Dak oor my kop

Om ‘n dak oor jou kop te hê, is om voor dankbaar te wees. Altans, so is ons geleer toe ons ook geleer is om te bid vir die mense agter die Ystergordyn. Eintlik was dit ‘n mondvol. Want dak was ‘n versamelnaam. Dak het die hele huis met al sy geriewe ingesluit. Lopende water, warm beddens, ligte en krag, klerekaste en bêreplek, tafels en yskaste en spense vol kos. 

Daar was nie duidelike onderskeid in my kinderverstand tussen dak en plafon nie. Ons wou graag aan die dak raak. Daar het ‘n spinnekop teen die dak gesit. Rondom die lig, teen die dak, het die goggas in die aand versamel en ‘n geitjie hulle bekruip. Plafon was die binne-dak van die huis. 
Twee weke gelede werk ek in die garage, ek wou ‘n haakplek aan een van die dakbalke maak om iets op te hang. En daar val ek van die leer af. Hospitaal toe. So vanuit die ambulansbedjie bekyk ek die dak van die voertuig. Naak, sonder bekleedsel. Net hangplekke vir druppe en buise. By die hospitaal skuif ek oor op ‘n bed met wiele, vanuit waar ek nou die hospitaal se dak bekyk. Skerp ligte, en die dak bestaan uit oninteressante blokke, elk met sy eie raam. Die gange is wyd, en ek kan die personeel se gesigte van onderaf bekyk. 
Die been is af. Maar die swelsel te groot vir onmiddellike behandeling. Operasie is onvermydelik, skroewe om die breuke te heg. Ek slaan my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom?
Takties word die nuus gebreek. Whatsapps en boodskappe vlieg rond. Sterkte. Ja-nee oor-vyftig klim mens nie meer op ‘n leer nie. Ek slaan weer my oë op na die hospitaal se dak. Waar sal my hulp vandaan kom? Wat is die ouderdomsbeperking op leerklim, wonder ek. 
Ek leer die dak van die hospitaalkamer goed ken. Dieselfde blokke en rame. Ligte van verskillende hoeke en sterkte. Gordynreëling wat in ‘n halfmaan om my bed loop. Langs my staan ‘n piepende masjien met druppe en buise. Die laaste maal wat ek so lank aaneen opwaarts gekyk het, was as ‘n kind. Op die gras, na wit wolke wat teen die blou hemel verbyskuif. Ek begin dwarsdeur die dak kyk, na die hemel daarbo. Grensloos uitgestrek, soos ‘n groot blou sambreel.
En ek begin wonder hoeveel mense leef met ‘n dak oor hul kop. Of hoeveel mense leef sonder ‘n dak oor hul kop? En hoeveel beperk hul lewens met dakke oor hul kop. Dakke wat hul beperk om nie meer op lere te klim nie. Dakke wat hul verhoed om na die wolke te kyk. Dakke wat hul verhoed om hul oë op te slaan en te wonder waar hul hulp vandaan sal kom. 

Die bruin Chev in die middel

‘n Geldige lisensieskyfie en sy geel nommerplate is die stille getuienis dat die Chev in ‘n lopende toestand is. Omtrent net die bande en die voorruit van die Chev is nog in ‘n gangbare toestand. Die bakwerk is besmeer met body putty en ‘n dik laag roesbruin verf, die sitplekke is voos gesit, en ‘n laag opgehoopte rommel lê kniediep oor die hele binnekant van die Chev gestrooi. Op die bestuurder se rugleuning sit ‘n bejaarde, oorgewig basterbrak. Sy langhaar, kaalvoet baas staan en gesels met twee ander manne, in ‘n onmiskenbare Suid-Afrikaanse Engelse aksent. 

Die onderwerp waaroor hulle gesels het duidelik niks te doen met die ware op die tafeltjies rondom hulle nie. Huisraad uit die sewentigerjare, ‘n paar stukkies ou gereedskap, langspeelplate, hangers met tweedehandse mansklere op ‘n selfgemaakte pypraam, drie Tretchikoff afdrukke, ou elektriese apparate met onbekende gebruike, verskillende soorte batterytjies en twee Volksie agterligte vorm die somtotaal items wat te koop is. Langsaan is ‘n uitgebreide reeks ou militêre toerusting op die grond uitgepak. Oorkant die Chev staan ‘n Mercedes uit die tagtigs, toegepak onder boeke.

Die stalletjies is omtrent in die middel van die Milnerton Mark. Die markie lê styf teenaan die pad al langs die windverwaaide kus net noord van die hawe van die Moederstad. Milnerton Mark is ‘n lang, uitgestrekte bedrywigheid met ‘n baie groot verskeidenheid goedere en besoekers wat ewe uiteenlopend is. Hier is hipsters, hippies en hobos, tieners, tannies en troebadoere, afgetredenes, armes en aspirant entrepreneurs. In Duits verwys mens na só ‘n mark as ‘n Trödelmarkt. Trödel kan losweg vertaal word as stront. ‘n Groot versameling goedere wat mens nie eintlik nodig het nie.

Behalwe kerkbasaars en vendusies was my blootstelling aan markte op ‘n jong ouderdom redelik beperk. 

Kerkbasaars was die jaarlikse toets van die gom wat ons klein gemeenskappie aan mekaar gebind het. As iemand weggebly het, was dit net oor siekte of dood. Dan het Dominee sommer vir die afwesiges gebid tydens die opening met Skriflesing en Gebed. Ook die katolieke en luthers het ons kerkbasaars bygewoon. Een van die lutherse seuntjies het eenmaal tydens Dominee se gebed die rooi trekkertjie wat ek wou koop onder my hande gegaps en deel van sy voorgenome aankope gemaak. Ek moes in afgryse kyk hoe hy die rooi trekkertjie met sy basaarkoepons betaal. Maar ek het kalm gebly, want kerkbasaars het gegaan oor ‘n goeie saak.

Vendusies het in verskillende gedaantes gekom – vetveeveilings, stoetveilings, losgoedere-veilings, boedelveilings, staak-boerdery-veilings en dan die alewige fondsinsamelingveilings, elkeen met sy eie karakter. Vendusies was die sambreelterm, terwyl die woord veiling verwys het na die vertoning van ‘n afslaer. Afslaers was kleurryke mense, gerespekteerd en met ‘n soort aanhang. Menigmaal het die afslaer die sukses van ‘n vendusie bepaal. Datums van vendusies was ingeskryf op die almanak agter die deur, veilings was net ‘n item op die vendusieprogram. 

