Nou waa’s daai?

Dis die teenvraag wat jy gaan kry as jy vir ‘n Namakwalander vertel van ‘n plek waarvan hy of sy nog nooit gehoor het nie. China het sommer ‘n hele paar sulke plekke. En al was ons vir twee maande in China, is daar nog baie nou-waa’s-daai-plekke. 

Ons was meestal in die suidoostelike, digbevolkte deel van China. Bloot toevallig, omdat Shanghai ons basis was. Van Shanghai af was Nanjing, Suzhou, Wuxi, Hangzhou en Wenzhou gerieflik bereikbaar. Die verste punte uit Shanghai wat ons besoek het, was Xi’an (1,360 wes), Beijing (1,200km noord-noordwes), Qindao (700km noord), Zhangjiajie (1,300km wes-suidwes) en Guilin (1,500km suidwes).  


Afstande in China maak my nederig. Kashgar in die verre weste is 3,700km vanaf Xi’an en 5,100km uit Shanghai. Die afstand na Harbin uit Beijing is 1,200km noord en dan nog 1,200km verder noord tot by die Heihe Rivier, die grens met Rusland. Harbin en Kashgar is 5,500km van mekaar af. Ten spyte van die yslikheid van die land, is daar net een tydsone.

Die suidooste van China, dié deel waar ons was, is die digste bevolk. Die magtige Yangtze Rivier en sy kanaalsisteem is die slagaar van die deel. Al vir eeue. Die klimaat is gunstig en oppervlakwater is volop, twee belangrike bydraende faktore. Hoe nader aan die kus, hoe meer neig die klimaat na humied-subtropies. Binneland toe raak die klimaat kontinentaal – verskille tussen seisoene word toenemend groter. Dit raak ook toenemend droeër, wat beteken dat die bevolkingsdigtheid afneem binneland toe.


China het ‘n hele paar stede met meer as 10 miljoen inwoners, en ook ‘n paar met meer as 20 miljoen. Vir elke inwoner van Aranos is daar ‘n Chinese stad met meer as 1 miljoen inwoners (miskien nie rêrig nie maar vir elke Namibiër is daar 636 Chinese – dis wel ‘n feit). Windhoek, in Chinese terme, is dus ‘n kleinerige dorpie.

In vele opsigte is China indrukwekkend. Dis die tweede grootste staat in die wêreld, en daar is 22 provinsies. Landskappe wissel tussen woestyn en tropiese woude, hooglande en vloedvlaktes, grasvlaktes en sneeubedekte berge. Die gedokumenteerde geskiedenis van China gaan so 5,000 jaar terug en die Chinese ekonomie is al vir die laaste 2,000 jaar die grootste in die wêreld. China het byna nog altyd die grootste stad in die wêreld gehad – waaronder Xi’an, Hangzhou, Nanjing, Beijing en deesdae Shanghai.


Die Chinese geskiedenis, taal en kultuur is intens verweef. Ons het dit gesien in die vorm van ‘n innige respek vir erfenis, wet en orde, nasionale aspirasie en nasietrots. Goed ingesuur met ‘n waardering vir skoonheid – of dit blomme in potplanthouers langs die strate is, ‘n natuurtoneel, of ‘n standbeeld of ‘n prominente gebou – mens kry die indruk dat mooigoed kollektief waardeer word. Vandalisme en graffiti is ‘n absolute rariteit. Anti-establishment, perversiteit en eksplisitisme is ongekend.


Hoewel Chinese buitengewoon hard praat, luidrugtig nies en keelskoonmaak is Chinese eintlik nie-bakleierig en vreedsaam. Die land is al ‘n hele paar keer binnegeval deur moeilkheidsoekerige bure, en ten spyte van ‘n paar bloedige huismoleste onder mallerige emperors, het China nog nooit oorlog met ‘n ander land gaan maak nie. Is dit dalk die rede waarom die Chinese militêre spandering relatief min is in vergelying met Amerika en Rusland?


