Nou waa’s daai?

Dis die teenvraag wat jy gaan kry as jy vir ‘n Namakwalander vertel van ‘n plek waarvan hy of sy nog nooit gehoor het nie. China het sommer ‘n hele paar sulke plekke. En al was ons vir twee maande in China, is daar nog baie nou-waa’s-daai-plekke. 

Ons was meestal in die suidoostelike, digbevolkte deel van China. Bloot toevallig, omdat Shanghai ons basis was. Van Shanghai af was Nanjing, Suzhou, Wuxi, Hangzhou en Wenzhou gerieflik bereikbaar. Die verste punte uit Shanghai wat ons besoek het, was Xi’an (1,360 wes), Beijing (1,200km noord-noordwes), Qindao (700km noord), Zhangjiajie (1,300km wes-suidwes) en Guilin (1,500km suidwes).  


Afstande in China maak my nederig. Kashgar in die verre weste is 3,700km vanaf Xi’an en 5,100km uit Shanghai. Die afstand na Harbin uit Beijing is 1,200km noord en dan nog 1,200km verder noord tot by die Heihe Rivier, die grens met Rusland. Harbin en Kashgar is 5,500km van mekaar af. Ten spyte van die yslikheid van die land, is daar net een tydsone.

Die suidooste van China, dié deel waar ons was, is die digste bevolk. Die magtige Yangtze Rivier en sy kanaalsisteem is die slagaar van die deel. Al vir eeue. Die klimaat is gunstig en oppervlakwater is volop, twee belangrike bydraende faktore. Hoe nader aan die kus, hoe meer neig die klimaat na humied-subtropies. Binneland toe raak die klimaat kontinentaal – verskille tussen seisoene word toenemend groter. Dit raak ook toenemend droeër, wat beteken dat die bevolkingsdigtheid afneem binneland toe.


China het ‘n hele paar stede met meer as 10 miljoen inwoners, en ook ‘n paar met meer as 20 miljoen. Vir elke inwoner van Aranos is daar ‘n Chinese stad met meer as 1 miljoen inwoners (miskien nie rêrig nie maar vir elke Namibiër is daar 636 Chinese – dis wel ‘n feit). Windhoek, in Chinese terme, is dus ‘n kleinerige dorpie.

In vele opsigte is China indrukwekkend. Dis die tweede grootste staat in die wêreld, en daar is 22 provinsies. Landskappe wissel tussen woestyn en tropiese woude, hooglande en vloedvlaktes, grasvlaktes en sneeubedekte berge. Die gedokumenteerde geskiedenis van China gaan so 5,000 jaar terug en die Chinese ekonomie is al vir die laaste 2,000 jaar die grootste in die wêreld. China het byna nog altyd die grootste stad in die wêreld gehad – waaronder Xi’an, Hangzhou, Nanjing, Beijing en deesdae Shanghai.


Die Chinese geskiedenis, taal en kultuur is intens verweef. Ons het dit gesien in die vorm van ‘n innige respek vir erfenis, wet en orde, nasionale aspirasie en nasietrots. Goed ingesuur met ‘n waardering vir skoonheid – of dit blomme in potplanthouers langs die strate is, ‘n natuurtoneel, of ‘n standbeeld of ‘n prominente gebou – mens kry die indruk dat mooigoed kollektief waardeer word. Vandalisme en graffiti is ‘n absolute rariteit. Anti-establishment, perversiteit en eksplisitisme is ongekend.


Hoewel Chinese buitengewoon hard praat, luidrugtig nies en keelskoonmaak is Chinese eintlik nie-bakleierig en vreedsaam. Die land is al ‘n hele paar keer binnegeval deur moeilkheidsoekerige bure, en ten spyte van ‘n paar bloedige huismoleste onder mallerige emperors, het China nog nooit oorlog met ‘n ander land gaan maak nie. Is dit dalk die rede waarom die Chinese militêre spandering relatief min is in vergelying met Amerika en Rusland?


