Die Lêndies van die Hooglande

Op die Kalahariplaas waar ek groot geword het, was daar ‘n paar dinge wat ons nederig gehou het. Climax windpompe, Zero paraffien vrieskaste, Wolseley enjins en Land Rovers. As gevolg van alvier kon ek op ‘n stadium al die versies oor geduld in Die Bybel uit my kop opsê. Behalwe droogte was daar min ander dinge wat soveel grondige redes vir skietgebedjies verskaf het. Terselfdertyd was daar min vreugde so groot as enigeen van die vier korrek gefunksioneer het. 

Van die vier het Land Rovers waarskynlik die sterkste vormende rol in my lewe gespeel.

Die Lêndies van daardie jare was nogal spartaans. Daar was ‘n spaarwiel op die enjinkap, wat op sy beurt met twee rubberhake aan die bakwerk vasgemaak is. Die kajuit was sonder fieterjasies – skuifruite, luginlate onder die regop voorruit (party se voorruit was in twee gedeel), geutrakke waarin daar gewoonlik ‘n tang en draad en stukkie tjoep gelê het, ‘n lang, skewe ratkierie en twee korter kieries in geel en rooi vir 4×4 en donkierat, naakte deure, en dan die beskeie instrumentepaneel so groot soos ‘n skoenboks, met vlytige wit wysers. Daar was ook ‘n kenmerkende reuk, wat al hoe skerper geraak soos die Lêndie warmer geword het. En daai gesing van die ratkas, nes ‘n roomafskeier se onegalige geneurie.


Die Lêndies van daai tyd het graag gekook en ‘n waterkan was onontbeerlik. Ook was hulle lief om nie op die eerste swaai van die enjin te vat nie, daarom was die slinger agter die sitplek noodsaaklik. Met ‘n buitengewone hoë windweerstand en ‘n onderpresterende enjin was mens gelukkig om meer as 50 myl per uur op ‘n afdraende te haal. In die sand was hulle ook nie besonders indrukwekkend nie. Mens moes ‘n Kalahariduin gewoonlik meer as eenmaal storm, dis hoekom Pa altyd gepraat het van sy verkennersvoertuig. Die eerste maal kom mens tot teen die hang van die duin, die tweede slag amper tot op die kruin, net sodat ons oor die duin kon sien. En met die derde slag miskien oor. Ons buurman het uitgereken dat hy so gereeld met sy Lêndie in die sand vasgesit het dat hy drie maande langer sou kon boer andersins. Die ander buurman het weer gepraat van sy beproewingsvoertuig as hy van sy ryding praat.

Omtrent al die families uit my kindertyd het ‘n Lêndie gehad. Daar was kortgatte, stasiewaens, hardekappies en bakkies, petrol- en dieselmodelle, met of sonder tralies. Almal met nou ogies. En nie een het goeie brieke gehad of kort gedraai nie. Maar Lêndies het die land help makmaak. Al het hulle olie gelek en al was hul prestasie in sand onoortuigend, was hulle ten alle tye herstelbaar. Al was hulle nie stofdig nie, en al het hulle altyd iewers gelek as dit reën, was hul vering op onewe terrein legendaries. Die bakwerk (van aluminum nogal) was lig en roesbestand. En daar was min ander soorte 4x4s. Nogtans het ek stilweg ‘n eed afgelê om nooit een te hê nie. 

Lêndies bly kruis my lewenspad. Daar is familie en vriende wat my gereeld langs ‘n vuur probeer oortuig dat die nuwe modelle met rasse skrede verbeter is (is dit nog rêrige êrige Lêndies in elk geval?). Maar hulle verstaan nie my bittersoet verlede met Land Rover nie. 

Die Cameron Hooglande van Maleisië is vrot van Land Rovers. In alle vorme, kleure en toestande. Soos baie ander geharde Lêndie-lojaliste het die meeste eienaars meer as een: lopend of nie-lopend. Die rede vir multi-eienaarskap is vir my onduidelik: Is dit vir ekstra onderdele? Of om altyd ‘n alternatief te hê? Of bloot blinde liefde? 

Nietemin, die Lêndies word gebruik om die Hooglande te tem. Alhoewel die Hooglande byna op die ewenaar lê, is dit koel. Maar nat en met ‘n steil terrein. Gereelde verspoelings en volop modder. Dus, geskik vir Land Rover. Daar word met Lêndies geboer, plantasies bestuur, vrag aangery en mense vervoer. 

