies. Binneland toe raak die klimaat kontinentaal – verskille tussen seisoene word toenemend groter. Dit raak ook toenemend droeër, wat beteken dat die bevolkingsdigtheid afneem binneland toe.


China het ‘n hele paar stede met meer as 10 miljoen inwoners, en ook ‘n paar met meer as 20 miljoen. Vir elke inwoner van Aranos is daar ‘n Chinese stad met meer as 1 miljoen inwoners (miskien nie rêrig nie maar vir elke Namibiër is daar 636 Chinese – dis wel ‘n feit). Windhoek, in Chinese terme, is dus ‘n kleinerige dorpie.

In vele opsigte is China indrukwekkend. Dis die tweede grootste staat in die wêreld, en daar is 22 provinsies. Landskappe wissel tussen woestyn en tropiese woude, hooglande en vloedvlaktes, grasvlaktes en sneeubedekte berge. Die gedokumenteerde geskiedenis van China gaan so 5,000 jaar terug en die Chinese ekonomie is al vir die laaste 2,000 jaar die grootste in die wêreld. China het byna nog altyd die grootste stad in die wêreld gehad – waaronder Xi’an, Hangzhou, Nanjing, Beijing en deesdae Shanghai.


Die Chinese geskiedenis, taal en kultuur is intens verweef. Ons het dit gesien in die vorm van ‘n innige respek vir erfenis, wet en orde, nasionale aspirasie en nasietrots. Goed ingesuur met ‘n waardering vir skoonheid – of dit blomme in potplanthouers langs die strate is, ‘n natuurtoneel, of ‘n standbeeld of ‘n prominente gebou – mens kry die indruk dat mooigoed kollektief waardeer word. Vandalisme en graffiti is ‘n absolute rariteit. Anti-establishment, perversiteit en eksplisitisme is ongekend.


Hoewel Chinese buitengewoon hard praat, luidrugtig nies en keelskoonmaak is Chinese eintlik nie-bakleierig en vreedsaam. Die land is al ‘n hele paar keer binnegeval deur moeilkheidsoekerige bure, en ten spyte van ‘n paar bloedige huismoleste onder mallerige emperors, het China nog nooit oorlog met ‘n ander land gaan maak nie. Is dit dalk die rede waarom die Chinese militêre spandering relatief min is in vergelying met Amerika en Rusland?


Ons is gereeld verras met die intense skoonheid van China. Of dit nou kuns, vakmanskap, vaardigheid of natuur was – ons is ‘n hele paar maal stilgemaak. Ons het gehou van die orde en die manier wat orde gehandhaaf word – geen wanorde en geen brutaliteit. Die polisie is altyd sigbaar aanwesig. En die Chinese is meesters op die gebied van skarebeheer. Daar is orals baie mense, die stasies is meestal oorvol, en die verkeer is deurgaans druk. Nogtans het ons nooit enige vorm van chaos ervaar nie. Trouens, in die twee maande het ons net een (baie) ligte motorongelukkie gesien. En, die dra van valhelms is bloot opsioneel, wat ‘n aanduiding is dat ongelukke hoogs uisonderlik is. 

Als werk, eintlik meestal vrek effektief. Waar ‘n probleem opduik, kom ‘n spoedige oplossing. Sommer oornag, in die meeste gevalle. Geen kragonderbreking, sonder-water, of nie-werkende verkeersligte. Openbare vervoer is goedkoop en stiptelik. Skoonmakers sien jy oral – in die strate, tuine en toilette. Van toilette gepraat, jy hoef nêrens lank te knyp nie, openbare toilette is volop. 

Ons het omtrent orals in hostels gebly. Hostels bied ‘n dubbelkameropsie, in die meeste gevalle met ‘n eie badkamer. Wit lakens, skoon badkamer, ventilasie en My Lief is tevrede. Nêrens het ons ‘n slegte ervaring gehad nie. Die prys het gewissel tussen R150 en R600 per nag. Ons het sover moontlik straatkos geëet, en die prys was selde meer as R120 per ete vir twee.


