Binne in Binnelandse Sake

Vandag is hier min mense, dink ek met die instap. Geen rye nie, net ‘n enkele persoon of drie wat sit op die bankie, wagtende. Agter die glasgordyn is daar meer mense as daarvoor. Hulle lyk almal besig, al maak die dowwe glans en die vetkolle op die glas dit moeilik om die beamptes se gesigte te herken.

Wat is die doel van ‘n glasgordyn? Mens kommunikeer swak deur die enkele gat wat gewoonlik op die verkeerde hoogte sit. Die glas is ook gewoonlik vuil en die prente of notas daarop is omtrent altyd skeef geplak. Maar die slegste ding van ‘n glasgordyn is dat dit skeiding veroorsaak. Verwydering. Geen kontak.

Nietemin, vandag is al die hokke agter die glasgordyn beman en daar kom musiekklanke van agter die glasgordyn. “How great Thou art” speel kliphard uit ‘n selfoon. Ek groet vriendelik en verduidelik dat ek vir ‘n nuwe paspoort aansoek doen. Terwyl ons besig is met die papierwerk, vra ek uit oor die musiek.

“Ons leer die woorde Meneer, want môre is dit begrafnis van iemand wat voorheen saam met ons gewerk het. Sy was lief vir dié lied en ons wil dit vir haar sing by die graf.”

En so leer ek vir Sharon, Rosalia en Lotte ken. Ons gesels in Afrikaans, oor verlof en werksbevrediging, oor vriendelikheid en omgee, en die tydelikheid van die lewe. Sharon maak die papierwerk klaar en sê dan dat ek vyf werksdae moet toelaat. Dis nou om die aansoek in Windhoek te kry, die nuwe paspoort uit te reik en dan die nuwe paspoort af te lewer in Swakopmund. Binnelandse Sake het geweldig verbeter, dink ek met die uitstap.

Twee dae later kry ons tyding dat ons dringend Suid-Afrika toe moet gaan. Weer is ek by Sharon om te hoor oor die vordering met my paspoort. Sy skakel ‘n nommer op haar selfoon. Dan verduidelik sy dat ek geen bekommernis moet hê nie, ek sal dit sommer direk in Windhoek kan optel. Sy gee vir my die selfoonnommer en belowe my dat die paspoort gereed sal wees. Wonderwerke gebeur dalk nog, dink ek.

Op pad Windhoek toe bel ons twee maal die nommer om te vertel hoe ons vorder op pad, en leer vir Max oor ‘n selfoon ken. Ons sien dat ons dalk eers na vyf in Windhoek kan wees, sal hy dan nog op kantoor wees? Geen probleem, ek wag vir julle, verseker hy ons.

Ons kom enkele minute voor vyf in Windhoek aan. Ek moet ver parkeer want die verkeer is woelig dié tyd van die dag. Weer bel ek vir Max. Hy wag vir my. Met die instap by Binnelandse Sake sien ek dat die hokke agter die glasgordyn leeg is, almal is al huistoe. Max kom by ‘n sydeur uit. ‘n Kaalkop man met ‘n bril. Hy kom na my toe met sy regterhand oop en ‘n groen boekie in sy linkerhand. Sy handdruk is ferm. Dan simpatiseer hy met my en wens ons ‘n voorspoedige reis toe met sy hand op my skouer. Wonderwerke gebeur nog, dink ek toe ek met die groen boekie daar uitstap.

Skielik voel ek beter oor die staatsdiens. Veral oor Binnelandse Sake. Hoe bevredigend moet dit nou wees om by die swartskaap van die staatsdiens te werk? En jou werk met soveel toewyding te doen? Maar die omgee en menslikheid maak my stil. En gee my baie padkos terwyl oor die leë vlaktes van die suide gly.

‘n Week of drie gelede het ek weer met Binnelandse Sake te doen. Ek moet ‘n apostiel kry. Dis ‘n dokument wat bevestig dat ‘n ander dokument eg is, in hierdie geval my verlengde geboortesertifikaat. So beland ek weer in Windhoek, want ‘n apostiel kan net in die hoofstad uitgereik word. Deur Justisie. Maar Justisie vind ‘n probleem met my dokument – die naam van die persoon wat die verlengde geboortesertifikaat uitgereik het, is nie op die dokument nie. Goed, ek sal na Binnelandse Sake in Windhoek gaan, dalk kan hulle my help om die eienaar van die handtekening op te spoor. En weer beland ek voor ‘n glasgordyn.