So is ons ook met ‘n Lêndie Berg Brinchang, een van die spitse van die Hooglande, uit. Kronkelend op teen die berg, verby teeplantasies en groente- en aarbeiplase tot by die kruin. Sonder moeite. Saam met Appo, ‘n Lêndie-entoesias en twee ander paartjies. Albei paartjies, net soos ons, het besluit om hul werk op te gee en te reis. Nogal gerusstellend om iets so radikaals in gemene geselskap te hê. 


Die Hooglande se koel, nat klimaat was ‘n aantreklike ontvlugting vir die arme pienk Britte wat na Maleisië gesekondeer is tydens die koloniale periode. In die vroeë jare was daar egter malaria en die eerste setlaars het gesterf soos vlieë. Eers met die uitroei van malariamuskiete en gevaarlike diere soos tiere en giftige slange is die Cameron Highlands ingebreek. Dis toe dat die Britte hierdie deel begin bewoon het en dis waarom mens hier teeplantasies, ou Britse herehuise, skons met aarbeikonfyt en, natuurlik, Land Rovers kry. Deesdae is hier ook baie Chinese boere (wat Maleisies en Engels praat). En ook Lêndies het. Bid jou aan!

Behalwe Lêndies, teeplantasies, aarbei- en groenteplase is die Hooglande ook bekend vir sy woude, altans dié dele wat nog ongeskonde is. Omdat dit koel is, groei die plantegroei stadiger en is hoë bome raar. Dis baie nat en vogtig, en daarom moswêreld. Indrukwekkende lae mos, alge, ligene en varings as ondergroei en bome as die hoërstand plantegroei. 


Die woude van die Cameron Hooglande is onder permanente bedreiging, al lê ‘n groot gedeelte binne ‘n bewaringsgebied. Goente- en aarbeiboerdery is ‘n florerende bedryf en word in tonnels verbou. Vars blomme is ook ‘n groeiende bedryf. Die bloeiende akkerbousektor is in voortdurende kompetisie met die natuurlike woude. Vir spasie, maar ook op indirekte maniere soos die aanlê van infrastruktuur en besoedeling. Waar die plantegroei verwyder is, is daar modder en verspoeling. Rommelstrooi is ‘n yslike probleem terwyl vergiftiging as gevolg van die gebruik van kunsmis, aanvullers en pes- en siektebeheer ook plaasvind. Omdat dit so baie reën, is erosie ‘n opsigtelike probleem en alle stroompies besaai met rommel. 


Die beste manier om die ongeskonde woude van die Hooglande te verken, behalwe met ‘n Lêndie, is te voet. Rondom die dorpies Brinchang en Tanah Rata is daar ‘n rits voetslaanpaaie deur die woude. 

Ons het drie van hulle verken. Maar wees gewaarsku, dit reën baie en jy moet jou tydsberekening reg hê om droog op die ander kant van ‘n roete uit te kom. Ons was gelukkig en kon elke keer vanuit ‘n eetplek kyk na die reën. En na Lêndie-bestuurders wat natreën binne-in hul rygoed. 

Om saam te smelt

Nes Uis het Kuala Lumpur begin as ‘n dorpie rondom ‘n tinmyn. En toe word Kuala Lumpur ‘n hoofstad, ‘n wêreldstad. En Uis nie een van die twee nie. 

Kuala Lumpur lê op ‘n vloedvlakte waar die Klang en die Gombak Rivier bymekaarkom. En ek het nie die name van die riviere uitgedink nie. Losweg verwys die naam Kuala Lumpur na modderige samevloei. Die klimaat is ekwatoriaal en water is volop. In Junie is dit warm. Baie, baie warm. Smeltwarm.


Die ontstaan van die stad is nou verwant met kolonialisasie. Chinese was die eerste myners, maar in die vroeë jare van die mynbedrywighede het baie ander uitlanders bygekom. Die myners het in verskillende woonbuurte en verskillende kleims gehad. Noodwendig was daar konflik en onrus, selfs ‘n burgeroorlog. En uiteindelik kolonialiseer die Britte die gebied rondom en verskaf stabiliteit vir die bloeiende tin- en rubberbedryf. In sy geheel is Maleisië deur ‘n rits kolonialiste – daar was Portugese en Hollanders, Britte en tydens die Tweede Wêreldoorlog ook Japanese. Maleisië is vanjaar presies 60 jaar onafhanklik. 


