Om ‘n muur af te breek

My wakkerword is eers nadat ek geland het. Ek en die muur lê saam in die gang. Ons private kajuit is nie meer so privaat nie. Ligte gaan aan en die skipper vra gesteurd wat aangaan. Immers is dit twee-uur in die nag. Het ek seergekry? Nee, maar dis nogal ‘n hardhandige manier om wakker te word. Die see is rof, en ons boot beur onverpoosd voort, op en af oor die wilde deinings. Oor een só ‘n deining is ons matras van die bed geswiep, en ek is deur die lug, reguit dwarsdeur die laaghout wat ons muur met die gang vorm. Chuck Norris styl. Wou so iets nog altyd doen, maar hierdie slag was dit onwillekeurig.

Kom ek begin by die begin. Ons is per boot op pad vanaf Bangsal op Lombok eiland na die Komodo en Flores eilande. Die boot is redelik basies, soos meeste dinge in Indonesië. Twee kajuite en twee dekke met slaapplek vir ongeveer 30 passasiers. Drie etes per dag, stoppe vir snorkel en swem, drie nagte en vier dae reis vanaf Lombok na Flores, en stoppe in die Komodo Park waarna ons die meeste uitsien. Finale stop in Labuan Bajo.

Na Rinjani was ons behoefte net om tot verhaal te kom. Twee dae na die stap het ons nog geskrop om Rinjani se stof van ons lywe te kry. Asook Rinjani se stof uit ons klere, skoene en rugsakke te kry. Kuta was ons halte vir herstel. 

Kuta is nie ‘n plek van besondere skoonheid nie. Dus was ons verras met Kuta se gewildheid onder toeriste. Vermoedelik is die rede die volop mooi strande rondom Kuta, en veral strande wat bekend geraak het onder branderplankryers. Ons het genoeg tyd gekry om dié strande te gaan deurkyk, per poegie. Motorfietse is die algemene manier van vervoer hier, só algemeen soos two-tone hemde by ‘n vetveeveiling. Jy sien kinders ry, gesinne ry, aflewerings wat gedoen word, vrag wat vervoer word, en natuurlik toeriste. Almal op motorfietse. Honderde van hulle. En op een van hulle het ons twee gery, sonder rybewys en sonder ‘n helm. 


Op Kuta se strande kan jy rondhang, swem, stap en kyk na ander ouens wat dieselfde doen of miskien branderplankry. Jy kan ‘n plaaslike eetwinkelkie, bekend as ‘n Warung, ondersteun vir ‘n Nasi Goreng. Nasi is rys. Of ‘n Mie Goreng. Noedels. Voeg daarby ‘n koue Bintang en jy ken van die belangrikste woorde in Indonesië. 

Vanaf Kuta moet ons eers na Bangsal, die bedrywige passasiershawe van Lombok. ‘n Afstand van omtrent 80km in swaar verkeer en bo-oor ‘n berg of twee. In Bangsal wag ons in die Lombok Café, saam met honderde ander toeriste, vir ons onderskeie bote. Kommunikasie en die deel van inligting is nie juis waarom Indonesië bekend is nie, en dit vereis dat ek minstens drie kere moet vra oor ons vertrektyd. Uiteindelik word ons geroep, en ek moet bieg dat ons soos uitverkorenes voel. 

Ons kajuit is bo. Bo beteken direk bo-op die enjinkamer. Direk agter die skipper se sitplek. Ons het ‘n venster en ‘n halsstarrige deur. En dan die laaghoutmuur wat skeiding tussen ons en die gang bring. Privaat dus. Wel, in Indonesiese terme. Die bed bestaan uit ‘n platform waarop ‘n dubbelbedmatras met bont beddegoed lê. Hier begin ons uitdaging – snags skaats die matras, met ons twee daarop, onbeheersd rond op die platform. My poging om die matras te stabiliseer met ons rugsakke, is duidelik onsuksesvol want ons gly met elke deining heen-en-weer. En dis hoe ek toe dwarsdeur die muur geval het. 