Vir my was vendusies ‘n ontdekkingstog, ‘n reis in die kleine. Eerstens moes ons daarheen reis. Soms was die reis so ver dat ons padkos moes saamneem. Ons het by plase met lekkersê name verby gery, soms was dit ‘n nuwe omgewing, selfs ‘n dorp wat ek nog nooit voorheen gesien het nie. Maar dis eintlik die items wat te koop was wat my op ‘n verbeeldingsreis geneem het. Elke liewe item te koop het ‘n storie gehad, ‘n onvertelde verhaal. Elke liewe ding het voorheen aan iemand behoort, was waarskynlik op ‘n tyd mooi – selfs onweerstaanbaar – vir iemand, het waarskynlik ‘n spesiale plekkie, doel of betekenis gehad. En ek het gewonder oor die eienaars, die huishoudings waar dit gebruik was, en die tyd toe dit in gebruik was.

Kerkbasaars en vendusies is deesdae skaarser. Waarskynlik ook ongewilder. Markte, aan die ander kant, is immergewild. Milnerton Mark is so ‘n plek. Daar is stalletjies met losgoedere, gereedskap en onnodige items – net soos op ‘n vendusie, en kosstalletjies en tuisgemaakte goedere net soos op ‘n kerkbasaar. Ek stap tussen die groot verskeidenheid stalletjies deur en ek kyk na die mense van die Reënboognasie.

Met ‘n sakkie nuwe ou boeke in die hand, en terwyl ek weglê aan ‘n roti met ‘n kerriehoendervulsel, kry ek ‘n blik op Suid Afrika se mense, sien ek hoe hierdie gekneusde land se verlede en hede bymekaarkom. Hier op die Milnerton Mark. 

Vriende sonder name

Na ses maande op reis raak mens baie bedrewe met die kuns om tekens te lees.

Die aanwesigheid van ‘n lugverkoelde bus of ‘n groot versameling trolliekoffers is ‘n duidelike teken dat daar Chinese of Koreaanse toeriste in die omtes is. Hulle gaan gewoonlik tuis in hotelle, verkieslik met hysbakke en / of roltrappe. Hul koffers is in skel kleure, met wiele en versier met Hello Kitty of Angry Bird plakkers. Hulle is selfiebehep, en foto’s van hulself by die watsenaam is belangriker as hul besoek aan die watsenaam. Geen tyd om die oomblik te ervaar nie. Bloot te besig met oppervlakkige highlight hopping. Vermy hierdie groepe as jy kan. Vermy ook die areas waar hierdie groepe voorkom.

‘n Blyplek se vooraansig kan jou gruwelik verwar. In Indonesië is blink teëls op stoepe nogal gewild. Maar blink teëls op die stoep is nie altyd ‘n noukeurige aanduiding van ‘n weelderige badkamer of ‘n slaapkamer met keurige smaak nie. Kyk liewer na die hele plek en nie net na die teëls op die stoep nie. As dit kan, vra uit oor warm water, wit beddegoed, lugreëling en ontbyt. As jy jou bespreking per internet doen, kyk die blink stoepe mis. Kyk na foto’s van die slaap- en badkamer. Vermy die plek as die foto’s van die slaap- en badkamer ontbreek, onduidelik is, of deur ‘n vyfjarige kind geneem is.

In die geval van eetplekke is spyskaarte ook nie noodwendig ‘n betroubare beskrywing van die kombuispersoneel se vermoëns nie. Die beskrywing van ‘n dis, en selfs ‘n foto daarvan, het al menigmaal my mond laat water. Dan, as die kos opdaag, is dit ‘n vaal, verbeeldinglose bondeltjie, geskik vir ‘n rot. Kyk liewer na die borde van die gaste in ‘n restourant, of nog beter, die uitdrukkings op hul gesigte. Kyk weer na die pryse, en neem dan die besluit. Kies hoender as jy kan. Ligloop vir ‘n patty. En vermy plekke met groot foto’s van hul kos. Ek het nog nooit onhonger uit ‘n groot M gestap nie. Ons het geleer om die groot M te vermy, selfs al is dit die enigste en goedkoopste opsie.

Na ses maande op reis het ons ook sekere gewoontes af- of aangeleer. Uit ordentlikheid het ons vroeër maar stilgebly en verdra as die diens nie perfek is nie. Nou vra ons indringend uit oor diens, en ons het geleer om nee te sê. En aangeleer dat ons mag sê as ons ongelukkig is.

Ons het besef met hoe min ons eintlik tevrede kan wees. Per ongeluk het ons lugtyd gekoop van ‘n netwerk wat nie orals dekking bied in Indonesië nie. Sedert Lombok was ons sonder selfoonontvangs, en dit was glad nie so erg nie. Ek vermoed dat mens sonder TV, ‘n selfoon, die internet, en selfs vol winkelrakke kan oorleef. Uiteindelik kan jy net een paar skoene op ‘n slag aantrek. Ons het elkeen net een rugsak, nogtans kon ons selfs nog minder klere saamgebring het. Met ‘n dagsakkie oor my skouer klim ons bedags op ‘n poegie en rits rond. Ons stop waar ons wil om ‘n foto te neem of te swem en saans soek ons net ‘n lekker bord kos, ‘n skoon badkamer en ‘n gemaklike bed. Dis al.

Na ses maande op reis, glo ons meer as ooit in die bestaan van engele. Onverklaarbaar kom engele op jou pad, en gee vir jou die oplossing waarna jy soek. Party engele het name, soos Morgan van Wenzhou. Maar ander engele kom en gaan naamloos deur jou lewe. ‘n Ouma sonder naam wat vir ons plekmaak in haar karretjie sodat ons nie natreën nie in Brinchang. Die stil Belg wat ons na ‘n blyplek in Port Barton toe neem. Die seun op ‘n motorfiets wat met my rondry totdat ons ‘n blyplek in Kuta Lombok kry.

Ons het ook die taal van Wanderlust aangeleer. ‘n Taal sonder woorde, eksklusief gebruik deur reisigers op pad na êrens. Terwyl jy swetend op trappe, of teen ‘n steil bult te midde van mal verkeer voortbeur, glimlag jy dapper vir mekaar. As jy aanmeld by jou blyplek en dankbaar jou bagasie teen die toonbank uitstal, word jy woordeloos verwelkom. En as jy op ‘n vierdag-bootreis saam met jongmense so oud soos jou eie kinders klim, begin jy gesels oor reis. Oor bestemmings, waarvandaan julle kom, waarheen julle op pad is en oor hoekom julle reis. En ons raak vriende met vriende sonder name. Wanderlust-taal ken nie verskille in ouderdom, afkoms of koers nie.

