Klippekou op ‘n krater

Wat is die einddoel wanneer jy bergklim? Om die spits te bereik, of weer heelhuids onder te kom? Hoekom wil mens in elk geval ‘n krater uitklim? Na Rinjani het ek nogsteeds nie antwoorde op dié vrae gekry nie, maar dis beslis nie die gemaklikste terrein om te kies vir ‘n selfie nie. 

Rinjani is 3726m hoog, die tweede hoogste van Indonesië se 129 aktiewe vulkane. Die kraterrand vorm ‘n kegel, die sogenaamde caldera, van ongeveer ses tot agt kilometer in deursnee en die vulkaan het in 2010 laas geroggel. Tans is die lawaput bedek met ‘n kleiner vulkaan binne die caldera, bekend as Gunung Baru, omring met ‘n niertjievormige kratermeer, bekend as Segara Anak. Die huidige kraterrand van Rinjani het blykbaar gevorm na ‘n hewige uitbarsting in 1257. Voorheen was die berg heelwat hoër. Die uitbarsting van 1257 kan verbind word met sulfate wat gevind word in die yslae in Antarktika en was die oorsaak van koeler weer oor ‘n tydperk van twee jaar wêreldwyd. Respek. 

Die staptog na Rinjani se spits begin van die Senaru kant, dis glo die makliker deel. Eers net ‘n paar verduidelikings: Die ouens wat die kaartjies vir so ‘n staptog verkoop is baie meer geïnteresseerd in die verkope as om inligting uit te gee. Eers by ons basis besef ons dat die eerste nag se akkommodasie spartaans basies is. Ons badkamer is ‘n nat hok uitgerus met net ‘n toilet en ‘n verlore stortkop. Geen wasbak, geen spieël, en die toilet word gespoel met water in ‘n skepding uit ‘n groot kantien water. Is dit dalk doelbewus so beplan om mens sielkundige voor te berei? Ons besef ook dat ons winterklere moet hê omdat dit bitter koud raak bo-op die berg. En kopflitsies vir die gedeeltes wat ons in die nag moet loop. En dat ons bogemiddeld fiks moet wees. Huh?

Die res van ons groepie is ewe bekommerd oor die nuwe inligting. Daar is twee Indonesiese gidse, vier portiere en dan ons stappers. ‘n Duitse en Oostenrykse paartjie, ‘n Fransman, Italianer, Chileen, en Hollandse meisie – almal onder dertig – en twee middeljarige Namibiërs. In die naam van internasionale eenheid begin ons die staptog. Lus het mos nie brieke nie.


Die aand voor ons staptog hoor ons van ons Liefkind se verlowing. Daar kan seker nie beter nuus wees vir ‘n ouer as om te hoor dat jou gesin gaan uitbrei met nog ‘n seun nie. Ganse van dieselfde dam. Ons hoor van hulle mooi oomblik, en ook hoe hulle saam gebid het daarna. Ons harte is warm, en ons wange nat.

Die eerste ent van die staptog is op ‘n sementpaadjie, tussen koffie- en kakaoplantasies. Heel gemaklik. Sement gaan oor in grond en die plantasies word vervang met woud. Dis bedompig, die paadjie raak merkbaar steiler, sweet begin uitslaan, ons hyg en elke stop is ‘n gawe blaaskans. Kameraderie ontwikkel. Fransman raak die siel van die groep. ‘n Jongman met ‘n bedrywige reisgeskiedenis. Het al by ‘n Moeder Teresa huis vir gestremde kinders in Indië gewerk, skoolgehou in Kambodja, en is tans ‘n trokdrywer in Australië. Altyd ‘n grappie en die musiek wat uit sy rugsak kom, hou ons aan die gang.


Die paadjie raak al hoe steiler, en toe ons halte maak vir middagete begin dit reën. Die Dorslanders het gelukkig reënjasse byderhand, maar van die ander ouens raak nat. Na middagete sit ons die tog in reënjasse voort. Toe ons by die eerste kampplek uitkom, is ons deurdrenk van sweet.


Alhoewel ons weer sonlig het omdat ons bokant die wolke is, is dit Racheltjie de Beer weer. Almal is op soek na droë en warm klere. Ons eet, en kuier teen die koue in die tentkombuis. Een van die gidse sny sy vinger raak en ons Fransman kom tot die redding. Die pasiënt raak flou van die bloed, ek stop hom suikerwater in. Genoeg gebeure vir die dag en ons gaan soek skuiling in ons eie tente teen die koue.

