Samesmelting

Nes Uis het Kuala Lumpur begin as ‘n dorpie rondom ‘n tinmyn. Altwee het hul kwota legendes opgelewer. Temmers van ‘n wildewêreld. En altwee se geskiedenis is verweef met hul lande se geskiedenis. Kuala Lumpur, oftewel KL, het ‘n hoofstad, nee ‘n wêreldstad, geword. Maar Uis nie een van die twee nie.

Vandag is die tweeling Petronas-torings van Kuala Lumpur ‘n baken van dié bloeiende stad.

IMG_0910

Kuala Lumpur is geleë waar die Klang en die Gombak Rivier bymekaarkom. Nee, ek het nie die name van die twee riviere uitgedink nie, al klink dit so. Losweg verwys die naam Kuala Lumpur na modderige vlakte, of samevloei. As gevolg van die Klang en Gombak Rivier wat saamsmelt op ‘n vloedvlakte.

Die klimaat is ekwatoriaal en water is volop. En in Junie is dit warm. Verskriklik warm. Versengend. So warm dat dit voel of jy sal smelt. Die plantegroei is ruig en welig en die tuine is geil en oordadig.

IMG_0890

Die ontstaan van Kuala Lumpur is nou verwant met kolonialisasie. Chinese was die eerste besetters, as myners, maar in die vroeë jare van die mynbedrywighede het baie ander uitlanders bygekom. Die myners het in verskillende woonbuurte gewoon en het verskillende kleims gehad. Noodwendig het bakleiery en onrus, selfs ‘n burgeroorlog gevolg. Uiteindelik het die Britte die gebied rondom die stad oorgeneem en die Union Jack gehys ter wille van stabiliteit vir die bloeiende tin- en rubberbedryf van die streek. Maar daar was ook Portugese en Hollanders, weer Britte en tydens die Tweede Wêreldoorlog ook Japanese. Toe wéér die Britte, totdat Maleisië 60 jaar gelede uiteindelik onafhanklik van koloniale inmenging geraak het.

IMG_0885

Die nalatenskap van die koloniale periodes is nog plek-plek te sien, hoewel die yslike wolkekrabbers en die tweeling Petronas-torings baie van die stad se voorkoms domineer.

IMG_0947

Styf teenaan die beton-oerwoud van die middestad het ‘n stokou woonbuurt, Kampong Bharu, oorgebly. Hier staan huise uit die myn-era, en woon families vir geslagte lank in dieselfde huise. Hoewel die beton-oerwoud meedoënloos nader kruip, word ontwikkeling uitgehou en erfreg bepaal nog die woonbuurt se toekoms.

IMG_0957

Ons het Kampong Bharu plat gestap. Die inwoners van die buurt is nie meer myners nie, maar deesdae gewone stedelinge. Daar is geen heinings nie, en die inwoners laat geduldig toe dat besoekers tussen die huise, oor hul erwe heen-en-weer, kan stap.

Namiddae, ná uitvaltyd word die strate van Kampong Bharu ‘n netwerk van straatmarkte, eintlik kosmarkte. Die inwoners hang uit met hul beste cuisine. Teen ‘n appel en ‘n ei. Hier in Kampong Bharu is ons met ernstige Maleisiese cuisine gekonfronteer, en ons het met vol mae uit die stryd getree.

IMG_0955

Maleisië, en KL, is onstuitbaar op die pad van ontwikkeling. As hoofstad en grootste stad in die land (digby 2 miljoen mense en 7,5 miljoen in die metropool) is KL die vertoonvenster van Maleisië se blink ekonomiese groei en een van die vinnigste groeiende stede in suidoos-Asië.

IMG_0914

Maleisië het ‘n ambisieuse strewe om teen 2020 totaal ontwikkeld te wees, ‘n sogenaamde Eerstewêreldland.

Net ‘n voetnota oor die term Eerstewêreldland. Ek het nog nooit ‘n behoorlike definisie vir ‘n tweedewêreldland teëgekom nie. Trouens, lande is òf eerstewêrelds of derdewêrelds, en die onderskeid is deur die Eerste Wêreld uitgedink. Soms word ontwikkelde teenoor ontwikkelende lande verkies, maar dié definisie is op sy beurt ongemaklike sambreelterms vir die BRICS-lande.

IMG_0943

Soos met baie ander dinge in die lewe, bly dit maar moeilik om te veralgemeen – enige reël word mos getoets deur sy uitsonderings, of hoe?

In vele opsigte is Kuala Lumper ‘n baie interessante sosiale eksperiment, ‘n samesmelting – wat werk. Hier woon Indiërs, Chinese, Maleiers, Filipyne, Indonesiërs, Europeërs en Arabiere langs mekaar, en dis nie snaaks om in dieselfde straat ‘n Hindu- en ‘n Budda-tempel, ‘n moskee en ‘n Protestantse kerk te sien nie.

IMG_0938

Die plekke van aanbidding het elkeen hul eie klanke, wat saamsmelt as ‘n kakofonie van stemme wat nie nootvas is nie, treurige snaarmusiek, blikskud, klokke en vals fluite. Al is die aanbiddingsklanke nie altyd mooi nie, heers daar vrede. En dis wat tel. Eenheid in verskeidenheid kry inderdaad nuwe betekenis hier.

IMG_0945

Die roesmoes het natuurlik klomp interessante gevolge. Maleisiese kultuur is nie juis ‘n akkurate term nie. Die samesmelting van die kulture is veral sigbaar in kos. Interessante kinkels kom by, speserye word in oorvloed gebruik, kleur en geur is belangrik. Iewers tussenin is daar nog ‘n mengsel van bestanddele, metodes en veroudering ook.

Nietemin, die kos is goedkoop en my grootste uitdaging is eintlik om ‘n keuse te maak. En as ek na ‘n maaltyd so oor my vol magie vryf, wil ek ook sê: “Ek wens, ek wens my hele lyf was ‘n pens!”

Het ek al gesê dat dit warm is in Juniemaand? Bloedig, onhebbelik en versengend is liggewig woordjies om Kuala Lumpur se Junie-hitte te probeer beskryf.

Terwyl Maleisië op pad is na ‘n Eerstewêreldland en die land se kultuur besig is om saam te smelt het ek en My Lief ook byna gesmelt. Van hitte.

Advertisements