China is nie ‘n land vir beginner-toeriste nie. As jy nie Mandaryns onder die knie het nie, en ook min selfvertroue, moet jy anderpad kies. Inligting vir nie-Chinese besoekers is beperk. Min mense is andertalig. Besoeke aan natuurparke en nasionale gedenkwaardighede is relatief duur, maar foutloos versorg. Spyskaarte is ook meestal in Mandaryns. En nee, jy gaan nie vaalvleis of malvapoeding op die spyskaart hê nie. Taal gaan tussen jou en ‘n oplossing vir jou mediese kwaal, bankprobleme en ‘n lastigheid met jou selfoon staan. Bly by die huis en kyk TV as jy gemak verkies. En as jy vir China met Japan verwar.


Sal ons weer kom? Jaaaaa! Twee maande was te min om alles te sien en te ervaar. Daar is te veel nou-waa’s-daai plekke en die land is eenvoudig te groot en omvangryk om ten volle in twee maande te ervaar. Ons gaan die uitnodiging na Tibet sterk oorweeg …

Tibetstories oor ‘n koppie tee

Al gehoor van die bokser van Qingdao? Die ou wat China van hoek tot kant deur gestap het? Ons het ook nog nooit van hom gehoor nie, totdat ons by hom en sy gesin in Qingdao oorgebly het. 

Maizi (sy naam beteken letterlik wheat, wat ook die naam van sy blyplek is) is ‘n man van min woorde. 


Gewoonlik sit Maizi agter sy pyp en mymer. Dalk herkou hy herinneringe van sy 5,000km fietsrit vanaf Qingdao na Tibet wat hy in 1991 as 24-jarige voltooi het. 


Of dalk oor die staptog van 4,328km op die syroete tussen Xi’an en Kashgar wat hy stoksielalleen afgelê het oor vyf maande in 1994/5. Of dalk toe hy op die noordelikste, suidelikste, oostelikste of westelikste punt van China gestaan het.


Een van Maizi se groot drome was om van hoek tot kant deur Afrika te stap. Maar dit het nooit realiseer nie. Toe stap hy maar altesaam 17,800km te voet deur China. Met net twee pare stapskoene. En hy gaan gee skool in Pulan, Tibet in 1998 en 1999 en word die eerste vrywillige ter wêreld wat dit doen. En hy ontmoet vir Gù in Jianxi op een van sy staptogte.

Maizi was ook ‘n joernalis. En ‘n bokser. Intussen het hy die bokshandskoene opgehang. 


Hy skryf ook nie meer nie. Sy herberg in Qingdao is nou sy passie. Dis hier waar hy en Gù en hul dogtertjie Cici hul gaste trakteer. Orals hang sy memoralia; sy ysbyl, waterbottel, kiekies, stewels, notas, briewe. ‘n Herberg vol herinneringe.


Ons kuier saam. Drink saam tee. Luister na stories oor Tibet. Ruil gedagtes uit oor reis en stap. Oor mense, oor musiek. En nou speel die African Jazz Pioneers, Johnny Clegg en Oliver Mtukudzi ook kliphard in The Wheat se binnehof. 

Qingdao het ‘n kleurryke verlede. Haar Chinese wortels gaan terug tot 6,000 jaar. Pluspunte was die natuurlike hawe, goeie viswaters, lieflike klimaat en strategiese ligging met betrekking tot Beijing, Korea en Japan.


En toe kolonialiseer Duitsland die deeltjie van China in 1898. 


Duitsland verander die hoofpad deur die dorpie na Marktstrasse, lê nog ‘n paar breë strate aan, vestig behuisingsareas, bou regeringsgeboue, elektrifiseer die hele plek, bou ‘n Rooms-Katolieke kerk op die een bultjie en ‘n Protestantse Kerk op ‘n ander en sorg vir ‘n paar eerstes in China soos riolering en skoon drinkwater.


 Op ‘n mooi aand in 1903, oor ‘n goue koue, besluit Horst, Jurgen en Uwe om die Tsingtao Brouery in Qingdao te vestig en so met die hulp van die Reinheitsgebot vir China oor te neem.


Duitse beheer is met die eerste Wêreldoorlog beëindig. Maar die Duitse nalatenskap word vandag nog met passie gekoester. 


Meeste van die ou Duitse geboue het behoue gebly en word as gedenkwaardighede bewaar. 


