El Nido

IMG_2321

Die keuse van ‘n haarkapper is een van die lastige uitdagings wat ‘n langtermyn reisiger een of ander tyd teëkom. Jou hare word langer, jy kyk minder gereeld in die spieël, dra meer gereeld ‘n kep, kom anders uit die water uit as gewoonlik en droog langer af na ‘n stort. Tot op ‘n dag wanneer jy besef dat ‘n haarsny nou onvermydelik is. Dan begin die groot soek na ‘n barbier wat kundig, betroubaar en inskiklik is, prys in ag genome. Dekor van die haarsalon is ‘n belangrike maatstaf, en so ook die haarstyl van die barbier. Ligging is minder belangrik.

Dis met groot agterdog wat ek op ‘n Saterdagaand, tussen agt en nege, onder luide aanmoediging van My Lief by ‘n haarsnyhok met grasgroen mure instap. Hok, want dit lyk soos ‘n tydelike skuiling.

Al die nodige wapens is egter netjies uitgestal, daar lê skêre van verskillende groottes, skeermesse met lemmetjies, verskeie borsels, poeier, doeke en lappe, spuitkannetjies, 3-in-One olie en Wahl-knippers. Die barbiere luister na musiek van ‘n wyle geleë. Op die muur is daar ‘n verbleikte foto van Brad Pitt, ook van ‘n wyle geleë, en fotos van ander onbekende manne, een met maanhare en ‘n ander een met ‘n kwêvoëlkuif. Beide barbierstoele is selfgemaak, gemonteer op ‘n ou lorrierim as voetstuk, en witgeverf. Die sitplekke is voos gesit; hierdie manne moes al honderde koppe onder hulle hande gehad het. Haresny is hul forté, daarom is daar geen sjampoemeisies, geen wasbakke, geen haardroeërs, geen tydskrifte.

Op die bankie waar ek my beurt afwag, bestudeer ek die twee barbiere. Albei lyk vaardig, maar dit pla my dat die een ‘n hoed ophet. Kan dit wees dat hy ‘n mislukte kleur-eksperiment wegsteek, of het die ander barbier dalk sy haredos, ook op ‘n Saterdagaand, verwoes? Wie van die twee gaan op my losgelaat word? Ek hoop vir die hoedlose een. En ek kry hom.

IMG_2158

Konsensus oor die styl van die bloedjong Brad Pitt word verkry, en die knippery begin op Bon Jovi se Bed of Roses. Dit eindig met Bryan Adams se Please Forgive Me, wat my nogal bekommerd laat.

Nogtans is daar niks fout nie, en dit kos ‘n skamele honderd pesos, sowat R25. My stertjie waai.

IMG_2153

El Nido bied egter meer as ‘n goedkoop haarsny. As bestemming word dit op elke denkbare brosjure of toerisme-artikel beskryf as die een plek in Filipyne wat ‘n moet is. En dit is. Die Skepper het met besonder baie aandag aan die Palawan-kus, waar El Nido geleë is, gewerk. Langsaam, talmend, en toe tevrede elders aangegaan. Alle clichés om mooi natuurtonele te beskryf is hier uitgedink.

IMG_2188

El Nido lê in die buik van ‘n natuurlike hawe, tussen twee dolomietkoppe. Die deel van die dorpie naaste aan die hawe is besig. Want strome toeriste vleg in die paar nou straatjies daar naby, tussen driewiele en motorfietse.

IMG_2289

Orals is aanbiedings vir boottoere en motorfietshuur, restourante en blyplekke te kies en te keur. So tussenin is daar miskien ‘n herstelplek vir motorfietse, ‘n winkel, ‘n masseersalon of ‘n haarsnyhok. Toerisme is die wese van die dorpie en die dorp se permanente inwoners woon verder weg van die toeristekern. Pryse is ook oor die algemeen effens hoër as wat ons voorheen gesien het.

IMG_2282

Juliemaand is nie die beste maand om El Nido te besoek nie want dit reën meer in Julie as in die hele seisoen oor Windhoek. Sommer tweemaal op een dag, en snags ook.

IMG_2291

El Nido is ook nie die beste plek op aarde om ‘n I-foon te laat herstel nie, leer ons. My Lief se I-foon wil skielik nie meer laai nie, selfs na verskeie toetse met ander kabels en kragproppe. Ons doen ‘n hartoorplanting op my ou Samsung en bêre vir eers die Aai-foon totdat ons haar kan laat regmaak.

IMG_2201

Ten spyte van die moontlikheid van reën, besluit ons om ‘n boottoer te doen. Teen R300 per persoon, met ‘n middagete en snorkelgerei ingesluit, is dit goeie waarde vir geld.

Ons kry oorgenoeg snorkeltyd by al die plekke waar ons anker gooi en trotseer gelukkig net ‘n snuifreëntjie. Die gewilde stoppe is die plekke waar almal stop.

IMG_2273

Daar is GoPros en selfiestieks in alle kleure, sommige kameras reageer op die stemme van hul base, en vir die meeste van die baie besoekers is die selffoto belangriker as die heiligmooi plekke waar ons stop. Geen foto kan eintlik die mooi van die onbewoonde eilandjies met dolomietkranse wat val tot in die see, uitgestrekte en weggesteekte strande gesoom met kokospalms, die kleur van die see, en koraaltuine onderwater met skole vis van allerhande soorte, groottes en kleur behoorlik oorvertel nie.

Ons loop ‘n video op YouTube raak wat gemaak is deur The Geek and the Chick. The Geek het met ‘n kamera in die lug gespeel, terwyl The Chick op die grond poseer. Nogtans vertel die video iets van die onbeskryfbare natuurskoon van die Filipynse kus.

Kyk gerus daarna by http://youtu.be/lWo3i0OZBg4, jy sal ook wil kom.

Ons snorkel en ons kajak. Ons swem en ons lê weg aan die vars seekosse. Hoe kan twee doodgewone, gemiddelde mense soveel lekker hê?

IMG_2212

Terug by ons blyplek, word ons wakker uit die droom. Ons besef dat nie alle Filipyne van die see leef nie en die meeste eintlik ‘n eenvoudige landelike bestaan voer.

Ons huur ‘n poegie en ry bietjie rond, tussen ryslande, na afgeleë strande, deur klein boeredorpies.

IMG_2315

Langs die nat pad is daar hoenders, honde, bees, bokke en waterbuffels en twee manne wat met hul varke gaan stap het. Dis reënerig, en ons vermy die modderpaadjies.

IMG_2304

Terug by ons blyplek sit die kiekomaan en werk deur honderde kiekies om die bestes te kies.

Later in die aand vra ek My Lief dat sy asseblief net moet kyk of ek nog my bril op het. Toe weet ek, ek ontspan nou rêrig. Dit het gebeur in El Nido.

Skrywer: oudoring

Eendag, lank gelede, het my pad gekruis met Sugnét. Ons was studente, verlief en verloof en later ook getroud, en het saam op 'n nuwe pad begin loop - nou reeds vir meer as dertig jaar. Ons is Dorslanders en woon gelukkig saam in Swakopmund. Wel, by tye, as ons nie reis nie.

2 gedagtes oor “El Nido”

    1. Dit reën eintlik heeljaar, maar in Junie, Julie en Augustus die meeste. Mens kan dit gelukkig tref in Mei en Junie om nie te veel reen te kry nie. Julie is wel lae seisoen, maar nie Junie nie.

      Like

Lewer kommentaar