Tibetstories oor ‘n koppie tee

Al gehoor van die bokser van Qingdao? Man, die ou wat China van hoek tot kant deur gestap het?

Toemaar, ons het ook nog nooit van hom gehoor nie, totdat ons by hom en sy gesin in Qingdao oorgebly het.

IMG_0797

Maizi (sy naam beteken letterlik wheat, wat ook die naam van sy blyplek is) is ‘n man van min woorde.

Gewoonlik sit Maizi agter sy pyp en mymer. Dalk herkou hy herinneringe van sy 5,000km fietsrit vanaf Qingdao na Tibet wat hy in 1991 as 24-jarige voltooi het. Of dalk dink hy terug aan sy staptog van 4,328km op die syroete tussen Xi’an en Kashgar. Stoksielalleen, afgelê oor vyf maande in 1994/5. Of dalk onthou hy weer daai oomblikke toe hy op die noordelikste, suidelikste, oostelikste of westelikste punt van China gestaan het.

IMG_0798

Een van Maizi se groot drome was om van hoek tot kant deur Afrika te stap. Maar dit het helaas nooit gebeur nie. Toe stap hy maar deur China, altesaam 17,800km te voet. Met net twee pare stapskoene. En hy gaan gee skool in Pulan, Tibet in 1998 en 1999. So word hy die eerste vrywillige ter wêreld wat dit doen. En hy ontmoet vir Gù in Jianxi op een van sy staptogte.

IMG_0801

Maizi was ook ‘n joernalis. En ‘n bokser. Intussen het hy die bokshandskoene opgehang. Hy skryf ook nie meer nie. Sy herberg in Qingdao is nou sy passie. Dis hier waar hy en Gù en hul dogtertjie Cici hul gaste trakteer.

IMG_0803

Orals hang sy memoralia; sy ysbyl, waterbottel, kiekies, stewels, notas, briewe. ‘n Herberg vol herinneringe.

IMG_0804

Ons kuier saam. Oor ‘n koppie tee. Luister na sy stories oor Tibet. Ruil gedagtes uit oor reis en stap. Praat oor mense, oor musiek. En nou speel die African Jazz Pioneers, Johnny Clegg en Oliver Mtukudzi ook kliphard in The Wheat se binnehof.

Maizi se tuisstad, Qingdao, het ‘n kleurryke verlede. Haar Chinese wortels gaan terug tot 6,000 jaar gelede. Pluspunte was die natuurlike hawe, die goeie viswaters, lieflike klimaat en strategiese ligging met betrekking tot Beijing, Korea en Japan.

IMG_0828

En toe kolonialiseer Duitsland die deeltjie van China in 1898.

Duitsland verander die hoofpad deur die dorpie na Marktstrasse, lê nog ‘n paar breë strate aan, vestig behuisingsareas, bou regeringsgeboue, elektrifiseer die hele plek, bou ‘n Rooms-Katolieke kerk op die een bultjie en ‘n Protestantse Kerk op ‘n ander en sorg vir ‘n paar eerstes in China soos riolering en skoon drinkwater.

IMG_0832

Die tweetoring Katolieke kerk is gebou op ‘n prominente bultjie en was waarskynlik die middelpunt van die nuwe Duitse nedersetting. Net soos die Christus Kirche in Windhoek.

IMG_0719

Maar enige Duitse nedersetting met ‘n kerk en sonder ‘n bierbrouery is nie ‘n ware Duitse nedersetting nie. So gebeur dit toe dat Horst, Jurgen en Mattias op ‘n mooi aand in 1903 oor ‘n goue koue besluit om die Tsingtao Brouery in Qingdao te vestig en só, met die hulp van die Reinheitsgebot, vir China oor te neem.

Qin

Hulle plan slag net gedeeltelik, want Duitse beheer oor Qingdao is met die eerste Wêreldoorlog beëindig. Tsingtao leef egter voort en is vandag een van die wêreld se grotes.

IMG_0787

Duitse nalatenskap was so oortuigend goed dat die Chinese dit vandag nog met passie koester. Meeste van die ou Duitse geboue het behoue gebly en word as gedenkwaardighede bewaar.

IMG_0762

‘n Vreemde statigheid word deur die twee kerke oor die stad verleen. Albei is en bly in gebruik. Ewe kordaat staan die Duitse erfenis tussen Chinese geboue, in volle gebruik.

IMG_0772

IMG_0770

En op straat, waar die aandeetplekke hul tafels en stoele uitpak, bring Tsingtao bier ‘n gemoedelike feestelikheid. Visgeregte is uiters gewild. Ek kon dit nie verhelp om, so saam met die bier, ‘n Ocean Basket gevoel te kry nie.

IMG_0774

Qingdao het ‘n huidige bevolking van net meer as 9 miljoen inwoners en is, behalwe vir Tsingtao, die tuiste van Hisense en Haier. Verder is dit een van China se bedrywigste hawens en ‘n belangrike basis van die Chinese vloot.

In 2008 was Qingdao ook deel van die Olimpiese Spele met die aanbieding van die watersportitems.

IMG_0807

Qingdao is ook China se trou-hoofstad.

Hier laat neem voornemende paartjies hul troufotos – op die kerkplein, met en sonder vuurwerke, op die strand, in kobbelstraatjies, in parke, op perde, orals. Om blyplek in Qingdao te kry, beteken dat jy pal in direkte kompetisie is met honderde voornemendes wat ook ‘n dubbelbed soek. Op enige weeksdag is daar meer bruide te sien as oor enige naweek in die Tintenpalast se tuine.

IMG_0819

IMG_0723

IMG_0711

So vertel ‘n vriend my eendag van Windhoek se stadspolisie wat ‘n klomp boemelaars onder die Jakarandabome in die Tintenpalast se tuine wakkermaak. So terloops raas een van die poliesmanne met die boemies omdat hulle so mors. Hy wys na die leë plastieksakke, bierbottels en KFC-houers. “Nee Meneer”, sê een van die boemies. “Issie ons wat so mors nie, issie bruide”.

Die bruide van Qingdao mors darem nie so erg nie.

Ons verlaat Qingdao met ‘n sak vol herinneringe. En ons nooi die Temmer van Tibet en sy gesin om eendag saam met ons te kom stap in Afrika.

Advertisements