IMG_2986

Aan die einde van ons bootreis van Bangsal na Flores vra een van ons medereisigers wie belangstel in ‘n snorkeltrip in Labuan Bajo. Ons stem in, maar verwag nie veel nie omdat dit nog gereël moet word. En ons voel asof ons nie gaan inpas nie. Te oud vir die kinders. Tog behou ons kontak met hulle, al bly ons by verskillende adresse. By die plek waar ons bly, kry ons een van ons mede-stappers van Rinjani. Ons vertel haar van die snorkelplanne, en sy stem onmiddellik in om ook saam te gaan – mits ons genooi word. Nou is daar tien van ons, maar steeds geen reëling nie.

Soos afgepraat, kry ons mekaar die volgende dag. Ons verstaan dat dit nogal ingewikkeld is om die snorkeltrip te reël. Ons bied onmiddellik aan om te onttrek, omdat ons voel dat ons nie regtig inpas nie. Ons kon enigeen se ouers gewees het. Hiervan wil die groep egter niks hoor nie. Inteendeel, hulle dring daarop aan dat ons móét saamgaan. En hulle onderneem om alles self te reël, ons hoef niks te doen nie. Oulike kinders dié, dink ons.

IMG_2983

Ons bring die res van die dag in Labuan Bajo deur. Labuan Bajo is ‘n klein, bedrywige dorpie met ‘n nog bedrywiger hawe. Tog is toerisme die hartklop van die plek.

Indonesiese besighede, wat baat vind uit toerisme, is in die minderheid. Eintlik seldsaam. Restourante adverteer skaamteloos dat hulle westerse spyskaarte het en duikskole basuin dit uit dat hulle Duits, Frans, Spaans of Italiaans praat. Indonesiese besighede is beperk tot die verhuring van motorfietse, agente vir bootreise, Warungs en plaaslike winkels, die informele vismark en sommige blyplekke. Omtrent al die blyplekke is vol – vol toeriste. Ons dwaal deur die dorpie en saal af in ‘n swembad op een van die kuierplekke se dekke.

Uitsig op Labuan Bajo se besige hawe is onverbeterlik. En in die aand eet ons varsgebraaide barracuda in die vismark. Die Bintangs kom uit die winkel oorkant die straat, yskoud en spotgoedkoop.

IMG_2984

Ons kry ‘n boodskap om die volgende môre by ‘n Italiaanse koffieplek aan te meld vir die beplande snorkeltrip. Tien van ons, 200 Rupiahs per persoon, met snorkelgerei, middagete ingesluit. Na twee stil eilande, waar niemand anders behoort te wees nie.

IMG_2987

Voordat jy “aitsa” kan sê, sit ons op die boot.

Een van ons beste snorkels in ses maande. Twee verlate eilande. Twee van Indonesië se 17,000 eilande. So klein dat ons rondom altwee kan swem. Met gesonde korale, sigbaarheid puik, en volop visse. Ons sien haaie en seevlermuise, en ‘n hele paar vissoorte vir die eerste keer. Ons snorkel totdat ons oumensvelle op ons knieë en enkels het.

IMG_2991

Nog beter as die snorkel is die vriendskap wat gesmee word. Ons ken mekaar vir enkele dae, maar die gemeenskaplike liefde vir reis sement ons aan mekaar vas.

‘n Duitse meisie in haar finale jaar van ingenieurswese, ‘n IT-klong uit Bulgarye, ‘n Franse meisie wat in wingerde in Australië werk en haar Ozzie-kêrel, ‘n Hollandse meisie wat voorheen ‘n deli gehad het en haar ingenieur-kêrel, twee bleek Engelsmanne wat twee jaar lank gespaar het vir die reis waarmee hulle besig is en ons twee Namibiërs, dubbel almal se ouderdom.

IMG_2993

Ten spyte van uiteenlopenheid ontwikkel ‘n vriendskap sonder vooroordele. En ons praat die woordelose taal van Wanderlust.

IMG_2995

In die aand ontmoet ons vir ‘n finale saam-eet by die vismark. Ons gesels en lag in die taal van Wanderlust, adresse word uitgeruil en vir die eerste keer leer ons mekaar se name.

Vriende sonder name kry name.

Belydenisse in Bali

In Bali het ek weer bely dat ek die onderwysers uit my verlede nie genoeg waardeer het nie. Hulle is die mense wat my breuke, die desimaal en die metrieke sisteem verduidelik het en my gedwing het om tafels te leer. Hulle is ook die mense wat my geleer het om te spel, te skryf en te redeneer. Dan was daar dié wat my probeer Engels aanleer het en dié wat my geleer het oor ander lande en kulture en hoe om kaarte te lees. En dié wat probeer het om met Gesondheidsleer, Godsdiensonderrig en Jeugweerbaarheid my op die regte pad te kry. Nie almal het ‘n ewe goeie joppie gedoen nie, maar met genade het ek darem nie te vrot uitgedraai nie. Ek is jammer dat ek nie altyd dankbaar was nie.

Die geldstelsel van Indonesië werk met baie nulle. Geen honderde nie, net duisende, miljoene en biljoene. Skielik moes ek diep delf om die metrieke sisteem toe te pas en uit my kop te kan deel en vermenigvuldig. Waar kom die komma nou weer as ek met duisend maal? Onwillekeurig het ek teruggedink aan die Wiskundemenere uit my verlede vir wie ek dankbaarheid skuld. Die een uit my laerskooldae het ‘n weglêsnor gehad, die een in Standerd ses en sewe wou eerder rugbyspeel en die een van die senior standerds kon sonder moeite in vryhand ‘n waterpas streep en ‘n volmaakte sirkel met bordkryt trek. Hulle was Menere, geskryf met ‘n hoofletter.

Terug na Bali en Indonesië. Ons het nie eintlik beplan om Bali te besoek nie. By mede-reisigers gehoor van die baie toeriste, veral die jonges wat net wil suip en partytjies hou, en dat die pryse effens duurder is as gevolg hiervan as in die res van Indonesië. Die plan vooraf was dat ons net ‘n nag of twee op Bali Eiland oorbly en dan onmiddellik verder beweeg.

Langtand bespreek ons blyplek, en kies sommer een van die billike opsies omdat ons in elk geval in die middel van die nag arriveer.

