Om saam te smelt

Nes Uis het Kuala Lumpur begin as ‘n dorpie rondom ‘n tinmyn. En toe word Kuala Lumpur ‘n hoofstad, ‘n wêreldstad. En Uis nie een van die twee nie. 

Kuala Lumpur lê op ‘n vloedvlakte waar die Klang en die Gombak Rivier bymekaarkom. En ek het nie die name van die riviere uitgedink nie. Losweg verwys die naam Kuala Lumpur na modderige samevloei. Die klimaat is ekwatoriaal en water is volop. In Junie is dit warm. Baie, baie warm. Smeltwarm.


Die ontstaan van die stad is nou verwant met kolonialisasie. Chinese was die eerste myners, maar in die vroeë jare van die mynbedrywighede het baie ander uitlanders bygekom. Die myners het in verskillende woonbuurte en verskillende kleims gehad. Noodwendig was daar konflik en onrus, selfs ‘n burgeroorlog. En uiteindelik kolonialiseer die Britte die gebied rondom en verskaf stabiliteit vir die bloeiende tin- en rubberbedryf. In sy geheel is Maleisië deur ‘n rits kolonialiste – daar was Portugese en Hollanders, Britte en tydens die Tweede Wêreldoorlog ook Japanese. Maleisië is vanjaar presies 60 jaar onafhanklik. 


Die nalatenskap van die kolonialiste is nog plek-plek te sien, hoewel die yslike wolkekrabbers en die Petronas-torings baie van die stad se voorkoms domineer. 


Styf teenaan die beton-oerwoud van die middestad lê ‘n tradisionele Maleisiese woonbuurt, Kampong Bharu, waar ontwikkeling nog uitgehou word en erfreg nog die toekoms bepaal. 


Ons het ‘n staptoer deur die buurt meegemaak. En ernstige Maleisiese cuizine getrotseer.


Kuala Lumpur is onstuitbaar op die ontwikkelingspad. As hoofstad en grootste stad in die land (digby 2 miljoen inwoners en 7,5 miljoen in die metropool) is Kuala Lumpur die vertoonvenster van Maleisië se blink ekonomiese groei en een van die vinnigste groeiende stede in suidoos-Asië. Maleisië het ‘n ambisieuse strewe om teen 2020 totaal ontwikkeld te wees, ‘n sogenaamde Eerstewêreldland.


Net ‘n voetnota oor die term Eerstewêreldland. Ek het nog nooit ‘n behoorlike definisie vir ‘n Tweedewêreldland teëgekom nie. Trouens, lande is of eerstewêrelds of derdewêrelds, en die onderskeid is deur die Eerste Wêreld uitgedink. Ontwikkelde teenoor ontwikkelende lande word soms verkies, maar dié definisie is op sy beurt ongemaklike sambreelterms vir Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika (die sogenaamde BRICS-lande). Soos met baie ander dinge in die lewe, bly dit maar moeilik om te veralgemeen – enige reël word mos getoets deur sy uitsonderings, of hoe?


In vele opsigte is Kuala Lumper ‘n baie interessante eksperiment, ‘n samesmelting – wat werk. Hier woon Indiërs, Chinese, Maleiers, Filipyne, Indonesiërs, Europeërs en Arabiere langs mekaar, en dis nie snaaks om in dieselfde straat ‘n Hindu- en ‘n Budda-tempel, ‘n moskee en ‘n Protestantse kerk te sien nie. Die plekke van aanbidding het ook elkeen hul eie klanke, wat saamsmelt as ‘n kakofonie van stemme wat nie nootvas is nie, treurige snaarmusiek, blikskud, klokke en vals fluite. Al is die aanbiddingsklanke nie altyd mooi nie, heers daar vrede. En dis wat tel. Eenheid in verskeidenheid kry inderdaad nuwe betekenis hier. 


Die roesmoes het natuurlik klomp interessante gevolge. Maleisiese kultuur is nie juis ‘n presiese term nie. Die samesmelting van die kulture is veral sigbaar in kos. Interessante kinkels kom by, speserye word in oorvloed gebruik, kleur en geur is belangrik. Iewers tussenin is daar nog ‘n mengsel van bestanddele, metodes en veroudering ook. Nietemin, die kos is goedkoop en my grootste uitdaging is eintlik om ‘n keuse te maak. En as ek na die tyd so oor my vol magie vryf, wil ek ook sê: “Ek wens, ek wens my hele lyf was ‘n pens!”

Het ek al gesê dat dit warm is in Juniemaand? Bloedig, onhebbelik en versengend is liggewig woordjies om Kuala Lumpur hitte te probeer beskryf. 

Terwyl Maleisië op pad is na ‘n Eerstewêreldland en die land se kultuur besig is om saam te smelt het ek en My Lief ook byna gesmelt. Van hitte.