Kaskenades in Coron

Ricardo is sy naam. Skoongeskeer soos ‘n winkelpop, herinner hy my bietjie aan die beeldjie van die laggende buddah wat ons in China gesien het. Hy bied akkommodasie aan, teen ‘n afslag. Ons het pas met die boot uit El Nido in Coron aangekom en het nog nie blyplek nie. Ricardo se aanbod lyk goed en ons word met bagasie en al in ‘n driewiel gebondel om die plek te gaan kyk. Die driewiel beur saam met honderde ander driewiele en motorfietse tussen honde en voetgangers teen die bulte van Coron uit en kom tot stilstand in die besigste deel van die dorp. 


Ons klim af en stap in ‘n gangetjie tussen verskeie huise deur, later op ‘n sementpaadjie oor die water, tot by die Sea Dive Resort. Laasgenoemde staan eintlik in die see, op pilare. Baie Filipynse huise staan so in die water, selfs op die see. Op pilare of stelte. Die huise is dikwels vas aan mekaar, met klein onveilige gangetjies tussenin. Ons kyk die Sea Dive Resort deur, kom ooreen oor die prys per nag en boek in. 


Deesdae kyk ons met ander oë na iets wat ‘n resort genoem word. Ook na iets wat hotel, hostel, lodge, inn en gastehuis genoem word. In Filipyne is daar geen duidelike maatstaf om tussen hierdie name te onderskei nie en die standaard wissel erg. Ligging is ook nie ‘n goeie maatstaf nie. Soos die Sea Dive Resort bewys, omring met lendelam, krotterige huise op stelte. Ons vereistes is ‘n gemaklike dubbelbed, met skoon beddegoed, ‘n eie, droë badkamer, wifi en lugreëling. Maar ons weet al dat een van hierdie vereistes ons mettertyd gaan teleurstel. 

Die eerste kamer in die Sea Dive Resort lyk goed, totdat ons sien dat daar ‘n nat kol teen die plafon is. Ons kry ‘n nuwe kamer. Met storttyd ontdek ons dat die warmwater in die nuwe badkamer nie warm is nie. Die volgende oggend trek ons in die derde kamer in. Lyk nie sleg nie en die warm water is wel warm. Maar ons is nie hier om die dag in die kamer deur te bring nie – ons doen een van die boottoere na die eilande. 


Die boottoer stel nie teleur nie. Afgesonderde strande, lieflike korale en baie visse, louwarm turkooisblou water, en natuurskoon wat jou asem wegslaan. Die kiekomaan bly bedrywig. Ons kajak bietjie, en lê weg aan ‘n lieflike middagete. Dan verder na waar ons kan snorkel oor een van die Japanese skeepswrakke van die Tweede Wêreldoorlog, na die Kayangan Meer waar ons ‘n eindelose uitsig op Coron het en die Siete Pecados waar ons weer snorkel. Net voor skemer is ons terug by ons blyplek.


Ons resort het ‘n gawe restourant en dek. Dis ook al plek waar mens wifi het Wel, soms. Eintlik is die sein op sy sterkste tussen een en ses in die oggend wanneer die meeste gebruikers slaap. Nietemin, die dek is die volgende dag vir my ‘n toevlug, naby genoeg aan ‘n toilet. Een of ander tyd moes dit gebeur, en my tyd het gekom in Coron. Gelukkig bly die aanval sonder koors, naarheid en ontwatering. Dankie tog vir loperamiedhidrochloried wat hipermobiliteit in die dermkanaal inhibeer. Dis wat ek lees op die voubiljet in die pilleboksie.

Tussen die begin en die einde van die naweek is Saterdae nogal baie soos ‘n middelkind. Onopvallend en soms afgeskeep. Saterdae gaan maklik ongesiens verby met min om oor te rapporteer. Saterdae is nie so voor-op-die-wa soos Maandae, of so aandringerig soos Vrydae nie. Ook nie so voordoenerig soos Sondae nie. 

In my lewe het ek egter geleer dat belangrike dinge op Saterdae kan gebeur. Die element van ‘n geyser sal byvoorbeeld ‘n Saterdag kies om die gees te gee. 

Op ‘n Saterdag word die kansellasie van ons trip met die veerboot na Manila aangekondig. As gevolg van ‘n dreigende tropiese storm. Met heelwat ongerieflike gevolge. Nogtans lig ons die kenne, kyk op en maak planne. Maar op ‘n Saterdagnamiddag is die wifi nog luier en onbetroubaarder as ooit. En die besprekingskantore om alternatiewe reëlings te help maak is toe. 