IMG_2468

Die blyplek se naam is Bread and Jam. Aan die einde van ‘n dwalende, nou straatjie die donkertes in. Ten spyte van die misleidende naam is dit ‘n lieflike plekkie – skoon, goedkoop en supersmaakvol. En ons word halfdrie in die nag met ‘n breë glimlag ontvang! Onwillekeurig dink ek aan Lukas 11 en al die ander lesse oor gasvryheid en vriendelikheid uit Die Bybel. En ek bely dat ek bevooroordeeld was oor ‘n naam, en oor gasvryheid.

Kuta, dié gedeelte van Bali waar ons bly, is besig. Baie besig. Die straatjies is nou en bedrywig. En alhoewel die strate oorvol is, is daar meer rede om opgewonde as teleurgesteld te raak.

IMG_2582

Kuta is skoon, netjies en die Indonesiërs is gaaf. Ons beweeg bietjie rond, en begin bou aan mooi herinneringe. Want Bali is mooi. Soos ons sien dat die pryse eintlik bekostigbaar is, raak Bali vir ons al hoe mooier. Ek bely toe maar weer dat ek verkeerd was oor Bali.

IMG_2458

Bali-eiland is Hindoe, in skrille teenstelling met die res van Indonesië wat oorwegend Moslem is. Die Hindoe-invloed is moeilik om mis te lyk; orals is tempels, brand wierook, en word blomme neergesit. Byna elke familiewoning het sy eie tempelhof, opsigtelik en soms in oordaad versier. Dis ook die sterk Hindoe-invloed wat Bali ‘n onmiskenbare styl gee – in die boukuns, dekor en tuine.

IMG_2528

Dis ook poegiewêreld dié, besef ons. Maar ten spyte van die oorvol strate, is die verkeer verdraagsaam en respekterend. Ons word voorgekeer en welkom geheet. Vrae word gevra hoekom ons op Bali besluit het, hoe lank ons wil bly en hoe ‘n land Namibië is. En dan afgeëindig met seënwense om voorspoedig verder te reis en Indonesië te geniet. Ek kry jammer dat ek nie na Bali wou kom nie en ek bely weer.

Toerisme in Kuta is groot en baie indrukwekkend. Luukse hotelle sit ingeryg langs die strand, en dit wemel van eet- en drinkplekke, gedenkwinkels en streelpersele.

IMG_2459

Een Rand is gelyk aan 994.04 Rupiah. Vir my doeleindes is dit rofweg 1 = 1000. Na my eerste besoekie aan die kitsbank voel ek nogal wintie want ek het skielik twee miljoen Rupiah in my beursie gehad. Die goeie nuus is verder dat een miljoen Rupiah jou verder bring as ‘n beskeie R1000. Dis goedkoop hier. En ek bely weer.

Die strande by Kuta is mooi. Baie mooi. Myle met kuierplekke. Hierdie deel van Bali moet baie meer gewild wees as wat ek gedink het. Ek bely weer.

IMG_2462

Goed, Kuta Bali is eintlik ‘n speelplek vir Australiërs. En daar is baie van hulle hier. Manne met hangsnorre en hemde sonder moue, wat sport op die skerms kyk in die drinkplekke op straat; oorgewig vrouens wat al swetende beding oor die pryse van aandenkings. Nee wag, nou is ek weer bevooroordeeld. Maar ja, mens herken die ozzies maklik.

IMG_2477

Ons sien ook hulle invloed. Ozzie dit en ozzie dat op die spyskaarte. Afslag vir ozzies by die winkels, by blyplekke, by verhurings. Ozzies oral.

IMG_2452

Ons wonder oor die aaklige slagting van 2002 toe meer as 200 mense in ‘n bomontploffing gesterf het. Daarvan was die oorgrote deel Australiërs. Iemand noem ‘n syfer – omtrent die helfte van alle besoekers aan Kuta is van Australië. Vlugte tussen Australië en die lughawe van Bali, Denpasar, is inderdaad supergoedkoop. En wie sal nou nie daarvan gebruik maak nie?

IMG_2480

Het ek al genoem dat die kuslyn van Bali Eiland mooi is?

Daar is lang, eindelose strande; strande wat iewers in ‘n klofie wegkruip; kranse wat geduldig die aanslag van die oseaan trotseer; ‘n see met branders en ‘n see sonder branders.

Bali bied inderdaad genoeg verskeidenheid om ‘n Bintang teen sonsondergang te geniet.

IMG_2464

Die weer, en die verkeer, kortwiek bietjie ons planne om meer van Bali Eiland vanuit Kuta te verken. Nogtans besoek ons ‘n Hindoe tempel of twee en ry langs afgeleë dele van die kuslyn in die suide. Die paaie slinger tussen ryslande en kokospalms en is besoom met winkels – met Bali meubels, Bali batik, Bali dekor, Bali beelde en alles wat mens in tydskrifte sien oor die Bali-styl.

IMG_2471

Hier moes al baie drome oor die begin van ‘n Bali-winkel ontstaan het, dink ek. Ons sien toeriste in gehuurde motors, op poegies en selfs op fietse. Bali is beslis gewilder as wat ek gedink het, bely ek weer.

IMG_2505

Om meer van die Bali-kultuur te sien, besluit ons om te verskuif na Ubud. En om bietjie uit die bedrywigheid van Kuta te kom. Sommer om ook van die baie ozzies weg te kom.

IMG_2509

Homestay hierdie keer, in Pondok Permata aan die bokant van Ubud. Op pad na ons pondok let ons op dat die homestays eintlik baie mooi plekke is. Pondok Permata stel nie teleur nie, dis ‘n pragtige en baie goed versorgde plek. En dit word nog mooier toe ons die prys hoor. Weer moet ek bely – omdat ek iets anders verwag het toe ek die woord pondok hoor.

IMG_2530

Ubud is ‘n juweel van ‘n plek met pragtige geboue en verruklike tuine. Die hande van sorg, eerbied, respek en omgee is duidelik.

IMG_2571

Ons stap in lieflike straatjies, met honderde klein winkeltjies, eetplekkies en interessante ingange.

IMG_2580

Ubud is eintlik deurvleg met stappaadjies. Langs tempels, deur tuine, tussen ryslande, oor brûe. Ons stap ons gô uit.

IMG_2539

En die kiekomaan werk oortyd.

IMG_2592

Die rustigheid van Ubud staan in skerp kontras met Kuta. Australiërs is opvallend minder in Ubud. Dalk is dit ons verbeelding, maar die Britte is ook minder.

IMG_2553

Die Hindoe-geloof is orals sigbaar in Ubud – in die vorm van tempels, maar ook in kulturele gebruike.