Die nalatenskap van die kolonialiste is nog plek-plek te sien, hoewel die yslike wolkekrabbers en die Petronas-torings baie van die stad se voorkoms domineer. 


Styf teenaan die beton-oerwoud van die middestad lê ‘n tradisionele Maleisiese woonbuurt, Kampong Bharu, waar ontwikkeling nog uitgehou word en erfreg nog die toekoms bepaal. 


Ons het ‘n staptoer deur die buurt meegemaak. En ernstige Maleisiese cuizine getrotseer.


Kuala Lumpur is onstuitbaar op die ontwikkelingspad. As hoofstad en grootste stad in die land (digby 2 miljoen inwoners en 7,5 miljoen in die metropool) is Kuala Lumpur die vertoonvenster van Maleisië se blink ekonomiese groei en een van die vinnigste groeiende stede in suidoos-Asië. Maleisië het ‘n ambisieuse strewe om teen 2020 totaal ontwikkeld te wees, ‘n sogenaamde Eerstewêreldland.


Net ‘n voetnota oor die term Eerstewêreldland. Ek het nog nooit ‘n behoorlike definisie vir ‘n Tweedewêreldland teëgekom nie. Trouens, lande is of eerstewêrelds of derdewêrelds, en die onderskeid is deur die Eerste Wêreld uitgedink. Ontwikkelde teenoor ontwikkelende lande word soms verkies, maar dié definisie is op sy beurt ongemaklike sambreelterms vir Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (die sogenaamde BRICS-lande). Soos met baie ander dinge in die lewe, bly dit maar moeilik om te veralgemeen – enige reël word mos getoets deur sy uitsonderings, of hoe?


In vele opsigte is Kuala Lumper ‘n baie interessante eksperiment, ‘n samesmelting – wat werk. Hier woon Indiërs, Chinese, Maleiers, Filipyne, Indonesiërs, Europeërs en Arabiere langs mekaar, en dis nie snaaks om in dieselfde straat ‘n Hindu- en ‘n Budda-tempel, ‘n moskee en ‘n Protestantse kerk te sien nie. Die plekke van aanbidding het ook elkeen hul eie klanke, wat saamsmelt as ‘n kakofonie van stemme wat nie nootvas is nie, treurige snaarmusiek, blikskud, klokke en vals fluite. Al is die aanbiddingsklanke nie altyd mooi nie, heers daar vrede. En dis wat tel. Eenheid in verskeidenheid kry inderdaad nuwe betekenis hier. 


Die roesmoes het natuurlik klomp interessante gevolge. Maleisiese kultuur is nie juis ‘n presiese term nie. Die samesmelting van die kulture is veral sigbaar in kos. Interessante kinkels kom by, speserye word in oorvloed gebruik, kleur en geur is belangrik. Iewers tussenin is daar nog ‘n mengsel van bestanddele, metodes en veroudering ook. Nietemin, die kos is goedkoop en my grootste uitdaging is eintlik om ‘n keuse te maak. En as ek na die tyd so oor my vol magie vryf, wil ek ook sê: “Ek wens, ek wens my hele lyf was ‘n pens!”

Het ek al gesê dat dit warm is in Juniemaand? Bloedig, onhebbelik en versengend is liggewig woordjies om Kuala Lumpur hitte te probeer beskryf. 

Terwyl Maleisië op pad is na ‘n Eerstewêreldland en die land se kultuur besig is om saam te smelt het ek en My Lief ook byna gesmelt. Van hitte. 

Die Berge Fantasties 

Zhangjiajie is nou nie juis ‘n naam wat so lekkersê soos Aranos nie. Aranos is spikkelklein en Zhangjiajie ook (volgens Chinese maatstawwe). Alhoewel laasgenoemde meer as ‘n miljoen inwoners huisves en Aranos minder as tienduisend is daar tog ‘n vreemde verwantskap tussen die twee. Afspraak in die Kalahari met Prof Christo Pienaar in die hoofrol is ‘n Carfo-fliek uit my kinderjare en geskiet in die rooi Kalahari waar Aranos ook neersitplek gekry het. Op sy beurt was die berge naby Zhangjiajie die inspirasie vir die fliek Avatar.

