Kaskenades in Coron

Ricardo is sy naam. Skoongeskeer soos ‘n winkelpop, herinner hy my bietjie aan die beeldjies van die laggende buddah wat ons in China gesien het. Hy bied akkommodasie aan, teen ‘n onweerstaanbare afslag.

IMG_2343

Ons het pas met die boot uit El Nido in Coron aangekom en het nog nie blyplek nie. Ricardo se aanbod klink goed en ons word met bagasie en al in ‘n driewiel gebondel om die plek te gaan kyk.

IMG_2354

Die driewiel beur saam met ‘n malende massa van honderde ander driewiele en motorfietse tussen honde en voetgangers op die stukkende strate van Coron, bult op en bult af.  Soos ons saam met Ricardo in sy driewiel voortvleg, sien ons honderde vertoonborde verbyflits – oorgenoeg blyplekke om van te kies. Deesdae kyk ons met vraende oë na iets wat ‘n resort genoem word. Ook baie skepties na iets wat hotel, hostel, lodge, inn en gastehuis genoem word.

In Filipyne is daar geen duidelike maatstaf om tussen hierdie name te onderskei nie en die standaard wissel erg. Ligging is ook nie ‘n goeie maatstaf nie. Ons vereistes is ‘n gemaklike dubbelbed, met skoon beddegoed, ‘n eie, droë badkamer, wifi en lugreëling. Maar ons weet al dat een van hierdie vereistes ons mettertyd gaan teleurstel.

Waar gaan ons vanaand ons koppe neerlê?

IMG_2352

Ons kom tot stilstand in die besigste deel van die dorp, klim af en stap in ‘n gangetjie tussen verskeie huise deur, later op ‘n sementpaadjie oor die water, tot by die Sea Dive Resort. Die Sea Dive Resort is omring met lendelam, krotterige huise op stelte. Die resort staan eintlik in die see, op pilare.

Baie Filipynse huise (en resorts) staan so in die water, selfs op die see. Op pilare of stelte. Die huise is dikwels vas aan mekaar, met klein onveilige gangetjies tussenin. Ons kyk die Sea Dive Resort deur, kom ooreen oor die prys per nag en boek in.

Die eerste kamer in die Sea Dive Resort lyk goed, totdat ons sien dat daar ‘n nat kol teen die plafon is. Ons kry ‘n nuwe kamer. Met storttyd ontdek ons dat die warmwater in die nuwe badkamer nie warm is nie. Die volgende oggend trek ons in die derde kamer in. Lyk nie sleg nie en die warm water is wel warm. Maar ons is nie hier om die dag in die kamer deur te bring nie – ons doen een van die boottoere na die eilande.

IMG_2358

Die boottoer stel nie teleur nie. Afgesonderde strande, lieflike korale en baie visse, louwarm turkooisblou water, en natuurskoon wat jou asem wegslaan. Die kiekomaan bly bedrywig. Ons kajak bietjie, en lê weg aan ‘n lieflike middagete.

IMG_2366

Dan verder na waar ons kan snorkel oor een van die Japanese skeepswrakke van die Tweede Wêreldoorlog.

IMG_2393

Ons boot ry deur klowe met loodregte kranse wat duik tot in die see, die water is plat, warm en helder. En ons snorkel asof dit die laaste keer is.

IMG_2412

Dan na die Kayangan Meer waar ons ‘n eindelose uitsig op Coron het. Laaste stop is die Siete Pecados (sewe eilande?) waar ons weer snorkel. Net voor skemer is ons terug by ons blyplek.

IMG_2414

Hoewel ons resort op pilare in die see staan, en ons tussen krotte op ‘n wankelmoedige paadjie moet loop om by ons resort uit te kom, het ons toegang tot ‘n gawe restourant en dek. Die dek is ook al plek waar mens wifi het Wel, soms. Eintlik is die sein op sy sterkste tussen een en ses in die oggend wanneer die meeste gebruikers slaap.

IMG_2423

Nietemin, die dek is die volgende dag vir my ‘n toevlug, naby genoeg aan ‘n toilet. Een of ander tyd moes dit gebeur, en my tyd het gekom in Coron. Gelukkig bly die aanval sonder koors, naarheid en ontwatering. Dankie tog vir loperamiedhidrochloried wat hipermobiliteit in die dermkanaal inhibeer. Dis wat ek lees op die voubiljet in die pilleboksie. Ek sluk die klein pilletjies met groot geloof a fen hoop vir die beste.