‘n Vreemde statigheid word deur die twee kerke oor die stad verleen. Albei is in gebruik. En in die straatkafees bring Tsingtao bier ‘n gemoedelike feestelikheid. Visgeregte is uiters gewild, en saam met die bier kry mens nogal ‘n Ocean Basket gevoel. 


Qingdao het ‘n huidige bevolking van net meer as 9 miljoen inwoners en is, behalwe vir Tsingtao, die tuiste van Hisense en Haier. Verder is dit een van China se bedrywigste hawens en ‘n belangrike basis van die Chinese vloot. In 2008 was Qingdao ook deel van die Olimpiese Spele met die aanbieding van die watersportitems. 


Qingdao is ook China se trou-hoofstad. 


Hier laat neem voornemende paartjies hul troufotos – op die kerkplein, met en sonder vuurwerke, op die strand, in kobbelstraatjies, in parke, op perde, orals. Om blyplek in Qingdao te kry, beteken dat jy pal in direkte kompetisie is met honderde voornemendes wat ook ‘n dubbelbed soek. Op enige weeksdag is daar meer bruide te sien as oor enige naweek in die Tintenpalast se tuine. 


So vertel ‘n vriend my eendag van Windhoek se stadspolisie wat ‘n klomp boemelaars onder die Jakarandabome in die Tintenpalast se tuine wakkermaak. So terloops raas een van die poliesmanne met die boemies omdat hulle so mors. Hy wys na die leë plastieksakke, bierbottels en KFC-houers. “Nee Meneer”, sê een van die boemies. “Issie ons wat so mors nie, issie bruide”.

Die bruide van Qingdao mors darem nie so erg nie. 

Ons verlaat Qingdao met ‘n sak vol herinneringe. En ons nooi die Temmer van Tibet en sy gesin om eendag saam met ons te kom stap in Afrika. 

Beijing

Katie Melua sing van die nege miljoen fietse in Beijing. Dis ‘n feit, sing sy; dalk is daar meer.

Die hoofstad van China was vir lank die grootste stad in die wêreld en is nog steeds die derde grootste megastad op ons planeet met 21,7 miljoen inwoners. 


Geleë op die noordelike uithoek van die Chinese vlakte en strategies begrens op drie kante deur bergreekse was die stad reeds sedert die 12e eeu ‘n logiese vesting vir die vroeë emperors. Dis waarskynlik in Beijing waar Marco Polo die resepteregte vir noedels verkry het en dit terug in Italië as spaghetti bekend gestel het. 


Die uiteindelike paleis van die emperors, die Forbidden City, is oor die eerste twee dekades van die 15e eeu voltooi. Van 1420 af tot in 1912 was die paleis die amptelike woning van die emperor. Die paleis is groot, nee baie groot. Daar is 980 geboue op ‘n area van 72ha. 


Sit ‘n dag opsy vir ‘n besoek aan die paleis en die aangrensende Tiananmen Square. Dis die grootste plein van sy soort in die wêreld en dis hier waar Mao die totstandkoming van die People’s Republic of China in 1949 aangekondig het. 


Byna 15 miljoen mense besoek die paleis per jaar, dis omtrent 41,000 per dag. Op ‘n sekere dag in Mei 2017 was ons twee deel van die 41,000.


Godsdienstige seremonies was vir baie eeue reeds deel van die emperors en die Chinese kultuur, maar met die keuse van Beijing as woonplek het die emperors besluit om die Temple of Heaven te bou, ‘n kompleks van geboue omring deur ‘n park van 267ha. Teen daardie tyd was die gebruik van offers en gebede ten hemele deel van Chinese kultuur en seremonie.


Die middelpunt van die kompleks is ‘n ronde struktuur, bo-op ‘n marmer fondament. Wat die drie-verdieping gebou merkwaardig maak is dat dit geheel en al van hout gemaak is, en dat geen spyker gebruik is nie. En versier is met kunswerk in pynlike detail. Uitstaande vakmanskap. 


Met ‘n gedokumenteerde geskiedenis van 3,000 jaar is Beijing ‘n interessant mengsel van oeroue en hipermoderne argitektuur en uitleg. Tradisionele hutongs, digbewoonde areas met ‘n doolhof van stegies, is die hart van die distrikte met straatkos en nagmarkte. Dis ook waar mens die lekkerste blyplekke kry. 


