Biddag vir reën

Die Dorsland is droog. Moedeloosdroog. Dis middel-Maart en die reënseisoen het by baie plekke nog nie begin nie. Waar daar wel gereën het, verskroei die son die ywerige groenigheidjie genadeloos. Die hemel bly blou, die winde waai wes of suid, en die wolkies is sonder drif. 

Op Aranos, tussen die rooi duine van die Kalahari word ‘n biddag vir reën gereël. Kom sommer vroeg sodat ons kan stoele indra as dit moet, lui die boodskap. Ek wonder waarvoor mens bid op ‘n biddag vir reën. Vir ‘n tropiese sikloon om te wyk, vir vog uit Zambië en Angola, of vir ‘n afsnylaag in die bo-lug? Of dat boere wyser besluite moet neem oor veegetalle, vir beter vleispryse, of vir insig in hul besluite oor die aankoop van voer en voertuie en die opmaak van belastingopgawes?
Droogtes is die Dorsland se ongewenste stiefbroer. Elke dan en wan kom hy kuier. Op die ongemaklikste tye. En hy wil nie loop as hy eers ingelaat word nie. En om een of ander rede glo ons sy vorige besoek was die laaste keer. Met elke besoek sak ons weer af op ons knieë. En dan bid ons. Ons probeer weersisteme regbid. En ons kan nie verstaan hoekom ons so swaar moet kry nie. In ‘n land wat nie baie reën kry nie? In ‘n land waar die reën van die teenoorgestelde kant van die kontinent kom? In ‘n land waar alle wilde diere en plante aangepas is vir ‘n lang, droë seisoen en ‘n kort nat seisoen?
In ‘n land waar die ekonomie ook aan die opdroog is? In ‘n land waar die beplanners liewer reaktief as proaktief optree? In ‘n land waar die damme eers moet opdroog voordat ons genoop word om water wyser te gebruik? In ‘n land waar dit belangriker is om straatname te verander en standbeelde te verskuif as om hospitale sonder kokkerotte en muise te kry?
Elke maand raak die uitdagings by die skole groter en die werkloses meer. Besighede maak toe, dank mense af. Ons leiers rits rond in lugverkoelde swart karre met getinte ruite, salig onbewus van die asdromgrawers, die winkeltrolliediewe, die karwagte, en die dagloners op die straathoeke. Salig onbewus van die onbeholpenheid van staatsamptenare, die pynlike traagheid van diens, die afwesigheid van verkeerspolisie op die paaie, oorvol skole en lang rye by hospitale. Salig onbewus van die ellendes op Kalkveld, Koës en Kamanjab. Salig onbewus daarvan dat gewone huishoudings spartel, maar desondanks ook sorg vir ‘n huishulp en ‘n tuinman. 
Vir wat bid mens nou eintlik op ‘n biddag vir reën? Dalk moet ons eerder bid vir al die dinge wat verkeerd geloop het oor die 29 jaar na onafhanklikheid. 

Dak oor my kop

Om ‘n dak oor jou kop te hê, is om voor dankbaar te wees. Altans, so is ons geleer toe ons ook geleer is om te bid vir die mense agter die Ystergordyn. Eintlik was dit ‘n mondvol. Want dak was ‘n versamelnaam. Dak het die hele huis met al sy geriewe ingesluit. Lopende water, warm beddens, ligte en krag, klerekaste en bêreplek, tafels en yskaste en spense vol kos. 

Daar was nie duidelike onderskeid in my kinderverstand tussen dak en plafon nie. Ons wou graag aan die dak raak. Daar het ‘n spinnekop teen die dak gesit. Rondom die lig, teen die dak, het die goggas in die aand versamel en ‘n geitjie hulle bekruip. Plafon was die binne-dak van die huis. 
Twee weke gelede werk ek in die garage, ek wou ‘n haakplek aan een van die dakbalke maak om iets op te hang. En daar val ek van die leer af. Hospitaal toe. So vanuit die ambulansbedjie bekyk ek die dak van die voertuig. Naak, sonder bekleedsel. Net hangplekke vir druppe en buise. By die hospitaal skuif ek oor op ‘n bed met wiele, vanuit waar ek nou die hospitaal se dak bekyk. Skerp ligte, en die dak bestaan uit oninteressante blokke, elk met sy eie raam. Die gange is wyd, en ek kan die personeel se gesigte van onderaf bekyk. 
Die been is af. Maar die swelsel te groot vir onmiddellike behandeling. Operasie is onvermydelik, skroewe om die breuke te heg. Ek slaan my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom?
Takties word die nuus gebreek. Whatsapps en boodskappe vlieg rond. Sterkte. Ja-nee oor-vyftig klim mens nie meer op ‘n leer nie. Ek slaan weer my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom? Wat is die ouderdomsbeperking op leerklim, wonder ek. 
Ek leer die dak van die hospitaalkamer goed ken. Dieselfde blokke en rame. Ligte van verskillende hoeke en sterkte. Gordynreëling wat in ‘n halfmaan om my bed loop. Langs my staan ‘n piepende masjien met druppe en buise. Die laaste maal wat ek so lank aaneen opwaarts gekyk het, was as ‘n kind. Op die gras, na wit wolke wat teen die blou hemel verbyskuif. Ek begin dwarsdeur die dak kyk, na die hemel daarbo. Grensloos uitgestrek, soos ‘n groot blou sambreel.
En ek begin wonder hoeveel mense leef met ‘n dak oor hul kop. Of hoeveel mense leef sonder ‘n dak oor hul kop? En hoeveel beperk hul lewens met dakke oor hul kop. Dakke wat hul beperk om nie meer op lere te klim nie. Dakke wat hul verhoed om na die wolke te kyk. Dakke wat hul verhoed om hul oë op te slaan en te wonder waar hul hulp vandaan sal kom. 