Ek verduidelik my uitdaging aan ‘n jong lenige lat met ‘n groot swartraambril. Ek vra of hy dalk die selfoonnommer van enigiemand in die Swakopmund-kantoor het, want dan kan ons mos ‘n foto van die handtekening whatsapp om te vra wie die eienaar is. Hy neem die dokument en verdwyn agter ‘n deur. Na vyf minute kom hy terug. Ons plan het nie gewerk nie, hy sal liewer ‘n nuwe verlengde geboortesertifikaat uitreik, en hy sal sy naam as verwysing op die dokument invul. Wonderwerke gebeur nog, dink ek.

Met my nuwe verlengde geboortesertifikaat en die ingevulde aansoekvorm vir die apostiel is ek terug na Justisie. Maria verduidelik dat aansoeke net eintlik in die oggend gedoen word, maar sy sal myne inneem. Ons gesels, en ek vertel hoe gaaf die lat by Binnelandse Sake was. Sy is net so vriendelik en belowe dat sy haar beste sal doen om die dokument geteken te kry, gewoonlik neem dit drie dae om ‘n apostiel af te handel.

Oor twee dae is ek terug by haar, want ons moet terug Swakopmund toe. Nee sy het nog nie die getekende apostiel uit die minister se kantoor ontvang nie, maar sy gaan desondanks sekermaak. En na vyf minute is sy terug, met ‘n nat nuwe apostiel in haar hand, rooi seël en al. Weer is ek oortuig dat wonderwerke daagliks gebeur. Water verander nie altyd in wyn nie, maar soms word nuwe dokumente uitgereik ten spyte van alle onwaarskynlikhede. Wonderwerke gebeur nie altyd ná ‘n skietgebed of ná ‘n beplande aksie nie. Nee, dit gebeur as gevolg van die onverstaanbaarheid van genade.

Maar eintlik gaan wonderwerke oor ‘n gesindheid, ‘n aanslag, die toon waarmee jy met ander mense praat. En as jy ook How great Thou art met oorgawe kan sing, maak dit alledaagse wonderwerke moontlik, dink ek.

Then sings my soul, my Saviour God, to Thee

How great Thou art, how great Thou art

 

Advertisements

Opus magnum

Daar is iets heiligs aan koormusiek. Veral op ‘n Sondagoggend, wanneer die dag nog jonk en die week nog vars is. Asof die lewe oorbegin. Jy nog ‘n kans kry. En as ek die volume oopdraai en die skuifdeure oopmaak, kom die eerste sonstrale saam met die geure van die tuin in, sien ek nuwe blomme raak, en smaak die eerste koppie koffie lekkerder as gewoonlik. 

Dalk was dit Fanie Smit se program voor die oggenderediens op die radio wat ‘n vroeë, onbewuste waardering vir koormusiek by my gevestig het. Fanie se stem en saaklikheid het respek afgedwing. Hy het breedvoerig verduidelik van die Walliese Mannekoor en die Mormoonse Tabernakelkoor, uitgewy oor elke komponis se lewe, woorde gebruik soos opus en majeur, en dan ‘n gedeelte van die oorspronklike beryming vertaal in keurige Afrikaans. Byna elke snit het hy afgesluit met ‘n saaklike “Dit was die beroemde … met hul vertolking van …”
Naas Fanie Smit het die tannies van die skoolkoor ook ‘n vormende rol in my lewe gespeel om koormusiek te waardeer. Hierdie tannies was bedrewe agter ‘n klavier, het my geleer van aksent en toon, hoe om dees en tees uit te spreek, en kon hulle monde besonder groot rek sonder om ‘n enkele klankie te laat uitkom. En hulle het my geleer van oogkontak, orde en toewyding.
Nie een van die skoolkore waarvan ek deel was, het ooit groot hoogtes bereik nie. Al het ek klavier geneem, het ek ook nooit verder as “Liewe maan” gevorder nie. Ek is ook nooit raakgesien as beleggingsmateriaal vir die Drakensbergse Seunskoor nie. My kennis van koormusiek, en eintlik klassieke musiek, het ook ontstellend min gebly. Ek raak maklik deurmekaar met die style, die tydperke en die komponiste van koormusiek. Al weet ek darem dat ‘n stukkie Orff destyds ingespan is om Old Spice te adverteer.
Nogtans beweeg koormusiek en klassieke musiek my. Dit maak my siel lig. Beswym my effens. Neem my gedagtes na waters waar rus is, laat my sweef na groen weivelde. 
Koormusiek het ook baie gehelp om by my ‘n liefde vir ander musiek te kweek. Al kan ek geen instrumente speel nie, en sukkel ek nog elke keer om middel C op die klavier te kry, is ek versot op musiek. En so terloops, is daar al ooit musiek mooier as Vivaldi se Lente geskryf?
Musiek laat my alledaagse dinge opnuut waardeer, kry my gou-gou in ‘n ander bui, en verskaf partymaal net genoeg vonk om ‘n besluit te neem. Musiek het ook ‘n manier om in my geheue vas te brand – ek kan byvoorbeeld nog die plek en reuk onthou toe ek Abba se I have a dream die eerste keer gehoor het. 
Musiek laat my ook peins. 
Onlangs is ons Brandberg toe, deur die Messum krater skuins agter Hentiesbaai. Terwyl ons tussen die verskrompelde welwitschias op die kaal Namibvlaktes ry, sweef die klanke van Dire Straits se Local Hero in die kajuit. En toe kry eenvoud nog ‘n betekenis by, vir my altans.
Namibië het kol-kol reën gehad, maar groot gedeeltes van die Dorsland is nog horingdroog. Die tekens is sleg – April en Mei is nie normaalweg goeie reënmaande nie. Ons ry om te gaan kuier by familie. Hulle het reën gehad en is bitter dankbaar daarvoor. Op pad daarheen lyk dit plek-plek droewig. Ons luister na David Kramer se Hemel en Aarde. Hy sing van die Verlosser en ‘n gebroke verbond. Oor droogte, oor kos sonder geur, oor ‘n afgeskeepte aarde, oor evolusie, en oor Oom Kallie. David se musiek is hartseer, eenvoudig, en diep. Gepas vir die oomblik. 
Saam met David wonder ek ook waarom ons vergeet om te waardeer. Hoekom wil ons so graag skel en stry? Hoekom skeep ons so maklik af? Hoekom is die mensdom so dom, dom, dom, dom?