Oor millennia het die stad ‘n prominente rol in wêreldpolitiek en ekonomie gespeel en is vandag nog ‘n hutspot vir kultuur en kuns, sport en opvoeding. Meeste groot Chinese maatskappye en staatsinstellings se hoofkwartiere is in Beijing en dis ook hier waar 10% van die 500 topmaatskappye in die wêreld se hoofkantore is. Beijing lughawe is sedert 2010 die tweede besigste en sy metrosisteem die besigste in die wêreld. Altesaam 91 universiteite is in Beijing geleë waarvan twee op die wêreld se top 50-lys is. 


Nog nie beïndruk nie? Watter ander stad beskik oor sewe UNESCO wêrelderfenisgebiede? En watter ander stad het die vermoë om die Somer Olimpiese Spele (2008) sowel as die Winter Olimpiese Spele (2022) te kan aanbied? Trouens die Olimpiese fasiliteite is in ‘n spiekeries kondisie en word daagliks gebruik, meer as wat baie ander stede kan sê.


Hoewel bouery aan die eerste stukke van die Chinese muur reeds 700 jaar v.C. begin is, is dit oor tyd weer afgebreek en verwoes, herbou en aan mekaar gelas. 


Qin Shi Huang, die eerste emperor en baasbrein agter die kleisoldate in Xi’an, het glo 400,000 werkers – meeste van hulle was gevangenes – aangesit om die muur te bou. Die werkers wat in die tuig gesterf het, is sommer in die muur begrawe. Die grootste stuk bouwerk het egter tydens die Ming Dinastie van 1368 – 1644 plaasgevind. 


Die doel van die uiteindelike muur was om die plundery uit Mongolië te stuit, maar die muur is ook gebruik as ‘n beheerpunt toe handel langs die syroete geblom het. Die muur strek rofweg in ‘n oos-wes boog oor ‘n afstand van 6,259km. Voeg hierby 359km loopgrawe en slote en 2,232km van natuurlike hindernisse soos riviere, berge en heuwels en die totale lengte is 8,850km.


Die dele van die muur naby Beijing is die beroemdste en word ook die meeste besoek. Bedaling is ‘n gewilde besoekpunt, maar ons het Mutianyu verkies omdat dit effens stiller is. Ook omdat mens maklik die steiler deel van Jinshanling kan bereik. Hier is die muur tussen 5 en 8m hoog en tussen 6 en 5m wyd. 


Net soos die skaal van baie ander dinge in China, is die omvang van die muur verstommend. Die jongste dele van hierdie indrukwekkende struktuur staan reeds vir meer as 370 jaar. Nee wat, ons kan maar die kwaliteit van Chinese konstruksie vertrou. En mens wonder of Donald al ‘n paar somme oor sy beplande muur gemaak het. 

Terloops, die muur is nie sigbaar op satellietbeelde soos wat beweer word nie. Om die muur byvoorbeeld vanaf die maan te kan sien, sal beteken dat jy ook ‘n haar op 2km moet kan raaksien!

‘n Marathon vind jaarliks op die muur plaas. Hierdie epiese gebeurtenis is ‘n bietjie meer veeleisend as ‘n gewone marathon omdat dit meer as 5,000 trappies en verskeie steil op- en afdraendes insluit. Tydens ons besoek het ons twee Argentyne, ‘n ma-en-seun-kombinasie, raakgeloop wat aan die marathon deelgeneem het. Die ma was eerste in haar ouderdomsgroep. Ons kon ‘n bietjie gesels voordat ons uitgesak het en hulle maar laat gaan het om die muurbesoek af te draf.


Besoedeling oor Beijing is berug, danksy die BBC en kie. Ons besoek is begin met ‘n nag van reën en die volgende paar dae was die lug oor Beijing silwerskoon. Maar hieroor was daar nie ‘n berig nie. Ook het die BBC nie berig dat dronk en oorgewig mense ‘n seldsame verskynsel in Beijing is nie. Ook nie dat graffiti of enige iets eksplisiets nie voorkom nie. Of dat die metro stiptelik is nie. Of dat stedelike tereur ongekend is in China nie. Of dat WeChat absoluut wonderlik is nie. 

