Kaskenades in Coron

Ricardo is sy naam. Skoongeskeer soos ‘n winkelpop, herinner hy my bietjie aan die beeldjie van die laggende buddah wat ons in China gesien het. Hy bied akkommodasie aan, teen ‘n afslag. Ons het pas met die boot uit El Nido in Coron aangekom en het nog nie blyplek nie. Ricardo se aanbod lyk goed en ons word met bagasie en al in ‘n driewiel gebondel om die plek te gaan kyk. Die driewiel beur saam met honderde ander driewiele en motorfietse tussen honde en voetgangers teen die bulte van Coron uit en kom tot stilstand in die besigste deel van die dorp. 


Ons klim af en stap in ‘n gangetjie tussen verskeie huise deur, later op ‘n sementpaadjie oor die water, tot by die Sea Dive Resort. Laasgenoemde staan eintlik in die see, op pilare. Baie Filipynse huise staan so in die water, selfs op die see. Op pilare of stelte. Die huise is dikwels vas aan mekaar, met klein onveilige gangetjies tussenin. Ons kyk die Sea Dive Resort deur, kom ooreen oor die prys per nag en boek in. 


Deesdae kyk ons met ander oë na iets wat ‘n resort genoem word. Ook na iets wat hotel, hostel, lodge, inn en gastehuis genoem word. In Filipyne is daar geen duidelike maatstaf om tussen hierdie name te onderskei nie en die standaard wissel erg. Ligging is ook nie ‘n goeie maatstaf nie. Soos die Sea Dive Resort bewys, omring met lendelam, krotterige huise op stelte. Ons vereistes is ‘n gemaklike dubbelbed, met skoon beddegoed, ‘n eie, droë badkamer, wifi en lugreëling. Maar ons weet al dat een van hierdie vereistes ons mettertyd gaan teleurstel. 

Die eerste kamer in die Sea Dive Resort lyk goed, totdat ons sien dat daar ‘n nat kol teen die plafon is. Ons kry ‘n nuwe kamer. Met storttyd ontdek ons dat die warmwater in die nuwe badkamer nie warm is nie. Die volgende oggend trek ons in die derde kamer in. Lyk nie sleg nie en die warm water is wel warm. Maar ons is nie hier om die dag in die kamer deur te bring nie – ons doen een van die boottoere na die eilande. 


Die boottoer stel nie teleur nie. Afgesonderde strande, lieflike korale en baie visse, louwarm turkooisblou water, en natuurskoon wat jou asem wegslaan. Die kiekomaan bly bedrywig. Ons kajak bietjie, en lê weg aan ‘n lieflike middagete. Dan verder na waar ons kan snorkel oor een van die Japanese skeepswrakke van die Tweede Wêreldoorlog, na die Kayangan Meer waar ons ‘n eindelose uitsig op Coron het en die Siete Pecados waar ons weer snorkel. Net voor skemer is ons terug by ons blyplek.


Ons resort het ‘n gawe restourant en dek. Dis ook al plek waar mens wifi het Wel, soms. Eintlik is die sein op sy sterkste tussen een en ses in die oggend wanneer die meeste gebruikers slaap. Nietemin, die dek is die volgende dag vir my ‘n toevlug, naby genoeg aan ‘n toilet. Een of ander tyd moes dit gebeur, en my tyd het gekom in Coron. Gelukkig bly die aanval sonder koors, naarheid en ontwatering. Dankie tog vir loperamiedhidrochloried wat hipermobiliteit in die dermkanaal inhibeer. Dis wat ek lees op die voubiljet in die pilleboksie.

Tussen die begin en die einde van die naweek is Saterdae nogal baie soos ‘n middelkind. Onopvallend en soms afgeskeep. Saterdae gaan maklik ongesiens verby met min om oor te rapporteer. Saterdae is nie so voor-op-die-wa soos Maandae, of so aandringerig soos Vrydae nie. Ook nie so voordoenerig soos Sondae nie. 

In my lewe het ek egter geleer dat belangrike dinge op Saterdae kan gebeur. Die element van ‘n geyser sal byvoorbeeld ‘n Saterdag kies om die gees te gee. 

Op ‘n Saterdag word die kansellasie van ons trip met die veerboot na Manila aangekondig. As gevolg van ‘n dreigende tropiese storm. Met heelwat ongerieflike gevolge. Nogtans lig ons die kenne, kyk op en maak planne. Maar op ‘n Saterdagnamiddag is die wifi nog luier en onbetroubaarder as ooit. En die besprekingskantore om alternatiewe reëlings te help maak is toe. 