Omumborongbonga

Hardekool. Oftewel Combretum imberbe. ‘n Semi-bladwisselende boom, maar altyd met ‘n skaduwee. Skurwe, vervormde stam, dikwels verwronge en verdraaid – stille letsels van dekades se swaarkry. Ikoniese boom van die Dorsland.
Ons sit in sy skaduwee. Dis pensioendag en ons sit saam met ‘n groot groep Himbas in sy skaduwee. Oues, kreupeles, weduwees en weeskinders, gestremdes. Dan ook ‘n paar bakkies met harde myle in sy skaduwee. Ons s’n ook. Daar is ook ‘n paar honde en ‘n boklam in sy skaduwee. Inteendeel, ons boom is vrygewig met sy skaduwee, daar bly baie oor vir nog besoekers. 
Dis versengend warm. Hier langs die D3700 tussen Opuwo en Epupa is die lewe stadiger. Alles is stadiger. Behalwe die honde se asemhaling. Ons gesels met die hoofmanne. Daar is lang stiltes, en baie luistertyd. Terwyl hulle lang gesprekke in Herero voer, luister ons. Kyk ons. Na die pienk tonge van die honde. Na die tooisels en kleding en versierings en kaal borste van die vroue. Na die een hoofman se Armani hemp. Na ‘n ander hoofman se hoedjie waarop Suid-Afrika en die Groot Vyf pryk. Na die hoofmanne se gladde geel kieries. 
Ek wonder oor ‘n klomp goed. Hoeveel ander byeenkomste was al onder die boom? Waarvan alles is die boom getuie? Watse besluite is al hier geneem? Het die Dorslandtrekkers dalk hier besluit om aan te hou trek, tot anderkant die Kunene? Hoeveel padskrapers en Administrasie Fords het al onder die boom ingetrek vir ‘n oornagkamp? Hoeveel kere het hier al ‘n Casper of ‘n Buffel of ‘n Ratel of ‘n Samil onder die boom gestaan? Hoeveel kere is hier al pensioene uitgedeel? Het Oom Ben van Zyl dalk hier gestop op sy pad om sy bekende pas na die Marienfluss te gaan bou? Wie is almal onder die boom gebore, en wie het almal hier dood gegaan? 
Ek kyk op in die takke. Tussen November en April is daar blomme in die boom. Die Omumborongbonga swyg, geen antwoord oor die komende reënseisoen, oor die storms wat hy oorleef het, oor die lang, maer jare en oor die vet en nat jare. Oor die keer toe daar amper besluit is dat die boom moet waai omdat hy te naby aan die D3700 staan. Oor die slag toe daar iemand in die takke kom skuil het en oor die slag wat iemand ‘n tou oor die dwarstak kom gooi het om homself op te hang.
Wat gaan met die Himbas gebeur? Gaan hulle uiteindelik almal westers word? Gekersten, geskoold en gesond? Geklee in Mr Price klere, met ‘n horlosie uit Edgars, en ‘n selfoon uit CNA? Almal met karre en huise en lopende water? Gaan hulle uiteindelik almal by die hospitale en die apteke en die tandartse en die oogartse hoor dat dit gesonder is om gereeld te bad, en nie net elke oggend nog ‘n lagie vet-en-oker aan te smeer nie? Gaan hulle ophou rook? Min van hulle is nog nomadies, meeste mans dra ander skoeisel as eenvoudige leersandale. Meeste het selfone. 
Daar is al hoe meer Himbas wat semi-permanent langs Namibië se toerisme-roetes soos die C35 en die C43 begin woon. As splintergroepe wat probeer verdien uit die moontlikhede wat toerisme bied. Om te bedel. Om hul klei-gesmeerde lywe en kaal borsies vir nuuskierige toeriste te wys en betaling te kry vir ‘n foto. 
Terwyl die hoofmanne op hul kieries leun, en lang stories praat, trek ‘n bottelgroen Hi-Lux in onder die skaduwee. Op die bakkie is daar sakke veelek, en drie Himba-kinders, al drie se koppe geskeer in Himba-styl. Die klap word oopgemaak en twee oumense staan nader, skuifelend. Ouma klim met die hulp van ‘n leë bierkrat op, dan kruip sy verder op die bak tot voor teen die kajuit. Oupa klim ook op. Dan word ‘n vrou sonder bene gehelp om op te klim. En een in ‘n rolstoel. Laaste word hul inkopies met die pensioengeldjies opgelaai. Sakke meel en suiker, ‘n plastiese bad. 
Die hoofmanne het eenstemmigheid bereik. ‘n Gemeenskaplike toilet by die skooltjie hier teenaan die pad is ‘n goeie idee. Almal sal daaruit baat. En ‘n grensdraad rondom die skooltjie is ook ‘n goeie idee, dit sal die kinders veilig op die skoolgronde hou. En hulle sal in die skooltjie kan leer van kleure en vorms, hoe om te lees en te skryf, van Engels, hoe om te tel en somme te maak, hoe om gesond te leef, van rigtings en swaartekrag, en van afstande, gewigte en volumes.
Toe ons ‘n uur later weer by die boom verbyry, is daar nie meer Himbas in die skaduwee nie. Net ‘n bus met toeriste wat middagete geniet. 
En so slaan die Omumborongbonga al hierdie dinge gade, swygend.

Broers

Hoewel ek vir Ernst al op die lughawe welkom geheet het, ontmoet ons eers bietjie later. Langs die Christus-kerk in Windhoek. Dis stinkwarm, en ons soek lafenis in die skadu van die kerk. Saam met karwagte en makalani-kerwers. 
Ernst vertel dat hy op die nippertjie besluit het om by die toergroep aan te sluit. Sy vrou wou saamkom, maar hul dogter is met borskanker gediagnoseer, en sy het besluit om liewer agter te bly vir ondersteuning. Ernst is hier om klarigheid oor sy broer se afsterwe te kry. Nou toer hy sommer saam, en bly dan ‘n paar dae langer aan in die Dorsland. 
Ons toer loop deur die leë suide, by die kokerbome en die Schützenhaus verby, verder na die Visrivier-afgronde, oor Seeheim na Lüderitz en dan oor Duwisib en Sesriem tot by Swakopmund. Dan na Spitzkoppe, Twyfelfontein en Etosha en terug na Windhoek. 
By die Spitzkoppe kom Ernst na my toe en verduidelik bewoë dat hy graag alleentyd wil hê. Hy wil probeer verstaan wat vir Johann so aangetrek het tot die Dorsland. Vol begrip probeer ek verduidelik dat hy nie te ver moet dwaal nie. Maar toe die nag stilraak en die Matterhorn eensaam staan op die volmaanvlaktes, besef ek dat Ernst nie terug is nie. 
Met eerste lig sien ek vir Ernst sit, weer terug by die kamp. Sy stem is skor toe hy môre-sê. Hy het iewers op ‘n klip gaan slaap. Soos Jakob van die Bybel. En verduidelik dan dat hy mos alleen wou wees. Ja goed, ek het nie gedink dat alleentyd ‘n volle nag lank sou duur nie. 
Ernst se broer het ‘n plaas kom koop in die Dorsland. Otavi se wêreld. Hy en sy vrou het lekker geboer, en later ook ‘n vakansiehuis in Hentiesbaai aangeskaf. Toe sterf sy vrou en Johann karring alleen aan. Sonder kinders het dit vir hom nie sin gemaak om terug te keer na Stuttgart nie. Die eensame stiltes van die Dorsland was nou sy heimat. En toe sterf Johann in Henties. Nou staan sy as in die gastekamer van sy buurvrou. 
Na die toer neem ons vir Ernst onderdak. Want hy moet nog in Hentiesbaai uitkom. En die gawe buurvrou van Johann kom eers ‘n dag later verby om hom saam te neem. Ernst se stories hou nie op nie. Later speel hy vir ons bekfluitjie. 
Ernst vertel dat hulle as kinders in Roemenië groot geword het, ses kinders sonder ‘n pa. Toe die armoede te groot word, het sy ma besluit om al hul besittings op ‘n perdekar te laai en terug te trek na Duitsland. Na skool moes die kinders almal gaan werk. Twee van hulle het in Australië gaan bly, ‘n ander een in Kanada, een in Namibië en net twee by Ma in Duitsland. Tog het die bande van armoede en eenvoud die familie aan mekaar vasgeknoop. So vas dat Ernst nou sy broer se as kom haal om by die see by Hentiesbaai te gaan strooi.
Ons maak ons oë toe voor ete, en ons vat hande. Toe vertel Ernst dat dit sy eerste tafelgebed in ‘n baie lank tyd is. Ernst se Ma was teen sy huwelik met sy geliefde Erika gekant. Sy is Katoliek. En toe hou hy en sy gesin op om te bid. Maar vanaand, op agt-en-sewentig, het hy weer besef hoe belangrik ‘n tafelgebed is. Dit is die gom tussen familie. En broers.