Die Berge Fantasties 

Zhangjiajie is nou nie juis ‘n naam wat so lekkersê soos Aranos nie. Aranos is spikkelklein en Zhangjiajie ook (volgens Chinese maatstawwe). Alhoewel laasgenoemde meer as ‘n miljoen inwoners huisves en Aranos minder as tienduisend is daar tog ‘n vreemde verwantskap tussen die twee. Afspraak in die Kalahari met Prof Christo Pienaar in die hoofrol is ‘n Carfo-fliek uit my kinderjare en geskiet in die rooi Kalahari waar Aranos ook neersitplek gekry het. Op sy beurt was die berge naby Zhangjiajie die inspirasie vir die fliek Avatar.

Zhangjiajie lê in die skadu van Tianmenberg. Dié berg is bedrieglik steil en styg oor ‘n kort afstand van 200 tot 1,500m. Bo is daar ‘n mooi plato vanwaar mens nogal wyd kan sien. Hoog teen die byna loodregte hange sit daar ‘n reuse grot wat mens ‘n uitsig “dwarsdeur” die berg gee. Tesame het die grot en die mooi uitsig op die plato daarvoor gesorg dat een van die langste kabelkarlyne in die wêreld hier aangelê is.


Ons besluit om Tianmenberg te besoek. Miljoene Chinese besoekers per jaar kan mos nie verkeerd wees nie.


Ons vertrek op ‘n witkneukelrit in ‘n bussie berg-op. Na die hoeveelste harnaalddraai besef ons hoekom die bestuurder se waarskuwing om ons vas te gord so ferm was. Die gille en gelag raak al hoe senuweeagtiger hoe hoër ons gaan. Uiteindelik spoeg die bussie ons genadiglik op ‘n parkeerterrein hoog teen die berg uit.


Toe begin die trappe. En ek besef dat die kleuterrympie “Trippe, trappe, trone” dalk nie so onskuldig is nie, maar eintlik ‘n martelliedjie is. Ons sweet, swoeg en swyg. Tans is daar aanbouery op die trappe. Vir ‘n bergfiets downhill track. Verbeel jou!


Toe die trappe ophou begin die roltrappe. Jy lees reg. Roltrappe. Na agt stelle hou ek op tel. Van bo af het mens, uhm, asemrowende uitsigte. Daar is glaspaadjies, houtpaadjies en hangbrûe. En 11km voetpaadjies kronkel deur die woude. Dis ‘n karstlandskap, so daar is grotte en skeure, spitse en kranse. Elke nou en dan is daar ‘n platform met die mooiste uitsig. Kiekomaanwêreld.





Ons stap elke liewe paadjie en neem die kabelkar afwaarts. Byna 7,5km lank, en ons land uiteindelik in die middedorp digby ons blyplek. Pootuit, maar o so tevrede. Môre vat ons die Tianzishanberge, omtrent 35km verder, aan. Avatarwêreld.

Weer in ‘n bussie wat ook skoolkinders, boere, werkers en enige ander soort passasier op- en aflaai. Tot by die hek van die Zhangjiajie Nasionale Park. Hier klim ons af, kaart in die hand, op ‘n bedompige oggend.


Ons stap langs ‘n slingerende bergstroompie tot by ‘n plekkie waar ons dink die afdraai van die pad na die Hallelujaberg is.


Die paadjie word stiller en steiler. Honderde mosbegroeide trappies. Later is ons stoksielalleen. Salig – in hierdie digbevolkte land, dink ons. “Stairway to heaven” is nogal gepas vir hierdie geleentheid, besluit ek.

Maar na reekse en reekse trappies besef ons dat die plekke op die kaart nie opspoorbaar op die roeteborde is nie. Nie in Engels nie, en ook nie in Chinees nie. Hier’s fout, besef ons. Nogtans is dit verskriklik mooi. Ons wroeg voort, op en af, totdat ons op jelliebene by ‘n bushalte aankom met ‘n naam heeltemal anders as die een op ons kaart. Ons ry met die bus tot by die plek waar ons begin het.


