Relatiwiteit

Na ses maande op reis is dit tyd vir bestekopname. 

Tot dusver het ons ‘n besondere geseënde tyd gehad. Geen terugslag of groot teëspoed nie, geen besering of ernstige siekte nie, geen groot verlies of diefstal nie. Ja, ek het wel ‘n ligte verkoue en ‘n loopmaag opgedoen, maar dit sou ek by die huis ook kon kry. En ek is besig om albei my groottoonnaels te verloor vanweë Rinjani, maar dis pynloos.

Wat was die beste? Onregverdige vraag. Teenvraag – wat is die kriteria? 

Eintlik is ‘n vergelyking onvanpas. Elkeen van die lande het sy eie stel mooi herinneringe opgebou. Ons sal elkeen onthou oor sekere redes. En ons sal na elkeen kan terugkeer. Voor dan gaan ons eers probeer om by ander onbekende plekke op aarde uit te kom. Reis is om te ontdek, om te verken. Nie eintlik om weer te besoek nie. En om te talm. Bietjie langer te vertoef, te ervaar, om die plaaslike dinge te doen.

Waarskynlik het ons die gemiddelde ouderdom van rugsakreisigers wêreldwyd ‘n bietjie gelig. So ook die gemiddelde ouderdom van gaste in hostels en homestays. En saam met ander rugsakreisigers op busse en jimneys, driewiele, poegies, bote en oorslaaptreine het ons gesorg dat die gemiddelde ouderdom van hul tipiese passasiers effens klim. Nogtans het niemand ‘n wenkbrou gelig omdat ons aan die bokant van 50 is nie. Niemand het ons ge-oom of ge-tannie nie. Inteendeel, ons het nêrens Afrikaans gehoor nie. Ons het wel in Afrikaans stiltetyd gehou en met mekaar in Afrikaans gepraat. En geblog in Afrikaans. Maar dit was al Afrikaans vir ses maande.

Dan was daar ook ‘n paar eerstes as Namibiërs: In Zhangjiajie, Guilin en Qindao en in verskeie ander plekke in China was ons waarskynlik die eerste Namibiese besoekers. In Coron het ons die tweede speldjie in Namibië op ‘n wêreldkaart gedruk (laat ons weet as jy die eerste speldjie ingedruk het), en op die Kecil Perhentian in Maleisië het ons die eerste Namibiese spore getrap, so ook op Rinjani en twee van Indonesië se 17,000 eilande. Goed, as ons nie die eerste Namibiërs was nie, was ek waarskynlik die eerste een uit die suide van Namibië. 

Ons het probeer om boek te hou van ons uitgawes, en ons het probeer om ons ervarings op te skryf. Ons kan raad gee, ons kan sekere goed aanbeveel en sekere goed afraai. Die bedoeling was nooit om ons inligting op te teken en as ‘n boek vol wenke te verkoop nie. Maar dis ook nie materiaal wat ek graag op die blog wil plaas nie.

Hoekom het ons dan teruggekom? Oor klomp persoonlike redes. Familie is vir ons belangrik, en daar is ‘n paar dinge op hierdie front wat ons aandag nodig het. Daarom gaan ons probeer om verder te reis in suidelike Afrika. Naby aan die huis. Ons weet nie wanneer nie, maar ons wil gaan kyk hoe wild die Wildekus is, of die Vaaldam regtig so groot is soos op die foto in die Standerd 4 Aardrykskunde handboek, waar die mielie-vierhoek is, ons wil gaan stap op paaie wat ons nog net op fotos gesien het, en in die Krugerwildtuin gaan kiekies neem. En ons wil gereeld na olifante en die groot Zambezi gaan kyk.

Op ons vlug met Ethiopian Airlines kyk ek na die verbeeldingryke fliek Interstellar. Konneksies tussen ons aarde en die uitspansel word gemaak, en die onderskeid tussen werlikheid en denkbeeldigheid word vaag in ‘n spel van tyd, ruimte en swaartekrag. Soos alles ineen weef, word alles relatief – ‘n maand in die ruimte word etlike dekades op aarde; afstand, spoed en rigting word niksseggende verwysings; die effek van gewig en swaartekrag verdwyn. Die antwoorde op ons aardse omgewingsvraagstukke word in die kosmos van die heelal gesoek. Toekoms en hede raak deurmekaar, tyd word nie meer gemeet nie. Alles raak relatief, en alles hou verband met mekaar. Soos in daai tyd net voordat jy aan die slaap raak. En soos in ‘n droom raak die onderskeid tussen werklikheid en denkbeeldigheid relatief.