Liewe Pa

Liewe Pa

Die Kaap is nogsteeds droog. Kapenaars bid vir reën, al is die Kaap ‘n winterreënvalstreek. Hulle bid ook dat Dag Zero nie moet kom nie, maar hulle bid nie vir beter beplanning nie. Hulle spaar darem baie water en die meeste het aangepas by die werlikheid dat water ‘n beperkte hulpbron is. Nou het hulle ook opgaartenks, waterslimtuine, kleiner toiletbakke en hulle hergebruik ook nou gryswater. En Kapenaars praat nou ook van waterherwinning, storing van water ondergronds en die ontsouting van seewater. Ons Dorslanders ken hierdie dinge en kan vir die Kapenaars baie nuttige truuks hieroor leer, maar snaaks genoeg, hulle vra nie ons hulp nie.

Zuma is weg. Uiteindelik. Nogal op Valentynsdag. Daai dag gaan nou glo Verlossingsdag genoem word. Die Rand het skielik begin sterker word, en daar waai ‘n nuwe wind van hoop en verwagting deur suidelike Afrika. 

Maar kom ek begin by die begin.

Pa se begrafnis was mooi. Stemmig, intiem en vredevol. Nes Pa dit sou verkies het. Behalwe dat omtrent niemand van Pa se vriende daar was nie. Net die jongeres. Ons het Pa se goedjies opgepak en verdeel. Saam met al die baie herinneringe en sentimente. Dit was nogal ‘n aardige ervaring. Want dis so genadeloos en onvermydelik finaal. Daar is nie ‘n omdraai, ‘n kykweer, of ‘n tweede kans nie. ‘n Lewe is verby. Vir altyd. 
Ek wonder oor die dood, Pa. Is dit dalk soos ‘n diep, baie lang slaap sonder drome? Soos narkose. Roerloos, stil. Gebeurteloos en eindeloos. Raak mens dalk bang net voordat mens doodgaan? Is daar dalk ‘n beklemmende, angstige laaste oomblik wanneer mens besef dat dit die finale uitgang is? Of dalk ‘n magtelose gelatenheid om net die laaste oomblik te laat gebeur en afgehandel te kry? Amper soos voor ‘n sprong in ‘n donker poel water in. 
Oupa, Oupie, Vadertjie, Oom. Dis hoe Pa ook genoem is. Maar nou skryf ons Wyle vooraan. Dis ‘n bietjie onwerklik want ons sien nog Pa se gesig op fotos, ons onthou die staaltjies, die blymoedigheid, die gelag en harde pratery, die koffie-en-beskuit-kuiers, die roomys-etery, die groen koeldrank en die ewige geneurie. 
Pa se kleindogter is nou ook getroud. Op haar hartsplek. Was vreeslik mooi en só feestelik. Sy was omring met haar hartsmense. Dit was so ‘n vervullende, innige, vreugdevolle geleentheid. Haar twee oupas en twee oumas sou dit só geniet het. Haar boetie het die mooiste stukkie musiek aanmekaar gesit vir haar openingsdans. Dit was vir ons twee só, só spesiaal. Om boetie en sussie so te kan gadeslaan en stom te raak van trots en tevredenheid. 
Pa se kleinseun is ook nou ingeskryf by die universiteit. Ons kan sien hoe ontluik die nuwe vooruitsigte. Soos ‘n blom wat begin oopgaan. Die ontsluiting van gawes en vermoëns, die ontstaan van nuwe verhoudings en die ondersoek na nuwe opsies en moontlikhede. 
En na alles het ons weer teruggekom Dorsland toe. Want ons hoort mos iewers. Na Swakopmund toe. Hier waar die warm woestyn en die koue oseaan ontmoet. Met net ‘n klein klompie mense en hul dorpie tussenin. 
Na omtrent ‘n jaar. ‘n Jaar propvol ervarings en belewenisse. ‘n Selfopgelegde sabbatsjaar. Ons is effens onseker oor die toekoms, maar ons is vir geen oomblik spyt oor ons besluit ‘n jaar terug nie. 
Ons het mekaar nog beter leer ken, ons het weer gegroei, ons verhouding met ons Skepper het verdiep, ons praat weer baie met mekaar, ons het weer die weelde van eenvoud ontdek, en ons het baie vriende sonder name gemaak. Ons lééf weer. En ons kan beaam: Reis is die enigste uitgawe wat jou ‘n ryker mens maak. 
Ek het vir die laaste tyd nie meer geblog nie, Pa. Want ons het nie gereis nie. Ek het wel ons reiservarings opgeteken en ‘n boek daarvan gemaak. Die boek is uit. Nie vir kinders is as ‘n e-boek beskikbaar op platforms soos Amazon (https://www.amazon.com/dp/B079ZB692P) en Smashwords (https://www.smashwords.com/books.view/795054). 
En nou het ek besluit om weer te begin blog, Pa.

