Liewe Pa

Liewe Pa

Die Kaap is nogsteeds droog. Kapenaars bid vir reën, al is die Kaap ‘n winterreënvalstreek. Hulle bid ook dat Dag Zero nie moet kom nie, maar hulle bid nie vir beter beplanning nie. Hulle spaar darem baie water en die meeste het aangepas by die werlikheid dat water ‘n beperkte hulpbron is. Nou het hulle ook opgaartenks, waterslimtuine, kleiner toiletbakke en hulle hergebruik ook nou gryswater. En Kapenaars praat nou ook van waterherwinning, storing van water ondergronds en die ontsouting van seewater. Ons Dorslanders ken hierdie dinge en kan vir die Kapenaars baie nuttige truuks hieroor leer, maar snaaks genoeg, hulle vra nie ons hulp nie.

Zuma is weg. Uiteindelik. Nogal op Valentynsdag. Daai dag gaan nou glo Verlossingsdag genoem word. Die Rand het skielik begin sterker word, en daar waai ‘n nuwe wind van hoop en verwagting deur suidelike Afrika. 

Maar kom ek begin by die begin.

Pa se begrafnis was mooi. Stemmig, intiem en vredevol. Nes Pa dit sou verkies het. Behalwe dat omtrent niemand van Pa se vriende daar was nie. Net die jongeres. Ons het Pa se goedjies opgepak en verdeel. Saam met al die baie herinneringe en sentimente. Dit was nogal ‘n aardige ervaring. Want dis so genadeloos en onvermydelik finaal. Daar is nie ‘n omdraai, ‘n kykweer, of ‘n tweede kans nie. ‘n Lewe is verby. Vir altyd. 
Ek wonder oor die dood, Pa. Is dit dalk soos ‘n diep, baie lang slaap sonder drome? Soos narkose. Roerloos, stil. Gebeurteloos en eindeloos. Raak mens dalk bang net voordat mens doodgaan? Is daar dalk ‘n beklemmende, angstige laaste oomblik wanneer mens besef dat dit die finale uitgang is? Of dalk ‘n magtelose gelatenheid om net die laaste oomblik te laat gebeur en afgehandel te kry? Amper soos voor ‘n sprong in ‘n donker poel water in. 
Oupa, Oupie, Vadertjie, Oom. Dis hoe Pa ook genoem is. Maar nou skryf ons Wyle vooraan. Dis ‘n bietjie onwerklik want ons sien nog Pa se gesig op fotos, ons onthou die staaltjies, die blymoedigheid, die gelag en harde pratery, die koffie-en-beskuit-kuiers, die roomys-etery, die groen koeldrank en die ewige geneurie. 
Pa se kleindogter is nou ook getroud. Op haar hartsplek. Was vreeslik mooi en só feestelik. Sy was omring met haar hartsmense. Dit was so ‘n vervullende, innige, vreugdevolle geleentheid. Haar twee oupas en twee oumas sou dit só geniet het. Haar boetie het die mooiste stukkie musiek aanmekaar gesit vir haar openingsdans. Dit was vir ons twee só, só spesiaal. Om boetie en sussie so te kan gadeslaan en stom te raak van trots en tevredenheid. 
Pa se kleinseun is ook nou ingeskryf by die universiteit. Ons kan sien hoe ontluik die nuwe vooruitsigte. Soos ‘n blom wat begin oopgaan. Die ontsluiting van gawes en vermoëns, die ontstaan van nuwe verhoudings en die ondersoek na nuwe opsies en moontlikhede. 
En na alles het ons weer teruggekom Dorsland toe. Want ons hoort mos iewers. Na Swakopmund toe. Hier waar die warm woestyn en die koue oseaan ontmoet. Met net ‘n klein klompie mense en hul dorpie tussenin. 
Na omtrent ‘n jaar. ‘n Jaar propvol ervarings en belewenisse. ‘n Selfopgelegde sabbatsjaar. Ons is effens onseker oor die toekoms, maar ons is vir geen oomblik spyt oor ons besluit ‘n jaar terug nie. 
Ons het mekaar nog beter leer ken, ons het weer gegroei, ons verhouding met ons Skepper het verdiep, ons praat weer baie met mekaar, ons het weer die weelde van eenvoud ontdek, en ons het baie vriende sonder name gemaak. Ons lééf weer. En ons kan beaam: Reis is die enigste uitgawe wat jou ‘n ryker mens maak. 
Ek het vir die laaste tyd nie meer geblog nie, Pa. Want ons het nie gereis nie. Ek het wel ons reiservarings opgeteken en ‘n boek daarvan gemaak. Die boek is uit. Nie vir kinders is as ‘n e-boek beskikbaar op platforms soos Amazon (https://www.amazon.com/dp/B079ZB692P) en Smashwords (https://www.smashwords.com/books.view/795054). 
En nou het ek besluit om weer te begin blog, Pa.

