Relatiwiteit

Na ses maande op reis met rugsakke is dit tyd vir bestekopname.

Dit was ‘n besondere geseënde tyd. Geen terugslag of groot teëspoed nie, geen besering of ernstige siekte nie, geen groot verlies of diefstal nie. Ja, ek het wel ‘n ligte verkoue en ‘n loopmaag opgedoen, maar dit sou ek by die huis ook kon kry. En ek is besig om albei my groottoonnaels te verloor vanweë Rinjani, maar dis pynloos. Klink baie erger as wat dit is.

Wat was die beste? Onregverdige vraag. Teenvraag – wat is die kriteria?

Eintlik is ‘n vergelyking onvanpas. Elkeen van die lande het sy eie stel mooi herinneringe opgebou. Ons sal elkeen onthou oor sekere redes. En ons sal na elkeen kan terugkeer. Voor dan gaan ons eers probeer om by ander onbekende plekke op aarde uit te kom. Reis is om te ontdek, om te verken, om ‘n plek te ervaar. Nie eintlik om dit weer te besoek nie. En om te talm. Bietjie langer te vertoef, te beleef, om die plaaslike dinge te doen.

Waarskynlik het ons die gemiddelde ouderdom van rugsakreisigers wêreldwyd ‘n bietjie gelig. So ook die gemiddelde ouderdom van gaste in hostels en homestays. En saam met ander rugsakreisigers op busse en jimneys, driewiele, poegies, bote en oorslaaptreine het ons gesorg dat die gemiddelde ouderdom van hul tipiese passasiers effens klim. Nogtans het niemand ‘n wenkbrou gelig omdat ons aan die bokant van 50 is nie. Niemand het ons ge-oom of ge-tannie nie. Inteendeel, ons het nêrens Afrikaans gehoor nie. Ons het wel in Afrikaans stiltetyd gehou en met mekaar in Afrikaans gepraat. En geblog in Afrikaans. Maar dit was die enigste Afrikaans vir ses maande.

Dan was daar ook ‘n paar eerstes as Namibiërs: In Zhangjiajie, Guilin en Qindao en in verskeie ander plekke in China was ons waarskynlik die eerste Namibiese besoekers. In Coron het ons die tweede speldjie in Namibië op ‘n wêreldkaart gedruk (laat weet ons as jy dalk die eerste speldjie ingedruk het), en op die Kecil Perhentian in Maleisië het ons die eerste Namibiese spore getrap, so ook op Rinjani en twee van Indonesië se 17,000 eilande. Goed, as ons nie die eerste Namibiërs was nie, was ek waarskynlik die eerste een uit die suide van Namibië.

Ons het probeer om boek te hou van ons uitgawes, en ons het probeer om ons ervarings op te skryf. Ons kan raad gee, ons kan sekere goed aanbeveel en sekere goed afraai. Die bedoeling was nooit om ons inligting op te teken en as ‘n boek vol wenke te verkoop nie. Maar dis ook nie materiaal wat ek graag op skrif wil stel nie. Ervarings is afhanklik van persepsie, en die oorvertelling daarvan is bloot ‘n opinie. Twee mense kan dieselfde ding beleef en twee uiteenlopende stories daaroor vertel. Vir wie glo jy?

Hoekom het ons dan teruggekom? Oor klomp persoonlike redes. Familie is vir ons belangrik, en daar is ‘n paar dinge op hierdie front wat ons aandag nodig het. My 88-jarige pa het siek geword. Ons dogter wil trou. Ons seun wil universiteit toe gaan. Ons moes kies tussen voortreis of familie. En ons kies familie.

Miskien is dit ‘n geleentheid om suidelike Afrika opnuut te verken. Dis so ‘n wonderlike stukkie wêreld, hier onder ons neuse. Groot dele wat ons nog nie ken nie. En skielik wonder ek oor die betroubaarheid van die teks in my destydse Standerd 4 Aardrykskunde handboek. Waar is die mielie-vierhoek nou eintlik? Hoe wild is die Wildekus nou eintlik, of hoe groot is die Vaaldam regtig? Hoe lyk die Witwatersrand deesdae? Is die Vrystaat nogsteeds so plat? Waar begin en eindig die Karoo?

Op ons vlug met Ethiopian Airlines kyk ek na die verbeeldingryke fliek Interstellar. Ek gaan op ‘n reis deur ons kosmos, wat ek werklikheid noem. Konneksies tussen ons aarde en die uitspansel word gemaak, en die onderskeid tussen realiteit en denkbeeldigheid word vaag in ‘n spel van tyd, ruimte en swaartekrag. Soos alles ineen weef, word alles relatief – ‘n maand in die ruimte word etlike dekades op aarde; afstand, spoed en rigting word niksseggende verwysings; die effek van gewig en swaartekrag verdwyn. Die antwoorde op ons aardse omgewingsvraagstukke word in die heelal gesoek. Toekoms en hede raak deurmekaar, tyd word nie meer gemeet nie. Alles raak relatief, en alles hou verband met mekaar. En ek begin wonder – wanneer gaan die hede oor in die toekoms? Die antwoor is so vaag soos daai tyd net voordat jy aan die slaap raak. En soos in ‘n droom raak die onderskeid tussen my werklikheid en denkbeeldigheid relatief.

Dalk is reis ook so. Mens kry die antwoorde vir die uitdagings by die huis op ander plekke. Jou uitdagings word relatief, jy kyk na jou eie wêreld met ander oë. Ek waardeer weer die goed wat vir my vanselfsprekend geword het, ek raak weer opgewonde oor seldsaamheid en besondersheid.

Suidelike Afrika is so uitsonderlik mooi. Soveel verskeidenheid, soveel energie en soveel opwindende kontraste. Soveel kultuur en geskiedenis, soveel skoon lug en onbesoedelde omgewing, soveel minder mense. Soveel stilte, soveel kranse wat antwoord gee, soveel ongeskonde natuur.

Ja, daar is vuil op die ruit. Maar ons moet ‘n slag na die prentjie daarbuite kyk. En nie net na die vuil op die ruit bly staar nie. Die verskil tussen nou en die toekoms is relatief. Dalk is daar meer samehang as onderskeid, dalk maak dit sin om aan denkbeeldigheid aandag te gee. Dalk is ons drome nie so onwaarskynlik soos ons dink nie.

Eintlik is ons werklikheid so relatief.

Ons het gespring.

Vanuit werklikheid na onwaarskynlikheid. Miskien was dit dom en baie onverantwoordelik, maar dit was nie moeilik nie. En ons gaan nooit spyt kry nie.

img_0472