Habakuk

Ons was net 63 kinders in die skool. Van Sub A tot Standerd 5. Drie minder as die boeke van die Bybel. Drie onderwysers, een vir Sub A en B, een vir Standerd 1, 2 en 3, en die skoolhoof vir Standerd 4 en 5. Dan was daar ook ‘n juffrou wat musiek gegee het, maar sy was nie voltyds nie. Sy was ‘n asma-lyer, het so ‘n hoog-gekamde haarstyl gehad en het ‘n vaal DKW gery.

Die koshuis, blyplek vir die meeste van ons, was langsaan die skool. Ons was plaaskinders en daar was ‘n span tannies wat ons ma’s was in die week. Oor naweke was die koshuis ‘n treurige plek met stil gange en leë kamers. Die eetsaal was die hartklop van die koshuis. In die eetsaal het ons ons daaglikse brood gekry, aandgodsdiens gehou en studietye gehad, fliek en filmpies gekyk en soms konsert gehou.

Ons het jaarliks konsert gehou. Almal het deelgeneem. ‘n Vol program met ‘n lang pouse waartydens kos verkoop is en ‘n mini-veiling gehou is. Nie alle items op die konsertprogram het eweveel aandag getrek nie. Daar was die rympies en gediggies, die spreekkoor, die narre en die seuns wat kamma ballet, ‘n operasie agter ‘n wit laken, ‘n stukkie toneel en die kombuispersoneel wat ons almal in trane sing. Om te waarborg dat almal darem ‘n kans op die verhoog kry, het die tannies van die Kinderkrans gesorg dat ons elkeen ‘n bybelversie gekry het om op te sê. Elkeen het ‘n ander boek in die Bybel gehad, maar Filemon, Titus en Judas is uitgelaat om die somme te laat klop.

Jan Spies was ook in dieselfde skool. In sy tyd was daar ook skoolkonserte en het hulle ook die bybelversie-item op die program gehad. Hy het altyd vertel van die kind met die versie uit Habakuk. Die kind wou nie Habakuk wees nie, en het toe omgeruil met Deuteronomium. Maar Deuteronomium wou toe ook nie Habakuk wees nie en het toe met 2 Kronieke omgeruil. En 2 Kronieke wou ook nie Habakuk wees nie en het toe met Esra omgeruil. Esra het toe weer met Klaagliedere omgeruil. Spreuke en Prediker het geweier om te ruil. Jesaja en Jeremia ook. Maar Klaagliedere het toe met Levitikus geruil. En so het die uitruilery aangehou. Eintlik wou niemand Habakuk wees nie, en die kind met wie Habakuk toe eindig, moes met ‘n blikkie kondensmelk iemand omkoop om die nuwe Habakuk te word.

Jan Spies se storie oor Habakuk het by my vasgesteek, en ek het toe nooit vir Habakuk gereeld gelees nie. Toe lees ek weer onlangs vir Habakuk.

Habakuk het nie in ‘n gelukkige tyd geleef nie. Die Jode was in ballingskap. Almal was moedeloos, en uitkoms het na ‘n onmoontlike saak gelyk. Habakuk was net so moedeloos en het toe sy hart voor God oopgemaak. Maar hy het nie aanhou kla nie, hy het ook geluister en alles neergeskryf. En toe gewag.

Drie dinge wat ek hieruit vat.

1. Ek kan maar my hart oopmaak voor God. Ons praat oor alles. Hy is my vertroueling en ek kan enigiets met hom deel. Ek kan Hom vra wat ek wil. Dis ook in orde as ek twyfel en vrae het. Ek mag ook kla en ek mag spreektaal gebruik. Ek hoef nie filters op te sit nie, ek noem ‘n ding op sy naam. En ek praat hardop as ek kan.
2. Luister. Luister ook na myself. En skryf neer wat ek dink en hoor. Ek skryf neer, want dit gee my gedagtes orde. Maar ook omdat ek wil onthou. Partymaal kom die antwoorde as oomblikke, en dis goed om bietjie te talm, te herkou en die oomblikke op te teken. Dan kan ek die antwoord weer en weer lees.
3. Wag nou geduldig. Geduld beteken nie om net die tyd om te kry nie. Nee, dis wag met ‘n konstante vertroue. Nie sonder hoop nie. Ek glo terwyl ek wag, want geloof en geduld lê baie naby aan mekaar. Dis wag met ‘n sekere wete, ‘n vaste vertroue.

En so saam met Habakuk wag ek dat die vyeboom weer bot.

Garibaldi, die Jerries en ‘n Slapoor

Die Dorsland se ekonomie verkeer in ‘n koma. Totale ineenstorting klop genadeloos aan die deur. Herr Schlettwein en Geingob het hul hande vol met ‘n spandabelrige spul wat geen brieke het om geld te mors nie. Halfgeboude staatskonstruksies en oorgroot, leë staatsgeboue staan langs Windhoek se strate. Strate waarvan die name verander is na mense wat alweer vergete is. Soos Mugabe, Kaunda en Kabila.

Windhoek se bekende Reiter Denkmal is vervang met ‘n liederlike koffiepot, gebou deur Noord-Koreane. Langsaan staan ‘n standbeeld van Nujoma waarop die voëls oneerbiedig mis. Die tuine rondom is of vrek of onversorgd. Dieselfde spul Noord-Koreane het ook ‘n yslike nuwe, blokkerige Staatshuis straat-af opgerig. Omring met ‘n heining waarop afgryslike dekoratiewe goed geplak is. Die ou Staatshuis staan steeds, maar dié is nou omring met huise wat plat geleef is deur wagte en onbekende wesens. Zoo Garten het sy fleur verloor, die museum is verwaarloos en sy tuin is deesdae die blyplek van boemies en bedelaars.

Windhoek het ‘n mooier kant, besluit ek doelbewus. Daar is darem heelwat nuwe geboue ook, mooies daarby. Met slim waterwyse tuine. Midde afgeskeepte staatsgeboue staan daar tog hier en daar ou geboue waarvan die rentmeesters wel rekenskap met versorging vat, oortuig ek myself. En die stad het ‘n jeukerige energie. Tog bly ek tob oor die dinge waaroor ek nie beheer het nie. Hoe skilder hierdie Slapoor ‘n mooi prentjie aan 18 Jerries as hy weet dat die onderrok een of ander tyd gaan uithang? Want een of ander tyd kan hulle vra hoekom mense nog in sinkhuise bly. Hoe die skole en hospitale uitsien? Waarom blyk dit onmoontlik te wees om twee-en-‘n-half miljoen mense te versorg met beskaafde behuising, genoeg voedsel, volop werksgeleenthede, kwaliteit onderwys, en goeie mediese hulp? Hoeveel staatsamptenare is daar? En hoeveel ministeries?