Tussen die begin en die einde van die naweek is Saterdae nogal baie soos ‘n middelkind. Onopvallend en soms afgeskeep. Saterdae gaan maklik ongesiens verby met min om oor te rapporteer. Saterdae is nie so voor-op-die-wa soos Maandae, of so aandringerig soos Vrydae nie. Ook nie so voordoenerig soos Sondae nie.

In my lewe het ek egter geleer dat belangrike dinge op Saterdae kan gebeur. Die element van ‘n geyser sal byvoorbeeld ‘n Saterdag kies om die gees te gee. ‘n Garagedeur sal ook ‘n Saterdag kies om te breek.

Op ‘n Saterdag kry ek ‘n loopmaag en op ‘n Saterdag word die kansellasie van ons trip met die veerboot na Manila aangekondig. As gevolg van ‘n dreigende tropiese storm. Met heelwat ongerieflike gevolge. Nogtans lig ons die kenne, kyk op en maak planne. Maar op ‘n Saterdagnamiddag is die wifi nog luier en onbetroubaarder as ooit. En besprekingskantore om alternatiewe reëlings te help maak is toe.

Die enigste uitweg is om saam met ander passasiers lughawe toe te ry en ons name op ‘n waglys te plaas. Na ‘n uur of drie se gewag kry ons uiteindelik plek. Teen ‘n yslike prys. Toe al die stof gaan lê, kos die uurlange vlieg tussen Coron en Manila net soveel as ons vlug vanaf Manila oor Kuala Lumpur na Bali.

Behalwe vir die gebeurtenisvolle naweek in Coron sal ek Filipyne vir ‘n paar onverklaarbare teenstrydighede onthou. Ligging van plekkies soos Moalboal, Panglao, Port Barton, El Nido en Coron is onverbeterlik. Tog is daar min geboue in die dorpe waarvan die ontwerp of instandhouding my beïndruk het. Versorging is waarskynlik ‘n rare begrip in Filipyne. Eintlik stel die toestand van al die dorpies teleur. So baie geboue is vuil, verwaarloos of bloot net voos geleef. Krotte en paleise staan langsaan mekaar, sonder enige onvanpastheid. Oor die toestand van die strate is daar ewe min sorge. Die strate is ongelyk, nou en oorvol. Alles wat kan beweeg deel dieselfde straat tegelykertyd – mense, voertuie, honde, bokke en hoenders. En iewers slinger ‘n stroompie water met ‘n verdagte kleur en reuk.

Tog is daar altyd aaneenlopende verkeersvloei en geen ongeluk nie. Tog is die mense ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Tog laat die Filipyne jou altyd welkom voel. Tog skep die totale prentjie ‘n eerlike, opregte gelatenheid, ‘n hartlikheid van omgee, deernis en belangstelling.

En dis hierdie mooi van Filipyne wat ek sal onthou.

Advertisements

Sjokolade, musiek en ‘n minnesanger

Normaalweg is ek betroubaar met name onthou, maar ek moet bieg dat die geslagsregisters in die Bybel en die Filipynse padkaart vir my ‘n groot uitdaging is. Ons roete uit Moalboal loop oor Alcantra, Ronda, Damanjug tot waar ons met ‘n veerboot ry na Tangil. Ons klim oor op ‘n bus, wat saam met ons op die boot was, en ry op land uit Guihulngan oor La Libertad, Jimalud, Tayasan, Ayungon, Bindoy, Manjuyod, Bais, Tanjay, Amlan, San Jose tot in Dumaguete waar ons ‘n tweede veerboot neem tot in Tagbilaran.

IMG_2018

Filipynse dorpies lyk almal dieselfde. Min hoë geboue, besige strate met driewiele, karre, motorfietse, jeepneys, ‘n ooraanbod van smouse en stalletjies, en klein winkeltjies met groot advertensies. Daar is kerke en skole, en hope kinders in skooldrag. Netheid en ordelikheid is nie juis opvallend nie, iewers vloei water met ‘n verdagte kleur en reuk, en iewers is daar konstruksie aan die gang.

IMG_2076

Onderskeid in inkomste is moeilik sigbaar, die huise is basies, weelderigheid is skaars en woonbuurte verskil baie min van mekaar. Geen grense en heinings is sigbaar nie, tensy daar ‘n paar diere aangehou word. Dalk is eenvoud die groot gelykmaker en dit lyk of alle Filipyne ‘n ongekompliseerde, salige lewe lei.