Bestuur

Hoe het jy leer bestuur?

Die karre waarmee ek leer bestuur het se stuurwiele was groter as die stuurwiele wat mens in vandag se karre kry. Dunner, en wyer. So wyd dat ek partymaal onderdeur die stuurwiel se boog moes kyk om die pad te sien. Deesdae se stuurwiele is ook sagter, en daar is allerhande tekens en ekstra knoppies op vandag se stuurwiele waarmee mens die radio kan verstel, flikkerligte kan beheer, kyk hoe ver mens nog kan ry, ensomeer. Vandag se karre draai maklik, al is die stuurwiele soveel kleiner. Die ou karre se stuurwiele was eenvoudiger, en die voertuig het veel traer op die draai van die stuurwiel reageer.

Leer om te bestuur het bo-op my pa se skoot begin. Hy het ‘n stil stuk pad gekies en dan het ek oorgeklim tot op sy skoot. Die ratte en flikkerligte was sy verantwoordelikheid, ook die pedale wat my voete nie kon bykom nie. Ek moes net die stuur vashou. Met twee hande, tien-oor-tien posisie. En my oë op die pad hou. ‘n Eenvoudige taak.

Ek het verantwoordelik, nee belangrik, gevoel. Asof ek in beheer was van die ganse voertuig met sy vrag. Maar Pa het altyd sy hand veiligheidshalwe op die onderkant van die stuurwiel gehou. Net ingeval my aandag afdwaal, net ingeval ons skielik moes reageer. Al het ek in beheer gevoel, was hy die eintlike bestuurder. Die eintlike besluitnemer. Sy oë was meer op die pad as myne. 

Net soos ‘n seuntjie wat leer bestuur op sy pa se skoot, en dink dat hy in beheer is van die voertuig, laat God ons toe om die stuurwiel vas te hou. Kamma te bestuur. Ons dink dat ons in beheer is, asof ons die voertuig en sy vrag stuur. Maar eintlik is Hy in beheer, neem Hy die besluite, bestuur Hy. 

Die bruin Chev in die middel

‘n Geldige lisensieskyfie en sy geel nommerplate is die stille getuienis dat die Chev in ‘n lopende toestand is. Omtrent net die bande en die voorruit van die Chev is nog in ‘n gangbare toestand. Die bakwerk is besmeer met body putty en ‘n dik laag roesbruin verf, die sitplekke is voos gesit, en ‘n laag opgehoopte rommel lê kniediep oor die hele binnekant van die Chev gestrooi. Op die bestuurder se rugleuning sit ‘n bejaarde, oorgewig basterbrak. Sy langhaar, kaalvoet baas staan en gesels met twee ander manne, in ‘n onmiskenbare Suid-Afrikaanse Engelse aksent. 