Na ‘n ses-ure vertraging, danksy Qatar, arriveer 18 groot-oog Jerries. Ons bestyg Garibaldi, die rooi Mercedes bus met sy sleepwa. Sy neus staan suide toe, waar dit onverwags in die winter gereën het. Dis ook in die suide waar nou ‘n nuwe halfgeboude, halfbetaalde opgaardam staan. Maar ons gaan nie die dam kyk nie, my gaste wil Sossus se duine sien. En ek swyg oor die ontstellende politiek en ekonomie van die Dorsland as ek hulle welkom heet.

Behalwe vir ‘n paar natkolle, is die C24 eintlik heel rybaar. Die C14 tot by die Appelkoekhoofstad, Solitaire, is ook nog in ‘n gangbare toestand. Maar dan klim Garibaldi op die C19 op pad na Sesriem. Dis hoogseisoen vir die Dorsland se toerismebedryf; en toerisme staan vol in die blom. Juis hieroor verwag ek dat die paaie van ons belangrikste toerismeroetes in ‘n goeie toestand behoort te wees, maar ons kry presies die teenoorgestelde. Die arme Duitsers se tande klap van die sinkplaat, Garibaldi strompel soos iemand wat kaalvoet oor gruis loop, en die sportbra’s se bande word stywer gestel.

Garibaldi skud tot voor die Sesriem-kantore waar ons moet aanmeld. Die plek is vol en ek staan in ‘n ry agter ‘n vrou met wilde hare. Buite skyn die son uitbundig, maar binne is dit halfskemer en dit ruik benoud. Geduldig wag ons om bedien te word deur die enkele lustelose amptenaar agter die toonbank. Onmiddellik raak ek weer onstuimig. By so ‘n plek, die ingang na ‘n Wêrelderfenisgebied, behoort hier baie meer vriendelikheid en hartlike verwelkoming te wees. Hier is soveel geleentheid om blywende, goeie indrukke te skep …

IMG_1970
Sossusvlei slaan die Jerries se asems weg. Hulle trek die skoene uit, maak die hare los en laat Big Daddy se sand deur hul vingers gly. Glimlag, en staar die oneindigheid in. Ek leer ‘n nuwe woord by hulle: Selberlebnis. Om jouself te beleef. Om by jouself uit te kom. Om by jou eie siel uit te kom. Asof jy weer ‘n slag kontak met jou eie, ware werklikheid maak.

IMG_1979

Vier gemsbokke draf oor die bloedrooi sand om vir ons totsiens te sê. Ons verlaat Sossusvlei teësinnig. Op die Tsauchab se vlaktes wei springbokke en volstruise sorgeloos. Duin 45 lyk soos ‘n foutlose skildery van die Skepper. Soos die laaste lig die landskap inkleur raak my gaste nog stiller en amper bewoë. Toe Garibaldi onwillig deur die Sesriem-hek op die C19 klim, besluit ek doelbewus dat Sossus se mooi my onrustige hart onder beheer sal kry.

Sossusvlei Maart 2011 (25)

Die C19 vanaf Solitaire het min van sy oorspronklike lyf oor, hy is voos gery. En die gehuurde Toyotas van toeriste doen lustig hul deel om hierdie pad finaal te vernietig. Die stof van aankomende Toyotas en Toyotas wat die wroegende Garibaldi verbysteek, hang dik. Soos ‘n kaalvoetkind op soek na koeler grond, trek Garibaldi gereeld af vir ‘n foto-oomblik. Rus bietjie sy wiele terwyl die Jerries die mooi van die Namib kyk. Eers naby aan die kus kry ons die C19 weer in ‘n rybare toestand.

Swakopmund het ‘n vrolike somersrok op ‘n wintersdag uitgehaal. Dis oosweer, windstil en wolkeloos, en die temperatuur lê tussen 25 en 30 grade. Vygies blom, palmbome staan tjoepstil in gelid om my gaste te verwelkom. Selfs die see is glad en mak branders breek waar die pier en die Mole die oseaan klief. By die ligtoring se voete wei tarentale. Op straat sit mense buite, eet roomys, drink koffie of bier en staar Garibaldi soos ‘n vlot uit karanavaltyd aan. My gaste kyk, neem fotos, lag en gesels, en vra nuuskierig uit oor eiendomspryse. En ek besluit om liewer oor ons land se mooi as sy kwale te praat. Vergete is die slegte C19. Ons kuier om ‘n vuur by Alte Brucke. Alles is piekfyn, skoon en netjies hier. Môre gaan ons dolfyne kyk en duine ry.

Walvisbaai se waterfront is bedrywig, maar die see lyk soos ‘n dam. Oosweer sonder wind se ding. Ons boot is een van vele vanoggend, die dolfyne sal hulle swem moet ken om nie gesien te word nie. Pelikane en seemeeue vlieg die boot van agter af in, kom sit by ons op soek na ‘n bederfie. Robbe klim beurtelings op die boot, en die dolfyne speel rondom in die water. Ons eet oesters en drink vonkelwyn, my gaste is in vervoering. Na die bootvaart klim ons in vier voertuie, op pad na Sandvishawe. Verby die strandmeer met derduisende flaminke, tussen die soutpanne deur en oor die duine tot by die uitkykpunt. En ons kyk af na waar die oseaan die Namib se voete was. My gaste is stil, totdat een van hulle nuuskierig vra of daar nog hoogtepunte vir die toer oorbly.

IMG_2032

Vanuit Swakopmund vat Garibaldi koers binneland toe op die B1, Spitzkoppe toe. Die blou, toe pienk en die uiteindelike oranje van die Inselberg maak my gaste stil. Totdat die tientalle verkopers van swak-gemaakte aandenkings op die ingangspad hulle toesak. Nie een van die verkopers is goed aangetrek nie, meeste is sonder skoene en stofbesmeer en die kinders loop met snotneusies. Ek kry vrae oor die voortbestaan van armoede 28 jaar na onafhanklikheid, oor die gehalte van onderwys, oor die afwesigheid van pa’s, oor sinkhuise met wrakke langsaan. Gelukkig eindig die aanskoue van brutale ellendigheid by die ingangshek. Ons kamp naby Die Brug en steek ‘n baldadige vuur aan. Dis byna volmaan, ons eet klaar en ‘n plaaslike acapella koor tree aan vir tradisionele Damara-liedjies. Hulle sing al my neerdrukkende gedagtes oor ellende en armoede weg.

IMG_2060

Volgende is Brandberg se Witvrou en die woestynolifante. Maar ons gooi eers ‘n draai in die Erongos, en ry oor Uis. Solitaire en Uis het iets in gemeen, maar is ook radikaal verskillend. Albei is spikkels op die landkaart, albei bestaan omtrent net uit ‘n vulstasie, ‘n herberg of twee en ‘n winkel. Maar anders as op Solitaire is die armoede en plattelandse eenvoud van Uis kru en sigbaar. Want hier is ook woonbuurte. In die straat en voor die winkel trotseer my gaste die talle klipverkopers wat nie nee vir ‘n antwoord ken nie. Totdat ek hulle in kil Afrikaans moet verduidelik dat my gaste nie belangstel nie. Ek voel soos ‘n aangeklaagde as ek aan my gaste moet verduidelik dat smousery ‘n laaste uitweg is vir mense wat uit ‘n vrot skoolsisteem kom, gebonde tot hulpbehoewendheid en armgeestigheid, koersloos en onbeholpe. Onversorgde skole wat kinders blootstel aan minderwaardigheid, totale gebrek aan onderhoud, leerkragte sonder passie, leiers sonder visie.