Ons is gereeld verras met die intense skoonheid van China. Of dit nou kuns, vakmanskap, vaardigheid of natuur was – ons is ‘n hele paar maal stilgemaak. Ons het gehou van die orde en die manier wat orde gehandhaaf word – geen wanorde en geen brutaliteit. Die polisie is altyd sigbaar aanwesig. En die Chinese is meesters op die gebied van skarebeheer. Daar is orals baie mense, die stasies is meestal oorvol, en die verkeer is deurgaans druk. Nogtans het ons nooit enige vorm van chaos ervaar nie. Trouens, in die twee maande het ons net een (baie) ligte motorongelukkie gesien. En, die dra van valhelms is bloot opsioneel, wat ‘n aanduiding is dat ongelukke hoogs uisonderlik is. 

Als werk, eintlik meestal vrek effektief. Waar ‘n probleem opduik, kom ‘n spoedige oplossing. Sommer oornag, in die meeste gevalle. Geen kragonderbreking, sonder-water, of nie-werkende verkeersligte. Openbare vervoer is goedkoop en stiptelik. Skoonmakers sien jy oral – in die strate, tuine en toilette. Van toilette gepraat, jy hoef nêrens lank te knyp nie, openbare toilette is volop. 

Ons het omtrent orals in hostels gebly. Hostels bied ‘n dubbelkameropsie, in die meeste gevalle met ‘n eie badkamer. Wit lakens, skoon badkamer, ventilasie en My Lief is tevrede. Nêrens het ons ‘n slegte ervaring gehad nie. Die prys het gewissel tussen R150 en R600 per nag. Ons het sover moontlik straatkos geëet, en die prys was selde meer as R120 per ete vir twee.


China is nie ‘n land vir beginner-toeriste nie. As jy nie Mandaryns onder die knie het nie, en ook min selfvertroue, moet jy anderpad kies. Inligting vir nie-Chinese besoekers is beperk. Min mense is andertalig. Besoeke aan natuurparke en nasionale gedenkwaardighede is relatief duur, maar foutloos versorg. Spyskaarte is ook meestal in Mandaryns. En nee, jy gaan nie vaalvleis of malvapoeding op die spyskaart hê nie. Taal gaan tussen jou en ‘n oplossing vir jou mediese kwaal, bankprobleme en ‘n lastigheid met jou selfoon staan. Bly by die huis en kyk TV as jy gemak verkies. En as jy vir China met Japan verwar.


Sal ons weer kom? Jaaaaa! Twee maande was te min om alles te sien en te ervaar. Daar is te veel nou-waa’s-daai plekke en die land is eenvoudig te groot en omvangryk om ten volle in twee maande te ervaar. Ons gaan die uitnodiging na Tibet sterk oorweeg …

Xi’an 

Losweg vertaal beteken Xi’an iets soos westelike vesting. Dis die hoofstad van die Shaanxi Provinsie, maar op ‘n kaart van China lê Xi’an glad nie wes nie. Om die waarheid te sê, daar is baie meer land tussen Xi’an en die westelike grens van China as tussen Xi’an en die oostelike kus van dié reusagtige land. 

Die naam het meer te doen met antieke China, wat heelwat kleiner was, toe Xi’an ‘n belangrike nodus op die syroete was. Van hier af het die syroete weswaarts gestrek tot aan die Middelandse See en ooswaarts verdeel in twee roetes, een noordwaarts na Beijing en een suidwaarts tot by Hangzhou. Xi’an was dus die laaste bekende punt (in die weste) vir ou China. 

Argeoloë het bewyse gekry van bewoonde nedersettings in die omgewing van Xi’an met ‘n ouderdom van meer as 6,500 jaar. Uit die gedokumenteerde geskiedenis blyk dit dat Xi’an 32 eeue gelede reeds die hoofstad van China, in die tyd van die Zhou Dinastie, was. Kortom, dis ‘n bitter ou stad. 