Alhoewel dit ‘n mooi paadjie was en ons behoorlike oefening ingekry het, besluit ons om môre weer te probeer. Afleiding 1: Nie alle kaarte is akkuraat nie. En ‘n kaart wat amper akkuraat is, is nie akkuraat nie. Soos ‘n vrou nie amper swanger kan wees nie. Afleiding 2: Paadjies sonder naamborde van die bestemmings is onbetroubare paadjies. Afleiding 3: As daar niemand op ‘n paadjie stap nie, hoort jy ook nie daar nie. Moet veral nie alleen op mosbegroeide, afgesonderde paadjies stap nie.


Gewapen met ‘n heelwat beter kaart pak ons die roete weer ‘n keer aan. En ons ontmoet ‘n paartjie uit Indonesië wat saam met ons stap. Nou is ons darem vier, op soek na Halleluja.


Verskeie stappaadjies loop deur die park, begin onder en eindig bo-op die plato. Bo is daar busse wat heen-en-weer tussen die eindpunte loop. Daar is kabelkarre en, glo dit as jy wil, ‘n hysbak om jou weer onder te kry. Ons kies die een kabelkarroete afwaarts. Dit bring ons tot in die dorpie Wulinyuan, vanwaar ons weer die bussie terugneem tot in Zhangjiajie.


Om Zhangjiajie binne te dring is makliker as om die plek te verlaat. Kyk, die gebergtes rondom Zhangjiajie is wragtig pragtig. As ‘n selferkende kiekomaan was dit nogal traumaties om te wonder of ek dalk ‘n besondere kiekie kon gemis het.

Daar is egter ook logistieke uitdagings. Direkte vlugte na en vanaf groter stede soos Xi’an, Shanghai en Beijing is slegs laataand, ‘n onsmaaklike tyd. Want mens is dan op ‘n gulsige taxibestuurder aangewese om ‘n onsekere bestemming te probeer bereik – ‘n uiters beproewende situasie. Treinverbindings is ook beperk en, soos ons geleer het, die naweektreine is stampvol.

Vir ons was al uitweg om ‘n bus na Changsha, ‘n groter stad, te neem vanwaar ons die oornagtrein na Beijing kon kry.


Dit reën toe ons in die bus klim. Ek skuif terug en luister na Vampire Weekend se M79. Behaaglik. Die berge fantasties is by Zhangjiajie.

Xi’an 

Losweg vertaal beteken Xi’an iets soos westelike vesting. Dis die hoofstad van die Shaanxi Provinsie, maar op ‘n kaart van China lê Xi’an glad nie wes nie. Om die waarheid te sê, daar is baie meer land tussen Xi’an en die westelike grens van China as tussen Xi’an en die oostelike kus van dié reusagtige land. 

Die naam het meer te doen met antieke China, wat heelwat kleiner was, toe Xi’an ‘n belangrike nodus op die syroete was. Van hier af het die syroete weswaarts gestrek tot aan die Middelandse See en ooswaarts verdeel in twee roetes, een noordwaarts na Beijing en een suidwaarts tot by Hangzhou. Xi’an was dus die laaste bekende punt (in die weste) vir ou China. 

Argeoloë het bewyse gekry van bewoonde nedersettings in die omgewing van Xi’an met ‘n ouderdom van meer as 6,500 jaar. Uit die gedokumenteerde geskiedenis blyk dit dat Xi’an 32 eeue gelede reeds die hoofstad van China, in die tyd van die Zhou Dinastie, was. Kortom, dis ‘n bitter ou stad. 


Tydens die Qin Dinastie het die Eerste Emperor (Heerser? Koning?) van China, Qin Shi Huang, ook Xi’an as hoofstad verkies. Dit was so 220 jaar voor Christus. Dit was hy wat die kleisoldate, die sogenaamde Terracotta Warriors, laat maak het. Hy was ook bekend vir allerhande verkeerde redes – hy was agterdogtig, bygelowig en magsbehep. En vreeslik lief vir homself. Hy wou nie alleen in die hiernamaals wees nie, en het die leër van kleisoldate laat maak om hom te beskerm. En die makers van die kleibeelde is almal op sy bevel vermoor. 


‘n Besoek aan Xi’an sonder om te gaan kyk na die kleisoldate is soos om Namibië te besoek sonder om vleis te eet. Die plek waar die kleisoldate is, is ‘n hele entjie buite die stad en mens moet ‘n spesiale bussie daarheen neem. 


Die vonds is terloops ontdek toe ‘n boer ‘n put gegrawe het op sy plasie in 1974. 