Die onderwerp waaroor hulle gesels het duidelik niks te doen met die ware op die tafeltjies rondom hulle nie. Huisraad uit die sewentigerjare, ‘n paar stukkies ou gereedskap, langspeelplate, hangers met tweedehandse mansklere op ‘n selfgemaakte pypraam, drie Tretchikoff afdrukke, ou elektriese apparate met onbekende gebruike, verskillende soorte batterytjies en twee Volksie agterligte vorm die somtotaal items wat te koop is. Langsaan is ‘n uitgebreide reeks ou militêre toerusting op die grond uitgepak. Oorkant die Chev staan ‘n Mercedes uit die tagtigs, toegepak onder boeke.

Die stalletjies is omtrent in die middel van die Milnerton Mark. Die markie lê styf teenaan die pad al langs die windverwaaide kus net noord van die hawe van die Moederstad. Milnerton Mark is ‘n lang, uitgestrekte bedrywigheid met ‘n baie groot verskeidenheid goedere en besoekers wat ewe uiteenlopend is. Hier is hipsters, hippies en hobos, tieners, tannies en troebadoere, afgetredenes, armes en aspirant entrepreneurs. In Duits verwys mens na só ‘n mark as ‘n Trödelmarkt. Trödel kan losweg vertaal word as stront. ‘n Groot versameling goedere wat mens nie eintlik nodig het nie.

Behalwe kerkbasaars en vendusies was my blootstelling aan markte op ‘n jong ouderdom redelik beperk. 

Kerkbasaars was die jaarlikse toets van die gom wat ons klein gemeenskappie aan mekaar gebind het. As iemand weggebly het, was dit net oor siekte of dood. Dan het Dominee sommer vir die afwesiges gebid tydens die opening met Skriflesing en Gebed. Ook die katolieke en luthers het ons kerkbasaars bygewoon. Een van die lutherse seuntjies het eenmaal tydens Dominee se gebed die rooi trekkertjie wat ek wou koop onder my hande gegaps en deel van sy voorgenome aankope gemaak. Ek moes in afgryse kyk hoe hy die rooi trekkertjie met sy basaarkoepons betaal. Maar ek het kalm gebly, want kerkbasaars het gegaan oor ‘n goeie saak.

Vendusies het in verskillende gedaantes gekom – vetveeveilings, stoetveilings, losgoedere-veilings, boedelveilings, staak-boerdery-veilings en dan die alewige fondsinsamelingveilings, elkeen met sy eie karakter. Vendusies was die sambreelterm, terwyl die woord veiling verwys het na die vertoning van ‘n afslaer. Afslaers was kleurryke mense, gerespekteerd en met ‘n soort aanhang. Menigmaal het die afslaer die sukses van ‘n vendusie bepaal. Datums van vendusies was ingeskryf op die almanak agter die deur, veilings was net ‘n item op die vendusieprogram. 

Vir my was vendusies ‘n ontdekkingstog, ‘n reis in die kleine. Eerstens moes ons daarheen reis. Soms was die reis so ver dat ons padkos moes saamneem. Ons het by plase met lekkersê name verby gery, soms was dit ‘n nuwe omgewing, selfs ‘n dorp wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Maar dis eintlik die items wat te koop was wat my op ‘n verbeeldingsreis geneem het. Elke liewe item te koop het ‘n storie gehad, ‘n onvertelde verhaal. Elke liewe ding het voorheen aan iemand behoort, was waarskynlik op ‘n tyd mooi – selfs onweerstaanbaar – vir iemand, het waarskynlik ‘n spesiale plekkie, doel of betekenis gehad. En ek het gewonder oor die eienaars, die huishoudings waar dit gebruik was, en die tyd toe dit in gebruik was.

Kerkbasaars en vendusies is deesdae skaarser. Waarskynlik ook ongewilder. Markte, aan die ander kant, is immergewild. Milnerton Mark is so ‘n plek. Daar is stalletjies met losgoedere, gereedskap en onnodige items – net soos op ‘n vendusie, en kosstalletjies en tuisgemaakte goedere net soos op ‘n kerkbasaar. Ek stap tussen die groot verskeidenheid stalletjies deur en ek kyk na die mense van die Reënboognasie.

Met ‘n sakkie nuwe ou boeke in die hand, en terwyl ek weglê aan ‘n roti met ‘n kerriehoendervulsel, kry ek ‘n blik op Suid Afrika se mense, sien ek hoe hierdie gekneusde land se verlede en hede bymekaarkom. Hier op die Milnerton Mark. 

Relatiwiteit

Na ses maande op reis met rugsakke is dit tyd vir bestekopname.

Dit was ‘n besondere geseënde tyd. Geen terugslag of groot teëspoed nie, geen besering of ernstige siekte nie, geen groot verlies of diefstal nie. Ja, ek het wel ‘n ligte verkoue en ‘n loopmaag opgedoen, maar dit sou ek by die huis ook kon kry. En ek is besig om albei my groottoonnaels te verloor vanweë Rinjani, maar dis pynloos. Klink baie erger as wat dit is.