IMG_2585

Dalk is dit die Hindoe-geloof wat so ‘n kalmerende invloed op Ubud het. Nie net is die pas stadiger nie, maar Ubud is ‘n fees vir die oog.  Soveel aandag, soveel styl, soveel skoonheid. Ons nekke raak styf van kyk.

IMG_2605

Ubud lê in die middel van ryslande. Jy kan stap tussen die ryslande, maar jy kan ook in ‘n eetplek sit en staar na Indonesië se stapelvoedsel. Ubud is ook sonder ‘n mol. Dalk is daar geen ooreenkoms nie, maar die meerderheid toeriste in Ubud is nie-Engelssprekend. Luukse hotelle en deftige restourante is ook minder. Ons wonder daaroor. En ons bely dat ons van Ubud hou.

IMG_2621

Oor ‘n biertjie begin ons wonder waarom ons van Ubud hou. Toe die bier leeg is, weet ons – die slegte goed is uitgeskakel. Ons voel nie uitgebuit nie, daar is respek en belangstelling, geen pretensie, pryse is mooi laag, diens is goed en die mense is vriendelik en behulpsaam. En daar is genoeg mooi om te geniet sonder om jou tyd in luukse restourante en blyplekke en in mols deur te bring.

IMG_2622

Kaskenades in Coron

Ricardo is sy naam. Skoongeskeer soos ‘n winkelpop, herinner hy my bietjie aan die beeldjies van die laggende buddah wat ons in China gesien het. Hy bied akkommodasie aan, teen ‘n onweerstaanbare afslag.

IMG_2343

Ons het pas met die boot uit El Nido in Coron aangekom en het nog nie blyplek nie. Ricardo se aanbod klink goed en ons word met bagasie en al in ‘n driewiel gebondel om die plek te gaan kyk.

IMG_2354

Die driewiel beur saam met ‘n malende massa van honderde ander driewiele en motorfietse tussen honde en voetgangers op die stukkende strate van Coron, bult op en bult af.  Soos ons saam met Ricardo in sy driewiel voortvleg, sien ons honderde vertoonborde verbyflits – oorgenoeg blyplekke om van te kies. Deesdae kyk ons met vraende oë na iets wat ‘n resort genoem word. Ook baie skepties na iets wat hotel, hostel, lodge, inn en gastehuis genoem word.

In Filipyne is daar geen duidelike maatstaf om tussen hierdie name te onderskei nie en die standaard wissel erg. Ligging is ook nie ‘n goeie maatstaf nie. Ons vereistes is ‘n gemaklike dubbelbed, met skoon beddegoed, ‘n eie, droë badkamer, wifi en lugreëling. Maar ons weet al dat een van hierdie vereistes ons mettertyd gaan teleurstel.

Waar gaan ons vanaand ons koppe neerlê?

IMG_2352

Ons kom tot stilstand in die besigste deel van die dorp, klim af en stap in ‘n gangetjie tussen verskeie huise deur, later op ‘n sementpaadjie oor die water, tot by die Sea Dive Resort. Die Sea Dive Resort is omring met lendelam, krotterige huise op stelte. Die resort staan eintlik in die see, op pilare.

Baie Filipynse huise (en resorts) staan so in die water, selfs op die see. Op pilare of stelte. Die huise is dikwels vas aan mekaar, met klein onveilige gangetjies tussenin. Ons kyk die Sea Dive Resort deur, kom ooreen oor die prys per nag en boek in.

Die eerste kamer in die Sea Dive Resort lyk goed, totdat ons sien dat daar ‘n nat kol teen die plafon is. Ons kry ‘n nuwe kamer. Met storttyd ontdek ons dat die warmwater in die nuwe badkamer nie warm is nie. Die volgende oggend trek ons in die derde kamer in. Lyk nie sleg nie en die warm water is wel warm. Maar ons is nie hier om die dag in die kamer deur te bring nie – ons doen een van die boottoere na die eilande.

IMG_2358

Die boottoer stel nie teleur nie. Afgesonderde strande, lieflike korale en baie visse, louwarm turkooisblou water, en natuurskoon wat jou asem wegslaan. Die kiekomaan bly bedrywig. Ons kajak bietjie, en lê weg aan ‘n lieflike middagete.

IMG_2366

Dan verder na waar ons kan snorkel oor een van die Japanese skeepswrakke van die Tweede Wêreldoorlog.

IMG_2393

Ons boot ry deur klowe met loodregte kranse wat duik tot in die see, die water is plat, warm en helder. En ons snorkel asof dit die laaste keer is.

IMG_2412

Dan na die Kayangan Meer waar ons ‘n eindelose uitsig op Coron het. Laaste stop is die Siete Pecados (sewe eilande?) waar ons weer snorkel. Net voor skemer is ons terug by ons blyplek.

IMG_2414

Hoewel ons resort op pilare in die see staan, en ons tussen krotte op ‘n wankelmoedige paadjie moet loop om by ons resort uit te kom, het ons toegang tot ‘n gawe restourant en dek. Die dek is ook al plek waar mens wifi het Wel, soms. Eintlik is die sein op sy sterkste tussen een en ses in die oggend wanneer die meeste gebruikers slaap.

IMG_2423

Nietemin, die dek is die volgende dag vir my ‘n toevlug, naby genoeg aan ‘n toilet. Een of ander tyd moes dit gebeur, en my tyd het gekom in Coron. Gelukkig bly die aanval sonder koors, naarheid en ontwatering. Dankie tog vir loperamiedhidrochloried wat hipermobiliteit in die dermkanaal inhibeer. Dis wat ek lees op die voubiljet in die pilleboksie. Ek sluk die klein pilletjies met groot geloof a fen hoop vir die beste.

Tussen die begin en die einde van die naweek is Saterdae nogal baie soos ‘n middelkind. Onopvallend en soms afgeskeep. Saterdae gaan maklik ongesiens verby met min om oor te rapporteer. Saterdae is nie so voor-op-die-wa soos Maandae, of so aandringerig soos Vrydae nie. Ook nie so voordoenerig soos Sondae nie.

In my lewe het ek egter geleer dat belangrike dinge op Saterdae kan gebeur. Die element van ‘n geyser sal byvoorbeeld ‘n Saterdag kies om die gees te gee. ‘n Garagedeur sal ook ‘n Saterdag kies om te breek.