Dalk is reis ook so. Mens kry die antwoorde vir die uitdagings by die huis op ander plekke. Jou uitdagings word relatief, jy kyk na jou eie wêreld met ander oë.

Suidelike Afrika is so onbeskryflik mooi. Soveel verskeidenheid, soveel energie en soveel opwindende kontraste. Soveel kultuur en geskiedenis, soveel skoon lug en onbesoedelde omgewing, soveel minder mense. Soveel stilte, soveel kranse wat antwoord gee, soveel ongeskonde natuur. 

Ja, daar is vuil op die ruit. Maar ons moet ‘n slag na die prentjie daarbuite kyk. En nie net na die vuil op die ruit staar nie. Die verskil tussen nou en die toekoms is relatief. Dalk is daar meer samehang as onderskeid, dalk maak dit sin om aan denkbeeldigheid aandag te gee. Wanneer gaan die hede oor in die toekoms? Wanneer begin die Ewigheid? 

Eintlik is ons werklikheid so relatief.

Advertisements

Kaskenades in Coron

Ricardo is sy naam. Skoongeskeer soos ‘n winkelpop, herinner hy my bietjie aan die beeldjie van die laggende buddah wat ons in China gesien het. Hy bied akkommodasie aan, teen ‘n afslag. Ons het pas met die boot uit El Nido in Coron aangekom en het nog nie blyplek nie. Ricardo se aanbod lyk goed en ons word met bagasie en al in ‘n driewiel gebondel om die plek te gaan kyk. Die driewiel beur saam met honderde ander driewiele en motorfietse tussen honde en voetgangers teen die bulte van Coron uit en kom tot stilstand in die besigste deel van die dorp. 


Ons klim af en stap in ‘n gangetjie tussen verskeie huise deur, later op ‘n sementpaadjie oor die water, tot by die Sea Dive Resort. Laasgenoemde staan eintlik in die see, op pilare. Baie Filipynse huise staan so in die water, selfs op die see. Op pilare of stelte. Die huise is dikwels vas aan mekaar, met klein onveilige gangetjies tussenin. Ons kyk die Sea Dive Resort deur, kom ooreen oor die prys per nag en boek in. 


Deesdae kyk ons met ander oë na iets wat ‘n resort genoem word. Ook na iets wat hotel, hostel, lodge, inn en gastehuis genoem word. In Filipyne is daar geen duidelike maatstaf om tussen hierdie name te onderskei nie en die standaard wissel erg. Ligging is ook nie ‘n goeie maatstaf nie. Soos die Sea Dive Resort bewys, omring met lendelam, krotterige huise op stelte. Ons vereistes is ‘n gemaklike dubbelbed, met skoon beddegoed, ‘n eie, droë badkamer, wifi en lugreëling. Maar ons weet al dat een van hierdie vereistes ons mettertyd gaan teleurstel. 

Die eerste kamer in die Sea Dive Resort lyk goed, totdat ons sien dat daar ‘n nat kol teen die plafon is. Ons kry ‘n nuwe kamer. Met storttyd ontdek ons dat die warmwater in die nuwe badkamer nie warm is nie. Die volgende oggend trek ons in die derde kamer in. Lyk nie sleg nie en die warm water is wel warm. Maar ons is nie hier om die dag in die kamer deur te bring nie – ons doen een van die boottoere na die eilande. 


Die boottoer stel nie teleur nie. Afgesonderde strande, lieflike korale en baie visse, louwarm turkooisblou water, en natuurskoon wat jou asem wegslaan. Die kiekomaan bly bedrywig. Ons kajak bietjie, en lê weg aan ‘n lieflike middagete. Dan verder na waar ons kan snorkel oor een van die Japanese skeepswrakke van die Tweede Wêreldoorlog, na die Kayangan Meer waar ons ‘n eindelose uitsig op Coron het en die Siete Pecados waar ons weer snorkel. Net voor skemer is ons terug by ons blyplek.