Wat was die beste? Onregverdige vraag. Teenvraag – wat is die kriteria?

Eintlik is ‘n vergelyking onvanpas. Elkeen van die lande het sy eie stel mooi herinneringe opgebou. Ons sal elkeen onthou oor sekere redes. En ons sal na elkeen kan terugkeer. Voor dan gaan ons eers probeer om by ander onbekende plekke op aarde uit te kom. Reis is om te ontdek, om te verken, om ‘n plek te ervaar. Nie eintlik om dit weer te besoek nie. En om te talm. Bietjie langer te vertoef, te beleef, om die plaaslike dinge te doen.

Waarskynlik het ons die gemiddelde ouderdom van rugsakreisigers wêreldwyd ‘n bietjie gelig. So ook die gemiddelde ouderdom van gaste in hostels en homestays. En saam met ander rugsakreisigers op busse en jimneys, driewiele, poegies, bote en oorslaaptreine het ons gesorg dat die gemiddelde ouderdom van hul tipiese passasiers effens klim. Nogtans het niemand ‘n wenkbrou gelig omdat ons aan die bokant van 50 is nie. Niemand het ons ge-oom of ge-tannie nie. Inteendeel, ons het nêrens Afrikaans gehoor nie. Ons het wel in Afrikaans stiltetyd gehou en met mekaar in Afrikaans gepraat. En geblog in Afrikaans. Maar dit was die enigste Afrikaans vir ses maande.

Dan was daar ook ‘n paar eerstes as Namibiërs: In Zhangjiajie, Guilin en Qindao en in verskeie ander plekke in China was ons waarskynlik die eerste Namibiese besoekers. In Coron het ons die tweede speldjie in Namibië op ‘n wêreldkaart gedruk (laat weet ons as jy dalk die eerste speldjie ingedruk het), en op die Kecil Perhentian in Maleisië het ons die eerste Namibiese spore getrap, so ook op Rinjani en twee van Indonesië se 17,000 eilande. Goed, as ons nie die eerste Namibiërs was nie, was ek waarskynlik die eerste een uit die suide van Namibië.

Ons het probeer om boek te hou van ons uitgawes, en ons het probeer om ons ervarings op te skryf. Ons kan raad gee, ons kan sekere goed aanbeveel en sekere goed afraai. Die bedoeling was nooit om ons inligting op te teken en as ‘n boek vol wenke te verkoop nie. Maar dis ook nie materiaal wat ek graag op skrif wil stel nie. Ervarings is afhanklik van persepsie, en die oorvertelling daarvan is bloot ‘n opinie. Twee mense kan dieselfde ding beleef en twee uiteenlopende stories daaroor vertel. Vir wie glo jy?

Hoekom het ons dan teruggekom? Oor klomp persoonlike redes. Familie is vir ons belangrik, en daar is ‘n paar dinge op hierdie front wat ons aandag nodig het. My 88-jarige pa het siek geword. Ons dogter wil trou. Ons seun wil universiteit toe gaan. Ons moes kies tussen voortreis of familie. En ons kies familie.

Miskien is dit ‘n geleentheid om suidelike Afrika opnuut te verken. Dis so ‘n wonderlike stukkie wêreld, hier onder ons neuse. Groot dele wat ons nog nie ken nie. En skielik wonder ek oor die betroubaarheid van die teks in my destydse Standerd 4 Aardrykskunde handboek. Waar is die mielie-vierhoek nou eintlik? Hoe wild is die Wildekus nou eintlik, of hoe groot is die Vaaldam regtig? Hoe lyk die Witwatersrand deesdae? Is die Vrystaat nogsteeds so plat? Waar begin en eindig die Karoo?

Op ons vlug met Ethiopian Airlines kyk ek na die verbeeldingryke fliek Interstellar. Ek gaan op ‘n reis deur ons kosmos, wat ek werklikheid noem. Konneksies tussen ons aarde en die uitspansel word gemaak, en die onderskeid tussen realiteit en denkbeeldigheid word vaag in ‘n spel van tyd, ruimte en swaartekrag. Soos alles ineen weef, word alles relatief – ‘n maand in die ruimte word etlike dekades op aarde; afstand, spoed en rigting word niksseggende verwysings; die effek van gewig en swaartekrag verdwyn. Die antwoorde op ons aardse omgewingsvraagstukke word in die heelal gesoek. Toekoms en hede raak deurmekaar, tyd word nie meer gemeet nie. Alles raak relatief, en alles hou verband met mekaar. En ek begin wonder – wanneer gaan die hede oor in die toekoms? Die antwoor is so vaag soos daai tyd net voordat jy aan die slaap raak. En soos in ‘n droom raak die onderskeid tussen my werklikheid en denkbeeldigheid relatief.