Die enigste uitweg is om saam met ander passasiers lughawe toe te ry en ons name op ‘n waglys te plaas. Na ‘n uur of drie se gewag kry ons uiteindelik plek. Teen ‘n yslike prys. Toe al die stof gaan lê, kos die uurlange vlieg tussen Coron en Manila net soveel as ons vlug vanaf Manila oor Kuala Lumpur na Bali. 

Behalwe vir die gebeurtenisvolle naweek in Coron sal ek Filipyne vir ‘n paar onverklaarbare teenstrydighede onthou. Ligging van plekkies soos Moalboal, Panglao, Port Barton, El Nido en Coron is onverbeterlik. Tog is daar min geboue in die dorpe waarvan die ontwerp of instandhouding my beïndruk het. Versorging is waarskynlik ‘n rare begrip in Filipyne. Eintlik stel die toestand van al die dorpies teleur. So baie geboue is vuil, verwaarloos of bloot net voos geleef. Krotte en paleise staan langsaan mekaar, sonder enige onvanpastheid. Oor die toestand van die strate is daar ewe min sorge. Die strate is ongelyk, nou en oorvol. En iewers is daar water met ‘n verdagte kleur en reuk. Alles wat kan beweeg deel dieselfde straat tegelykertyd – mense, voertuie, honde, bokke en hoenders. 

Tog is daar altyd aaneenlopende vloei en geen ongeluk nie. Tog is die mense ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Tog laat die Filipyne jou altyd welkom voel. Tog skep die totale prentjie ‘n eerlike, opregte gelatenheid, ‘n hartlikheid van omgee en belangstelling.

En dis hierdie mooi van Filipyne wat ek sal onthou. 

Advertisements

Die kitaarmakers

Ons vlieg na Manila in Filipyne vanaf Kota Kinabalu uit Maleisië. Tot ons otnugtering hoor ons dat ons bewys van ‘n uitvliegkaartjie moet hê. En net daar moet ons kaartjies koop. Die slegste hiervan is dat ons nou ‘n vaste datum het, wat beteken dat ons skielik ‘n program het. Program klink vir my soos ‘n beplande ding, amper soos vakansie. En ons is nie met vakansie nie. 

Uit Manila vlieg ons na Cebu eiland, kry blyplek en gaan slaap. Ons besluit om die volgende dag Cebu City eers bietjie te verken. Dit reën buitendien. Dis ‘n stokou plek. Maar dis bedrywig. Die sypaadjies is nou, dis digbebou en daar is vreeslik baie mense op straat. Ten spyte van die triestige weer. Meeste geboue is verslete en voos geleef. Ons vleg tussen markte en smouse, onder sambrele en afdakke, tussen driewiele en jeepneys, om en deur plasse water in die holgeryde strate. 

Ferdinand Magilaan het in Cebu geland op sy tog uit Spanje rondom die wêreld. Dit was in 1521. Ferdinand en sy manskappe ontmoet ‘n paar aangename Filipyne, maak pelle en besluit om te bly. 

Op Ferdinand en sy manne se aanbeveling word Spanje se vlag in Cebu gehys. Cebu is ‘n veilige, strategiese hawe en ‘n fort word gebou. Nogal in ‘n driehoekformaat. Die Spanjaarde is goeie Katolieke en begin die heidense Filipyne bekeer. Kerke word gebou en die Filipyne word gedoop en getrou. Die kerstening het ‘n rimpeleffek, meer kerke word gebou en Cebu en nog ander Filipynse eilande word Katoliek. Die pous is tevrede. Magelaan se kruis word ‘n belangrike simbool vir die christene van die Filipyne en staan vandag netjies bewaar onder ‘n koepel op ‘n plein, waar dit daagliks deur duisende besoek word.


Die godsdienstigheid van die Filipyne is moeilik om mis te kyk. Danksy die Spanjaarde. Orals staan daar kerke en katedrale, van die oudste amper vyfhonderd jaar oud. Bybelversies en verwysings na bybelversies is op die mure van skole, op die Jeepneys, op plakkate, in die busse, oral. En daar is kerke, kerkskole en bybelskole. Die godsdienstigheid gee die Filipyne ‘n opvallende eerlikheid – geen pretensie, geen verweer, soos Francois van Coke en Karen Zoid sing. Wat jy sien is wat jy kry. Filipyne is vriendelik en opreg belangstellend. Onopgesmuk. Eenvoudig en nederig. Behulpsaam.