Ons is gereeld verras met die intense skoonheid van China. Of dit nou kuns, vakmanskap, vaardigheid of natuur was – ons is ‘n hele paar maal stilgemaak. Ons het gehou van die orde en die manier wat orde gehandhaaf word – geen wanorde en geen brutaliteit. Die polisie is altyd sigbaar aanwesig. En die Chinese is meesters op die gebied van skarebeheer. Daar is orals baie mense, die stasies is meestal oorvol, en die verkeer is deurgaans druk. Nogtans het ons nooit enige vorm van chaos ervaar nie. Trouens, in die twee maande het ons net een (baie) ligte motorongelukkie gesien. En, die dra van valhelms is bloot opsioneel, wat ‘n aanduiding is dat ongelukke hoogs uisonderlik is. 

Als werk, eintlik meestal vrek effektief. Waar ‘n probleem opduik, kom ‘n spoedige oplossing. Sommer oornag, in die meeste gevalle. Geen kragonderbreking, sonder-water, of nie-werkende verkeersligte. Openbare vervoer is goedkoop en stiptelik. Skoonmakers sien jy oral – in die strate, tuine en toilette. Van toilette gepraat, jy hoef nêrens lank te knyp nie, openbare toilette is volop. 

Ons het omtrent orals in hostels gebly. Hostels bied ‘n dubbelkameropsie, in die meeste gevalle met ‘n eie badkamer. Wit lakens, skoon badkamer, ventilasie en My Lief is tevrede. Nêrens het ons ‘n slegte ervaring gehad nie. Die prys het gewissel tussen R150 en R600 per nag. Ons het sover moontlik straatkos geëet, en die prys was selde meer as R120 per ete vir twee.


China is nie ‘n land vir beginner-toeriste nie. As jy nie Mandaryns onder die knie het nie, en ook min selfvertroue, moet jy anderpad kies. Inligting vir nie-Chinese besoekers is beperk. Min mense is andertalig. Besoeke aan natuurparke en nasionale gedenkwaardighede is relatief duur, maar foutloos versorg. Spyskaarte is ook meestal in Mandaryns. En nee, jy gaan nie vaalvleis of malvapoeding op die spyskaart hê nie. Taal gaan tussen jou en ‘n oplossing vir jou mediese kwaal, bankprobleme en ‘n lastigheid met jou selfoon staan. Bly by die huis en kyk TV as jy gemak verkies. En as jy vir China met Japan verwar.


Sal ons weer kom? Jaaaaa! Twee maande was te min om alles te sien en te ervaar. Daar is te veel nou-waa’s-daai plekke en die land is eenvoudig te groot en omvangryk om ten volle in twee maande te ervaar. Ons gaan die uitnodiging na Tibet sterk oorweeg …

Op berge en dale 

In Chinese terme is Guilin piepklein. Minder as een miljoen mense in die stad en minder as 5 miljoen in die metropool. Daar is nie eers ‘n metrosisteem nie, net ‘n dodelik effektiewe bussisteem. En derduisende poegies en allerhande mutasies daarvan. 


Die binnekant van die stad is sonder voertuie, gevolglik draai bedrywighede rondom voetgangers – instapwinkels, straatkos, smouse en stalletjies, musiek en vertonings, parke en tuine, mense wat kaartspeel, dans of oefen. Die klimaat is humied-subtropies en die plantegroei is geil. Osmantus-bome, wat in Oktober blom, het die stad sy naam gegee. Di tuine is oordadig. Nog vere in die hoed van die aantreklike, goedbeplande stad is die uitleg rondom die Li Rivier en sy vier mere, die pagodas en die Ming Paleis. 

Maar die eintlike faam van die stad lê in sy omringende omgewing.

Oor die 23 eeue tussen sy gedokumenteerde ontstaan en die hede het vele besoekers aan Guilin die omringende karstlandskap as die mees skouspelagtige in China bestempel. Skouspelagtig, lieflik, verbluffend, pragtig, asemrowend – kies maar die beskrywende woord. Ons het nie die regte woord gekry om die buitengewone mooi berge en dale van die streek te kan beskryf nie

Trouens, in Guilin het ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is – iemand wat fanaties kiekies neem en dan ure lank hulpeloos sukkel om die bestes uit te kies.