Die C35 loop uit Hentiesbaai oor Uis na Khorixas. Dis die roete na die Brandberg se beroemde Witvrou, Voortrekker en sy kudde woestynolifante, Twyfelfontein en die ganse Damaraland. Een van die gewildste toerismeroetes in Namibië, maar dis haas onbegaanbaar. Garibaldi, saam met honderde Toyotas, sukkel voort op die C35 en toe op die D2359 totdat ons by die White Lady Lodge stilhou. Gelukkig is die bier koud, en ons sluk die dag teen ‘n volmaakte sonsondergang af. Dis volmaan, dis maansverduistering en môre gaan ons vir Voortrekker soek. Daar is leeus ook in die omgewing, dalk sien ons hulle ook.

Ons kry vir Voortrekker en sy span net anderkant die eerste riete. Hulle wei rustig rondom ons, en my gaste neem selfies met Voortrekker as agtergrond. Hy is waarskynlik die mees gekiekte olifant in die wêreld, maar hy weet nie van sy roem nie. Sy taak vir die dag is om sy kudde veilig tot by die water te lei. En terug na die groenigheid van die Ugab. Leeus kry ons nie, net hul spore.

IMG_2093

Ons kry waarskuwing dat ons nie eens moet probeer om Twyfelfontein toe te ry nie, die D2612 is te sleg. Garibaldi sal dit nie oorleef nie. En baie Toyotas met uitlandse bestuurders ook nie. So, so vreeslik tragies. ‘n Wêrelderfenisgebied, en die onbeholpenheid van iemand hou besoekers daarvan weg. Iemand wat niks van toerisme verstaan nie, iemand wat nie iets van onderhoud en versorging verstaan nie, iemand sonder passie en omgee. Al die lodges en kampplekke op pad na Twyfelfontein verloor. Mense wat deur toerisme uit ellende gehelp word, verloor. Hoe verduidelik mens so iets aan jou gaste?

Nou goed, dan gaan ons Etosha toe. Gelukkig kon ons die program aanpas, want Okaukeujo is oorvol. Ons het darem teerpad uit Khorixas tot binne Okaukeujo en Garibaldi spin soos ‘n kat toe ons arriveer. By die watergat word ons onthaal deur ‘n stuk van 40 olifante, met ‘n week-oue kleintjie daarby. Hulle speel en spat en sloes, terwyl ‘n skare springbokke, gemsbokke, wildebeeste en kwaggas moet wag. Toe die olifante weg is, kom daar ook koedoes en kameelperde nader. En toe dit donker is en almal weg is, kom die renosters een-een om te drink. My gaste wil nie kom vir aandete nie, die oomblikke is te heilig. Vanaand loop die gesprekke om die kampvuur in ‘n ander rigting as armoede, ellende en onbeholpenheid.

DSC_0091

Garibaldi verken die paadjies van Etosha. Plek-plek is dié paaie onrybaar sleg, maar genadiglik moet almal stadig ry. Ons sien leeus, renosters en hiënas, talle kameelperde en olifante, sekretarisvoëls en gompoue, en troppe kwaggas, springbokke, wildebeeste, gemsbokke en volstruise. Ek wonder hoekom die paaie nogsteeds sleg is, maande ná die reënseisoen. Maar die oordadigheid van die wild maak my frustrasie met slegte paaie gou ongedaan.

En so keer ek met ‘n uiters tevrede groep Jerries terug na Windhoek. Gaste het vriende geword, addresse en kontaknommers word uitgeruil. Ek sien hulle af, en hier en daar is ‘n nat wang. Beloftes oor ‘n opvolgkuier word gemaak.

Terwyl ek vir hulle ‘n laaste wuif gee, wonder ek oor die blywende indrukke. Sal hulle die slegte paaie en die ellendige armoede onthou? Deel hulle my bekommernis oor die koerslose rigting van ons leiers, die verlore geleenthede van die jeug wat minderwaardig opgelei is, die gebrek aan onderhoud en versorging, die onbedagsaamheid om gaste hartlik te verwelkom?

Miskien is ek onnodig ontsteld, miskien maak toerisme se geld wat stom is, tog reg wat skeef en krom is.

Swakopmund

“Geografie is te belangrik is om die heil van die vak aan geograwe oor te laat”, het iemand eendag opgemerk. Want die eintlike toepassing van Geografie is deur nie-geograwe. Die mense wat kaarte en GPSe gebruik om by hul bestemmings uit te kom, inligting opteken en verwysingspunte dokumenteer, nalees en skryf oor interessante plekke, maar veral die mense wat reis en ontdek, en sodoende geografiese verskeidenheid waardeer. Anders as ander vakke het Geografie ‘n besondere wye toepassingsveld en verskriklik baie gebruikers. Maar in die proses maak sy baie gebruikers die onderskeid tussen begrippe vaag, definisies dof, en sy terminologie verwarrend. Wat is byvoorbeeld die verskil tussen plek, dorp en stad? Of area, omgewing, gebied en streek? Soms is ‘n dorp meer ‘n plek as ‘n dorp, soms is ‘n gehuggie ‘n dorpie, en soms is ‘n plek eintlik deel van ‘n stad. Wat maak ‘n dorp, ‘n dorp, en wat maak ‘n dorp ‘n spesiale plek?

Is Swakopmund ‘n dorp, ‘n plek, of ‘n bestemming?

Hoe dit ook al sy, Swakopmund is mooi, ‘n aantreklike dorp, ‘n baie spesiale plek – hoewel dit onduidelik is waarom sy besoekers en inwoners so sê. Is dit dalk die uitleg, ou geboue, geskiedenis, rustigheid, of die sjarme en gevoel van die plek? Of is dit omdat die strate skoon is, onderhoud gedoen word, die mense vriendelik en hulpvaardig is en verskeie tale praat, of omdat daar orde en veiligheid is en besoekers welkom voel. Is dit omdat sy winkels, eetplekke en besienswaardighede soveel gerief en ‘n goeie lewensstandaard bied? Of is dit die somtotaal van mense en plek wat Swakopmund spesiaal maak?

Swakopmund Julie 2012 (21)

Ek ontmoet iemand oor ‘n koppie sterk koffie en ‘n belegtes Brötchen in een van Swakopmund se eetplekkies. By die buitenste tafel vul drie manne blokkiesraaisels in terwyl hulle saam koffiedrink. Dis nege-uur in die oggend. Twee vrouens ry op fietse verby ons, op pad om inkopies te gaan doen. Oorkant verf munisipale werkers randstene. Wat maak Swakopmund mooi en gewild, wonder ek? Hoekom WIL mense hier bly? Hoekom WIL mense Swakopmund besoek? Hoekom groei en blom dié dorp terwyl ander dorpe kwyn? Wat bepaal besoekers en inwoners se belewenis van Swakopmund?