Advertisements

Sjokolade, musiek en ‘n minnesanger

Normaalweg is ek betroubaar met name onthou, maar ek moet bieg dat die geslagsregisters in die Bybel en die Filipynse padkaart vir my ‘n groot uitdaging is. Ons roete uit Moalboal loop oor Alcantra, Ronda, Damanjug tot waar ons met ‘n veerboot ry na Tangil. Ons klim oor op ‘n bus, wat saam met ons op die boot was, en ry op land uit Guihulngan oor La Libertad, Jimalud, Tayasan, Ayungon, Bindoy, Manjuyod, Bais, Tanjay, Amlan, San Jose tot in Dumaguete waar ons ‘n tweede veerboot neem tot in Tagbilaran.

IMG_2018

Filipynse dorpies lyk almal dieselfde. Min hoë geboue, besige strate met driewiele, karre, motorfietse, jeepneys, ‘n ooraanbod van smouse en stalletjies, en klein winkeltjies met groot advertensies. Daar is kerke en skole, en hope kinders in skooldrag. Netheid en ordelikheid is nie juis opvallend nie, iewers vloei water met ‘n verdagte kleur en reuk, en iewers is daar konstruksie aan die gang.

IMG_2076

Onderskeid in inkomste is moeilik sigbaar, die huise is basies, weelderigheid is skaars en woonbuurte verskil baie min van mekaar. Geen grense en heinings is sigbaar nie, tensy daar ‘n paar diere aangehou word. Dalk is eenvoud die groot gelykmaker en dit lyk of alle Filipyne ‘n ongekompliseerde, salige lewe lei.

Totdat jy in ‘n toeristeplek beland. Dan is daar ingange na weelderige oorde, bewapen met wagte, vlae en valhekke; besighede wat luid hul buitelandse bestuurstyl en eienaarskap aankondig en restourante wat europese, chinese en koreaanse spyskaarte aanbied. En die Filipyne bedien, net soos op luukse passasiersbote op die Middellandse See of tussen die Karibiese Eilande. Flink, vriendelik en verdraagsaam. Eg Filipynse besighede is beperk tot nederige eetplekke met onopgesmukte dekor en basiese meubels, verhuring van poegies, bootritte en driewiele. Orals is daar eienaarlose honde, sommige hongerder en minder versorgd as ander, en opvallend baie dragtige katte.

Alona op Panglao Eiland is so ‘n toeristeplek.

IMG_2044

Bohol bestaan uit 75 eilande, waaronder die kleiner Panglao en die groter Bohol Eiland. Die twee lê styf teenaan mekaar met die stad Tagbilaran tussenin. Terwyl Panglao bekend is vir sy wit strande en gewilde duik- en snorkelplekke, is Bohol Eiland bekend vir aantrekkings soos die Chocolate Hills, endemiese tarsiers (‘n tipe nagapie), die Loboc Rivier, inheemse mahoniewoude, rysterrasse en die stokou Katolieke Baclayon kerk, wat uit die Spaanse tydperk dateer.

IMG_2038

Die Chocolate Hills het niks met sjokolade te doen nie, maar is kalksteen-oorblyfsels van ‘n oer- oseaanvloer. Soos die land gehef is en die eiland ontstaan het, is die kalksteenvloer netjies deur erosie opgekerf en het daar honderde eenderse en ewehoë, ronde koepels oorgebly. Die bruin kleur van die heuwels herinner aan sjokolade, vandaar die naam.

IMG_2010

Op pad na Carmen, die dorpie naby Chocolate Hills, ry ons deur rysvelde, mahoniewoude, digte stande van kokosneutpalms, oor die Loboc Rivier en verby die bewaringsgebied van die tarsiers.