Zhangjiajie lê in die skadu van Tianmenberg. Dié berg is bedrieglik steil en styg oor ‘n kort afstand van 200 tot 1,500m. Bo is daar ‘n mooi plato vanwaar mens nogal wyd kan sien. Hoog teen die byna loodregte hange sit daar ‘n reuse grot wat mens ‘n uitsig “dwarsdeur” die berg gee. Tesame het die grot en die mooi uitsig op die plato daarvoor gesorg dat een van die langste kabelkarlyne in die wêreld hier aangelê is.


Ons besluit om Tianmenberg te besoek. Miljoene Chinese besoekers per jaar kan mos nie verkeerd wees nie.


Ons vertrek op ‘n witkneukelrit in ‘n bussie berg-op. Na die hoeveelste harnaalddraai besef ons hoekom die bestuurder se waarskuwing om ons vas te gord so ferm was. Die gille en gelag raak al hoe senuweeagtiger hoe hoër ons gaan. Uiteindelik spoeg die bussie ons genadiglik op ‘n parkeerterrein hoog teen die berg uit.


Toe begin die trappe. En ek besef dat die kleuterrympie “Trippe, trappe, trone” dalk nie so onskuldig is nie, maar eintlik ‘n martelliedjie is. Ons sweet, swoeg en swyg. Tans is daar aanbouery op die trappe. Vir ‘n bergfiets downhill track. Verbeel jou!


Toe die trappe ophou begin die roltrappe. Jy lees reg. Roltrappe. Na agt stelle hou ek op tel. Van bo af het mens, uhm, asemrowende uitsigte. Daar is glaspaadjies, houtpaadjies en hangbrûe. En 11km voetpaadjies kronkel deur die woude. Dis ‘n karstlandskap, so daar is grotte en skeure, spitse en kranse. Elke nou en dan is daar ‘n platform met die mooiste uitsig. Kiekomaanwêreld.





Ons stap elke liewe paadjie en neem die kabelkar afwaarts. Byna 7,5km lank, en ons land uiteindelik in die middedorp digby ons blyplek. Pootuit, maar o so tevrede. Môre vat ons die Tianzishanberge, omtrent 35km verder, aan. Avatarwêreld.

Weer in ‘n bussie wat ook skoolkinders, boere, werkers en enige ander soort passasier op- en aflaai. Tot by die hek van die Zhangjiajie Nasionale Park. Hier klim ons af, kaart in die hand, op ‘n bedompige oggend.


Ons stap langs ‘n slingerende bergstroompie tot by ‘n plekkie waar ons dink die afdraai van die pad na die Hallelujaberg is.


Die paadjie word stiller en steiler. Honderde mosbegroeide trappies. Later is ons stoksielalleen. Salig – in hierdie digbevolkte land, dink ons. “Stairway to heaven” is nogal gepas vir hierdie geleentheid, besluit ek.

Maar na reekse en reekse trappies besef ons dat die plekke op die kaart nie opspoorbaar op die roeteborde is nie. Nie in Engels nie, en ook nie in Chinees nie. Hier’s fout, besef ons. Nogtans is dit verskriklik mooi. Ons wroeg voort, op en af, totdat ons op jelliebene by ‘n bushalte aankom met ‘n naam heeltemal anders as die een op ons kaart. Ons ry met die bus tot by die plek waar ons begin het.


Alhoewel dit ‘n mooi paadjie was en ons behoorlike oefening ingekry het, besluit ons om môre weer te probeer. Afleiding 1: Nie alle kaarte is akkuraat nie. En ‘n kaart wat amper akkuraat is, is nie akkuraat nie. Soos ‘n vrou nie amper swanger kan wees nie. Afleiding 2: Paadjies sonder naamborde van die bestemmings is onbetroubare paadjies. Afleiding 3: As daar niemand op ‘n paadjie stap nie, hoort jy ook nie daar nie. Moet veral nie alleen op mosbegroeide, afgesonderde paadjies stap nie.