Ons resort het ‘n gawe restourant en dek. Dis ook al plek waar mens wifi het Wel, soms. Eintlik is die sein op sy sterkste tussen een en ses in die oggend wanneer die meeste gebruikers slaap. Nietemin, die dek is die volgende dag vir my ‘n toevlug, naby genoeg aan ‘n toilet. Een of ander tyd moes dit gebeur, en my tyd het gekom in Coron. Gelukkig bly die aanval sonder koors, naarheid en ontwatering. Dankie tog vir loperamiedhidrochloried wat hipermobiliteit in die dermkanaal inhibeer. Dis wat ek lees op die voubiljet in die pilleboksie.

Tussen die begin en die einde van die naweek is Saterdae nogal baie soos ‘n middelkind. Onopvallend en soms afgeskeep. Saterdae gaan maklik ongesiens verby met min om oor te rapporteer. Saterdae is nie so voor-op-die-wa soos Maandae, of so aandringerig soos Vrydae nie. Ook nie so voordoenerig soos Sondae nie. 

In my lewe het ek egter geleer dat belangrike dinge op Saterdae kan gebeur. Die element van ‘n geyser sal byvoorbeeld ‘n Saterdag kies om die gees te gee. 

Op ‘n Saterdag word die kansellasie van ons trip met die veerboot na Manila aangekondig. As gevolg van ‘n dreigende tropiese storm. Met heelwat ongerieflike gevolge. Nogtans lig ons die kenne, kyk op en maak planne. Maar op ‘n Saterdagnamiddag is die wifi nog luier en onbetroubaarder as ooit. En die besprekingskantore om alternatiewe reëlings te help maak is toe. 

Die enigste uitweg is om saam met ander passasiers lughawe toe te ry en ons name op ‘n waglys te plaas. Na ‘n uur of drie se gewag kry ons uiteindelik plek. Teen ‘n yslike prys. Toe al die stof gaan lê, kos die uurlange vlieg tussen Coron en Manila net soveel as ons vlug vanaf Manila oor Kuala Lumpur na Bali. 

Behalwe vir die gebeurtenisvolle naweek in Coron sal ek Filipyne vir ‘n paar onverklaarbare teenstrydighede onthou. Ligging van plekkies soos Moalboal, Panglao, Port Barton, El Nido en Coron is onverbeterlik. Tog is daar min geboue in die dorpe waarvan die ontwerp of instandhouding my beïndruk het. Versorging is waarskynlik ‘n rare begrip in Filipyne. Eintlik stel die toestand van al die dorpies teleur. So baie geboue is vuil, verwaarloos of bloot net voos geleef. Krotte en paleise staan langsaan mekaar, sonder enige onvanpastheid. Oor die toestand van die strate is daar ewe min sorge. Die strate is ongelyk, nou en oorvol. En iewers is daar water met ‘n verdagte kleur en reuk. Alles wat kan beweeg deel dieselfde straat tegelykertyd – mense, voertuie, honde, bokke en hoenders. 

Tog is daar altyd aaneenlopende vloei en geen ongeluk nie. Tog is die mense ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Tog laat die Filipyne jou altyd welkom voel. Tog skep die totale prentjie ‘n eerlike, opregte gelatenheid, ‘n hartlikheid van omgee en belangstelling.

En dis hierdie mooi van Filipyne wat ek sal onthou. 

El Nido

Die keuse van ‘n haarkapper is een van die lastige uitdagings wat ‘n langtermyn reisiger een of ander tyd teëkom. Jou hare word langer, jy kyk minder gereeld in die spieël, dra meer gereeld ‘n kep, kom anders uit die water uit as gewoonlik en droog langer af na ‘n stort. Tot op ‘n dag wanneer jy besef dat ‘n haarsny nou onvermydelik is. Dan begin die groot soek na ‘n barbier wat kundig, betroubaar en inskiklik is, prys in ag genome. Dekor van die haarsalon is ‘n belangrike maatstaf, en so ook die haarstyl van die barbier. Ligging is minder belangrik.


