Nou waa’s daai?

Dis die teenvraag wat jy gaan kry as jy vir ‘n Namakwalander vertel van ‘n plek waarvan hy of sy nog nooit gehoor het nie. China het sommer ‘n hele paar sulke plekke. En al was ons vir twee maande in China, is daar nog baie nou-waa’s-daai-plekke. 

Ons was meestal in die suidoostelike, digbevolkte deel van China. Bloot toevallig, omdat Shanghai ons basis was. Van Shanghai af was Nanjing, Suzhou, Wuxi, Hangzhou en Wenzhou gerieflik bereikbaar. Die verste punte uit Shanghai wat ons besoek het, was Xi’an (1,360 wes), Beijing (1,200km noord-noordwes), Qindao (700km noord), Zhangjiajie (1,300km wes-suidwes) en Guilin (1,500km suidwes).  


Afstande in China maak my nederig. Kashgar in die verre weste is 3,700km vanaf Xi’an en 5,100km uit Shanghai. Die afstand na Harbin uit Beijing is 1,200km noord en dan nog 1,200km verder noord tot by die Heihe Rivier, die grens met Rusland. Harbin en Kashgar is 5,500km van mekaar af. Ten spyte van die yslikheid van die land, is daar net een tydsone.

Die suidooste van China, dié deel waar ons was, is die digste bevolk. Die magtige Yangtze Rivier en sy kanaalsisteem is die slagaar van die deel. Al vir eeue. Die klimaat is gunstig en oppervlakwater is volop, twee belangrike bydraende faktore. Hoe nader aan die kus, hoe meer neig die klimaat na humied-subtropies. Binneland toe raak die klimaat kontinentaal – verskille tussen seisoene word toenemend groter. Dit raak ook toenemend droeër, wat beteken dat die bevolkingsdigtheid afneem binneland toe.


China het ‘n hele paar stede met meer as 10 miljoen inwoners, en ook ‘n paar met meer as 20 miljoen. Vir elke inwoner van Aranos is daar ‘n Chinese stad met meer as 1 miljoen inwoners (miskien nie rêrig nie maar vir elke Namibiër is daar 636 Chinese – dis wel ‘n feit). Windhoek, in Chinese terme, is dus ‘n kleinerige dorpie.

In vele opsigte is China indrukwekkend. Dis die tweede grootste staat in die wêreld, en daar is 22 provinsies. Landskappe wissel tussen woestyn en tropiese woude, hooglande en vloedvlaktes, grasvlaktes en sneeubedekte berge. Die gedokumenteerde geskiedenis van China gaan so 5,000 jaar terug en die Chinese ekonomie is al vir die laaste 2,000 jaar die grootste in die wêreld. China het byna nog altyd die grootste stad in die wêreld gehad – waaronder Xi’an, Hangzhou, Nanjing, Beijing en deesdae Shanghai.


Die Chinese geskiedenis, taal en kultuur is intens verweef. Ons het dit gesien in die vorm van ‘n innige respek vir erfenis, wet en orde, nasionale aspirasie en nasietrots. Goed ingesuur met ‘n waardering vir skoonheid – of dit blomme in potplanthouers langs die strate is, ‘n natuurtoneel, of ‘n standbeeld of ‘n prominente gebou – mens kry die indruk dat mooigoed kollektief waardeer word. Vandalisme en graffiti is ‘n absolute rariteit. Anti-establishment, perversiteit en eksplisitisme is ongekend.


Hoewel Chinese buitengewoon hard praat, luidrugtig nies en keelskoonmaak is Chinese eintlik nie-bakleierig en vreedsaam. Die land is al ‘n hele paar keer binnegeval deur moeilkheidsoekerige bure, en ten spyte van ‘n paar bloedige huismoleste onder mallerige emperors, het China nog nooit oorlog met ‘n ander land gaan maak nie. Is dit dalk die rede waarom die Chinese militêre spandering relatief min is in vergelying met Amerika en Rusland?


Ons is gereeld verras met die intense skoonheid van China. Of dit nou kuns, vakmanskap, vaardigheid of natuur was – ons is ‘n hele paar maal stilgemaak. Ons het gehou van die orde en die manier wat orde gehandhaaf word – geen wanorde en geen brutaliteit. Die polisie is altyd sigbaar aanwesig. En die Chinese is meesters op die gebied van skarebeheer. Daar is orals baie mense, die stasies is meestal oorvol, en die verkeer is deurgaans druk. Nogtans het ons nooit enige vorm van chaos ervaar nie. Trouens, in die twee maande het ons net een (baie) ligte motorongelukkie gesien. En, die dra van valhelms is bloot opsioneel, wat ‘n aanduiding is dat ongelukke hoogs uisonderlik is. 