As ‘n nedersetting is Swakopmund betreklik jonk – sy Duitse wortels gaan net dertien dekades terug – maar Duitsland het ‘n merkwaardige kultuurerfenis hier nagelaat. Hul bote het hier vasgemeer, die Schutztruppe het hier aan wal gegaan, en paaie en ‘n spoorlyn is van hieraf na die binneland aangelê.

Na omtrent net drie dekades was die Duitse beheer oor. Met die Eerste Wêreldoorlog het die Unietroepe van Suid-Afrika Swakopmund en die hele land oorgeneem by Duitsland.

Swakopmund Julie 2012 (12)

Vasgedruk tussen die Namib woestyn en die koue Atlantiese Oseaan het Swakopmund geveg om oorlewing. Net dertig kilometer suid het Walvisbaai met ‘n natuurlike hawe die bloeiende middelpunt van die vis- en hawebedrywighede geword. Maar Swakopmund het sy rol as handelsnodus behou, danksy ‘n paar belangrike nywerhede insluitende die Hansa Brauerei, sout- en ghwano-werke, inmaakbedrywe, metaal en houtwerkbedrywe en leerwerke. Ook was die skole van Swakopmund goeie rede vir oorlewing.

Mettertyd het Swakopmund egter ‘n al hoe gewilder vakansiebestemming en aftreeplek geword – binnelanders het die warm somermaande geruil vir konstante koel weer aan die kus. In die sewentigerjare het die koms van Rössing-myn verdere voortbestaan vir die dorp verseker.

Vandag is Swakopmund se kosmopolitaanse samestelling een van sy groot bates. Jy hoor omtrent al die verskillende tale van Namibië se twee-en-‘n-half miljoen inwoners, en sommer heelwat uitlandse tale op straat. Swakopmund het ook wyd uitgebrei, vandag is Myl 4 deel van die dorp. Tussenin lê Vogelstrand, Hage Heights en Vineta. Tamariskia en Mondesa lê op die anderkant van die pad na Hentiesbaai. En aan die suidekant het Kramersdorp gekruip tot by Martin Luther. Verder aan is die plotte en die Rossmund-ontwikkeling op die oewer van die Swakop Rivier.

Besoekers bly stroom na Swakopmund om ‘n Eisbein, spätzle, rösti of bratkartoffeln te eet en af te sluk met ‘n Stiefel bier in die Brauhaus. Hulle drink koffie by Café Treffpunkt of Slowtown, blaai deur die koloniale geskiedenis by Die Muschel en Swakopmunder Buchhandlung, en kyk na memoralia in Peter’s Antiques langsaan Kücki’s Pub of in die Swakopmund Museum. Hulle eet ontbyt by die Village Café of by Raith’s Deli en gaan drink bier op die stoep van die Strand Hotel langs Die Mole, of op die sand by Tiger Reef. En eet namiddag-koffie-en-koek by Café Anton onder die palmbome op die punt van Bismarkstrasse. Saans gaan eet hulle vis by The Tug of kyk hoe die dag spoed verloor by ‘n tafel teen die venster in die Jetty 1905 Restaurant.

Besoekers sing lofliedere oor die kampplekke van Alte Brücke, of hul heerlike verblyf by Gondwana se Delight, of die Entertainment Hotel, Sweizerhaus, Hotel Eberwein, Villa Margherita, Pension Rapmund of Hansa Hotel. Hulle stap in die stil strate rond en neem fotos van Hohenzollern Haus, die Evangelische Kirche, die Alte Kaserne, die Altes Amtsgericht, Woermann Haus, die palmlaning, Staatshuis, Swakopmund se monumente, die ou Gevangenis-gebou, die gerestoureerde Bahnhof-gebou, of die ligtoring. By Konditorei Przybylski koop hulle Duitse fyngebak en Swakopmund Vellies by African Leather. Hulle besoek Kristall Galerie, Omeg Haus en die Slangpark. Hulle gaan ry met kwad-fietse of dikwielfietse op die sandduine, of gaan saam met Tommie soek na die Klein Vyf in die duine, gaan kyk dolfyne en flaminke in Walvisbaai, klim Duin Sewe, gly op ‘n bord teen ‘n duin af, spring valskerm oor die woestyn of neem ‘n vlug langs die kus of na Sossusvlei. Of hulle kom visvang.

Swakopmund Julie 2012 (20)

Vakansie in Namibië is nie volledig sonder ‘n besoek aan Swakopmund nie. En Namibië sonder Swakopmund is ondenkbaar. Die vreemde kombinasie van kulture en invloede wat in Swakopmund bymekaarkom gee ‘n duidelike weergawe van die Dorsland se geheim om dinge te laat werk – mooi word nog waardeer, hier is respek vir ons geskiedenis, daar is orde en versorging, en hier is passie oor ons plek. Maar bowenal besef ons – daar is eenheid in verskeidenheid.