Dis met groot agterdog wat ek op ‘n Saterdagaand, tussen agt en nege, onder luide aanmoediging van My Lief by ‘n haarsnyhok met grasgroen mure instap. Hok, want dit lyk soos ‘n tydelike skuiling. Al die nodige wapens is egter netjies uitgestal, skêre van verskillende groottes, skeermesse met lemmetjies, verskeie borsels, poeier, doeke, spuitkannetjies, 3 in One olie en Wahl-knippers. Die barbiere luister na musiek van ‘n wyle geleë. Op die muur is daar ‘n verbleikte foto van Brad Pitt, ook van ‘n wyle geleë, en fotos van ander onbekende manne, een met maanhare en ‘n ander met ‘n kwêvoëlkuif. Beide barbierstoele is selfgemaak, gemonteer op ‘n ou lorrierim as voetstuk, en witgeverf. Die sitplekke is voos gesit; hierdie manne moes al honderde koppe onder hulle hande gehad het. Haresny is hul forté, daarom is daar geen sjampoemeisies, geen wasbakke, geen haardroeërs, geen tydskrifte. 

Op die bankie waar ek my beurt afwag, bestudeer ek die twee barbiere. Albei lyk vaardig, maar dit pla my dat die een ‘n hoed ophet. Kan dit wees dat hy ‘n mislukte kleur-eksperiment wegsteek, of het die ander barbier dalk sy haredos, ook op ‘n Saterdagaand, verwoes? Wie van die twee gaan op my losgelaat word? Ek hoop vir die hoedlose een. En ek kry hom. 

Konsensus oor die styl van die bloedjong Brad Pitt word verkry, en die knippery begin op Bon Jovi se Bed of Roses. Dit eindig met Bryan Adams se Please Forgive Me, wat my nogal verontrus laat. Nogtans is daar niks fout nie, en dit kos ‘n skamele honderd pesos, sowat R25. My stertjie waai.


El Nido bied meer as ‘n goedkoop haarsny. As bestemming word dit beskryf as die een plek in Filipyne wat ‘n moet is. En dit is. Die Skepper het met besonder baie aandag aan die Palawan-kus, waar El Nido geleë is, gewerk. Langsaam, talmend, en toe tevrede elders aangegaan. Alle clichés om mooi natuurtonele te beskryf is hier uitgedink. 


El Nido lê op die kromming van ‘n natuurlike hawe tussen twee dolomietkoppe. Die deel van die dorpie naaste aan die hawe is besig. Want strome toeriste vleg in die paar nou straatjies daar naby, tussen driewiele en motorfietse. Orals is aanbiedings vir boottoere en motorfietshuur, restourante te kies en te keur en blyplekke. So tussenin is daar miskien ‘n herstelplek vir motorfietse, ‘n winkel, ‘n masseersalon of ‘n haarsnyhok. Toerisme is die wese van die dorpie en die dorp se permanente inwoners woon verder weg van die toeristekern. Pryse is ook oor die algemeen effens hoër as wat ons voorheen gesien het. 


Juliemaand is nie die beste maand om El Nido te besoek nie want dit reën meer in dié een maand as in die hele seisoen oor Windhoek. Soms reën dit sommer tweemaal op een dag, en snags ook. El Nido is ook nie die beste plek op aarde om ‘n i-foon te laat herstel nie, leer ons. My Lief se i-foon wil skielik nie meer laai nie, selfs na verskeie toetse met ander kabels en kragproppe. Ons doen ‘n hartoorplanting op my ou Samsung en bêre vir eers die dame totdat ons haar kan laat regmaak. 


Ten spyte van die moontlikheid van reën, besluit ons om ‘n boottoer te doen. Teen R300 per persoon, met ‘n middagete en snorkelgerei ingesluit, is dit goeie waarde vir geld. Ons kry oorgenoeg snorkeltyd by al die plekke waar ons anker gooi en trotseer gelukkig net ‘n snuifreëntjie. Die gewilde stoppe is die plekke waar almal stop. Daar is GoPros en selfiestieks in alle kleure, sommige kameras reageer op die stemme van hul base, en vir die meeste van die baie besoekers is die selffoto belangriker as die heiligmooi plekke waar ons stop. Geen foto kan eintlik die mooi van die onbewoonde eilandjies met dolomietkranse wat val tot in die see, uitgestrekte en weggesteekte strande gesoom met kokospalms, die kleur van die see, en koraaltuine onderwater met skole vis van allerhande soorte, groottes en kleur behoorlik oorvertel nie. Ons loop ‘n video op YouTube raak wat gemaak is deur The Geek and the Chick. Hierdie video vertel iets van die onbeskryflike natuurskoon van die Filipynse kus.