Op ‘n Saterdag kry ek ‘n loopmaag en op ‘n Saterdag word die kansellasie van ons trip met die veerboot na Manila aangekondig. As gevolg van ‘n dreigende tropiese storm. Met heelwat ongerieflike gevolge. Nogtans lig ons die kenne, kyk op en maak planne. Maar op ‘n Saterdagnamiddag is die wifi nog luier en onbetroubaarder as ooit. En besprekingskantore om alternatiewe reëlings te help maak is toe.

Die enigste uitweg is om saam met ander passasiers lughawe toe te ry en ons name op ‘n waglys te plaas. Na ‘n uur of drie se gewag kry ons uiteindelik plek. Teen ‘n yslike prys. Toe al die stof gaan lê, kos die uurlange vlieg tussen Coron en Manila net soveel as ons vlug vanaf Manila oor Kuala Lumpur na Bali.

Behalwe vir die gebeurtenisvolle naweek in Coron sal ek Filipyne vir ‘n paar onverklaarbare teenstrydighede onthou. Ligging van plekkies soos Moalboal, Panglao, Port Barton, El Nido en Coron is onverbeterlik. Tog is daar min geboue in die dorpe waarvan die ontwerp of instandhouding my beïndruk het. Versorging is waarskynlik ‘n rare begrip in Filipyne. Eintlik stel die toestand van al die dorpies teleur. So baie geboue is vuil, verwaarloos of bloot net voos geleef. Krotte en paleise staan langsaan mekaar, sonder enige onvanpastheid. Oor die toestand van die strate is daar ewe min sorge. Die strate is ongelyk, nou en oorvol. Alles wat kan beweeg deel dieselfde straat tegelykertyd – mense, voertuie, honde, bokke en hoenders. En iewers slinger ‘n stroompie water met ‘n verdagte kleur en reuk.

Tog is daar altyd aaneenlopende verkeersvloei en geen ongeluk nie. Tog is die mense ongelooflik vriendelik en behulpsaam. Tog laat die Filipyne jou altyd welkom voel. Tog skep die totale prentjie ‘n eerlike, opregte gelatenheid, ‘n hartlikheid van omgee, deernis en belangstelling.

En dis hierdie mooi van Filipyne wat ek sal onthou.

Fotoverhaal

Port Barton toets die ware betekenis van die woordjie paradys. Die dorpie lê op die kromming van ‘n baai aan die westekant van Palawan Eiland, vasgedruk tussen ‘n beenwit strand en ‘n woudbedekte bergreeks. Die strand is gesoom met wiegende kokospalms en die water is badwarm, helder en kalm. Port Barton is ‘n klein dorpie. So klein dat daar nie eens ‘n bank is nie, en waar krag net beskikbaar is tussen halfses en halftwaalf saans.

IMG_2140

Met hoogwater spoel die mak brandertjies tot reg teenaan die trappies van ons blyplek. So, uit die hangmat op ons stoepie, loer ons na een van die bote wat geduldig op ons wag om môre te gaan snorkel.

IMG_2087

Dis vreedsaam en stil hier. Kinders speel op die strand en ‘n paar vissermanne sluk die dag af met ‘n Red Horse. Verder weg by die Purple Turtle nooi Reggae klanke die klante nader.

IMG_2090

Saam met die nuwe dag klim ons en ‘n Portugese en ‘n Belgiese paartjie op die snorkelboot. Die skipper en sy bootsman is ouhande en neem ons van die een idilliese plek na die ander om die wonders van die onderwaterwêreld te verken.

IMG_2126

My kamera werk oortyd, maar ek weet dat geen kiekie regverdiging kan gee aan die hemelse mooi van hierdie stukkie skepping nie. Buitendien kan ek nie die wonders van die onderwaterwêreld kiek nie, en ek kry al hoe meer spyt omdat ek nie daai GoPro aangeskaf het nie. En dat ek nog nie ‘n duikkursus gedoen het nie.

IMG_2092

Ons ry langs afgeleë ente kus. Hier en daar is ‘n vissersdorpie, nog kleiner as Port Barton.

IMG_2112

IMG_2095

Vir middagete gooi ons anker op ‘n strand sonder naam. Skipper en Bootsman berei vir die honger snorkelaars ‘n eenvoudige middagete voor. En so oor gebraaide vis, rys, groente en vars vrugte raak twee Portugese, twee Belge, twee Namibiërs en twee Filipyne bondgenote in die vreemde.

IMG_2121

IMG_2114

Was dit nou weer Ruiter in Swart wat my laat wonder of ek al voorheen die naam Port Barton gehoor het? Of het ek bloot vir Barberton met Port Barton verwar?

Tog twyfel ek sterk of Ben Brand en sy perd Satan ooit gesoek het na boewe op die Palawan Eiland. Want hy sou nie boewe hier gekry het nie. Filipyne is goeie mense.

IMG_2083

Maar as Ben Brand ooit in Port Barton was, sou ons seker vandag nog die nuutste uitgawe van Ruiter in Swart kon lees. Dalk in kleur. Die stories sou miskien flou gewees het, maar die mooi omgewing sou opgemaak het.

Fotoverhale sou nie uitgesterf het nie.

Die Berge Fantasties 

Zhangjiajie is nou nie juis ‘n naam wat so lekkersê soos Aranos nie.

IMG_0355

Aranos is spikkelklein en Zhangjiajie ook (volgens Chinese maatstawwe). Alhoewel laasgenoemde meer as ‘n miljoen inwoners huisves en Aranos minder as tienduisend is daar tog ‘n vreemde verwantskap tussen die twee.

Afspraak in die Kalahari met Prof Christo Pienaar in die hoofrol is ‘n Carfo-fliek uit my kinderjare en geskiet in die rooi Kalahari waar Aranos ook neersitplek gekry het. Op sy beurt was die berge naby Zhangjiajie die inspirasie vir die fliek Avatar.

IMG_0346.JPG

Zhangjiajie lê in die skadu van Tianmenberg. Dié berg is bedrieglik steil en styg oor ‘n kort afstand van 200 tot 1,500m. Bo is daar ‘n mooi plato vanwaar mens nogal wyd kan sien. Hoog teen die byna loodregte hange sit daar ‘n reuse grot wat mens ‘n uitsig “dwarsdeur” die berg gee. Tesame het die grot en die mooi uitsig op die plato daarvoor gesorg dat een van die langste kabelkarlyne in die wêreld hier aangelê is.

IMG_0339

Ons besluit om Tianmenberg te besoek. Miljoene Chinese besoekers per jaar kan mos nie verkeerd wees nie.

Om boontoe toe te gaan, het ons een van twee keuses: Per kabelkar of per bussie. Die kabelkar is baie gewild en ons besef dat ons ‘n uur of drie moet wag om ‘n beurt te kry. Die ry vir die bussies is net so lank, maar beweeg effens vinniger.