Als werk, eintlik meestal vrek effektief. Waar ‘n probleem opduik, kom ‘n spoedige oplossing. Sommer oornag, in die meeste gevalle. Geen kragonderbreking, sonder-water, of nie-werkende verkeersligte. Openbare vervoer is goedkoop en stiptelik. Skoonmakers sien jy oral – in die strate, tuine en toilette. Van toilette gepraat, jy hoef nêrens lank te knyp nie, openbare toilette is volop. 

Ons het omtrent orals in hostels gebly. Hostels bied ‘n dubbelkameropsie, in die meeste gevalle met ‘n eie badkamer. Wit lakens, skoon badkamer, ventilasie en My Lief is tevrede. Nêrens het ons ‘n slegte ervaring gehad nie. Die prys het gewissel tussen R150 en R600 per nag. Ons het sover moontlik straatkos geëet, en die prys was selde meer as R120 per ete vir twee.


China is nie ‘n land vir beginner-toeriste nie. As jy nie Mandaryns onder die knie het nie, en ook min selfvertroue, moet jy anderpad kies. Inligting vir nie-Chinese besoekers is beperk. Min mense is andertalig. Besoeke aan natuurparke en nasionale gedenkwaardighede is relatief duur, maar foutloos versorg. Spyskaarte is ook meestal in Mandaryns. En nee, jy gaan nie vaalvleis of malvapoeding op die spyskaart hê nie. Taal gaan tussen jou en ‘n oplossing vir jou mediese kwaal, bankprobleme en ‘n lastigheid met jou selfoon staan. Bly by die huis en kyk TV as jy gemak verkies. En as jy vir China met Japan verwar.


Sal ons weer kom? Jaaaaa! Twee maande was te min om alles te sien en te ervaar. Daar is te veel nou-waa’s-daai plekke en die land is eenvoudig te groot en omvangryk om ten volle in twee maande te ervaar. Ons gaan die uitnodiging na Tibet sterk oorweeg …

Advertisements

Beijing

Katie Melua sing van die nege miljoen fietse in Beijing. Dis ‘n feit, sing sy; dalk is daar meer.

Die hoofstad van China was vir lank die grootste stad in die wêreld en is nog steeds die derde grootste megastad op ons planeet met 21,7 miljoen inwoners. 


Geleë op die noordelike uithoek van die Chinese vlakte en strategies begrens op drie kante deur bergreekse was die stad reeds sedert die 12e eeu ‘n logiese vesting vir die vroeë emperors. Dis waarskynlik in Beijing waar Marco Polo die resepteregte vir noedels verkry het en dit terug in Italië as spaghetti bekend gestel het. 


Die uiteindelike paleis van die emperors, die Forbidden City, is oor die eerste twee dekades van die 15e eeu voltooi. Van 1420 af tot in 1912 was die paleis die amptelike woning van die emperor. Die paleis is groot, nee baie groot. Daar is 980 geboue op ‘n area van 72ha. 


Sit ‘n dag opsy vir ‘n besoek aan die paleis en die aangrensende Tiananmen Square. Dis die grootste plein van sy soort in die wêreld en dis hier waar Mao die totstandkoming van die People’s Republic of China in 1949 aangekondig het. 


Byna 15 miljoen mense besoek die paleis per jaar, dis omtrent 41,000 per dag. Op ‘n sekere dag in Mei 2017 was ons twee deel van die 41,000.


Godsdienstige seremonies was vir baie eeue reeds deel van die emperors en die Chinese kultuur, maar met die keuse van Beijing as woonplek het die emperors besluit om die Temple of Heaven te bou, ‘n kompleks van geboue omring deur ‘n park van 267ha. Teen daardie tyd was die gebruik van offers en gebede ten hemele deel van Chinese kultuur en seremonie.


Die middelpunt van die kompleks is ‘n ronde struktuur, bo-op ‘n marmer fondament. Wat die drie-verdieping gebou merkwaardig maak is dat dit geheel en al van hout gemaak is, en dat geen spyker gebruik is nie. En versier is met kunswerk in pynlike detail. Uitstaande vakmanskap. 