Kyk gerus daarna by http://youtu.be/lWo3i0OZBg4, jy sal ook wil kom. 


Op land lei die bewoners ‘n eenvoudige landelike bestaan. Ons huur ‘n poegie en ry bietjie rond, tussen ryslande, na afgeleë strande, deur klein boeredorpies. Langs die nat pad is daar hoenders, honde, bees, bokke en waterbuffels en twee manne wat met hul varke gaan stap het. Dis reënerig, en ons vermy die modderpaadjies. Terug by ons blyplek sit die kiekomaan en werk deur honderde kiekies om die bestes te kies. 


Later in die aand vra ek My Lief dat sy asseblief net moet kyk of ek nog my bril op het. Toe weet ek, ek ontspan nou rêrig. Dit het gebeur in El Nido.

Fotoverhaal

Port Barton toets die ware betekenis van die woordjie paradys. Die dorpie is vasgedruk tussen ‘n beenwit strand, gesoom met kokospalms en woudbedekte berge, op die kromming van ‘n baai. Dis ‘n klein dorpie. So klein dat daar nie eens ‘n bank is nie, en waar krag net beskikbaar is tussen halfses en halftwaalf saans.


Met hoogwater spoel die mak brandertjies tot teenaan die trappies van ons blyplek. Op ons stoepie is ‘n uitnodigende hangmat en so uit die hangmat kan ons kyk na een van die bote wat geduldig op ons wag om te gaan snorkel. Dis vreedsaam en stil hier. Kinders speel op die strand en ‘n paar vissermanne sluk ‘n Red Horse met die dag af.


Saam met ons op die snorkelboot klim ‘n Portugese en ‘n Belgiese paartjie. Die skipper en sy bootsman is ou hande en neem ons van die een idilliese plek na die ander om te snorkel. 


My kamera werk hard, maar ek weet dat geen kiekie regverdiging kan gee aan die hemelse mooi van hierdie stukkie skepping nie. Buitendien kan ek nie die onderwaterwêreld kiek nie, en ek kry al hoe meer spyt omdat ek nie daai GoPro aangeskaf het nie. En dat ek nog nie ‘n duikkursus gedoen het nie. 


Ons ry langs afgeleë ente kus. Hier en daar is ‘n vissersdorpie, nog kleiner as Port Barton. 


Vir middagete gooi ons anker op ‘n strand sonder naam. Skipper en Bootsman berei vir ons ‘n eenvoudige middagete voor. En so oor gebraaide vis, rys, groente en vars vrugte kom Portugal, België, Namibië en Filipyne al hoe nader aan mekaar. 



Was dit nou Ruiter in Swart wat my laat wonder of ek al voorheen die naam Port Barton gehoor het? Of het ek bloot vir Barberton met Port Barton verwar? Tog twyfel ek sterk of Ben Brand en sy perd Satan ooit gesoek het na boewe op die Palawan Eiland. Want hy sou nie boewe hier gekry het nie. Filipyne is goeie mense.


Maar as Ben Brand ooit in Port Barton was, sou ons seker vandag nog die nuutste uitgawe van Ruiter in Swart kon lees. Dalk in kleur. Die stories sou miskien flou gewees het, maar die mooi omgewing sou opgemaak het. Fotoverhale sou nie uitgesterf het nie. 

Belewenisse in Bohol

Normaalweg is ek redelik betroubaar met name onthou, maar ek moet bieg dat die Filipynse padkaart en bybelse geslagsregisters vir my ‘n groot uitdaging is. Ons roete uit Moalboal loop oor Alcantra, Ronda, Damanjug tot waar ons met ‘n veerboot ry na Tangil. Ons klim oor op ‘n bus, wat saam met ons op die boot was, en ry op land oor Guihulngan, La Libertad, Jimalud, Tayasan, Ayungon, Bindoy, Manjuyod, Bais, Tanjay, Amlan, San Jose tot in Dumaguete waar ons ‘n tweede veerboot neem tot in Tagbilaran. 