Dis ‘n onstuimige nag van koue en wind. En die grond is skuins en bitterlik hard. Met ontbyt hoor ons dat die ander ouens ook sleg geslaap het, styf is en nie genoeg droë en warm klere saamgebring het nie. Die Duitse paartjie besluit om terug te draai, maar ons ander sit die voete neer, verder die hoogtes op. 

Gedeeltes van Rinjani bestaan uit kwartsiete, maar die hoër dele is omtrent geheel en al bedek met basalte en vulkaanpuin. Dit veroorsaak dat die paadjies se oppervlakte òf los òf klipperig is. Moeilike terrein. Maar die uitsigte is mooi, ons bene bly gewillig en die ruskanse word al hoe meer waardeer. Eers bereik ons die kraterrand, en sak dan af na die binnekant. Ons sien vir Gunung Baru, die kleiner vulkaan in die middel van die caldera, en die kratermeer. Gunung Baru rook en stoom onrustig, soos ‘n bedonnerde dwerg. Nog laer af teen die kraterrand is daar warmbronne, wat welkome lafenis bied. Middagete langs die meer en weer verder. 


Die klim is nou baie steiler, want ons moet nou teen die klipperige kraterrand uit. Ons bly moedig, al raak dit vermoeiend op die bene en elke opkyk ‘n foltering. Dis sulke tye wat ek lank en diep dink oor epiese ervarings. Ander ouens se stories, reisverhale, kamptoere, gesinsvakansies. En iewers skop die bedwelming van hierdie herinneringe in en neem my verder. Hoër in hierdie geval. Hoog is dit inderdaad want ons eindig by die hoogste kampplek op die kraterrand, vanwaar ons na die spits toe moet stap. 


Hierdie keer is die tente effens meer beskut teen die wind, maar dit word snags koud en die grond is weer skuins en hard. Baie ander spanne klimmers kamp ook hier. Om die spits te bereik teen sonsopkoms, en veral om nie te wedywer met hope ander klimmers nie, moet ons vroeg opstaan. Die nagrus is hard, koud en kort. Twee-uur word ons wakker gemaak met tee en koekies. Dis koud en donker. Laag-op-laag voorkoms. Ek dink aan Robbie Wessels. Kopflitsie, harnas, check. Bravo 1, Bravo 1 wat is jou posisie?

Intussen het My Lief vir ons groepie ‘n naam gekry. Die Summiteers. Ons begin ons laaste strek. Aanvanklik ‘n geleidelike klim, dan skielik baie steil met erge los grond. Puinsteen. Pynsteen. Pyn en steun. Die kraterrand bestaan omtrent geheel en al net uit vulkaanpuin. Dis soos om Duin Sewe of Big Daddy te klim, met die verskil dat dit in los, stowwerige grond met baie klippe is. Die roete volg nou stiptelik die kraterrand, weerskante tuimel die afgronde die donker dieptes in. En ons swoeg. Tree vir tree. Rus. Asemskep. Die lug raak al hoe dunner en die grond al hoe losser. Moeisaam kruip ons hoër. Ons kyk terug. Agter ons kruip honderde kopflitsies soos ‘n vuurvliegie-duisendpoot teen die kraterrand op.

Teen sesuur bereik ons die spits. En word waarskynlik die eerste Namibiërs wat dit gedoen het. Die son dreig om oor die wolkelaag op die horison op te kom, maar ‘n yswind waai hier. Ons probeer skuiling soek, maar dis klappertandkoud. As ons gaan wag totdat die son uit is, gaan ons verkluim. 


Ons neem ‘n foto of twee, en begin die tog afwaarts. Afstap is soveel makliker en gouer. Op ons terugpaadjie kom die son oor die wolke uit en ons stop. En bid vir ons twee kinders wat wil trou. Toe gly ons verder afwaarts tot by die kamp. 

By die kamp kry ons ontbyt en gooi die ergste grond uit ons skoene. Die Summiteers is almal asvaal van die stof. Ons saal weer op en begin die afwaartse tog. Gly-gly, briek-briek. My bene raak jellierig, en ek en die drie vrouens in ons groep stap heel agter. Een van die gidse hang besorgd terug. By elke rusplek gooi ons grond uit ons skoene, en laat ons moeë voete bietjie asemhaal. Bekommerd sien ek hoe my groottoonnaels blou verkleur. Ons het goeie tye saam gehad die laaste paar jaar. 