Uitbundig en warmbloedig soos Spanjaarde mos maar is, het die Spanjaarde ook die Filipyne geleer om partytjie te hou en musiek te maak. So raak die Spanjaarde en die Filipyne ook al hoe aantrekliker vir mekaar. Verhoudings ontwikkel en paartjies word meer as vriende. So ewe vertrouelik vra een van die Spanjaarde toe op ‘n mooi aand vir sy Filipynse musiekpelle of iemand sy kitaar kan regmaak. Of miskien ‘n nuwe kitaar kan maak. Behulpsaam soos die Filipyne maar is, begin van hulle om aan die kitare te werk. Gaandeweg maak hulle ook nuwe kitare vir die Spanjaarde. 


Ons hoor van die kitaarstorie en besluit om te gaan kyk. Op ‘n driewiel met ‘n vriendelike, geduldige loots. Diep tussen eenvoudige huise in, verby werwe met spelende kinders, honde, hoenders en bokke. Ons hoor en ruik varke, die straatjies is nou en gepak. Voetgangers, Jeepneys en driewiele. ‘n Jeepney met Psalm 91:11 op die voorruit gaan ‘n ander een met Jeremia 29:11 verby. Ons ry in God Bless Our Way. Ons weet ons is veilig.


Die kitaarfabrieke sit naby aan mekaar in dieselfde straat. In ‘n onopvallende buurt. Behalwe die ontvangs en kantoor is daar amper niks modern aan die fabrieke nie. Werkers wat met eenvoudige werktuie op ‘n ry langs mekaar onder ‘n langwerpige afdak sit. Elkeen doen net ‘n deeltjie. Sommige saag, ander werk met beitels, een gom, die ander een klamp dié gomdele met bamboesknypers vas, een skuur, een poleer, en so aan. Sedert die koms van die Spanjaarde maak Filipyne só kitare. Op dieselfde manier, met die hand en net met eenvoudige toerusting. Die vaardigheid bly in die familie en word van geslag tot geslag oorgedra. Pa en seun sit op dieselfde produksielyn.


Chet Atkins het my bekend gestel aan die kitaar. Chet was ook bekend as Meneer Kitaar omdat hy so bedrewe was op die snare. Sy vriend Floyd Cramer was ewe knap op klavier. Chet en Floyd se uitgeknipte, skoongeskeerde gesigte was effens verlore op die geel agtergrond van die omslag van hul langspeelplaat en ek het nogal gewonder hoe hul instrumente moes gelyk het. Chet was ‘n ietwat onderskatte musikant. En ek het eintlik nooit weer van hom gehoor nie, totdat Mark Knopfler, Dire Straits se man, hom eendag in 1990 genooi het om saam musiek te maak. Saam prewel en tokkel hulle Poor Boy Blues op hul album, “Neck and Neck”. Meneer Kitaar is in 2001 oorlede maar hy sou beslis die Filipynse kitare kon waardeer, nes ek.

Cebu eiland is ‘n lang maer eiland. Soos ons uit die digbewoonde dele van Mactan, LapuLapu en Cebu City beweeg raak dit net mooier en mooier. Die bus kronkel moeisaam tussen al die verkeer, hoër op met die middellande totdat ons weer begin afdaal na die weskus. Ons volgende bestemming is Moalboal. 


Moalboal is mooier as sy naam. Duikers van regoor die wêreld dink ook so. Hier is hope duikskole, ingeryg tussen die Panagsama strand en ‘n onduidelike grondstraatjie. Tussen die duikskole is daar restourantjies en blyplekke ingedruk. Ons geniet ‘n koue goue op die stoep van ‘n restourant wat aan ‘n afgetrede Duitser behoort. Die uitsig is onverbeterlik. Jawohl, maak vol! Môre gaan ons snorkel.


Onthou die naam Quo Vadis. Gawe klomp. Ons vra vir inligting oor snorkel en die huur van toerusting. Hulle nooi ons sommer saam op hul boot Smiling Star. Voordat jy kan sê “dankie”, sit ons. Saam met die duikers val ons in die water. Behalwe die gebruiklikes, sien ons klomp nuwe soorte visse en korale. Ons swem saam met drie seeskilpaaie. En saam met miljoene sardyne wat in ‘n vormlose formasie saambondel. Die bondel stulp uit, krimp ineen, swenk weg, verdeel en omsingel ons. Ons snorkel totdat ons oumensvelle op ons tone het. 


Daardie aand wonder ek of daar in die hemel ook wit strande met piesangbome en kokosneute sal wees. Of tropiese vissies van allerhande kleure, korale en lou turkooisblou waters. Seeskilpaaie en sardyne. En Filipynse kitare.