IMG_0373

Ons kies die bussie, kry ‘n Chinese tydrenjaer as bestuurder (altans so het ons gedink), en vertrek op ‘n witkneukelrit berg-op.

Na die sewe-en-tagtigste harnaalddraai besef ons hoekom die bestuurder se waarskuwing om ons vas te gord so ferm was. Die gille en gelag raak al hoe senuweeagtiger hoe hoër ons gaan.

Uiteindelik spoeg die bussie ons genadiglik op ‘n parkeerterrein hoog teen die berg uit.

IMG_0352

Toe begin die trappe. En ek besef dat die kleuterrympie “Trippe, trappe, trone” dalk nie so onskuldig is nie, maar eintlik ‘n martelliedjie is. Ons sweet, swoeg en swyg. Tans is daar aanbouery op die trappe. Vir ‘n bergfiets downhill track. Verbeel jou!

IMG_0340

Toe die trappe ophou begin die roltrappe. Jy lees reg. Roltrappe. Na agt stelle hou ek op tel.

Van bo af het mens, uhm, asemrowende uitsigte.

IMG_0361

Daar is glaspaadjies, houtpaadjies en hangbrûe. En 11km voetpaadjies kronkel deur die woude. Dis ‘n karstlandskap, met ander woorde grotte en skeure, spitse en kranse. Elke nou en dan is daar ‘n platform met die mooiste uitsig.

IMG_0374

Kiekomaanwêreld.

Ons stap elke liewe paadjie en neem die kabelkar afwaarts. Byna 7,5km lank, en ons land uiteindelik in die middedorp digby ons blyplek. Pootuit, maar o so tevrede.

IMG_0378

IMG_0410

IMG_0416

IMG_0377

Môre vat ons die Tianzishanberge, omtrent 35km verder, aan. Avatarwêreld.

Weer in ‘n bussie wat ook skoolkinders, boere, werkers en enige ander soort passasier op- en aflaai. Tot by die hek van die Zhangjiajie Nasionale Park. Hier klim ons af, kaart in die hand, op ‘n bedompige oggend.

IMG_0482

Ons stap langs ‘n slingerende bergstroompie tot by ‘n plekkie waar ons dink die afdraai van die pad na die Hallelujaberg is.

IMG_0445

Die paadjie word stiller en steiler. Honderde mosbegroeide trappies. Later is ons stoksielalleen. Salig – in hierdie digbevolkte land, dink ons. “Stairway to heaven” is nogal gepas vir hierdie geleentheid, besluit ek.

IMG_0454

Maar na reekse en reekse trappies besef ons dat die plekke op die kaart nie opspoorbaar op die roeteborde is nie. Nie in Engels nie, en ook nie in Chinees nie. Hier’s fout, besef ons. Nogtans is dit verskriklik mooi.

Ons wroeg voort, op en af, totdat ons op jelliebene by ‘n bushalte aankom met ‘n naam heeltemal anders as die een op ons kaart. Ons ry met die bus tot by die plek waar ons begin het.

IMG_0467

Alhoewel dit ‘n mooi paadjie was en ons behoorlike oefening ingekry het, besluit ons om môre weer te probeer.

IMG_0440

Afleiding 1: Nie alle kaarte is akkuraat nie. En ‘n kaart wat amper akkuraat is, is nie akkuraat nie. Soos ‘n vrou nie amper swanger kan wees nie.

Afleiding 2: Paadjies sonder naamborde van die bestemmings is onbetroubare paadjies.

Afleiding 3: As daar niemand op ‘n paadjie stap nie, hoort jy ook nie daar nie. Moet veral nie alleen op mosbegroeide, afgesonderde paadjies stap nie.

IMG_0519

Gewapen met ‘n heelwat beter kaart pak ons die roete weer ‘n keer aan. En ons ontmoet ‘n paartjie uit Indonesië wat saam met ons stap. Nou is ons darem vier, op soek na Halleluja.

Verskeie stappaadjies loop deur die park, begin onder en eindig bo-op die plato. Bo is daar busse wat heen-en-weer tussen die eindpunte loop. Daar is kabelkarre en, glo dit as jy wil, ‘n hysbak om jou weer onder te kry.

IMG_0518

IMG_0540

Ons kies die een kabelkarroete afwaarts. Dit bring ons tot in die dorpie Wulinyuan, vanwaar ons weer die bussie terugneem tot in Zhangjiajie.

Om Zhangjiajie binne te dring is makliker as om die plek te verlaat. Kyk, die gebergtes rondom Zhangjiajie is wragtig pragtig. As ‘n selferkende kiekomaan was dit nogal traumaties om te wonder of ek dalk ‘n besondere kiekie kon gemis het.

Daar is egter ook logistieke uitdagings. Direkte vlugte na en vanaf groter stede soos Xi’an, Shanghai en Beijing is slegs laataand, ‘n onsmaaklike tyd. Want mens is dan op ‘n gulsige taxibestuurder aangewese om ‘n onsekere bestemming te probeer bereik – ‘n uiters beproewende situasie. Treinverbindings is ook beperk en, soos ons geleer het, die naweektreine is stampvol.

IMG_0543

Vir ons was al uitweg om ‘n bus na Changsha, ‘n groter stad, te neem vanwaar ons die oornagtrein na Beijing kan kry.

Dit reën toe ons in die bus klim. Ek skuif terug en luister na Vampire Weekend se M79. Behaaglik.

Die Berge Fantasties is by Zhangjiajie.

Dorptoe

Soms moes ons op mekaar se skote sit om in te pas. En dan slaap jou been as jy moet hek oopmaak.

Gereeld moes ons dorptoe, dis nou na die groter dorp toe, omtrent eenmaal per maand. Almal in ‘n bakkie met ‘n laaaang lysie. Die besoekpunte het gewoonlik die dokter, veearts en magistraatskantoor ingesluit, ons moes draaie maak by Von Watzdorf en Stumpfe, Charney en Elektra, kiekies van karakoellammers by Photo Ludwig gaan haal, klere wat verstel is optel by CG Theron Uitrusters, medisyne kry by die apteek, ‘n pakkie vir iemand gaan aflewer, navraag doen of die horlosie al reggemaak is deur Ploeger, en dan is die plaasaankope laastens gedoen by BKB.

Dorptoegaan was ‘n gebeurtenis. ‘n Belewenis, ‘n reis in die kleine.