Totdat jy in ‘n toeristeplek beland. Dan is daar ingange na weelderige oorde, bewapen met wagte, vlae en valhekke; besighede wat luid hul buitelandse bestuurstyl en eienaarskap aankondig en restourante wat europese, chinese en koreaanse spyskaarte aanbied. En die Filipyne bedien, net soos op luukse passasiersbote op die Middellandse See of tussen die Karibiese Eilande. Flink, vriendelik en verdraagsaam. Eg Filipynse besighede is beperk tot nederige eetplekke met onopgesmukte dekor en basiese meubels, verhuring van poegies, bootritte en driewiele. Orals is daar eienaarlose honde, sommige hongerder en minder versorgd as ander, en opvallend baie dragtige katte.

Alona op Panglao Eiland is so ‘n toeristeplek.

IMG_2044

Bohol bestaan uit 75 eilande, waaronder die kleiner Panglao en die groter Bohol Eiland. Die twee lê styf teenaan mekaar met die stad Tagbilaran tussenin. Terwyl Panglao bekend is vir sy wit strande en gewilde duik- en snorkelplekke, is Bohol Eiland bekend vir aantrekkings soos die Chocolate Hills, endemiese tarsiers (‘n tipe nagapie), die Loboc Rivier, inheemse mahoniewoude, rysterrasse en die stokou Katolieke Baclayon kerk, wat uit die Spaanse tydperk dateer.

IMG_2038

Die Chocolate Hills het niks met sjokolade te doen nie, maar is kalksteen-oorblyfsels van ‘n oer- oseaanvloer. Soos die land gehef is en die eiland ontstaan het, is die kalksteenvloer netjies deur erosie opgekerf en het daar honderde eenderse en ewehoë, ronde koepels oorgebly. Die bruin kleur van die heuwels herinner aan sjokolade, vandaar die naam.

IMG_2010

Op pad na Carmen, die dorpie naby Chocolate Hills, ry ons deur rysvelde, mahoniewoude, digte stande van kokosneutpalms, oor die Loboc Rivier en verby die bewaringsgebied van die tarsiers.

IMG_2004

IMG_2036

Met die ontstaan van die eiland het die tarsiers ook deur ‘n hele paar evolusiesiklusse gegaan om aan te pas by die veranderende omstandighede. Dié komiese diertjies slaap in die dag en maak hul groot oë net nou en dan oop, kyk mens lomerig aan en klem die takkies dan stewiger vas om verder te slaap. Tarsiers was vir Steven Spielberg so oulik dat hy sy ET-karaktertjie daarop gebaseer het.

IMG_1992

Ons besluit om Panglao per motorfiets te verken. Geen vrae oor wettige rybewyse en valhems nie en daar gaat ons. Panglao is nie groot nie, so 10km in sy lengte en omtrent 5km in sy breedte. Ons ry heeldag rond en besoek afgeleë strande en ‘n grot waarin mense swem, bly weg van privaatoorde en -wonings met duidelike Geen Toegang bordjies, ry deur woude en kokosneutplantasies en klein gehuggies tussenin.

IMG_2053

IMG_2061

Teen skemeraand soek ons ‘n swemplek, en kry een op ‘n strand waar ons die enigste mense is.

IMG_2082

Die aand eet ons by Trudy’s Bar op die Alona strand. Dis ‘n egte Filipynse spyskaart, die bier is koud, die pryse laag en ons tone in die sand. Ons filosofeer oor die aakligheid van materialisme, die soeke na ‘n saliger lewe, die alewige hunker na verandering, die bevredigende inspirasie van reis en avontuur, meedoënlose roetines en die doellose gejaag na wind.

IMG_2047

Waar ons sit, loop baie voetgangers verby. Onder hulle is daar opvallend baie paartjies wat bestaan uit grys Europese mans met jong Filipynse meisies. Daar is ook baie verhongerde honde en katte om ons. Ons wonder oor respek, omgee, norme en verantwoordelikhede.

Een van die oumanne neem die mikrofoon by die strandorkes oor en probeer sy Filipynse vangs beïndruk met Stand by Me. Die orkes probeer byhou, maar Casanova se stem dwaal onbeheersd en roekeloos oor die note. Saam met baie ander gaste kyk ons liewer anderpad. Die see is mooi vanaand, en ons staar sommer net na die lustelose brandertjies.

Ons wonder oor die grys manne met hul Filipynse meisies. Ons wonder oor die privaatoorde langs die beeldskone Filipynse kus. En ons wonder hoe die Filipyne dit regkry om so vriendelik en verdraagsaam te wees.