Gewapen met ‘n heelwat beter kaart pak ons die roete weer ‘n keer aan. En ons ontmoet ‘n paartjie uit Indonesië wat saam met ons stap. Nou is ons darem vier, op soek na Halleluja.


Verskeie stappaadjies loop deur die park, begin onder en eindig bo-op die plato. Bo is daar busse wat heen-en-weer tussen die eindpunte loop. Daar is kabelkarre en, glo dit as jy wil, ‘n hysbak om jou weer onder te kry. Ons kies die een kabelkarroete afwaarts. Dit bring ons tot in die dorpie Wulinyuan, vanwaar ons weer die bussie terugneem tot in Zhangjiajie.


Om Zhangjiajie binne te dring is makliker as om die plek te verlaat. Kyk, die gebergtes rondom Zhangjiajie is wragtig pragtig. As ‘n selferkende kiekomaan was dit nogal traumaties om te wonder of ek dalk ‘n besondere kiekie kon gemis het.

Daar is egter ook logistieke uitdagings. Direkte vlugte na en vanaf groter stede soos Xi’an, Shanghai en Beijing is slegs laataand, ‘n onsmaaklike tyd. Want mens is dan op ‘n gulsige taxibestuurder aangewese om ‘n onsekere bestemming te probeer bereik – ‘n uiters beproewende situasie. Treinverbindings is ook beperk en, soos ons geleer het, die naweektreine is stampvol.

Vir ons was al uitweg om ‘n bus na Changsha, ‘n groter stad, te neem vanwaar ons die oornagtrein na Beijing kon kry.


Dit reën toe ons in die bus klim. Ek skuif terug en luister na Vampire Weekend se M79. Behaaglik. Die berge fantasties is by Zhangjiajie.

Weerkyk

En so dommel ek in, effens onrustig oor Skylab wat dalk op ons huis, eintlik my kamer, in die nag kan val. Te midde van die swaar weer.

Soms het jy hom net gehoor as hy die gordyne saggies oop geskuif het. Maar meestal was hy doodstil. En dan het hy vir lang oomblikke in die donkerte gestaar om die weer te kyk as dit weerlig. As iets sy uitsig in een vertrek versper het, het hy die volgende vertrek se vensters probeer.

Vanuit die weer het hy beplan, tekens gelees – of daar voorspoed of teenspoed wag. Groenveld of droogte. Weiding of voer. Bedags en snags het hy beplan, gewroeg, gebid. En reën was die gemene deler.

Mooiweer het ek leer ken as belowende wolke. Nie as ‘n skoon, wolklose hemel nie. “Die weer is mooi vandag” was ‘n uitdrukking swanger van belofte en verwagting.

Swaar weer oor Namibië is mooi. Dansende blitse en oorverdowende gedonder is mooi. Druppels reën op ‘n sinkdak is mooi. Slaap terwyl dit reën is salig. Reënweer is mooiweer.

So het ek een aand gaan slaap met swaar donderweer en blitse. Dit was in die sewentigerjare. In dieselfde tyd as Skylab. Maar Skylab se dae was getel en ons is gewaarsku dat Skylab besig was om te disintegreer en dat die stukke dalk iewers oor suidelike Afrika kan val. En so dommel ek in, effens onrustig oor Skylab wat dalk op ons huis, eintlik my kamer, in die nag kan val. Te midde van die swaar weer.

Een baie harde donderslag in die nag het my oortuig dat Skylab tog geval het; welliswaar nie op my kamer nie, maar net ‘n entjie suidoos van die huis. Vroegoggend is ek uit die huis om te gaan kyk, maar daar was geen teken van die verwoeste ruimtetuig nie. Later die oggend het ons toe op die nuus gehoor dat Skylab iewers oor Australië neergestort het.

Reën in Namibië word met heilige respek hanteer. Dis die rede vir rondrits, reis, verkenning. Uitvra oor reën is die begin van menige gesprek. Reën is die bepalende faktor as ‘n trip beplan word. Wat die deurslag gee as ‘n plaas gekoop word. Wat die luim van die nasie bepaal. En die koerante se voorblaaie dikteer.

Na ‘n buitjie reën sien mens fotos en dankgebede, kinders wat speel in die poele, 4x4s langs ‘n vol riviertjie. Daar is selfs ‘n Facebook blad vir reën. Waarvan die ledegetalle daagliks groei. En waarop dit elke dag gons oor nuwe berigte van reën, riviere wat afkom, groenveld en blommetjies langs die pad. Die blad waarop boere skrywers word.