Vieruur word ons opgepik, by die eindpunt van die staproete, agterop ‘n bakkie. Ons kronkel op ‘n paadjie tussen honde, hoenders, koeie en kinders deur tot by die plek waar die res van ons bagasie gestoor is. Ons neem afskeid van die ander Summiteers, klim in verskillende taxis en vertrek na die onderskeie plekke van verblyf. Op pad klim ons weer oor na ‘n ander taxi. Dié kry ‘n papwiel, en ons klim weer oor na ‘n ander taxi. Halfnege die aand klim ons in Kuta, Lombok af en begin blyplek soek. By een van die volbespreekte plekke waar ons aanklop is die gasheer so ontfermend dat hy sy seun, met my agterop sy motorfiets, stuur om vir ons blyplek te soek. Ons eindig by Kuta Bay Homestay. Daar is warmwater in die badkamer en ‘n dubbelbed met wit lakens. Ons boek in.

En ons wonder: Is dit nou die eintlike eindpunt van ons staptog?

Gili Air

Kom ons wees eerlik – waaraan dink jy as jy die naam Gili Air hoor? ‘n Lugredery of ‘n eiland? Dis ‘n eiland! Net so ‘n vreemde naam soos daai eilandjies van Langerhans iewers in ‘n mens se binnegoed. 

Die Gili eilande lê op die seeroete oos van Bali eiland op pad na Lombok. Aldrie is klein en naby aan mekaar, ‘n klein entjie van Lombok eiland af. Uit Ubud vertrek ons na Padangbai, vanwaar ons op ‘n veerboot klim om te vaar na Gili Air, die eilandjie naaste aan Lombok.

Padangbai se hawe is erg bedrywig en honderde passasiers vertrek hiervanaf na die ander Indonesiese eilande per veerboot. Min inligting word gebruik om die hordes te beheer, geen aankondiging word gemaak nie. So bly ons rondmaal in ‘n groep met dieselfde blou plakkers op ons klere totdat ons na omtrent twee ure op ‘n propvol veerboot klim.

By die eerste van die drie eilandjies, Gili Trawangan, klim die meeste passasiers af. Ons word verplaas na die dek, om plek te maak vir passasiers wat aan die ander kant van die boot opklim, oppad na Lombok. Na omtrent tien minute klim ons af op Gili Air se strand, opgesaal met ons rugsakke. 


Met geen bespreking nie begin ons stap, op soek na blyplek. Hier is geen motors nie, net fietse en perdekarre. Ons begin stap, takseer die blyplekke van buite af, en as die aansig goed lyk klop ons. Happy Homestay is ons keuse, na die vierde, vyfde aanklop. Ons eenheid is een van vier in die agterste gedeelte van die tuin. Die bure is Spaans en die huiskat kom groet. Dis stil hier. 


Ons kry fietse en begin die eiland verken. Die strand word omsoom met oorde, hotelle, deftige blyplekke, restourante en duikskole. Blyplekke met see-uitsig se pryse is aansienliker hoër as ons s’n, merk ons op. Na ‘n uur of twee ken ons die eiland, en stop vir ‘n Bintang om die dag af te sluk. 


Dis laagwater, ons sit met ons stêre op die sand en kyk hoe die son agter die flenterwolkies op die horison sak. Oral stap mense op die branderstoep rond en drink die mooi van die goue uur. Dis mooi hier. 


Gili Air se pas is stadig. Ons swem, lê op die strand, snorkel, ry fiets, dwaal rond in die paadjies tussen huise. Hope klein eetplekkies met goedkoop etes, almal groet vriendelik, en die perdekarre klingel verby. Na ‘n heerlike ete by ‘n restourant met tafels en stoele op die strand spreek My Lief haar seën oor die plek uit – eers sê sy dat sy weer sal wil kom, toe sê sy sal hier kan bly. 


Maar ek het ander planne. Na Lombok eiland, waar ek Berg Rinjani wil gaan uitklim. Een nag by die basiskamp, twee nagte in tente op die berg, drie dae se begeleide stap, etes ingesluit, plus op- en aflaai. Klink my na die ideale manier om ‘n paar dae op Lombok om te kry.

Belydenisse in Bali

In Bali het ek weer bely dat ek die onderwysers uit my verlede nie genoeg waardeer het nie. Hulle is die mense wat my breuke, die desimaal en die metrieke sisteem verduidelik het en my gedwing het om tafels te leer. Hulle is ook die mense wat my geleer het om te spel, te skryf en te redeneer. Dan was daar dié wat my probeer Engels leer het en dié wat my geleer het om my van ander lande en kulture te leer en kaarte te lees en diegene wat probeer het om met Gesondheidsleer, Godsdiensonderrig en Jeugweerbaarheid my op die regte pad te kry. Nie almal het ‘n ewe goeie joppie gedoen nie, maar met genade het ek darem nie te vrot uitgedraai nie. En ek is jammer dat ek nie altyd dankbaar was nie.