IMG_2004

IMG_2036

Met die ontstaan van die eiland het die tarsiers ook deur ‘n hele paar evolusiesiklusse gegaan om aan te pas by die veranderende omstandighede. Dié komiese diertjies slaap in die dag en maak hul groot oë net nou en dan oop, kyk mens lomerig aan en klem die takkies dan stewiger vas om verder te slaap. Tarsiers was vir Steven Spielberg so oulik dat hy sy ET-karaktertjie daarop gebaseer het.

IMG_1992

Ons besluit om Panglao per motorfiets te verken. Geen vrae oor wettige rybewyse en valhems nie en daar gaat ons. Panglao is nie groot nie, so 10km in sy lengte en omtrent 5km in sy breedte. Ons ry heeldag rond en besoek afgeleë strande en ‘n grot waarin mense swem, bly weg van privaatoorde en -wonings met duidelike Geen Toegang bordjies, ry deur woude en kokosneutplantasies en klein gehuggies tussenin.

IMG_2053

IMG_2061

Teen skemeraand soek ons ‘n swemplek, en kry een op ‘n strand waar ons die enigste mense is.

IMG_2082

Die aand eet ons by Trudy’s Bar op die Alona strand. Dis ‘n egte Filipynse spyskaart, die bier is koud, die pryse laag en ons tone in die sand. Ons filosofeer oor die aakligheid van materialisme, die soeke na ‘n saliger lewe, die alewige hunker na verandering, die bevredigende inspirasie van reis en avontuur, meedoënlose roetines en die doellose gejaag na wind.

IMG_2047

Waar ons sit, loop baie voetgangers verby. Onder hulle is daar opvallend baie paartjies wat bestaan uit grys Europese mans met jong Filipynse meisies. Daar is ook baie verhongerde honde en katte om ons. Ons wonder oor respek, omgee, norme en verantwoordelikhede.

Een van die oumanne neem die mikrofoon by die strandorkes oor en probeer sy Filipynse vangs beïndruk met Stand by Me. Die orkes probeer byhou, maar Casanova se stem dwaal onbeheersd en roekeloos oor die note. Saam met baie ander gaste kyk ons liewer anderpad. Die see is mooi vanaand, en ons staar sommer net na die lustelose brandertjies.

Ons wonder oor die grys manne met hul Filipynse meisies. Ons wonder oor die privaatoorde langs die beeldskone Filipynse kus. En ons wonder hoe die Filipyne dit regkry om so vriendelik en verdraagsaam te wees.

Weerkyk

En so dommel ek in, effens onrustig oor Skylab wat dalk op ons huis, eintlik my kamer, in die nag kan val. Te midde van die swaar weer.

Soms het jy hom net gehoor as hy die gordyne saggies oop geskuif het. Maar meestal was hy doodstil. En dan het hy vir lang oomblikke in die donkerte gestaar om die weer te kyk as dit weerlig. As iets sy uitsig in een vertrek versper het, het hy die volgende vertrek se vensters probeer.

Vanuit die weer het hy beplan, tekens gelees – of daar voorspoed of teenspoed wag. Groenveld of droogte. Weiding of voer. Bedags en snags het hy beplan, gewroeg, gebid. En reën was die gemene deler.

Mooiweer het ek leer ken as belowende wolke. Nie as ‘n skoon, wolklose hemel nie. “Die weer is mooi vandag” was ‘n uitdrukking swanger van belofte en verwagting.

Swaar weer oor Namibië is mooi. Verrukkend. Dansende blitse en oorverdowende gedonder is mooi. Ontsagwekkend. Druppels reën op ‘n sinkdak is mooi. Oortuigend. Slaap terwyl dit reën is salig. Gerusstellend. Reënweer oor die dorsland is mooiweer.

So het ek een aand gaan slaap met swaar donderweer en blitse. Dit was iewers in die sewentigerjare, in dieselfde tyd as Skylab. Maar Skylab se dae was getel en ons is gewaarsku dat Skylab besig was om te disintegreer en dat die stukke dalk iewers oor suidelike Afrika kan val. En so dommel ek in, effens onrustig oor Skylab wat dalk op ons huis, eintlik my kamer, in die nag kan val. Te midde van die swaar weer.