Met ‘n gedokumenteerde geskiedenis van 3,000 jaar is Beijing ‘n interessant mengsel van oeroue en hipermoderne argitektuur en uitleg. Tradisionele hutongs, digbewoonde areas met ‘n doolhof van stegies, is die hart van die distrikte met straatkos en nagmarkte. Dis ook waar mens die lekkerste blyplekke kry. 


Oor millennia het die stad ‘n prominente rol in wêreldpolitiek en ekonomie gespeel en is vandag nog ‘n hutspot vir kultuur en kuns, sport en opvoeding. Meeste groot Chinese maatskappye en staatsinstellings se hoofkwartiere is in Beijing en dis ook hier waar 10% van die 500 topmaatskappye in die wêreld se hoofkantore is. Beijing lughawe is sedert 2010 die tweede besigste en sy metrosisteem die besigste in die wêreld. Altesaam 91 universiteite is in Beijing geleë waarvan twee op die wêreld se top 50-lys is. 


Nog nie beïndruk nie? Watter ander stad beskik oor sewe UNESCO wêrelderfenisgebiede? En watter ander stad het die vermoë om die Somer Olimpiese Spele (2008) sowel as die Winter Olimpiese Spele (2022) te kan aanbied? Trouens die Olimpiese fasiliteite is in ‘n spiekeries kondisie en word daagliks gebruik, meer as wat baie ander stede kan sê.


Hoewel bouery aan die eerste stukke van die Chinese muur reeds 700 jaar v.C. begin is, is dit oor tyd weer afgebreek en verwoes, herbou en aan mekaar gelas. 


Qin Shi Huang, die eerste emperor en baasbrein agter die kleisoldate in Xi’an, het glo 400,000 werkers – meeste van hulle was gevangenes – aangesit om die muur te bou. Die werkers wat in die tuig gesterf het, is sommer in die muur begrawe. Die grootste stuk bouwerk het egter tydens die Ming Dinastie van 1368 – 1644 plaasgevind. 


Die doel van die uiteindelike muur was om die plundery uit Mongolië te stuit, maar die muur is ook gebruik as ‘n beheerpunt toe handel langs die syroete geblom het. Die muur strek rofweg in ‘n oos-wes boog oor ‘n afstand van 6,259km. Voeg hierby 359km loopgrawe en slote en 2,232km van natuurlike hindernisse soos riviere, berge en heuwels en die totale lengte is 8,850km.


Die dele van die muur naby Beijing is die beroemdste en word ook die meeste besoek. Bedaling is ‘n gewilde besoekpunt, maar ons het Mutianyu verkies omdat dit effens stiller is. Ook omdat mens maklik die steiler deel van Jinshanling kan bereik. Hier is die muur tussen 5 en 8m hoog en tussen 6 en 5m wyd. 


Net soos die skaal van baie ander dinge in China, is die omvang van die muur verstommend. Die jongste dele van hierdie indrukwekkende struktuur staan reeds vir meer as 370 jaar. Nee wat, ons kan maar die kwaliteit van Chinese konstruksie vertrou. En mens wonder of Donald al ‘n paar somme oor sy beplande muur gemaak het. 

Terloops, die muur is nie sigbaar op satellietbeelde soos wat beweer word nie. Om die muur byvoorbeeld vanaf die maan te kan sien, sal beteken dat jy ook ‘n haar op 2km moet kan raaksien!

‘n Marathon vind jaarliks op die muur plaas. Hierdie epiese gebeurtenis is ‘n bietjie meer veeleisend as ‘n gewone marathon omdat dit meer as 5,000 trappies en verskeie steil op- en afdraendes insluit. Tydens ons besoek het ons twee Argentyne, ‘n ma-en-seun-kombinasie, raakgeloop wat aan die marathon deelgeneem het. Die ma was eerste in haar ouderdomsgroep. Ons kon ‘n bietjie gesels voordat ons uitgesak het en hulle maar laat gaan het om die muurbesoek af te draf.


Besoedeling oor Beijing is berug, danksy die BBC en kie. Ons besoek is begin met ‘n nag van reën en die volgende paar dae was die lug oor Beijing silwerskoon. Maar hieroor was daar nie ‘n berig nie. Ook het die BBC nie berig dat dronk en oorgewig mense ‘n seldsame verskynsel in Beijing is nie. Ook nie dat graffiti of enige iets eksplisiets nie voorkom nie. Of dat die metro stiptelik is nie. Of dat stedelike tereur ongekend is in China nie. Of dat WeChat absoluut wonderlik is nie.