Belewenisse in Bohol

Normaalweg is ek redelik betroubaar met name onthou, maar ek moet bieg dat die Filipynse padkaart en bybelse geslagsregisters vir my ‘n groot uitdaging is. Ons roete uit Moalboal loop oor Alcantra, Ronda, Damanjug tot waar ons met ‘n veerboot ry na Tangil. Ons klim oor op ‘n bus, wat saam met ons op die boot was, en ry op land oor Guihulngan, La Libertad, Jimalud, Tayasan, Ayungon, Bindoy, Manjuyod, Bais, Tanjay, Amlan, San Jose tot in Dumaguete waar ons ‘n tweede veerboot neem tot in Tagbilaran. 

Filipynse dorpies lyk omtrent almal dieselfde. Min hoë geboue, besige strate met motorfietse, karre, jeepneys, driewiele, ‘n ooraanbod van smouse en stalletjies, en klein winkeltjies met groot advertensies. Daar is kerke en skole, en hope kinders in skooldrag. Netheid en ordelikheid is nie juis opvallend nie, daar is gewoonlik iewers vloeiende water met ‘n verdagte kleur en reuk, en iewers is daar konstruksie aan die gang. Min onderskeid in inkomste is sigbaar, die huise is basies, weelderigheid is skaars en woonbuurte verskil baie min van mekaar. Geen grense en heinings is sigbaar nie, tensy daar ‘n paar diere aangehou word. Dit lyk of eenvoud die groot gelykmaker is en alle Filipyne ‘n gelukkige, ongekompliseerde lewe lei. 


Totdat jy in ‘n toeristeplek beland. Dan is daar ingange na weelderige oorde bewapen met wagte, vlae en valhekke, besighede wat luid hul buitelandse bestuurstyl en eienaarskap aankondig en restourante wat europese, chinese en koreaanse spyskaarte aanbied. En die Filipyne bedien, net soos op die luukse passasiersbote. Flink, vriendelik en verdraagsaam. Eg Filipynse besighede is beperk tot nederige eetplekke met onopgesmukte dekor en basiese meubels, die verhuring van motorfietse, bootritte en driewiele. Orals is daar eienaarlose honde, sommige hongerder en minder versorgd as ander, en opvallend baie dragtige katte. Alona op Panglao Eiland is so ‘n toeristeplek. 

Bohol bestaan uit 75 eilande, waaronder Panglao en Bohol Eiland. Die twee lê styf teenaan mekaar met die stad Tagbilaran tussenin. Terwyl Panglao bekend is vir sy wit strande en gewilde duik- en snorkelplekke, is Bohol Eiland bekend vir besienswaardighede soos die Chocolate Hills, endemiese tarsiers (‘n tipe nagapie), die Loboc Rivier, inheemse mahoniewoude, rysterrasse en die stokou Katolieke Baclayon kerk. 


Die Chocolate Hills het niks met sjokolade te doen nie, maar is kalksteen-oorblyfsels van ‘n voormalige oseaanvloer. Soos die land gehef is en die eiland ontstaan het, is die kalksteenvloer netjies deur erosie opgesny en het daar honderde van die ewehoë, ronde koepels oorgebly. Die bruin kleur van die grond herinner aan sjokolade, vandaar die naam. 




Op pad na Carmen, die dorpie naby Chocolate Hills, ry ons deur rysvelde, mahoniewoude, digte stande van kokosneutpalms, oor die Loboc Rivier en verby die bewaringsgebied van die tarsiers. 
Met die ontstaan van die eiland het die tarsiers ook deur ‘n hele paar unieke evolusiesiklusse gegaan om aan te pas by die veranderende omstandighede op die eiland. Dié komiese diertjies slaap in die dag en maak hul groot oë net nou en dan oop, kyk mens vaak aan en klem die takkies dan stewiger vas om verder te slaap. Tarsiers was vir Steven Spielberg so oulik dat hy sy ET-karaktertjie daarop gebaseer het.

Ons besluit om die Panglao Eiland per motorfiets te verken. Geen vrae oor wettige rybewyse en valhems nie en daar gaat ons. Panglao is nie groot nie, omtrent 10km in sy lengte en omtrent 5km in sy breedte. Ons ry heeldag rond en besoek die talle afgeleë strande en ‘n grot waarin mense swem, bly weg van die privaatoorde en privaatwonings met duidelike Geen Toegang bordjies, ry deur kokosneutplantasies en klein gehuggies en swem met skemer by ‘n strand onder kranse waar ons die enigste mense is. 




Die aand eet ons by Trudy’s op Alona strand. Dis ‘n egte Filipynse spyskaart, die bier is koud, die pryse laag en ons voete is in die sand. Ons filosofeer oor die aakligheid van materialisme, die soeke na ‘n saliger lewe, die alewige gehunker na verandering, die bevredigende inspirasie van reis en avontuur, meedoënlose roetines en die gejaag na wind. 


Waar ons sit, loop baie voetgangers verby. Onder hulle is daar opvallend baie paartjies wat bestaan uit grys Europese mans met jong Filipynse meisies. Daar is ook baie verhongerde honde en katte om ons. Ons wonder oor respek, omgee, norme en verantwoordelikhede.

Een van die oumanne probeer sy Filipynse vangs beïndruk met “Stand by Me” oor ‘n mikrofoon. Die begeleiding probeer byhou, maar sy stem dwaal onbeheersd en roekeloos oor die note. Saam met baie ander gaste kyk ons liewer weg.
Ons wonder oor die grys manne met hul Filipynse meisies. Ons wonder oor die privaatoorde langs die beeldskone Filipynse kus. En ons wonder of die Filipyne vir altyd gaan vriendelik en verdraagsaam bly. 

Advertisements