Dalk is reis ook so. Mens kry die antwoorde vir die uitdagings by die huis op ander plekke. Jou uitdagings word relatief, jy kyk na jou eie wêreld met ander oë. Ek waardeer weer die goed wat vir my vanselfsprekend geword het, ek raak weer opgewonde oor seldsaamheid en besondersheid.

Suidelike Afrika is so uitsonderlik mooi. Soveel verskeidenheid, soveel energie en soveel opwindende kontraste. Soveel kultuur en geskiedenis, soveel skoon lug en onbesoedelde omgewing, soveel minder mense. Soveel stilte, soveel kranse wat antwoord gee, soveel ongeskonde natuur.

Ja, daar is vuil op die ruit. Maar ons moet ‘n slag na die prentjie daarbuite kyk. En nie net na die vuil op die ruit bly staar nie. Die verskil tussen nou en die toekoms is relatief. Dalk is daar meer samehang as onderskeid, dalk maak dit sin om aan denkbeeldigheid aandag te gee. Dalk is ons drome nie so onwaarskynlik soos ons dink nie.

Eintlik is ons werklikheid so relatief.

Ons het gespring.

Vanuit werklikheid na onwaarskynlikheid. Miskien was dit dom en baie onverantwoordelik, maar dit was nie moeilik nie. En ons gaan nooit spyt kry nie.

img_0472

Meer as ‘n dagreis ver

IMG_3047

Om uit Labuan Bajo te kom, kan mens vlieg na Bali eiland. Of per veerboot en bus ry tot op Lombok eiland. Heelwat langer, baie goedkoper en met gewaarborgde avontuur. Klink vir ons na die perfekte opsie. Ter wille van die ondervinding, maar ook omdat ons op Lombok eiland wil wees en nie op Bali eiland nie.

Om ‘n kaartjie vir hierdie rit te kry, is egter ‘n saak van onsekerheid. Twee dae na mekaar is die kantoor onbeman in die namiddag. Met ons derde poging verskyn ‘n man uit die niet. Die boekie in sy hand lyk niks meer wettig as ‘n fondsinsamelingsboekie nie, nogtans oortuig hy ons met behulp van twee tolke dat dit amptelike kaartjies vir die boot-en-busvaart is.

IMG_3021

Die veerboot vertrek in die oggend uit Labuan Bajo se bedrywige hawe na Sape. Betyds daag ons op, met ons verdagte kaartjies, en kry saam met alle passasiers plek op die eerste dek. Sover lyk dit na ‘n wettige affêre.

IMG_3035

In die maag van die skip word die vrag gelaai. Lorries vol piesangs, kokosneute en rys, ‘n tenkwa, motorfietse, busse en gewone voertuie, en ‘n trokkie met beeste op.

Ons neem ons bagasie saam met ons na die dek waar al die ander passasiers saamdrom en ‘n sit- of slaapplek probeer kry. Toeriste maak omtrent die helfte van die passasiers op die boot uit.

Dis ‘n rumoerige besigheid. Behalwe dat hierdie bootvaart ‘n goeie toets vir ons geduld en reisfiksheid gaan wees, sien ons dit ook as ‘n wonderlike praktiese klas in Sosiologie. Behalwe dat sommige Indonesiese mans baie hard praat en graag skreeu op mekaar, rook hulle soos skoorstene, wat beteken dat ons boot eintlik lyk soos ‘n raserige stoomboot.

Een van die rokende manne het ‘n kitaar en hy dra skerppuntskoene. So tussen sy sigarette ryg hy die een na die ander minnelied uit. Aan die agterkant van die dek staar die moslem-vrouens onder hul kopdoekies stil na hom en na die TV-skerms wat terselfdertyd blêr. Daar is ook ‘n kroeg, wat al hoe luidrugtiger raak soos ons boot voortbeur deur die golwe.

Met ons aankoms in Sape wag daar ‘n verskeidenheid bussies op die boot se passasiers. Inligting is kripties, maar ons word beduie om die stroom mense te volg en ons vind ons weg tot binne een van die wagtende bussies. Die sitplekkies is klein en styf teen mekaar, en reeds vol mense. Bagasie word op die dak gelaai. Party passasiers ook. Ek sit by die deur, omdat ek nie bo-op of tussen die sitplekkies kan inpas nie. By die deur is daar meer spasie, en ek kan darem my linkerbeen by tye reguit maak. Maar die deur is eintlik die staanplek van twee manne wat die rol van kondukteurs het. Die deur bly oop tydens die rit, en hulle twee hang soos vinke by die deur uit terwyl hulle mense op die pad groet, pakkies oplaai en nog passasiers saamnooi. Die een, met ‘n ongemaklike aanwendsel, klim soos ‘n geitjie op en af op teen die bus se buitekant tydens die rit. Dalk word ons vandag nog ooggetuies van ‘n vermybare padongeluk.