Die geldstelsel van Indonesië werk met baie nulle. Geen honderde nie, net duisende, miljoene en biljoene. Skielik moes ek diep delf om die metrieke sisteem toe te pas en uit my kop te kan deel en vermenigvuldig. Onwillekeurig het ek teruggedink aan die Wiskundemenere uit my verlede vir wie ek dankbaarheid skuld. Die een uit my laerskooldae het ‘n weglêsnor gehad, die een in Standerd ses en sewe wou eintlik eerder rugbyspeel as skoolhou en die een van die senior standerds kon sonder moeite in vryhand ‘n waterpas streep en ‘n volmaakte sirkel met bordkryt trek. 

Terug na Indonesië. Een Rand is gelyk aan 994.04 Rupiah. Vir my doeleindes is dit rofweg 1 = 1000. Na my eerste besoekie aan die kitsbank het ek nogal wintie gevoel want ek het skielik twee miljoen Rupiah in my beursie gehad. Die goeie nuus is verder dat Indonesië redelik goedkoop is en dat een miljoen Rupiah jou verder bring as ‘n beskeie R1000. 

Ons het nie eintlik beplan om Bali te besoek nie. By ander reisgers gehoor van die baie toeriste, eintlik Australiërs, en dat pryse effens duurder is as in die res van Indonesië. Die plan was dat ons net ‘n nag of twee oorbly en onmiddellik verder beweeg. Op die laaste oomblik bespreek ons blyplek omdat ons in die middel van die nag arriveer. 

Die blyplek se naam is Bread and Jam. Ten spyte van die misleidende naam is dit ‘n lieflike plekkie – skoon, goedkoop en supersmaakvol. En ons word halfdrie in die nag met ‘n breë glimlag ontvang! Onwillekeurig dink ek aan Lukas 11 en al die ander lesse oor gasvryheid uit Die Bybel. En ek bely dat ek bevooroordeeld was oor ‘n naam.


Kuta, dié gedeelte van Bali waar ons bly, is besig. Baie besig. Alhoewel die strate oorvol is, geval die plek ons meer as wat dit ons teleurstel. Dis skoon, netjies en die Indonesiërs is gaaf. Ons ry bietjie rond, en ons begin bou aan mooi herinneringe. Dis mooi hier. En die pryse maak dit al hoe mooier.  


Bali-eiland is Hindoe, in teenstelling met die res van Indonesië wat oorwegend Moslem is. Die Hindoe-invloed is moeilik om mis te lyk; orals is tempels, brand wierook, en word blomme neergesit. Ten spyte van die voorvol strate is die verkeer verdraagsaam en respekterend. Ons word voorgekeer en welkom geheet. Vrae word gevra hoekom ons op Bali besluit het, hoe lank ons wil bly en hoe Namibië is. En dan afgeëindig met seënwense om voorspoedig verder te reis en Indonesië te geniet. En ek kry jammer dat ek nie na Bali wou kom nie.

Die toerisme infrastruktuur in Kuta is inderdaad indrukwekkend. Luukse hotelle sit ingeryg langs die strande, dit wemel van restourante, gedenkwinkels en streelpersele en die baie Australiërs is oral. Ja, mens herken hulle. En ons sien hulle invloed. Ozzie dit en ozzie dat. Ons wonder oor die aaklige slagting van 2002 toe meer as 200 mense in ‘n bomontploffing gesterf het. Iemand noem ‘n syfer van omtrent die helfte van alle besoekers aan Bali wat van Australië is. Vlugte tussen Australië en Bali is supergoedkoop, en ja, dis nie noodwendig die room van Australiërs wat hier in Kuta rondloop nie. 


Ons besluit om te skuif na Ubud. Homestay hierdie keer, in Pondok Permata aan die bokant van die dorpie. Dis ‘n mooi plek, en dit word nog mooier toe ons die prys hoor. Ubud is ‘n juweel. Klein winkeltjies, handwerk, kuns, tempels, mooi ingange, restourantjies, vol straatjies, pragtige tuine, ryslande en lieflike stappaadjies. Opvallend vir ons is die afwesigheid van Australiërs. En Britte. Nie-Engelstalige toeriste is skielik in die meerderheid. Hier is ook geen mol nie. Luukse hotelle en deftige restourante is ook minder. Ons wonder daaroor. En ons bely dat ons van Ubud hou.

Oor ‘n biertjie begin ons wonder waarom ons van Ubud hou. Toe die bier leeg is, weet ons – die slegte goed is uitgeskakel. Ons voel nie uitgebuit nie, daar is respek en belangstelling, geen pretensie, pryse is mooi laag, diens is goed en die mense is vriendelik en behulpsaam. En daar is genoeg mooi om te geniet sonder luukse restourante en blyplekke, sonder mols.