Reëntyd is reistyd in Namibië. Ek was al deel van ‘n groepie wat op ‘n Saterdagoggend uit Windhoek na die lelies by Maltahöhe gaan kyk het, en per ompad oor Solitaire en Spreetshoogte na Windhoek teruggekeer het. Net om te gaan kyk waar dit gereën het. Byna 800 km vir die dag. Nie te ver vir weerkyk nie.

 

 

Sent from my iPad

Privaatsak 2116

Maandae en Donderdae het die rooi spoorwegbus gekom en op Dinsdae en Vrydae teruggegaan. Gekom met bultende possakke, pakkies en aflewerings. Teruggegaan met beantwoorde briewe, betaalde rekenings, bestellings en orders. Op Dinsdae en Vrydae is die roomkanne ook deur die bus opgelaai en op Maandae en Donderdae het die roomkanne leeg teruggekom. Soms het die bus ook ‘n pakkie by ons opgetel vir iemand stroom-op of –af op die roete.

As ek die stoffie van die bus in die verte gesien het, het ek begin stap om die possak by die bushalte te gaan haal. Die bushalte was ‘n sentrale punt op die buurplaas, daar waar Oom Giftand gemaklik met die bus kon draai. Al die aangrensende plase het die bushalte gedeel. Die pospaal was onder ‘n koelteboom en die possakke het geduldig op die draad daar langsaan gehang.

Terug by die huis is die possak dan met groot afwagting oopgemaak. Daar was briewe met interessante posseëls, posbestellingsgidse van Charles Velkes en Modesty, miskien ‘n Huisgenoot, Sarie of Landbouweekblad en die vorige week se koerante.

Soms is die rooi spoorwegbus ook gebruik vir aflewerings vanaf die kooperasie. Dan is die kampmateriaal, klipsout of brandstof by die pospaal afgelaai, gemerk vir die nuwe eienaar met net ‘n enkele nota.

So het dit eenmaal gebeur dat die bestelling en aflewering van teerpale by die bushalte nie dieselfde hoeveelheid was nie. Toe die nuwe eienaar van die pale navraag by die kooperasie doen, trek die kooperasie skouers op. Uiteindelik word daar ‘n saak by die magistraatskantoor gemaak, tussen die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, die kooperasie en die boer. En Oom Giftand se betroubaarheid word getoets.

Toe almal voor die magistraat ewe radeloos is, speel Oom Giftand sy troefkaart – ‘n ooggetuie.  Op die betrokke dag het die man daar naby onder ‘n koelteboom gesit. Hy moes tog immers gesien het hoe Oom Giftand die teerpale aflaai. Die ooggetuie vertel sy storie en alles loop reg totdat die magistraat hom vra oor die hoeveelheid pale. Toe maak hy verskoning: “Edelagbare, ek weet nie so mooi nie. Ek was besig om ‘n skaapnek te eet. Ek het nie baie opgekyk nie.”

Ek weet nie tot watter vergelyk die partye gekom het nie, maar Oom Giftand het nog vir jarre daarna die bus gery.

Die rooi spoorwegbus het ‘n belangrike rol in my vormingsjare gespeel. Dit was my kontak met die res van die wêreld. Die internet van my seuntjiewêreld. Ek het gewonder oor die geheimsinnige reis van die briewe, oor bestemmings en afsenders se onbekende adresse, oor die name en plekke waarvan die tydskrifte en koerante berig het, oor die oorsprong van die produkte wat by ons afgelewer is en oor die fabriek waarheen ons die room gestuur het.

My nuuskierigheid oor die groter wêreld het ‘n onblusbare Wanderlust gekweek en die nederige spoorwegbus en Oom Giftand het my dalk meer gevorm as ek wat ek wil toegee.

Vleis, reis en vrede

Eers was dit beesrug, in dik sappige skywe op die kole, met murgbene daarby. Ja daar was groente ook, maar die ster van die aand was die blink, heilsame murg saam met Namibiese beesvleis. Daar is gelag en gesels, gegroet en afskeid geneem.