Een baie harde donderslag in die nag het my oortuig dat Skylab tog geval het; welliswaar nie op my kamer nie, maar net ‘n entjie suidoos van die huis. Vroegoggend is ek uit die huis om te gaan kyk, maar daar was geen teken van die verwoeste ruimtetuig nie. Later die oggend het ons toe op die nuus gehoor dat Skylab iewers oor Australië neergestort het.

Reën in Namibië word met heilige respek hanteer en waardeer. Dis die rede vir rondrits, reis, verkenning. Uitvra oor reën is die begin van menige gesprek. Reën is die bepalende faktor as ‘n trip beplan word. Wat die deurslag gee as ‘n plaas gekoop word. Wat die luim van die nasie bepaal. En die koerante se voorblaaie dikteer.

Na ‘n buitjie reën sien mens fotos en dankgebede, kinders wat speel in die poele, 4x4s langs ‘n vol riviertjie. Daar is selfs ‘n Facebook blad vir reën. Waarvan die ledegetalle daagliks groei. En waarop dit elke dag gons oor nuwe berigte van reën, oor reënkanse, riviere wat afkom, die stand van damme, groenveld en blommetjies langs die pad. Die blad waarop boere skrywers word.

Reëntyd is reistyd in Namibië. Ek was al deel van ‘n groepie wat op ‘n Saterdagoggend uit Windhoek na die lelies by Maltahöhe gaan kyk het, en per ompad oor Solitaire en Spreetshoogte na Windhoek teruggekeer het. Net om te gaan kyk waar dit gereën het. Byna 800 km vir die dag.

Nie te ver vir weerkyk nie. Nooit te ver om te reis nie.

Suide trip Maart 2011 (58)

Vleis, reis en vrede

Eers was dit beesrug, in dik sappige skywe op die kole, met murgbene daarby. Ja daar was groente ook, maar die ster van die aand was die blink, heilsame murg saam met Namibiese beesvleis. Daar is gelag en gesels, gegroet en afskeid geneem.

Toe was dit skaaprug, in sy geheel, en stadig gebak in roosmaryn en met Swakopmund se eie olyfolie bedruip. Weer was daar groente by, maar die ster van die aand was die bottersag lam uit Namibië se suide. Ons het gekuier, die glasies is geklink en ons het totsiens gesê.

Ons vertrek uit Namibië met ‘n vleisvaarwel en word verwelkom in Suid-Afrika met … ‘n vleisie op die kole. Heerlike skaaptjops en wors, met groente en ‘n nederige broodjie daarby. Maar die anker op die spyskaart is vleis. Goeie, ordentlike, lekker vleis.

Enige reis wat begin met goeie vleis, gaan gepaard met kalmte, rustigheid, gelatenheid. En vrede. ‘n Reis sonder goeie vleis is onseker, onrustig en onoortuigend. So is ek van kleins af geleer. Daar was altyd ‘n kosmandjie in die kar. Op enige reis. En vleis was altyd in oorvloed teenwoordig – in die gedaante van frikkadelle, wors, koue nek of natuurlik biltong. Vleis het vrede en kalmte in ons kar gebring. Ek vermoed dat die Jode destyds nie goeie vleis gehad het toe hulle die uittog uit Egipte aangepak het nie. Die gevolg was dat hulle vir jarre lank murmurerend en rigtingloos in ‘n woestyn rondgedwaal het.

Eintlik is vleis ‘n soort kalmeermiddel vir Namibiërs. ‘n Tipe valium. Vleis bring vrede. Nie vrede soos ‘n witvlag na baklei nie, meer soos tevredenheid. Vrede soos saligheid. Vrede soos bedaar. Wat uiteindelik oorgaan in vrolikheid.

Vleis is ook versoenend. Brandoffers met vleis het ‘n deurslaggewende rol in die Bybel gespeel om skade te herstel, om teleurstelling te oorkom, om ‘n vernielde verhouding te herstel. Verskille word opgeklaar om ‘n braaivleisvuur. Gemoedere kalmeer oor ‘n stukkie biltong. Verdrae word gesmee oor resepte vir wors. Geloftes word afgelê tydens ‘n jag.

Waar daar nie vleis is nie, is daar ‘n gebrek aan vertroue. Eintlik verdagmakery. Selfs verraad.

Ons is vleisfiks. Ons weet nie of ons orals op ons reis vleis gaan kry nie, maar die reis het ten minste met vleis en vrede begin. Daarin berus ons.