Filipynse dorpies lyk omtrent almal dieselfde. Min hoë geboue, besige strate met motorfietse, karre, jeepneys, driewiele, ‘n ooraanbod van smouse en stalletjies, en klein winkeltjies met groot advertensies. Daar is kerke en skole, en hope kinders in skooldrag. Netheid en ordelikheid is nie juis opvallend nie, daar is gewoonlik iewers vloeiende water met ‘n verdagte kleur en reuk, en iewers is daar konstruksie aan die gang. Min onderskeid in inkomste is sigbaar, die huise is basies, weelderigheid is skaars en woonbuurte verskil baie min van mekaar. Geen grense en heinings is sigbaar nie, tensy daar ‘n paar diere aangehou word. Dit lyk of eenvoud die groot gelykmaker is en alle Filipyne ‘n gelukkige, ongekompliseerde lewe lei. 


Totdat jy in ‘n toeristeplek beland. Dan is daar ingange na weelderige oorde bewapen met wagte, vlae en valhekke, besighede wat luid hul buitelandse bestuurstyl en eienaarskap aankondig en restourante wat europese, chinese en koreaanse spyskaarte aanbied. En die Filipyne bedien, net soos op die luukse passasiersbote. Flink, vriendelik en verdraagsaam. Eg Filipynse besighede is beperk tot nederige eetplekke met onopgesmukte dekor en basiese meubels, die verhuring van motorfietse, bootritte en driewiele. Orals is daar eienaarlose honde, sommige hongerder en minder versorgd as ander, en opvallend baie dragtige katte. Alona op Panglao Eiland is so ‘n toeristeplek. 

Bohol bestaan uit 75 eilande, waaronder Panglao en Bohol Eiland. Die twee lê styf teenaan mekaar met die stad Tagbilaran tussenin. Terwyl Panglao bekend is vir sy wit strande en gewilde duik- en snorkelplekke, is Bohol Eiland bekend vir besienswaardighede soos die Chocolate Hills, endemiese tarsiers (‘n tipe nagapie), die Loboc Rivier, inheemse mahoniewoude, rysterrasse en die stokou Katolieke Baclayon kerk. 


Die Chocolate Hills het niks met sjokolade te doen nie, maar is kalksteen-oorblyfsels van ‘n voormalige oseaanvloer. Soos die land gehef is en die eiland ontstaan het, is die kalksteenvloer netjies deur erosie opgesny en het daar honderde van die ewehoë, ronde koepels oorgebly. Die bruin kleur van die grond herinner aan sjokolade, vandaar die naam. 




Op pad na Carmen, die dorpie naby Chocolate Hills, ry ons deur rysvelde, mahoniewoude, digte stande van kokosneutpalms, oor die Loboc Rivier en verby die bewaringsgebied van die tarsiers. 
Met die ontstaan van die eiland het die tarsiers ook deur ‘n hele paar unieke evolusiesiklusse gegaan om aan te pas by die veranderende omstandighede op die eiland. Dié komiese diertjies slaap in die dag en maak hul groot oë net nou en dan oop, kyk mens vaak aan en klem die takkies dan stewiger vas om verder te slaap. Tarsiers was vir Steven Spielberg so oulik dat hy sy ET-karaktertjie daarop gebaseer het.

Ons besluit om die Panglao Eiland per motorfiets te verken. Geen vrae oor wettige rybewyse en valhems nie en daar gaat ons. Panglao is nie groot nie, omtrent 10km in sy lengte en omtrent 5km in sy breedte. Ons ry heeldag rond en besoek die talle afgeleë strande en ‘n grot waarin mense swem, bly weg van die privaatoorde en privaatwonings met duidelike Geen Toegang bordjies, ry deur kokosneutplantasies en klein gehuggies en swem met skemer by ‘n strand onder kranse waar ons die enigste mense is. 




Die aand eet ons by Trudy’s op Alona strand. Dis ‘n egte Filipynse spyskaart, die bier is koud, die pryse laag en ons voete is in die sand. Ons filosofeer oor die aakligheid van materialisme, die soeke na ‘n saliger lewe, die alewige gehunker na verandering, die bevredigende inspirasie van reis en avontuur, meedoënlose roetines en die gejaag na wind. 