Kort na ons aankoms begin ons die stad verken. Dis bedompig en ons stap in ons sweet. Die skadus van die parke is ‘n logiese uitweg. So dwaal ons tot by ‘n baken met die naam Old Man Hill. Trappies wat oorgaan in gepakte klippe op ‘n stygende voetpaadjie. Steiler en steiler. Hoogtevrees of te not, vandag gaan ons boontoe. Verkeerde klere. Maar ons kom heelwat ander stappers teë met verkeerder klere. En een met ‘n kat. Totdat ons bo staan en die uitsig aangaap, verwonderd oor die berge en dale van die karstlandskap rondom ons. En ek begin vermoed dat ek ‘n kiekomaan is.

Water formeer die oppervlak en samestelling van kalksteen en oor die jare kan hierdie wisselwerking lei tot ‘n landskap van grotte, sinkgate, ondergrondse mere en riviere. En vorm ‘n karstlandskap. Dink Otavi Berge of Kango-grotte. Soms is daar oppervlakwater, soms heeltemal afwesig. Krap jy rond op die internet, is daar opvallend min inligting oor karstlandskappe van China.

Die karstlandskap by Guilin is uitgebreid. Ons het tot by Yangshuo, omtrent 60km verder gereis. Die landskap is op die mooiste direk langs die Li en sy sytak, die Yulong Rivier. 


In Yangshuo, en eintlik orals oppad, is daar fietse te huur teen 20 – 60 yuan per dag. 


Die fietspaaie is foutloos met min opdraendes, belyn met aftrekplekkies en stalletjies van plaaslike produkte, kos en water, en baie ander Chinese aanbiedings waarvan ons niks verstaan nie. 





Nie-chinese besoekers maak waarskynlik minder as 1% uit. Ons het ‘n volle dag opsy gesit vir Yangshuo en die fietsry. Een oorslaap in Yangshuo sou eintlik nog beter wees.

Ons blyplek in Guilin was reg langsaan die Ming Paleis. Die nag na Yangshuo reën dit swaar, dit donder en weerlig. Narkose. Al is my vermoedens oor kiekomania sterker, slaap ons rustig.
Terug in die tuine van Guilin ontmoet ons vir Sundy Wen, ‘n Chinese toergids wat vlot Engels praat. Hy het die dag vry, en bied aan om ons gasheer te wees. So neem hy ons na Xingping, ‘n antieke boeredorpie langs die Li Rivier. In ‘n bussie wat plaaslike mense heen-en-weer ry. 


Daar is hoenders en eende op straat, honde wat lui rondlê, en boervrouens wat lukwarte, mangos, waatlemoen en grondboontjies te koop aanbied.


Ons klim op ‘n bamboesvlot aangedryf met ‘n Yanmar enjintjie. En ek besef dat ek ‘n volslae kiekomaan is. En dat Sundy Wen ‘n nuwe vriend is. 



Vanaf Guilin vertrek ons na Xi’an per vliegtuig. Voor ons vlug stap ons bietjie rond en ontmoet Barry (sy Engelse naam), wat ons nooi na ‘n teewinkel. Barry is ‘n onderwyser en gee Engels en Kaligrafie. Sy familie boer naby Guilin en die tee in die winkel kom van hul plaas. Hy verduidelik dat die boere ook rys, rissies, mangos en allerhande soorte groente en kruie verbou. Teedrink op die Chinese manier is ‘n seremonie en selfs ‘n geharde koffiedrinker soos ek kan nie help om dit te geniet nie. So leer ons bamboes- en lietjietee drink.

Ons vertrek uit Guilin en in my verbeelding hoor ek my onwillige belydenis: “Hallo, ek is Pierré en ek is ‘n kiekomaan. Ek het hulp nodig.”

Maar ek kalmeer toe ons oor die berge en dale van Guilin opstyg en ek luister na Katherine Jenkins se (Quello Che Faró) Sara Per Te. Mooi. 

Ek dink alle ander kiekomane verstaan.