Omgewingsleer

Dis vandag omgewingsdag. Die eerste week van Junie is omgewingsweek. En die eerste Sondag van Junie is ekologie-Sondag. 
Tyd om na te dink. Meer belangrik – ons word opgeroep om iets aan die omgewingskrisis te doen. 
Die christendom, en meer spesifiek Die Bybel, word nogal dikwels geblameer vir ‘n reuse-aandeel in die omgewingskrisis. Die rede hiervoor is die lang geskiedenis waarin die mens homself verhewe beskou het bo die res van die skepping; volgens Genesis 1 “om te heers en te onderwerp”. Tegnologie en wetenskap het gegroei uit dieselfde beginsel. En die uitbreiding van die christendom is gestaaf met dieselfde drif, gemik op wêreldwye doelwitte: “Gaan na alle nasies …” Kolonialisering en kerstening was inderdaad ‘n dodelike kombinasie, die brutale voorlopers van globalisering. 
So diepgewortel is ons omgewingsbeskouing op Bybel-interpretasies dat die christendom tot onlangs (in geologie-terme, tot ‘n oomblik gelede) nog geglo het dat die aarde plat is, dat alle planete om die aarde wentel en dat daar nie iets soos die oerknal of evolusie bestaan nie. 
In die laaste dertig jaar het die omgewingskrisis bietjie nader aan ons lyf gekom. Ons weet nou meer van die krimping van reënwoude, die uitsterwing van spesies, aardverwarming en klimaatsverandering, en tekorte aan drinkwater as ooit tevore. Ja, die voorblaaie van koerante, nuuskanale op TV en deesdae se sosiale media het hul deel gedoen. Die boodskap kom nie noodwendig ewe doeltreffend en wetenskaplik korrek by almal uit nie, maar ons weet darem meer as tevore. 
Desondanks lewe baie mense asof hulle onverbonde is tot die natuur. Asof die skepping net ‘n terloopse ruimte is waarbinne die drama van christelike verlossing plaasvind. Baie christene klou vas aan die ontvlugtingsidee dat ons net moet sterf om van hierdie aardse tranedal, die ou bose wêreld, ontslae te raak. Terwyl ons as verganklike wesens hier op die ongelukkige planeet leef verander en vernietig ons, gebruik ons en mors ons vuil, en wis ons uit en tem ons. Want ons gaan mos eendag dood en dan gaan ons terug na die paradys toe. Asof ons aksies onverantwoordbaar is. En as ons praat van God die Skepper, beduie ons vaagweg na bo, na ‘n onsigbare misterie, na ‘n onverklaarbare volmaakte eindbestemming van ons aardse bestaan. Asof God homself verwyder het van ons aardse werklikheid, want Sy skeppingsaandeel is mos in Genesis 1 afgehandel. 
Ons dra egter ‘n baie groter verantwoordelikheid as om net “die koninkryk uit te brei”. Die omgewingsdebat is so naby aan ons soos die gasse wat ons inasem, die water wat ons drink, die verpakking van ons produkte, die chemikalieë in ons tandepasta, bestralings en mikrogolwe uit toestelle soos selfone en die eet van eiers uit ‘n battery-hoenderplaas. En die omgewingsdebat gaan nie net oor die besoedeling van die oop oseaan, die smelt van ys in Groenland, die opdroog van die Aral of die uitsterf van Madagaskar se lemurs nie. 
Elke keuse en daaglikse besluit het iets met die omgewingsdebat te doen. Die omgewingskrisis het iets te doen met armoede en werkloosheid, met VIGS en die siektes van ons tyd, met korrupsie en onvrede, met ongelykheid en onkunde, met ergeloosheid en agtelosigheid, met verstedeliking, plakkery en onbeheersde bevolkingsgroei, met spandabelrigheid en samedromming, met rommelophoping en geraasbesoedeling. Terselfdertyd groei die gat in die osoonlaag, klimaatspatrone verander, habitatte krimp en raak gefragmenteerd, spesies verdwyn, en die gaping tussen ryk en arm raak al hoe groter. 
Ons kan onsself nie verwyder van hierdie werklikhede nie, al lewe ons in ‘n wêreld waar ons kan gaan waar ons wil, koop wat ons wil, wees wat ons wil, sê wat ons wil. Ons is mos “vry”. Tog het ons vryheid meer te doen met materiële aptyt en verbruikersvryheid as met gelykheid, genoegdheid en balans. Ons verwar vryheid met onbeperkte besteding en onafhanklike finansiële vermoëns en ons sien nie die verbintenis met ‘n beter toekoms raak nie. 
Nie almal kan ‘n renostertjie aanneem of ‘n plantasie bome borg nie. Jy hoef ook nie bome te gaan plant vandag nie. Maar jy kan tweekeer dink oor die oordadige verpakking by die kitskoswinkel, die plant van ‘n eksotiese plant of die aanhou van ‘n papegaai, of die gebruik van ‘n jel om jou krullebol onder beheer te kry. 
Ons is meer as rentmeesters van God se skepping – ons is deel van Sy huishouding hier op aarde. Daarom moet ons ook bereid wees om op te ruim, groener en slimmer alternatiewe te soek, en ons uit te spreek teen swak besluite. Spaar water, sê nee vir die plastieksak by die winkel, ry fiets saam met jou kinders, maak jou eie kompos, plant inheems, gaan kamp onder die sterre en begin om glashouers en papier te hergebruik. 
Meer belangrik is om die ekologies wyshede van Die Bybel te herontdek. Behalwe dat jy ‘n groener mens gaan word, gaan dit jou dalk help in debatte oor aborsie, selkloning en die etiek van sosiale media. 

Binne in Binnelandse Sake

Vandag is hier min mense, dink ek met die instap. Geen rye nie, net ‘n enkele persoon of drie wat sit op die bankie, wagtende. Agter die glasgordyn is daar meer mense as daarvoor. Hulle lyk almal besig, al maak die dowwe glans en die vetkolle op die glas dit moeilik om die beamptes se gesigte te herken.

Wat is die doel van ‘n glasgordyn? Mens kommunikeer swak deur die enkele gat wat gewoonlik op die verkeerde hoogte sit. Die glas is ook gewoonlik vuil en die prente of notas daarop is omtrent altyd skeef geplak. Maar die slegste ding van ‘n glasgordyn is dat dit skeiding veroorsaak. Verwydering. Geen kontak.

Nietemin, vandag is al die hokke agter die glasgordyn beman en daar kom musiekklanke van agter die glasgordyn. “How great Thou art” speel kliphard uit ‘n selfoon. Ek groet vriendelik en verduidelik dat ek vir ‘n nuwe paspoort aansoek doen. Terwyl ons besig is met die papierwerk, vra ek uit oor die musiek.

“Ons leer die woorde Meneer, want môre is dit begrafnis van iemand wat voorheen saam met ons gewerk het. Sy was lief vir dié lied en ons wil dit vir haar sing by die graf.”

En so leer ek vir Sharon, Rosalia en Lotte ken. Ons gesels in Afrikaans, oor verlof en werksbevrediging, oor vriendelikheid en omgee, en die tydelikheid van die lewe. Sharon maak die papierwerk klaar en sê dan dat ek vyf werksdae moet toelaat. Dis nou om die aansoek in Windhoek te kry, die nuwe paspoort uit te reik en dan die nuwe paspoort af te lewer in Swakopmund. Binnelandse Sake het geweldig verbeter, dink ek met die uitstap.

Twee dae later kry ons tyding dat ons dringend Suid-Afrika toe moet gaan. Weer is ek by Sharon om te hoor oor die vordering met my paspoort. Sy skakel ‘n nommer op haar selfoon. Dan verduidelik sy dat ek geen bekommernis moet hê nie, ek sal dit sommer direk in Windhoek kan optel. Sy gee vir my die selfoonnommer en belowe my dat die paspoort gereed sal wees. Wonderwerke gebeur dalk nog, dink ek.

Op pad Windhoek toe bel ons twee maal die nommer om te vertel hoe ons vorder op pad, en leer vir Max oor ‘n selfoon ken. Ons sien dat ons dalk eers na vyf in Windhoek kan wees, sal hy dan nog op kantoor wees? Geen probleem, ek wag vir julle, verseker hy ons.

Ons kom enkele minute voor vyf in Windhoek aan. Ek moet ver parkeer want die verkeer is woelig dié tyd van die dag. Weer bel ek vir Max. Hy wag vir my. Met die instap by Binnelandse Sake sien ek dat die hokke agter die glasgordyn leeg is, almal is al huistoe. Max kom by ‘n sydeur uit. ‘n Kaalkop man met ‘n bril. Hy kom na my toe met sy regterhand oop en ‘n groen boekie in sy linkerhand. Sy handdruk is ferm. Dan simpatiseer hy met my en wens ons ‘n voorspoedige reis toe met sy hand op my skouer. Wonderwerke gebeur nog, dink ek toe ek met die groen boekie daar uitstap.

Skielik voel ek beter oor die staatsdiens. Veral oor Binnelandse Sake. Hoe bevredigend moet dit nou wees om by die swartskaap van die staatsdiens te werk? En jou werk met soveel toewyding te doen? Maar die omgee en menslikheid maak my stil. En gee my baie padkos terwyl oor die leë vlaktes van die suide gly.