Waar ons sit, loop baie voetgangers verby. Onder hulle is daar opvallend baie paartjies wat bestaan uit grys Europese mans met jong Filipynse meisies. Daar is ook baie verhongerde honde en katte om ons. Ons wonder oor respek, omgee, norme en verantwoordelikhede.

Een van die oumanne probeer sy Filipynse vangs beïndruk met “Stand by Me” oor ‘n mikrofoon. Die begeleiding probeer byhou, maar sy stem dwaal onbeheersd en roekeloos oor die note. Saam met baie ander gaste kyk ons liewer weg.
Ons wonder oor die grys manne met hul Filipynse meisies. Ons wonder oor die privaatoorde langs die beeldskone Filipynse kus. En ons wonder of die Filipyne vir altyd gaan vriendelik en verdraagsaam bly. 

Die kitaarmakers

Ons vlieg na Manila in Filipyne vanaf Kota Kinabalu uit Maleisië. Tot ons otnugtering hoor ons dat ons bewys van ‘n uitvliegkaartjie moet hê. En net daar moet ons kaartjies koop. Die slegste hiervan is dat ons nou ‘n vaste datum het, wat beteken dat ons skielik ‘n program het. Program klink vir my soos ‘n beplande ding, amper soos vakansie. En ons is nie met vakansie nie. 

Uit Manila vlieg ons na Cebu eiland, kry blyplek en gaan slaap. Ons besluit om die volgende dag Cebu City eers bietjie te verken. Dit reën buitendien. Dis ‘n stokou plek. Maar dis bedrywig. Die sypaadjies is nou, dis digbebou en daar is vreeslik baie mense op straat. Ten spyte van die triestige weer. Meeste geboue is verslete en voos geleef. Ons vleg tussen markte en smouse, onder sambrele en afdakke, tussen driewiele en jeepneys, om en deur plasse water in die holgeryde strate. 

Ferdinand Magilaan het in Cebu geland op sy tog uit Spanje rondom die wêreld. Dit was in 1521. Ferdinand en sy manskappe ontmoet ‘n paar aangename Filipyne, maak pelle en besluit om te bly. 

Op Ferdinand en sy manne se aanbeveling word Spanje se vlag in Cebu gehys. Cebu is ‘n veilige, strategiese hawe en ‘n fort word gebou. Nogal in ‘n driehoekformaat. Die Spanjaarde is goeie Katolieke en begin die heidense Filipyne bekeer. Kerke word gebou en die Filipyne word gedoop en getrou. Die kerstening het ‘n rimpeleffek, meer kerke word gebou en Cebu en nog ander Filipynse eilande word Katoliek. Die pous is tevrede. Magelaan se kruis word ‘n belangrike simbool vir die christene van die Filipyne en staan vandag netjies bewaar onder ‘n koepel op ‘n plein, waar dit daagliks deur duisende besoek word.


Die godsdienstigheid van die Filipyne is moeilik om mis te kyk. Danksy die Spanjaarde. Orals staan daar kerke en katedrale, van die oudste amper vyfhonderd jaar oud. Bybelversies en verwysings na bybelversies is op die mure van skole, op die Jeepneys, op plakkate, in die busse, oral. En daar is kerke, kerkskole en bybelskole. Die godsdienstigheid gee die Filipyne ‘n opvallende eerlikheid – geen pretensie, geen verweer, soos Francois van Coke en Karen Zoid sing. Wat jy sien is wat jy kry. Filipyne is vriendelik en opreg belangstellend. Onopgesmuk. Eenvoudig en nederig. Behulpsaam.

Uitbundig en warmbloedig soos Spanjaarde mos maar is, het die Spanjaarde ook die Filipyne geleer om partytjie te hou en musiek te maak. So raak die Spanjaarde en die Filipyne ook al hoe aantrekliker vir mekaar. Verhoudings ontwikkel en paartjies word meer as vriende. So ewe vertrouelik vra een van die Spanjaarde toe op ‘n mooi aand vir sy Filipynse musiekpelle of iemand sy kitaar kan regmaak. Of miskien ‘n nuwe kitaar kan maak. Behulpsaam soos die Filipyne maar is, begin van hulle om aan die kitare te werk. Gaandeweg maak hulle ook nuwe kitare vir die Spanjaarde. 