Toe was dit skaaprug, in sy geheel, en stadig gebak in roosmaryn en met olyfolie bedruip. Weer was daar groente by, maar die ster van die aand was die bottersag lam uit Namibië se suide. Ons het gekuier, die glasies is geklink en ons het totsiens gesê.

Ons vertrek uit Namibië met ‘n vleisvaarwel en word verwelkom in Suid-Afrika met … ‘n vleisie op die kole. Heerlike skaaptjops en wors, met groente en ‘n nederige broodjie daarby. Maar die anker op die spyskaart is vleis. Goeie, ordentlike, lekker vleis.

Enige reis wat begin met vleis, gaan gepaard met kalmte, rustigheid, gelatenheid. En vrede.

Eintlik is vleis ‘n soort kalmeermiddel vir Namibiërs. ‘n Tipe valium. Vleis bring vrede. Nie vrede soos ‘n witvlag na baklei nie, meer soos tevredenheid. Vrede soos saligheid. Vrede soos bedaar. Vrede soos ‘n bedaarde vrolikheid.

Vleis is ook versoenend. Brandoffers met vleis het ‘n deurslaggewende rol in die Bybel gespeel om skade te herstel, om teleurstelling te oorkom. Verskille word opgeklaar om ‘n braaivleisvuur. Gemoedere kalmeer oor ‘n stukkie biltong. Verdrae word gesmee oor resepte vir wors.

Waar daar nie vleis is nie, is daar ‘n gebrek aan vertroue. Eintlik verdagmakery. Selfs verraad.

Ons is vleisfiks. Ons weet nie of ons orals op ons reis vleis gaan kry nie, maar die reis het ten minste met vleis en vrede begin. Daarin berus ons.

Om te spring

Net oorkant 50 loop my korporatiewe loopbaan skielik uit op ‘n verbeeldinglose vlakte. Windstil, gemaklik en voorspelbaar. Kinders uit die huis, albei van ons met goedbetaalde werk, oorgenoeg om van te lewe. Vasgevang in ‘n dodelike daaglikse roetine.  Soggens net na ses gaan ek uit die huis, en saans net voor ses kom ek terug. Met die voorgeskrewe drie weke verlof per jaar, medies, pensioen, behuising, die hele lot. MAAR sonder tyd vir myself. Want naweke is doodeenvoudig te kort om sinvol weg te breek. Saterdagoggende word gebruik vir haresny, iets by die hardeware soek, ‘n vinnige koffietjie, of werk in die tuin. Ons kyk rugby en braai Saterdagaande, Sondae gaan ons erediens toe.

Toe die kinders nog in die huis was, was die geroetineerde lewe nog draaglik. Die weeklikse herhalings was aanvaarbaar. En naweke was vir ons blaaskanse om net by die huis te wees en bietjie langer as normaal in mekaar se geselskap deur te bring.

En toe gaan die kinders uit die huis uit. Skielik raak die weeklikse roetine vir ons waansinnig. Ons vra hoekom-vrae, ons kyk na aanpassings, probeer raad kry uit tydskrifte en die web, wend ons na kundiges. Albei kinders reis die wêreld vol, vertel ons van hul ervarings in ver plekke. Ons sit by die huis en luister. ‘n Buurman hang oor die muur en vertel van sy wedervaring in ‘n 4×4 op reis deur Afrika en ons luister. Ons gaste vertel van hul reise deur die wêreld en ons luister.

‘n Onversadigbare honger vir die groot reis bou op. Terselfdertyd raak my siel toenemend ontevrede met die doelloosheid van ‘n geroetineerde korporatiewe werk, die vals hoop van aardse sekuriteite en eindelose vergaderings oor vaal onderwerpe.

Toe spring ons.

Eintlik is ons nie springerige mense nie. Ek het hoogtevrees. En engtevrees. Dus het ek nog nooit ‘n begeerte gekry om oor ‘n afgrond te spring nie. Nie eers net twee meter nie. My Lief spring ook nie graag nie. En as sy spring is die gil groter as die sprong.

Maar ons het al bedank. Plotseling. Net so onverantwoordlik soos iemand wat met ‘n rek van ‘n brug af spring. Mense wat al gebungy het, sê dis angswekkend. Dat mens nie te lank daaroor moet nadink nie, maar dit net moet doen.

So, ons het gespring. Om te reis. En hierdie is ons storie.