Die enigste uitweg is om saam met ander passasiers lughawe toe te ry en ons name op ‘n waglys te plaas. Na ‘n uur of drie se gewag kry ons uiteindelik plek. Teen ‘n yslike prys. Toe al die stof gaan lê, kos die uurlange vlieg tussen Coron en Manila net soveel as ons vlug vanaf Manila oor Kuala Lumpur na Bali. 

Behalwe vir die gebeurtenisvolle naweek in Coron sal ek Filipyne vir ‘n paar onverklaarbare teenstrydighede onthou. Ligging van plekkies soos Moalboal, Panglao, Port Barton, El Nido en Coron is onverbeterlik. Tog is daar min geboue in die dorpe waarvan die ontwerp of instandhouding my beïndruk het. Versorging is waarskynlik ‘n rare begrip in Filipyne. Eintlik stel die toestand van al die dorpies teleur. So baie geboue is vuil, verwaarloos of bloot net voos geleef. Krotte en paleise staan langsaan mekaar, sonder enige onvanpastheid. Oor die toestand van die strate is daar ewe min sorge. Die strate is ongelyk, nou en oorvol. En iewers is daar water met ‘n verdagte kleur en reuk. Alles wat kan beweeg deel dieselfde straat tegelykertyd – mense, voertuie, honde, bokke en hoenders. 

Tog is daar altyd aaneenlopende vloei en geen ongeluk nie. Tog is die mense ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Tog laat die Filipyne jou altyd welkom voel. Tog skep die totale prentjie ‘n eerlike, opregte gelatenheid, ‘n hartlikheid van omgee en belangstelling.

En dis hierdie mooi van Filipyne wat ek sal onthou. 

Fotoverhaal

Port Barton toets die ware betekenis van die woordjie paradys. Die dorpie is vasgedruk tussen ‘n beenwit strand, gesoom met kokospalms en woudbedekte berge, op die kromming van ‘n baai. Dis ‘n klein dorpie. So klein dat daar nie eens ‘n bank is nie, en waar krag net beskikbaar is tussen halfses en halftwaalf saans.


Met hoogwater spoel die mak brandertjies tot teenaan die trappies van ons blyplek. Op ons stoepie is ‘n uitnodigende hangmat en so uit die hangmat kan ons kyk na een van die bote wat geduldig op ons wag om te gaan snorkel. Dis vreedsaam en stil hier. Kinders speel op die strand en ‘n paar vissermanne sluk ‘n Red Horse met die dag af.


Saam met ons op die snorkelboot klim ‘n Portugese en ‘n Belgiese paartjie. Die skipper en sy bootsman is ou hande en neem ons van die een idilliese plek na die ander om te snorkel. 


My kamera werk hard, maar ek weet dat geen kiekie regverdiging kan gee aan die hemelse mooi van hierdie stukkie skepping nie. Buitendien kan ek nie die onderwaterwêreld kiek nie, en ek kry al hoe meer spyt omdat ek nie daai GoPro aangeskaf het nie. En dat ek nog nie ‘n duikkursus gedoen het nie. 


Ons ry langs afgeleë ente kus. Hier en daar is ‘n vissersdorpie, nog kleiner as Port Barton. 


Vir middagete gooi ons anker op ‘n strand sonder naam. Skipper en Bootsman berei vir ons ‘n eenvoudige middagete voor. En so oor gebraaide vis, rys, groente en vars vrugte kom Portugal, België, Namibië en Filipyne al hoe nader aan mekaar. 



Was dit nou Ruiter in Swart wat my laat wonder of ek al voorheen die naam Port Barton gehoor het? Of het ek bloot vir Barberton met Port Barton verwar? Tog twyfel ek sterk of Ben Brand en sy perd Satan ooit gesoek het na boewe op die Palawan Eiland. Want hy sou nie boewe hier gekry het nie. Filipyne is goeie mense.


Maar as Ben Brand ooit in Port Barton was, sou ons seker vandag nog die nuutste uitgawe van Ruiter in Swart kon lees. Dalk in kleur. Die stories sou miskien flou gewees het, maar die mooi omgewing sou opgemaak het. Fotoverhale sou nie uitgesterf het nie.