Ons hoor van die kitaarstorie en besluit om te gaan kyk. Op ‘n driewiel met ‘n vriendelike, geduldige loots. Diep tussen eenvoudige huise in, verby werwe met spelende kinders, honde, hoenders en bokke. Ons hoor en ruik varke, die straatjies is nou en gepak. Voetgangers, Jeepneys en driewiele. ‘n Jeepney met Psalm 91:11 op die voorruit gaan ‘n ander een met Jeremia 29:11 verby. Ons ry in God Bless Our Way. Ons weet ons is veilig.


Die kitaarfabrieke sit naby aan mekaar in dieselfde straat. In ‘n onopvallende buurt. Behalwe die ontvangs en kantoor is daar amper niks modern aan die fabrieke nie. Werkers wat met eenvoudige werktuie op ‘n ry langs mekaar onder ‘n langwerpige afdak sit. Elkeen doen net ‘n deeltjie. Sommige saag, ander werk met beitels, een gom, die ander een klamp dié gomdele met bamboesknypers vas, een skuur, een poleer, en so aan. Sedert die koms van die Spanjaarde maak Filipyne só kitare. Op dieselfde manier, met die hand en net met eenvoudige toerusting. Die vaardigheid bly in die familie en word van geslag tot geslag oorgedra. Pa en seun sit op dieselfde produksielyn.


Chet Atkins het my bekend gestel aan die kitaar. Chet was ook bekend as Meneer Kitaar omdat hy so bedrewe was op die snare. Sy vriend Floyd Cramer was ewe knap op klavier. Chet en Floyd se uitgeknipte, skoongeskeerde gesigte was effens verlore op die geel agtergrond van die omslag van hul langspeelplaat en ek het nogal gewonder hoe hul instrumente moes gelyk het. Chet was ‘n ietwat onderskatte musikant. En ek het eintlik nooit weer van hom gehoor nie, totdat Mark Knopfler, Dire Straits se man, hom eendag in 1990 genooi het om saam musiek te maak. Saam prewel en tokkel hulle Poor Boy Blues op hul album, “Neck and Neck”. Meneer Kitaar is in 2001 oorlede maar hy sou beslis die Filipynse kitare kon waardeer, nes ek.

Cebu eiland is ‘n lang maer eiland. Soos ons uit die digbewoonde dele van Mactan, LapuLapu en Cebu City beweeg raak dit net mooier en mooier. Die bus kronkel moeisaam tussen al die verkeer, hoër op met die middellande totdat ons weer begin afdaal na die weskus. Ons volgende bestemming is Moalboal. 


Moalboal is mooier as sy naam. Duikers van regoor die wêreld dink ook so. Hier is hope duikskole, ingeryg tussen die Panagsama strand en ‘n onduidelike grondstraatjie. Tussen die duikskole is daar restourantjies en blyplekke ingedruk. Ons geniet ‘n koue goue op die stoep van ‘n restourant wat aan ‘n afgetrede Duitser behoort. Die uitsig is onverbeterlik. Jawohl, maak vol! Môre gaan ons snorkel.


Onthou die naam Quo Vadis. Gawe klomp. Ons vra vir inligting oor snorkel en die huur van toerusting. Hulle nooi ons sommer saam op hul boot Smiling Star. Voordat jy kan sê “dankie”, sit ons. Saam met die duikers val ons in die water. Behalwe die gebruiklikes, sien ons klomp nuwe soorte visse en korale. Ons swem saam met drie seeskilpaaie. En saam met miljoene sardyne wat in ‘n vormlose formasie saambondel. Die bondel stulp uit, krimp ineen, swenk weg, verdeel en omsingel ons. Ons snorkel totdat ons oumensvelle op ons tone het. 


Daardie aand wonder ek of daar in die hemel ook wit strande met piesangbome en kokosneute sal wees. Of tropiese vissies van allerhande kleure, korale en lou turkooisblou waters. Seeskilpaaie en sardyne. En Filipynse kitare.