Tydens die Qin Dinastie het die Eerste Emperor (Heerser? Koning?) van China, Qin Shi Huang, ook Xi’an as hoofstad verkies. Dit was so 220 jaar voor Christus. Dit was hy wat die kleisoldate, die sogenaamde Terracotta Warriors, laat maak het. Hy was ook bekend vir allerhande verkeerde redes – hy was agterdogtig, bygelowig en magsbehep. En vreeslik lief vir homself. Hy wou nie alleen in die hiernamaals wees nie, en het die leër van kleisoldate laat maak om hom te beskerm. En die makers van die kleibeelde is almal op sy bevel vermoor. 


‘n Besoek aan Xi’an sonder om te gaan kyk na die kleisoldate is soos om Namibië te besoek sonder om vleis te eet. Die plek waar die kleisoldate is, is ‘n hele entjie buite die stad en mens moet ‘n spesiale bussie daarheen neem. 


Die vonds is terloops ontdek toe ‘n boer ‘n put gegrawe het op sy plasie in 1974. 


Dis eenvoudig lonend om ‘n gids tydens die besoek te gebruik – so spaar mens baie verdwalery en kry die noodsaaklike inligting. En die plek is ontsaglik groot. Ons het byvoorbeeld nie geweet dat opgrawings en restourasie nogsteeds gedoen word nie. Elke artefak word stukkie vir stukkie aanmekaar gelas en dan uitgestal soos wat die opgrawings aangaan. 


Liu Bang, die emperor uit die Han Dinastie, het Xi’an se belangrikheid as antieke hoofstad verstewig deur die grootste paleis op aarde hier te bou. Rondom die paleisgronde van omtrent 36,000ha het hy die oorspronklike stadsmure laat bou in 194 v.C. Hierdie mure, en ook gedeeltes van die paleis en die stad, is later verwoes. Eers tydens die Ming Dinastie, in 1370, is die stadsmure herbou. Hierdie mure staan vandag nog en blok die oustad netjies af. 


Ons het fietse gehuur en bo-op die mure reg rondom die oustad gery, ‘n afstand van omtrent 12km. Dis ‘n wonderlike manier om die stad so uit die hoogte te verken. Duckelina het dit net so geniet.

O ja, en dis nogal gerieflik om iewers in die oustad te bly – die oustad is lekker kompak en vrek interessant. 


Xi’an het ook ‘n groot getal Islamitiese Chinese. Die Moslemmark in ‘n deel van die oustad is ‘n absolute moet vir enige besoeker. 


Dis waar mens kos kry. Wees paraat vir die honger massas. 


Die goeie nuus is dat die ouens ook lief is vir skaapvleis. En sosaties braai. Die karkas word sommer op die perseel ontbeen, so dis ‘n eerlike, goeie gehalte aanbod.



Sedert die 1990s het Xi’an ‘n belangrike fokuspunt van ekonomiese ontwikkeling in China geword. Vandag woon 8,7 miljoen mense in die stad en 13,5 miljoen inwoners in die metropool. Ten spyte van sy grootte, is die stad aantreklik. 

Xi’an is ‘n merkwaardige mengsel van oud en nuut – aan die een kant is daar prominente erkenning van kultuur, kuns en geskiedenis en aan die ander kant energieke ontwikkeling en vernuwing. 


Baie moeite word gedoen met die stad as blyplek van mense – openbare ruimtes is aantreklik, stapstrate, fietspaaie en voetgangervloei is goed beplan en parke en tuine word ordentlik versorg. 


Elke aand word ‘n gratis waterkonsert aangebied – ‘n vertoning van spuitfonteine op die maat van klassieke musiek. Sommer net vir die inwoners (en besoekers) om te geniet.


Iewers het ek ‘n stukkie (Chinese?) wysheid raakgelees – ‘n teken van volhoubaarheid is as oupas vrugtebome vir hul kleinkinders plant. Ek wil graag hier byvoeg – as ‘n stad se siel rondom sy inwoners beplan word, en nie om motorkarre nie, gee ons ‘n treetjie op die pad na volhoubaarheid.