‘n Week of drie gelede het ek weer met Binnelandse Sake te doen. Ek moet ‘n apostiel kry. Dis ‘n dokument wat bevestig dat ‘n ander dokument eg is, in hierdie geval my verlengde geboortesertifikaat. So beland ek weer in Windhoek, want ‘n apostiel kan net in die hoofstad uitgereik word. Deur Justisie. Maar Justisie vind ‘n probleem met my dokument – die naam van die persoon wat die verlengde geboortesertifikaat uitgereik het, is nie op die dokument nie. Goed, ek sal na Binnelandse Sake in Windhoek gaan, dalk kan hulle my help om die eienaar van die handtekening op te spoor. En weer beland ek voor ‘n glasgordyn.

Ek verduidelik my uitdaging aan ‘n jong lenige lat met ‘n groot swartraambril. Ek vra of hy dalk die selfoonnommer van enigiemand in die Swakopmund-kantoor het, want dan kan ons mos ‘n foto van die handtekening whatsapp om te vra wie die eienaar is. Hy neem die dokument en verdwyn agter ‘n deur. Na vyf minute kom hy terug. Ons plan het nie gewerk nie, hy sal liewer ‘n nuwe verlengde geboortesertifikaat uitreik, en hy sal sy naam as verwysing op die dokument invul. Wonderwerke gebeur nog, dink ek.

Met my nuwe verlengde geboortesertifikaat en die ingevulde aansoekvorm vir die apostiel is ek terug na Justisie. Maria verduidelik dat aansoeke net eintlik in die oggend gedoen word, maar sy sal myne inneem. Ons gesels, en ek vertel hoe gaaf die lat by Binnelandse Sake was. Sy is net so vriendelik en belowe dat sy haar beste sal doen om die dokument geteken te kry, gewoonlik neem dit drie dae om ‘n apostiel af te handel.

Oor twee dae is ek terug by haar, want ons moet terug Swakopmund toe. Nee sy het nog nie die getekende apostiel uit die minister se kantoor ontvang nie, maar sy gaan desondanks sekermaak. En na vyf minute is sy terug, met ‘n nat nuwe apostiel in haar hand, rooi seël en al. Weer is ek oortuig dat wonderwerke daagliks gebeur. Water verander nie altyd in wyn nie, maar soms word nuwe dokumente uitgereik ten spyte van alle onwaarskynlikhede. Wonderwerke gebeur nie altyd ná ‘n skietgebed of ná ‘n beplande aksie nie. Nee, dit gebeur as gevolg van die onverstaanbaarheid van genade.

Maar eintlik gaan wonderwerke oor ‘n gesindheid, ‘n aanslag, die toon waarmee jy met ander mense praat. En as jy ook How great Thou art met oorgawe kan sing, maak dit alledaagse wonderwerke moontlik, dink ek.

Then sings my soul, my Saviour God, to Thee

How great Thou art, how great Thou art

 

Opus magnum

Daar is iets heiligs aan koormusiek. Veral op ‘n Sondagoggend, wanneer die dag nog jonk en die week nog vars is. Asof die lewe oorbegin. Jy nog ‘n kans kry. En as ek die volume oopdraai en die skuifdeure oopmaak, kom die eerste sonstrale saam met die geure van die tuin in, sien ek nuwe blomme raak, en smaak die eerste koppie koffie lekkerder as gewoonlik. 

Dalk was dit Fanie Smit se program voor die oggenderediens op die radio wat ‘n vroeë, onbewuste waardering vir koormusiek by my gevestig het. Fanie se stem en saaklikheid het respek afgedwing. Hy het breedvoerig verduidelik van die Walliese Mannekoor en die Mormoonse Tabernakelkoor, uitgewy oor elke komponis se lewe, woorde gebruik soos opus en majeur, en dan ‘n gedeelte van die oorspronklike beryming vertaal in keurige Afrikaans. Byna elke snit het hy afgesluit met ‘n saaklike “Dit was die beroemde … met hul vertolking van …”
Naas Fanie Smit het die tannies van die skoolkoor ook ‘n vormende rol in my lewe gespeel om koormusiek te waardeer. Hierdie tannies was bedrewe agter ‘n klavier, het my geleer van aksent en toon, hoe om dees en tees uit te spreek, en kon hulle monde besonder groot rek sonder om ‘n enkele klankie te laat uitkom. En hulle het my geleer van oogkontak, orde en toewyding.
Nie een van die skoolkore waarvan ek deel was, het ooit groot hoogtes bereik nie. Al het ek klavier geneem, het ek ook nooit verder as “Liewe maan” gevorder nie. Ek is ook nooit raakgesien as beleggingsmateriaal vir die Drakensbergse Seunskoor nie. My kennis van koormusiek, en eintlik klassieke musiek, het ook ontstellend min gebly. Ek raak maklik deurmekaar met die style, die tydperke en die komponiste van koormusiek. Al weet ek darem dat ‘n stukkie Orff destyds ingespan is om Old Spice te adverteer.
Nogtans beweeg koormusiek en klassieke musiek my. Dit maak my siel lig. Beswym my effens. Neem my gedagtes na waters waar rus is, laat my sweef na groen weivelde. 
Koormusiek het ook baie gehelp om by my ‘n liefde vir ander musiek te kweek. Al kan ek geen instrumente speel nie, en sukkel ek nog elke keer om middel C op die klavier te kry, is ek versot op musiek. En so terloops, is daar al ooit musiek mooier as Vivaldi se Lente geskryf?
Musiek laat my alledaagse dinge opnuut waardeer, kry my gou-gou in ‘n ander bui, en verskaf partymaal net genoeg vonk om ‘n besluit te neem. Musiek het ook ‘n manier om in my geheue vas te brand – ek kan byvoorbeeld nog die plek en reuk onthou toe ek Abba se I have a dream die eerste keer gehoor het. 
Musiek laat my ook peins. 
Onlangs is ons Brandberg toe, deur die Messum krater skuins agter Hentiesbaai. Terwyl ons tussen die verskrompelde welwitschias op die kaal Namibvlaktes ry, sweef die klanke van Dire Straits se Local Hero in die kajuit. En toe kry eenvoud nog ‘n betekenis by, vir my altans.
Namibië het kol-kol reën gehad, maar groot gedeeltes van die Dorsland is nog horingdroog. Die tekens is sleg – April en Mei is nie normaalweg goeie reënmaande nie. Ons ry om te gaan kuier by familie. Hulle het reën gehad en is bitter dankbaar daarvoor. Op pad daarheen lyk dit plek-plek droewig. Ons luister na David Kramer se Hemel en Aarde. Hy sing van die Verlosser en ‘n gebroke verbond. Oor droogte, oor kos sonder geur, oor ‘n afgeskeepte aarde, oor evolusie, en oor Oom Kallie. David se musiek is hartseer, eenvoudig, en diep. Gepas vir die oomblik. 
Saam met David wonder ek ook waarom ons vergeet om te waardeer. Hoekom wil ons so graag skel en stry? Hoekom skeep ons so maklik af? Hoekom is die mensdom so dom, dom, dom, dom?