Dis eenvoudig lonend om ‘n gids tydens die besoek te gebruik – so spaar mens baie verdwalery en kry die noodsaaklike inligting. En die plek is ontsaglik groot. Ons het byvoorbeeld nie geweet dat opgrawings en restourasie nogsteeds gedoen word nie. Elke artefak word stukkie vir stukkie aanmekaar gelas en dan uitgestal soos wat die opgrawings aangaan. 


Liu Bang, die emperor uit die Han Dinastie, het Xi’an se belangrikheid as antieke hoofstad verstewig deur die grootste paleis op aarde hier te bou. Rondom die paleisgronde van omtrent 36,000ha het hy die oorspronklike stadsmure laat bou in 194 v.C. Hierdie mure, en ook gedeeltes van die paleis en die stad, is later verwoes. Eers tydens die Ming Dinastie, in 1370, is die stadsmure herbou. Hierdie mure staan vandag nog en blok die oustad netjies af. 


Ons het fietse gehuur en bo-op die mure reg rondom die oustad gery, ‘n afstand van omtrent 12km. Dis ‘n wonderlike manier om die stad so uit die hoogte te verken. Duckelina het dit net so geniet.

O ja, en dis nogal gerieflik om iewers in die oustad te bly – die oustad is lekker kompak en vrek interessant. 


Xi’an het ook ‘n groot getal Islamitiese Chinese. Die Moslemmark in ‘n deel van die oustad is ‘n absolute moet vir enige besoeker. 


Dis waar mens kos kry. Wees paraat vir die honger massas. 


Die goeie nuus is dat die ouens ook lief is vir skaapvleis. En sosaties braai. Die karkas word sommer op die perseel ontbeen, so dis ‘n eerlike, goeie gehalte aanbod.



Sedert die 1990s het Xi’an ‘n belangrike fokuspunt van ekonomiese ontwikkeling in China geword. Vandag woon 8,7 miljoen mense in die stad en 13,5 miljoen inwoners in die metropool. Ten spyte van sy grootte, is die stad aantreklik. 

Xi’an is ‘n merkwaardige mengsel van oud en nuut – aan die een kant is daar prominente erkenning van kultuur, kuns en geskiedenis en aan die ander kant energieke ontwikkeling en vernuwing. 


Baie moeite word gedoen met die stad as blyplek van mense – openbare ruimtes is aantreklik, stapstrate, fietspaaie en voetgangervloei is goed beplan en parke en tuine word ordentlik versorg. 


Elke aand word ‘n gratis waterkonsert aangebied – ‘n vertoning van spuitfonteine op die maat van klassieke musiek. Sommer net vir die inwoners (en besoekers) om te geniet.


Iewers het ek ‘n stukkie (Chinese?) wysheid raakgelees – ‘n teken van volhoubaarheid is as oupas vrugtebome vir hul kleinkinders plant. Ek wil graag hier byvoeg – as ‘n stad se siel rondom sy inwoners beplan word, en nie om motorkarre nie, gee ons ‘n treetjie op die pad na volhoubaarheid.

Op berge en dale 

In Chinese terme is Guilin piepklein. Minder as een miljoen mense in die stad en minder as 5 miljoen in die metropool. Daar is nie eers ‘n metrosisteem nie, net ‘n dodelik effektiewe bussisteem. En derduisende poegies en allerhande mutasies daarvan. 


Die binnekant van die stad is sonder voertuie, gevolglik draai bedrywighede rondom voetgangers – instapwinkels, straatkos, smouse en stalletjies, musiek en vertonings, parke en tuine, mense wat kaartspeel, dans of oefen. Die klimaat is humied-subtropies en die plantegroei is geil. Osmantus-bome, wat in Oktober blom, het die stad sy naam gegee. Di tuine is oordadig. Nog vere in die hoed van die aantreklike, goedbeplande stad is die uitleg rondom die Li Rivier en sy vier mere, die pagodas en die Ming Paleis. 

Maar die eintlike faam van die stad lê in sy omringende omgewing.