Die mede-passasiers is almal jonger as ons. Soos die reis vorder kom die geselsies makliker en meer gereeld. Die gom van wanderlust laat ons van mekaar hou. Hier en daar word kontakbesonderhede uitgeruil. En na my val deur die muur, het almal hernieude belangstelling in die twee middeljariges uit Namibië.


Dis ‘n mooi roete. Ons gly langs palmgesoomde strande verby, verby berge met hul spitse bokant wolke en klein eilanddorpies. Op blousel water. Ons stop by plekke waar ons kan swem en snorkel, ons sien seeskilpaaie en seevlermuise, en ‘n strand wat rooi vertoon van verweerde korale. By meer as een stop klim ons die koppe daar naby uit om ‘n uitsig te kry oor hierdie mooi deel van die skepping. 


Hoe meer oos, hoe droeër word die klimaat. Die eilande is ook kleiner en laer. Rondom die kleiner eilande is daar meer seestrome omdat die temperature van die see oor kort afstande wissel. Op sy beurt veroorsaak die baie seestrome dat dieper water boontoe gedwing word, en saam met dit kom plankton wat die ryk mariene lewe voed. Die laer topografie van die eilande weer, veroorsak dat dit minder reën ten spyte van ligging in die ekwatoriale sone. 


Hierdie sameloop van omstandighede veroorsaak ‘n semi-ariede streek omring met ‘n baie ryk seelewe. Die Komodo Park sluit ‘n mariene bewaringsgebied sowel as die blyplek van die Komodo drake in, en is ‘n Wêrelderfenisgebied. 


Ons boot stop op twee verskillende plekke in die park om die komodo drake te sien. Dié drake is eintlik yslike likkewane, maar herinner nogal baie aan dinosourus-speelgoed. Hulle is karnivore, maar ook kanibale. En dodelik. Twee maande gelede is ‘n toeris uit Singapoer gebyt deur een. Eers het hy sy been verloor en daarna is hy oorlede. Ons sien heelwat van die drake, in hul natuurlike habitat. 


Na die drake beweeg ons aan, na Labuan Bajo ons eindbestemming. Ons kies koers na die blyplekke toe. ‘n Skoon badkamer, ‘n behoorlike bed en regte mure is wat ons nou nodig het. 

Advertisements

Belydenisse in Bali

In Bali het ek weer bely dat ek die onderwysers uit my verlede nie genoeg waardeer het nie. Hulle is die mense wat my breuke, die desimaal en die metrieke sisteem verduidelik het en my gedwing het om tafels te leer. Hulle is ook die mense wat my geleer het om te spel, te skryf en te redeneer. Dan was daar dié wat my probeer Engels leer het en dié wat my geleer het om my van ander lande en kulture te leer en kaarte te lees en diegene wat probeer het om met Gesondheidsleer, Godsdiensonderrig en Jeugweerbaarheid my op die regte pad te kry. Nie almal het ‘n ewe goeie joppie gedoen nie, maar met genade het ek darem nie te vrot uitgedraai nie. En ek is jammer dat ek nie altyd dankbaar was nie.

Die geldstelsel van Indonesië werk met baie nulle. Geen honderde nie, net duisende, miljoene en biljoene. Skielik moes ek diep delf om die metrieke sisteem toe te pas en uit my kop te kan deel en vermenigvuldig. Onwillekeurig het ek teruggedink aan die Wiskundemenere uit my verlede vir wie ek dankbaarheid skuld. Die een uit my laerskooldae het ‘n weglêsnor gehad, die een in Standerd ses en sewe wou eintlik eerder rugbyspeel as skoolhou en die een van die senior standerds kon sonder moeite in vryhand ‘n waterpas streep en ‘n volmaakte sirkel met bordkryt trek. 