Net voor skemer kom ons aan in Bima waar groter busse op ons wag. Ons kry sitplekke en ons bagasie word oorgelaai, ons koop ‘n eetdingetjie en die bus vertrek in die donker. So donker dat ons niks kan sien nie, maar kan agterkom dat die roete uiters bergagtig moet wees. Ons vorder stadig, en rol heen-en-weer in ons sitplekke soos die bus in en om die stikdonker draaie dreun.

Aan boord is ‘n groot TV-skerm, waarop Indonesië se weergawe van Afrikaans is Groot op DVD vir ons gewys word. Luid. So luid dat van die Spaanse medereisgers later kla. Flink skakel iemand die kanaal oor na ‘n fliek van Rambo. Ek sien dat Rambo ‘n ongemaklike opdrag en ‘n lang nag voor het, maar ek weet Rambo is ‘n raakvatter en maak my oë toe. Rambo sal dit kan uitsort.

Dis ‘n lang, stadige rit. Net na middernag bereik ons Plampang. En soos op ‘n vliegtuig, word ons wakkergemaak vir ‘n ete. Met die verskil dat daar geen personeel is om aandete aan boord te bedien nie. Ons moet uitklim en in rye staan vir ‘n bordjie Nasi Goreng. Rys, twee klein stukkies hoender, groenbone in ‘n lang sous en nog rys. Glad nie ‘n ete om te probeer onthou nie.

Dan weer verder. Die pad het nou minder draaie en bulte en ons slaap effens beter. Totdat die dag breek en ons aankom in Poto Tano aan die westekant van Sambawa. Die slaap was min en onsmaaklik, en ons voel broos. Hier parkeer die bus binne ‘n veerboot se maag, ons klim uit en kry sitplek op die dek van die boot.

Die veerboot vaar tot aan die oostekant van Lombok. Ons klim terug op die bus en ry tot in Mataram aan die westekant van Lombok. Dan in ‘n taxi tot in Senggigi waar ons die laaste paar dae gaan bly. Ons kom teen die middag aan in Senggigi. ‘n Dag en ‘n half later. Met min etes en slaap en bad tussenin.

IMG_3066

Senggigi lê uitgestrek langs die westelike kus van Lombok. So ‘n small strook van geboue, strate en strande. Die hoofpad kronkel hier al langs die kus, aan die een kant is daar uitgestrekte strande en aan die ander kant troon die digbegroeide berge. Deftige hotelle en resorts is volop.

IMG_3067

Ons gaan tuis by ‘n homestay, effens weggesteek en ‘n klein entjie weg van die hoofpad af. Indah Homestay het ‘n ruim kamer en ‘n ewe ruim bed met wit lakens, ‘n stort onder die sterre en ‘n lieflike tuin waarop al die kamers oopmaak.

IMG_3062

Ons kry ‘n poegie en verken die Senggigi se dele langs die kus. Selfs binneland toe, waar ons ‘n draai gooi. Daar is oorgenoeg mooi strande om van te kies. Na ‘n dag begin ons baie hou van Senggigi.

IMG_3044

Dit was nog altyd vir my vreemd dat daar dikwels ‘n Italiaanse, Franse, Japanese, Chinese en Mexikaanse, en selfs ‘n Griekse restourant op ‘n plek kan wees, maar nie altyd ‘n ordentlike plaaslike restourant met outentieke plaaslike kos nie. So bly ons soek na ‘n opregte, eerlike Indonesiese restourant in Indonesië. Wat raar blyk te wees, totdat ons die Warung Plaza hier in Senggigi raakloop. Outentieke Indonesiese kos, vol geur en smaak. Drie maal gaan eet ons daar, kyk oor die skouer hoe van die geregte gemaak word en ontmoet selfs die eienares.

IMG_3069

So stilletjies besluit ons om eendag weer te kom, as ons kan. Senggigi kry hoë punte by ons. Lombok ook. Waarskynlik sal ons nie weer die rit tussen Labuan Bajo en Senggigi wil doen nie.

IMG_3056

Maar Flores is ook ‘n tweede besoek werd. Om Wae Rebo en Kelimutu te gaan kyk.

En dan moet ons ook by Sulawesi uitkom.

Almal plekke meer as ‘n dagreis ver.