Die onderskeid tussen plek, dorp en stad is vir my nogal vaag. Ewe vaag is die onderskeid tussen area, omgewing, gebied en streek. Neem nou maar die voorbeeld van Brackenfell. Is dit ‘n dorp, ‘n plek of ‘n stad? Of is dit deel van die Kaap? Met ander woorde, deel van ‘n area, omgewing, gebied, of streek? Dalk was hierdie tema al ‘n besprekingspunt op ‘n kunstefees, op Kwela se Dorp van die Jaar kompetisie, of op RSG se Hoe verklaar u dit.

Vir my maak die wettiese definisie nie eintlik saak nie – soms is ‘n dorp meer ‘n plek as dorp, soms is ‘n gehuggie ‘n dorpie, en soms is ‘n plek eintlik deel van ‘n stad. As reisiger gaan dit vir my oor ‘n bestemming. Oor die reis daarheen, oor die belewenis, die gebeurtenis.

Swakopmund Julie 2012 (21)

Daar is ander mooi plekke ook, maar Swakopmund en Knysna is vir my mooi bestemmings. Albei is groterige, baie mooi plekke. Dorpe, dink ek. Ek is nie seker wat Swakopmund en Knysna mooi maak nie. Is dit die see, en in Knysna se geval die water, berge en plantegroei, in Swakopmund se geval die uitleg, die gevoel en die ou geboue, of is dit in albei gevalle die somtotaal van mense en plek? Die strate is skoon, onderhoud word gedoen, die mense is vriendelik en hulpvaardig in verskeie tale, daar is orde, dis veilig en besoekers voel welkom.

IMG_9023

Wat maak ‘n dorp mooi en gewild? Hoekom WIL mense daar bly? Hoekom wil mens ‘n dorp besoek? Hoekom groei party dorpe terwyl ander kwyn? Wat bepaal die belewenis van ‘n dorp?

Swakopmund Julie 2012 (22)

Vir my is daar vier belangrike faktore, en toevallig vorm hierdie vier faktore die woordjie DORP. Dissipline, Onderhoud, Respek en Passie.

‘n Dorp funksioneer net beter as daar dissipline is. ‘n Deurmekaar plek, ‘n plek sonder orde en reëls, of ‘n ongeorganiseerde plek gee jou ‘n onlekker ervaring. Onderhoud, en veral voorkomende onderhoud, is noodsaaklik om ‘n dorp in stand te hou en te laat vorentoe gaan. Onderhoud wys dat iemand omgee vir ‘n plek. Gebrek aan onderhoud wys besoekers weg en laat geleenthede kwyn. Respek is iets wat bewys word met standbeelde, die behoud van ou geboue, en straatname wat behoue bly, waar die mooi bevorder word en waar mense mekaar vriendelik groet. En laastens moet daar passie vir ‘n plek wees. Daar moet ‘n plan en ‘n doel wees. ‘n Dorp sonder passie en ‘n plan vorentoe is voos. Lusteloos, doelloos, sukkelend, vaal en ongewild.

Knysna en Swakopmund is vir my sulke DORPe. Ek hou van die plekke omdat daar orde en respek is, onderhoud gedoen word en die passie vir die plek sigbaar is.

IMG_9034

Privaatsak 2116

Maandae en Donderdae het die rooi spoorwegbus gekom en op Dinsdae en Vrydae teruggegaan. Gekom met bultende possakke, pakkies en aflewerings. Teruggegaan met beantwoorde briewe, betaalde rekenings, bestellings en orders. Op Dinsdae en Vrydae is die roomkanne ook deur die bus opgelaai en op Maandae en Donderdae het die roomkanne leeg teruggekom. Soms het die bus ook ‘n pakkie by ons opgetel vir iemand stroom-op of -af op die roete.

As ek die stoffie van die bus in die verte gesien het, het ek begin stap om die possak by die bushalte te gaan haal. Die bushalte was ‘n sentrale punt op die buurplaas van Oom Flip, daar waar Oom Giftand gemaklik met die bus kon draai. Al die aangrensende plase het die bushalte van Oom Flip gedeel. Die possakke is sommer onder ‘n koelteboom, langsaan Oom Flip se tuinhekkie oor die draadheining gehang.

Terug by die huis is die possak dan met groot afwagting oopgemaak. Daar was briewe met interessante posseëls, posbestellingsgidse van Charles Velkes en Modesty, miskien ‘n Huisgenoot, Sarie, Topsport of Landbouweekblad en die vorige week se koerante.

Soms is die rooi spoorwegbus ook gebruik vir aflewerings vanaf die koöperasie of winkels op die dorp. Dan is die kampmateriaal, klipsout, brandstof of winkelgoedjies by Oom Flip se hekkie afgelaai, gemerk vir die nuwe eienaar met net ‘n enkele nota.

So het dit eenmaal gebeur dat die bestelling en die aflewering van teerpale by die bushalte nie dieselfde hoeveelheid was nie. Toe die nuwe eienaar van die pale navraag by die koöperasie doen, trek die koöperasie skouers op. Uiteindelik word daar ‘n amptelike saak by die magistraatskantoor gemaak, tussen die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, die koöperasie en die boer. En Oom Giftand se betroubaarheid word getoets.

Toe almal voor die magistraat ewe radeloos is, speel Oom Giftand sy troefkaart – ‘n ooggetuie.  Op die betrokke dag het die man daar naby onder ‘n ander koelteboom gesit. Hy moes tog immers gesien het hoe Oom Giftand die teerpale aflaai. Die ooggetuie vertel sy storie en alles loop reg totdat die magistraat hom vra oor die hoeveelheid pale. Toe maak hy verskoning: “Edelagbare, ek weet nie so mooi nie. Ek was besig om ‘n skaapnek te eet. Ek het nie baie opgekyk nie.”

Ek weet nie tot watter vergelyk die partye gekom het nie, maar Oom Giftand het nog vir jarre daarna die bus gery.

Die rooi spoorwegbus het ‘n belangrike rol in my vormingsjare gespeel. Dit was my kontak met die res van die wêreld. Die internet van my seuntjiewêreld. Ek het gewonder oor die geheimsinnige reis van die briewe, oor bestemmings en afsenders se onbekende adresse, oor die name en plekke waarvan die tydskrifte en koerante berig het, oor die oorsprong van die produkte wat by ons afgelewer is en oor die fabriek waarheen ons die room gestuur het.

My nuuskierigheid oor die groter wêreld het ‘n onblusbare wanderlust gekweek en die nederige spoorwegbus en Oom Giftand het my dalk meer gevorm as ek wat ek wil toegee.