Terug na Indonesië. Een Rand is gelyk aan 994.04 Rupiah. Vir my doeleindes is dit rofweg 1 = 1000. Na my eerste besoekie aan die kitsbank het ek nogal wintie gevoel want ek het skielik twee miljoen Rupiah in my beursie gehad. Die goeie nuus is verder dat Indonesië redelik goedkoop is en dat een miljoen Rupiah jou verder bring as ‘n beskeie R1000. 

Ons het nie eintlik beplan om Bali te besoek nie. By ander reisgers gehoor van die baie toeriste, eintlik Australiërs, en dat pryse effens duurder is as in die res van Indonesië. Die plan was dat ons net ‘n nag of twee oorbly en onmiddellik verder beweeg. Op die laaste oomblik bespreek ons blyplek omdat ons in die middel van die nag arriveer. 

Die blyplek se naam is Bread and Jam. Ten spyte van die misleidende naam is dit ‘n lieflike plekkie – skoon, goedkoop en supersmaakvol. En ons word halfdrie in die nag met ‘n breë glimlag ontvang! Onwillekeurig dink ek aan Lukas 11 en al die ander lesse oor gasvryheid uit Die Bybel. En ek bely dat ek bevooroordeeld was oor ‘n naam.


Kuta, dié gedeelte van Bali waar ons bly, is besig. Baie besig. Alhoewel die strate oorvol is, geval die plek ons meer as wat dit ons teleurstel. Dis skoon, netjies en die Indonesiërs is gaaf. Ons ry bietjie rond, en ons begin bou aan mooi herinneringe. Dis mooi hier. En die pryse maak dit al hoe mooier.  


Bali-eiland is Hindoe, in teenstelling met die res van Indonesië wat oorwegend Moslem is. Die Hindoe-invloed is moeilik om mis te lyk; orals is tempels, brand wierook, en word blomme neergesit. Ten spyte van die voorvol strate is die verkeer verdraagsaam en respekterend. Ons word voorgekeer en welkom geheet. Vrae word gevra hoekom ons op Bali besluit het, hoe lank ons wil bly en hoe Namibië is. En dan afgeëindig met seënwense om voorspoedig verder te reis en Indonesië te geniet. En ek kry jammer dat ek nie na Bali wou kom nie.

Die toerisme infrastruktuur in Kuta is inderdaad indrukwekkend. Luukse hotelle sit ingeryg langs die strande, dit wemel van restourante, gedenkwinkels en streelpersele en die baie Australiërs is oral. Ja, mens herken hulle. En ons sien hulle invloed. Ozzie dit en ozzie dat. Ons wonder oor die aaklige slagting van 2002 toe meer as 200 mense in ‘n bomontploffing gesterf het. Iemand noem ‘n syfer van omtrent die helfte van alle besoekers aan Bali wat van Australië is. Vlugte tussen Australië en Bali is supergoedkoop, en ja, dis nie noodwendig die room van Australiërs wat hier in Kuta rondloop nie. 


Ons besluit om te skuif na Ubud. Homestay hierdie keer, in Pondok Permata aan die bokant van die dorpie. Dis ‘n mooi plek, en dit word nog mooier toe ons die prys hoor. Ubud is ‘n juweel. Klein winkeltjies, handwerk, kuns, tempels, mooi ingange, restourantjies, vol straatjies, pragtige tuine, ryslande en lieflike stappaadjies. Opvallend vir ons is die afwesigheid van Australiërs. En Britte. Nie-Engelstalige toeriste is skielik in die meerderheid. Hier is ook geen mol nie. Luukse hotelle en deftige restourante is ook minder. Ons wonder daaroor. En ons bely dat ons van Ubud hou.

Oor ‘n biertjie begin ons wonder waarom ons van Ubud hou. Toe die bier leeg is, weet ons – die slegte goed is uitgeskakel. Ons voel nie uitgebuit nie, daar is respek en belangstelling, geen pretensie, pryse is mooi laag, diens is goed en die mense is vriendelik en behulpsaam. En daar is genoeg mooi om te geniet sonder luukse restourante en blyplekke, sonder mols.