Oor die 23 eeue tussen sy gedokumenteerde ontstaan en die hede het vele besoekers aan Guilin die omringende karstlandskap as die mees skouspelagtige in China bestempel. Skouspelagtig, lieflik, verbluffend, pragtig, asemrowend – kies maar die beskrywende woord. Ons het nie die regte woord gekry om die buitengewone mooi berge en dale van die streek te kan beskryf nie

Trouens, in Guilin het ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is – iemand wat fanaties kiekies neem en dan ure lank hulpeloos sukkel om die bestes uit te kies.

Kort na ons aankoms begin ons die stad verken. Dis bedompig en ons stap in ons sweet. Die skadus van die parke is ‘n logiese uitweg. So dwaal ons tot by ‘n baken met die naam Old Man Hill. Trappies wat oorgaan in gepakte klippe op ‘n stygende voetpaadjie. Steiler en steiler. Hoogtevrees of te not, vandag gaan ons boontoe. Verkeerde klere. Maar ons kom heelwat ander stappers teë met verkeerder klere. En een met ‘n kat. Totdat ons bo staan en die uitsig aangaap, verwonderd oor die berge en dale van die karstlandskap rondom ons. En ek begin vermoed dat ek ‘n kiekomaan is.

Water formeer die oppervlak en samestelling van kalksteen en oor die jare kan hierdie wisselwerking lei tot ‘n landskap van grotte, sinkgate, ondergrondse mere en riviere. En vorm ‘n karstlandskap. Dink Otavi Berge of Kango-grotte. Soms is daar oppervlakwater, soms heeltemal afwesig. Krap jy rond op die internet, is daar opvallend min inligting oor karstlandskappe van China.

Die karstlandskap by Guilin is uitgebreid. Ons het tot by Yangshuo, omtrent 60km verder gereis. Die landskap is op die mooiste direk langs die Li en sy sytak, die Yulong Rivier. 


In Yangshuo, en eintlik orals oppad, is daar fietse te huur teen 20 – 60 yuan per dag. 


Die fietspaaie is foutloos met min opdraendes, belyn met aftrekplekkies en stalletjies van plaaslike produkte, kos en water, en baie ander Chinese aanbiedings waarvan ons niks verstaan nie. 





Nie-chinese besoekers maak waarskynlik minder as 1% uit. Ons het ‘n volle dag opsy gesit vir Yangshuo en die fietsry. Een oorslaap in Yangshuo sou eintlik nog beter wees.

Ons blyplek in Guilin was reg langsaan die Ming Paleis. Die nag na Yangshuo reën dit swaar, dit donder en weerlig. Narkose. Al is my vermoedens oor kiekomania sterker, slaap ons rustig.
Terug in die tuine van Guilin ontmoet ons vir Sundy Wen, ‘n Chinese toergids wat vlot Engels praat. Hy het die dag vry, en bied aan om ons gasheer te wees. So neem hy ons na Xingping, ‘n antieke boeredorpie langs die Li Rivier. In ‘n bussie wat plaaslike mense heen-en-weer ry. 


Daar is hoenders en eende op straat, honde wat lui rondlê, en boervrouens wat lukwarte, mangos, waatlemoen en grondboontjies te koop aanbied.


Ons klim op ‘n bamboesvlot aangedryf met ‘n Yanmar enjintjie. En ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is. En dat Sundy Wen ‘n nuwe vriend is. 



Vanaf Guilin vertrek ons na Xi’an per vliegtuig. Voor ons vlug stap ons bietjie rond en ontmoet Barry (sy Engelse naam), wat ons nooi na ‘n teewinkel. Barry is ‘n onderwyser en gee Engels en Kaligrafie. Sy familie boer naby Guilin en die tee in die winkel kom van hul plaas. Hy verduidelik dat die boere ook rys, rissies, mangos en allerhande soorte groente en kruie verbou. Teedrink op die Chinese manier is ‘n seremonie en selfs ‘n geharde koffiedrinker soos ek kan nie help om dit te geniet nie. So leer ons bamboes- en lietjietee drink.

Ons vertrek uit Guilin en in my verbeelding hoor ek my onwillige belydenis: “Hallo, ek is Pierré en ek is ‘n kiekomaan. Ek het hulp nodig.”

Maar ek kalmeer toe ons oor die berge en dale van Guilin opstyg en ek luister na Katherine Jenkins se (Quello Che Faró) Sara Per Te. Mooi. 

Ek dink alle ander kiekomane verstaan.